Arm skrywer of ryk entrepreneur

DONDERDAG 17 MAART 2016

’n Gedagte het gisteraand gehop van een ding tot ’n volgende, en toe ek my weer kon kry, vra ek myself: Wat sal ek eerder wil wees, ’n arm skrywer of ’n ryk entrepreneur, met begrip dat ek as ryk entrepreneur geen kreatiewe werk sal doen nie?

Dit was ’n moeilike vraag.

Tien blokke later (ek was op my fiets) was ek tevrede met my voorlopige antwoord: Dit is moeilik om te sê, het ek gereken, want hoe arm sal ek wees, en wat sal ek skryf?

Die implikasie was dat ek steeds bereid is om ’n eenvoudige bestaan te voer ter wille daarvan om produktiewe tyd te kan spandeer aan skryfwerk, maar ek is nie bereid om swaar te kry ter wille van een opstel elke week of twee oor die weer in Kaohsiung of iets anders onbenulligs nie. Die vraag is ook hoe eenvoudig die bestaan sal wees. Ek wil nie in die park slaap nie, al moet ek dan ’n paar goeie, geïnspireerde stukke prysgee in die proses. (Hoeveel sal ek in elk geval produseer voordat ’n hawelose digter my notaboek en my pen steel?) Feit is ook dat ek nie alleen is nie. Verwag ek dat my lewensmaat saam met my moet suffer? Of sal ek beweer dat ek bereid is om te suffer, wetende dat dit nie nodig sal wees nie want my lewensmaat sal jammer voel vir my en haar kos met my deel?

Die vraag, en die gedagte, het gespruit uit dinge wat ek oor die volgende paar dae moet doen vir een van my bronne van inkomste – ’n vryskut diens wat ek lewer aan ’n paar kliënte. Ek het gedink hoe ek doen wat nodig is om die besigheid aan die gang te hou; dit is, solank ek nie op ’n straathoek hoef te gaan staan en my ware of my diens te verkoop nie – by wyse van spreke. Ek het ook gedink aan iets anders wat ek ’n tyd gelede geskryf het – dat ek enige ambisies om my eie besigheid te begin of te bestuur genadeloos moet vergruis. Hoekom? Ek was van opinie dat ek nie myself 100% daaraan sal kan toewy nie. Natuurlik is daar ander mense wat beskou word as suksesvolle besigheidsmense of entrepreneurs wat sukkel met presies dieselfde dinge as ek. Hoekom is húlle dan suksesvol? Hoekom kom hulle weg daarmee en ek nie? Dis nie ingewikkeld om uit te werk nie: hulle neem mense in diens of werk andersins saam met mense wat dít doen wat hulle nie kán of wil doen nie.

Dit is dus nie ’n geval dat ek nie in staat is om ’n suksesvolle entrepreneur te wees nie; ek werk net nie saam met die regte mense nie … of eerder, ek probeer steeds om alles self doen.

Een ander rede hoekom ek myself bogenoemde vraag gestel het, is omdat ek gereeld wonder wat ek sal kan uitrig as ek voltyds moet skryf, eerder as om ’n halfdosyn inkomstebronne aan te gang te probeer hou. Dis natuurlik ’n ope vraag. Dalk sal al die oefening in woordkuns lei tot ’n paar kortverhale of artikels wat deur meer as 10 mense gelees sal word, en – wie weet? – ek mag dalk selfs genoeg geld maak om ’n nuwe fiets te kan koop. Of dalk sal ek na ’n jaar of twee met honger oë opnuut kyk na dinge wat ek voorheen beskou het as benede my.

Daar is immers niks soos hongerte en vernedering om ’n mens te laat vergeet van boheemse drome nie.

______________________