Liberale argumente – waaraan ek glo

WOENSDAG 23 DESEMBER 2015

Ek volg nou al lank die vurige bekgevegte van linksgesinde skrywers en ander intellektuele op sosiale media, in onderhoude, op kletsprogramme en in artikels op die Internet. Om dit vir myself te vergemaklik om sin te maak van wat die een van die ander onderskei, ten spyte daarvan dat almal breedweg sorteer aan die meer progressiewe kant van die politieke spektrum, het ek vorendag gekom met ’n paar basiese beskrywings. Let wel, die beskrywings is nie omvattend nie. Net omdat ek byvoorbeeld sê een persoon is pro-vryheid van spraak en dit nie vermeld by ’n ander persoon nie, is nie te sê dat dit nie ook vir daai persoon belangrik is nie. Wat ek probeer uitwys, is die betrokke persoon se primêre fokusareas.

Sam Harris, Bill Maher, Christopher Hitchens: anti-godsdiens, pro-wetenskap, nie-godsdienstige etiek en moraliteit, pro-regering aksie teen Islamisme

Richard Dawkins: anti-godsdiens, pro-wetenskap, nie-godsdienstige etiek en moraliteit

Noam Chomsky: vryheid van die individu, anti-aggressiewe, imperialistiese Amerikaanse buitelandse beleid, pro-gewone mense teen politieke en/of militêre mag (hetsy eie regering of buitelandse militêre inval)

Glenn Greenwald, Julian Assange, Edward Snowden: pro-vryheid van spraak (Greenwald met voorbehoude, byvoorbeeld anti-Charlie Hebdo spotprente, wat hy onder andere noem, “offensive and bigoted”), vryheid van die individu, veral teen “Big Brother” regerings

Michael Moore: anti-aggressiewe, imperialistiese Amerikaanse buitelandse beleid, pro-gewone mense teen politieke en/of militêre mag (hetsy eie regering of buitelandse militêre inval), anti-diskriminasie op grond van ras, geslag, seksuele voorkeur, ensovoorts

Vir in geval jy nie die argumente gevolg het nie, hier’s ’n paar skakels:

Sam Harris & Noam Chomsky

The Limits of Discourse – As Demonstrated by Sam Harris and Noam Chomsky

Scoring the Noam Chomsky/Sam Harris debate: How the professor knocked out the atheist

Sam Harris & Glenn Greenwald

Sam Harris vs. Glenn Greenwald on Islam

Christopher Hitchens & Noam Chomsky

A Rejoinder to Noam Chomsky

Reply to Hitchens

Ben Affleck & Bill Maher, Sam Harris

Real Time with Bill Maher: Ben Affleck, Sam Harris and Bill Maher Debate Radical Islam (HBO)

Can Liberalism Be Saved From Itself?

______________________

20:27

Vra jouself of jy steeds X sal doen, of besorg sal wees oor wat Y van jou dink, as jy moet weet jy gaan nie meer oor vyf jaar leef nie. Vra dan dieselfde vraag oor drie jaar, twee jaar, een jaar …

20:29

Elke nou en dan doen ek ’n vinnige roetine ondersoek oor waaraan ek glo.

Antwoord: Ek glo aan rede, en om redelik te wees. En ek glo aan Beskawing. Ek glo dat mense beter met mekaar oor die weg kan kom, dat meer mense gelukkiger lewens kan lei, en dalk meer kan uitrig met hul lewens, indien almal saamwerk.

Hierdie mees onlangse ondersoek is gedoen op die sypaadjie van ’n straat in Kaohsiung soos ek teruggestap het van waar ek aandete koop op ’n Woensdagaand. Vir die soveelste keer in die laaste tyd het ek gesien hoe mense aanhou ry ten spyte daarvan dat hulle moet kan sien die verkeerslig gaan hulle vang. Hulle eindig natuurlik op, saam met ’n dosyn of meer ander motoriste, in die kruising wanneer die verkeer in die ander rigting moet begin ry – en wanneer voetgangers oor die pad moet loop. “Stel jouself die wêreld voor as mense net wil saamwerk,” het ek gemurmureer in die rigting van die een motoris, wat, soos verwag kon word, zombie-agtig voor hom bly kyk het.

______________________

Die werklike, of nie werklike, doel van ons bestaan

WOENSDAG 16 DESEMBER 2015

Roer die moontlikheid aan van die doel van die mens se bestaan, en jy praat noodwendig van die mens se oorsprong.

Daar’s drie moontlikhede: die mens is geskape deur ’n godfiguur; die mens was stadig besig om te ontwikkel uit vroeë lewensvorms, toe arriveer wesens van die buitenste ruim en plant van hulle DNS in ’n vroeë inkarnasie van wat uiteindelik die moderne mens sou word; die mens het stadig oor miljoene jare ontwikkel uit vroeë lewensvorms tot in die organisme wat ons vandag sien, sonder enige inmenging van godhede of vreemde wesens.

Elk van hierdie moontlike oorspronge het unieke implikasies vir die moontlikheid van ’n doel van ons bestaan. As ’n godheid die mens geproduseer het, maak dit sin dat ons die doel van ons bestaan moet gaan soek by hierdie godheid: Wie is die godheid? Wat wil die godheid van ons hê? Hoekom het die godheid ons geskape? Wat sal gebeur as ons nie doen wat ons moet doen nie, of ons kan om verskeie redes nie uitwerk wat ons moet doen nie? Indien wat ons vandag is die resultaat is van inmenging van wesens van die buitenste ruim, is die vrae soortgelyk: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Hoekom het hulle kom lol met ons? Wat is ons veronderstel om te doen? Wat sal gebeur as ons dit nie doen nie, of as ons nie kan uitwerk wat hulle wil hê ons moet doen nie? Indien ons stadig ontwikkel het oor miljoene jare, en dalk soveel as honderde maar heel waarskynlik ten minste dosyne verskillende inkarnasies deurgegaan het voor ons gekom het by die organisme wat ons vandag mens noem, kan ons nie werklik kyk na ’n mag buite ons wat op een of ander stadium een of ander plan in gedagte gehad het nie.

Indien ons ons bestaan te danke het aan laasgenoemde, ’n hoogs waarskynlike en tog vreemd genoeg hoogs kontroversiële moontlikheid, kan ons ’n redelike afleiding maak: Dit sal beteken “doel van bestaan” is, soos identiteit, iets waarmee onsself vorendag gekom het om ons te help om deur die spreekwoordelike dag te kom. Dis met ander woorde nie werklik werklik nie.

Iets hoef egter nie regtig werklik te wees om praktiese waarde te hê nie. Soos identiteit, het die idee van ’n doel van ons bestaan werklike waarde in die wêreld waarin ons leef. Een voorbeeld: Ek is nie regtig “Brand Smit” nie. Of “Brand Smit” is nie ’n regte ding soos ’n hond of ’n olifant of ’n potlood nie. Dis iets wat uitgedink is, oorspronklik deur my ouers, en toe’t ek ’n bietjie bygedra, en ander mense het hand bygesit, en toe ek ouer raak het ek meer kreatief geraak daarmee, en deesdae speel ander mense soms saam met wat ek sê, en soms nie. “Brand Smit” het wel praktiese waarde. Nie net help dit die skrywer van hierdie teks om deur sy dag te kom en redelik mooi saam te werk met ander organismes en kreature in die omgewing nie, maar dit kan my selfs motiveer om bystand te verleen aan ander mense en diere – wat nie veel gaan omgee hoe ek dink aan die doel van my bestaan nie. Ek kan byvoorbeeld ’n sopkombuis begin vir honger mense wat by die treinstasie slaap, en ek reken hulle sal nie juis omgee as ek verklaar dat ek dit doen omdat ek dit sien as die doel van my bestaan soos geopenbaar deur wesens van die buitenste ruim nie.

* * *

Daar is dus ’n groot kans dat beide identiteit en oortuiging of vermoede dat ons bestaan ’n doel dien, dinge is wat ons self uitdink. Dit is ook so dat sommige van ons hierdie dinge hanteer asof dit heilige waarheid is waaraan ons nie veel kan doen nie.

Is dit goed om te dink jou bestaan dien ’n doel?

Ek het reeds die idee vermeld dat iemand warm sop en brood kan voorsien aan honger mense sonder vergoeding, en teen geen koste vir die persoon wat die sop en brood kry nie, moontlik omdat hy of sy glo dis ’n manifestasie van die doel van hulle bestaan. Dan is daar ook die ou wat nie glo sy bestaan dien enige doel nie; dat hy gebore is en uiteindelik sal doodgaan en tussen-in maar net sy bes sal doen om so goed as moontlik oor die weg te kom met sy bure, uit die moeilikheid te bly meeste van die tyd, en die lewe soveel as moontlik die moeite werd sal maak vir homself, siende dat hy maklik genoeg sy eie lewe kan beëindig. Persoonlik het ek nie ’n probleem met laasgenoemde persoon nie. En as die persoon by die sopkombuis sê hy is ’n wese van die buitenste ruim wat maar net sy opdrag uitvoer, gaan ek ook nie ’n probleem hê met hom nie – solank die sop en brood van ’n kwaliteit is wat gewone aardbewoners deur die dag kan help. Aan die ander kant van die spektrum sal ek wel omgee as iemand my kop wil afsny omdat hy sê dis nie omdat hy wil nie, maar omdat geskrifte van 13 eeue gelede hom opdrag gee om dit te doen, dat dit inderdaad deel is van die doel van sy bestaan.

Die oortuiging dat jou bestaan ’n doel dien is, soos identiteit, nie inherent goed of sleg nie. Beide kan jou help om heel en redelik gesond deur die dag te kom, en nie in die tronk of die malhuis te beland nie. Beide kan ook jou pad na die tronk of die malhuis besonders kort en reguit maak. En beide kan jou óf in staat stel om in relatiewe vrede te leef met die meerderheid van die gemeenskap, óf dit kan jou op ’n oorlogspad sit met ander lede van die gemeenskap, of met die meerderheid lede van ander gemeenskappe.

Wie is jy, aan die einde van die dag? En glo jy jou bestaan dien ’n doel? Indien wel, wat is hierdie doel, en waar het jy aan die idee gekom dat dit die doel van jou bestaan moet wees?

______________________