Aantekeninge, avontuur, en om jou droom na te jaag

DONDERDAG 19 NOVEMBER 2015

Soos ek werk aan materiaal wat ek geskryf het in 2005, besef ek dat ek uiteindelik klaar gaan wees met 25 jaar se aantekeninge – oorgetik, geredigeer, vertaal, en gepubliseer.

Een-en-twintig jaar gelede was ek 23 jaar oud, en aan die begin van my volwasse lewe; nou is ek in my middel-veertigs, halfpad op pad daarna om bejaard te wees. Ek kan myself voorstel hoe iemand sal reageer wat die notas volg al die pad van ‘94 af tot en met die mees onlangse notas van hierdie week. Ek sal nie te verbaas wees nie as die persoon sy skouers moet optrek en moet vra: “Is dit al?”

Ek is bewus van die feit dat daar nie juis avontuur was nie. (Of was daar, en ek ignoreer dit net? Ek het immers in drie verkillende lande gewoon sedert 1994.) Ek het wel iemand ontmoet en ’n lewe saam met haar begin, maar geluk maak nie noodwendig vir goeie literatuur nie. En behalwe vir my mislukkings om meer geld te maak die afgelope tien jaar, was daar nie juis groot uitdagings wat ek die hoof moes bied nie.

Is hierdie ’n oproep tot aksie? Moet ek iets doen om my skryfwerk interessanter te maak? Ek meen, as ek fiksie geskryf het, kon ek nog weggekom het met ’n saai lewe. Of as ek geskryf het oor ander onderwerpe as my eie lewe …

WOENSDAG 9 DESEMBER 2015

Om ’n maandlange reis deur Asië te onderneem om in ’n museum of paleis in Frankryk op te eindig, sal die lewe wat ek reeds bewerkstellig het meer kleur gee, en ’n paar onvergeetlike herinneringe – daaroor is daar geen twyfel nie.

Maar ek word ook gereeld daaraan herinner dat mense avontuur najaag omdat die avontuur deel is van hulle ideale bestaan. Hierdie nota is die nuutste manifestasie daarvan dat ek mý droom, mý ideale bestaan, nagejaag het, en tot ’n betekenisvolle mate gerealiseer het.

* * *

Op Saterdag 19 September 2015 skryf ek die volgende:

Twee beskouings van my lewe die afgelope twintig jaar:

1. Ek het ’n kreatiewe lewe nagestreef, en opofferings gemaak in die proses.

2. Ek het nie genoeg opofferings gemaak om ’n kreatiewe lewe na te streef nie.

______________________

Argument met geen reëls nie

DONDERDAG 5 NOVEMBER 2015

My posisie sedert ten minste “Om oor God te praat” (geskryf in November 2001) is soos volg: Jy kan nie glo in “God” sonder om “God” te definieer nie. En wanneer jy vir “God” gedefinieer het, het jy vir jouself ’n afgod gemaak – soos Moses se broer Aäron ’n afgod gemaak het uit goud en juwele, so doen mense dit met woorde.

VRYDAG 6 NOVEMBER 2015

Vele mense sal gereed wees met ’n teen-argument: “Ek definieer nie vir God nie. Ek glo in wat God van Homself geopenbaar het.”

Oukei, sal ek sê, laat ek weer probeer: ’n Mens kan nie glo in “God” sonder om eers vir “God” te definieer nie. En wanneer jy vir “God” gedefinieer het …

“Geen mens het vir God gedefinieer nie. Hy het Homself geopenbaar.”

Hoe weet jy? sal ek vra.

En so sal die heen-en-weer voortgaan, tot jy besef jy is kniediep in ’n argument met geen reëls nie. Want hoe argumenteer jy met, “Ek glo so want ek voel so”? Hoe argumenteer jy met, “Ek glo wat ek glo want ’n boek wat deur God self geskryf is wat die skrywers se hande op ’n sekere manier beweeg het, sê dis hoe dit is. En die boek moet reg wees want die boek sê dit is reg. En my gevoel bevestig dit. En dinge wat ek al voorheen gevoel het, bevestig dit ook. En omtrent almal wat ek ken, glo ook so.”

Hoe argumenteer jy ’n punt as die ander persoon kan sê net wat hy wil sonder enige verwysing na onafhanklike navorsing of bevestiging buiten ander mense wat ook ’n sterk persoonlike aandeel het dat dit wat hy sê en glo, waar is?

“Hierdie is die dop van ’n draakeier,” sê iemand met ’n volstruiseierdop in haar hand.

“Hoe weet jy dis ’n draakeierdop?” vra iemand anders.

“Want ek voel dis waar, en jy kan niks sê wat my sal oortuig wat ek voel is nie waar nie.”

______________________

Hoe ek al geld gemaak het, en wat ek daaruit kan leer

WOENSDAG 4 NOVEMBER 2015

Hoekom slaag ek daarin om geld te maak as ’n Engelse onderwyser? (Leidraad: Dis nie omdat ek goed is daarmee om geld te maak nie.)

Nog ’n vraag: Waarmee het ek al geld verdien, en/of waarmee verdien ek geld?

1. Deur mense te help met hul Engelse studies in klasse wat deur ander mense gereël word

2. Deur EFL-materiaal te produseer wat deur ander mense aangevra is, of deur materiaal beskikbaar te stel wat ek ontwikkel het

3. Deur kliënte te bedien in ’n tabakwinkel

4. Deur etes af te lewer vir restaurante

5. Deur intekenaars te werf vir ’n provinsiale dagblad, en later vir ’n omgewingjoernaal

6. Deur administratiewe take te verrig in ’n kantoor

7. Deur teks wat deur ander mense geskryf is, te proeflees

8. Deur resensies te skryf oor produkte

9. Deur aan mense spasie op ’n bediener te verskaf vir hul webwerwe, en deur ’n paar ander internet-verwante dienste te verskaf

10. Deur boeke te skryf en te verkoop in gedrukte en elektroniese formate

Watse goue lyn loop deur al hierdie dinge? Mense het iets nodig gehad, of hulle wou iets gedoen hê; ek was op die regte plek op die regte tyd, en dit was binne my vermoëns om daai produk of diens aan hulle te lewer.

Interessant dat die lys insluit sogenaamde “cold calling” – waar ek letterlik aan mense se deure geklop het om iets aan hulle te verkoop. Meeste mense sidder aan die blote gedagte. Ek hoop self dat dit nooit weer nodig sal wees vir my om dit te doen nie, maar – ek het heel goed gedoen daarmee toe ek dit wel moes doen.

______________________

Ou spoke, of slapende honde

DINSDAG 20 OKTOBER 2015

Gister bring ’n ou gedagte in nuwe klere: My Vier Mislukkings:

1. [Beter Chinese taalvaardigheid]

2. [Meer geld]

3. [Permanente verblyfreg in Taiwan]

4. [Bestuurslisensie in Taiwan]

Die gedagte het my so lank besig gehou dat ek nooit uitgekom het by die teenoorstaande lys nie: My Drie Suksesse:

1. Skryfwerk – presies die tipe materiaal wat ek in 1994 gehoop het ek sou produseer, maar wat ek gevrees het nié geskryf sal word nie as gevolg van die druk van ’n “normale” volwasse lewe.

2. Ek het myself ordentlik genoeg gedra en was net mooi snaaks en slim genoeg om ’n pragtige, lewenslustige vrou te oorreed om my ’n kans te gee.

3. Ek lees baie – nie soveel befaamde romans soos mens altyd dink jy moet nie, maar oor wat aangaan in die wêreld, en oor geskiedenis, en oor die menslike kondisie.

SONDAG 25 OKTOBER 2015

23:28

Wie is ek? Waar hoort ek? Waar is my plek in die wêreld? Wat is die doel van my bestaan? Wat moet ek met my lewe doen?

Ek vind dit vreemd dat ek nie meer juis dink oor hierdie dinge nie. Asof dit maar net op ’n stadium van ’n mens se lewe vir jou belangrik is.

Sal dit nie interessant wees om weer die ou spoke te gaan opsoek nie? Of is dit slapende honde?

23:42

Dink ek nie meer oor daai vrae nie omdat ek die antwoorde ontdek het, of uitgewerk het? Of dink ek nie meer daaroor nie omdat ek nie meer omgee nie? Indien laasgenoemde, is dit omdat ek meer sinies geraak het die afgelope tien jaar? Hoekom het ek meer sinies geraak? Was ek naïef tien jaar gelede? Of eerder, waaraan het ek nog geglo soos ’n kind tien jaar gelede?

’n Paar dae gelede op pad kafee toe vra ek myself ’n groot guns: Moet asseblief nie ’n bitter ou man word nie.

MAANDAG 26 OKTOBER 2015

13:15

Mens moet lewe aan jouself verkoop. Hoekom? Anders verkoop ’n ander deel van jou persoon dalk dood-aan-eie-hand aan die Besluitnemer en Uitvoerder van Gedrag.

Om jou eie dood te verhaas kan immers op verskeie maniere bewerkstellig word: deur te veel te rook, deur te veel te drink, deur ’n koeël deur jou eie kop te stuur, deur jouself te ontneem van suurstof, deur te veel te eet, selfs deur te lewe met wat lyk na passie en oorgawe, soos om op ’n maniese bul se rug te spring en hom te ry tot hy jou afgooi en jou hart deurboor. “Hy was so lief vir die lewe,” sal mense sê. “Hy’t geen vrees gehad nie,” sal ander byvoeg.

13:30

Is dit goed of sleg dat daar niemand is wat my kan oortuig dat wat ek sover gedoen het met my volwasse lewe die moeite werd was nie?

WOENSDAG 4 NOVEMBER 2015

’n Gedagte maal nou al vir ’n paar dae lank in my kop: Die vraag “Wie is jy?” (in die breë sin van die woord) behoort beantwoord te word met nog ’n vraag: “Wie wil weet?”

______________________