Wanneer optimisme ’n slegte ding is

DONDERDAG 23 APRIL 2015

Wat sê ’n mens as jy vir die sewentiende keer jou vingers sleg verbrand het omdat jy gedink het dit sal oukei wees om ’n warm pot van die stoof af te haal met jou kaal hande? En jy weet jy was nie in gedagte nie. Jy weet jy was nie haastig nie. Jy het, ten spyte daarvan dat jy al hoeveel keer in soortgelyke situasies was en gesien het hoe lelik sulke brandwonde kan wees, hoe pynvol dit kan wees, besluit om die kans te waag. Wat sê ’n mens?

* * *

Misplaaste optimisme.

Optimisme is gewoonlik ’n goeie ding, maar spekulatiewe transaksies op enige mark is een voorbeeld van vele waar optimisme geen plek het nie.

Meer as dit, optimisme in sommige situasies kan dodelik wees.

Mens wil dit glo nie. Dis ’n klassieke geval van kognitiewe dissonansie: “Optimisme is dan so ’n goeie ding!” wil jy uitroep.

’n Kar rol vorentoe, op pad na ’n 200-meter diep afgrond. “Ek is seker daarvan die kar sal stop voor die afgrond” is ’n voorbeeld van misplaaste optimisme – optimisme wat jou jou lewe kan kos.

Iemand gryp jou in ’n parkeerterrein, gooi ’n sak oor jou kop en druk jou in ’n kar in. “Dit sal oukei wees sodra ons êrens aankom,” skop jou optimisme in. Wanneer jy ’n uur later vasgebind sit op ’n stoel in ’n donker vertrek en jy word stadig doodgemartel, weet jy – jy moes soos ’n besete kat gekrap en gebyt en geskop het om uit daai kar te kom. Jou optimisme was misplaas. Jou optimisme gaan jou jou lewe kos.

Feit: daar is situasies waar daar geen plek is vir optimisme nie.

Enige aktiwiteit op enige tipe mark is ’n situasie waar optimisme geen plek het nie. Voor jy jou rekenaar aanskakel en jou eerste transaksie waag, is dit van allergrootste belang om jou oranje “Optimisme regeer!” hoedjie van jou kop af te haal en te vervang met jou swart “Pessimism’s where it’s at!” of “I’m a miserable pessimist” of “Pessimists make it to another day” hoedjie.

Onthou: Optimisme wanneer jy handeldryf kan jou 175 keer jou gemiddelde profyt kos in een transaksie.

______________________

Die trifecta van volwasse lewe sukses

WOENSDAG 25 MAART 2015

Hier is die trifecta van volwasse lewe sukses, soos ek die breë gemeenskap – dit wil sê, meeste volwasse mense in jou onmiddellike omgewing, en/of jou vriende en familie, en/of almal op jou sogenaamde vriendelys op Facebook – se beskouings interpreteer:

1. Ten minste twee kinders – een kon ’n gelukskootjie gewees het; ’n tweede bewys dit was nie

2. Meer geld as wat jy nodig het om te oorleef – al het jy dit geërf, of gewen met ’n krapkaartjie

3. Jy doen iets interessant – kan jou beroep wees, of enige iets anders wat min of meer ’n uitdaging is

Indien hierdie kriteria aanvaar word, ken ek bitter min mense wat werklik suksesvol is. Ek sien myself amper altyd as minder suksesvol as meeste van my tydgenote omdat ons nie kinders het nie, en omdat ek net ’n bietjie meer geld maak as wat ek nodig het om te oorleef. Maar ek ken ’n hele paar mense met twee kinders, nie veel geld nie, en hulle doen nie iets interessant nie; ook mense met geld, maar hulle het net een kind, en ook húlle doen nie iets wat ek reken naastenby interessant is nie.

MAANDAG 6 APRIL 2015

Om hierdie gesprek so een tree weg te skuif van blote kampvuur-praatjies, moet dit genoem word dat daar ’n paar uitsonderings is wat hierdie formule deurmekaar sal krap.

Daar is die geval van welgestelde mense wat interessante werk doen en interessante lewens lei, maar een van hulle drie kinders word ’n moordenaar, of ’n dwelmslaaf, of beide.

Daar is die man of vrou met geld, wat ’n interessante lewe lei, wat twee of drie kinders het, en steeds getref word deur ’n middeljare-krisis en dinge sê soos, “Ek wou soveel meer gedoen het met my lewe teen hierdie ouderdom.”

En dan is daar is die pa van twee kinders wat genoeg geld verdien en in sy eie opinie interessante werk doen, wie se dogter vriende is met die dogter van die hoof van ’n internasionale konglomeraat, wat gereeld oorsee gaan vir interessante projekte en wat ’n villa besit in die suide van Frankryk. “Kan Pa nie ’n bietjie meer geld maak dat óns ook somers in Frankryk kan spandeer nie?” sal ’n versoek wees wat gereeld die man sal laat twyfel of hy werklik so goed doen soos wat hy soms dink.

______________________

Aanvanklik deel van ’n poging om dinge te verduidelik

SATERDAG 4 APRIL 2015

Ons word betaal ’n gemiddelde uurlikse tarief van ongeveer 20 Amerikaanse dollar, oftewel R235 per uur. Ons gee klas vir tussen drie en ses ure per dag, met ’n uur of langer op die pad tussen klasse. Inkomste wissel tussen R10 000 en R20 000 per maand, hoewel dit ’n paar duisend minder of een of twee duisend meer kan wees. In die maand waarin Chinese Nuwejaar gevier word, kan ons inkomste soveel as 40% minder wees as gewoonlik.

Meeste van ons klasse is “kontrakte” van tussen 12 en 80 ure – wanneer die kursus voltooi is, is daar geen waarborg dat jy onmiddellik ’n nuwe “kontrak” sal kry nie.

Ons posisie by die skool is ook net deeltyds. Dit beteken wanneer daar ’n openbare vakansiedag is, word ons nie betaal nie. As ons die dag olik voel, mag ons maar by die huis bly maar ons word nie betaal nie. As dit te hard reën en die wind waai te sterk, word klasse gekanselleer, en dan word ons minder betaal daai maand. Wanneer ons op vakansie gaan om ons families te besoek, verdien ons geen geld vir daai twee weke of so nie, maar ons moet natuurlik steeds huur en rekeninge betaal. As ’n privaatstudent siek is, of te besig is, of een dag nie lus is vir Engels praat nie, word ’n klas maklik op kort kennisgewing gekanselleer en dan maak ons minder geld daai maand.

* * *

Ons huur is ongeveer R6500 per maand. My mediese versekering beloop sowat R300 per maand; my telefoonrekening en bydraes vir ander rekeninge is sowat R850. Lewenskoste is omtrent R4000 per maand. My lewensversekering is byna R600 per maand. Ek betaal ongeveer R850 per maand belasting.

* * *

Sedert my vroeë twintigs het ek geweet ek sou dit nie kon maak in ’n voorstedelike middelklasbestaan nie. Ek het ook geen begeerte gehad om tipiese middelklas sukses te behaal nie. Ek het geen onmiddellike hunkering gehad daarna om te trou, myself te vestig, kinders te kry, of te begin met ’n loopbaan nie.

As jy nie van beter weet nie, sou jy dalk raai dat ek hedonistiese motiewe gehad het – om pret te hê, om avontuur te soek, en so aan. My werklike motivering was aansienlik valer: ek nodig gehad om te weet wat die waarheid is. As kind het ek altyd geglo in dinge. Teen die tyd wat ek 24 was, het ek geglo in niks anders as die realiteite van ’n aktiewe bestaan en die onafwendbaarheid van die dood nie.

Die idee om myself te verbind tot ’n loopbaan het vir my voorgekom as vulgêr, selfs belaglik. Ek wou … nee, ek het nodig gehad om weg te kom van die masjien wat die samelewing in my oë was.

Ongelukkig het ek teen my middel-twintigs ’n aardige bedrag studieskuld opgegaar; die moderne weergawe van die Middeleeuse landheer se greep op sy lyfeienes en landbewoners.

Teen die einde van 1995 het ek ’n derde weg gevind tussen vlug en middelklasvoorstad. Ek het Suid-Korea toe gegaan waar ek vir twee jaar sou werk as Engelse onderwyser. Ná ’n paar maande terug in Suid-Afrika in 1998 waar ek naïef geglo het ek gaan begin inpas in die middelklas gemeenskap, is ek Taiwan toe.

Taiwan het goed uitgewerk vir my die laaste 16 jaar. Ek verdien genoeg geld om te oorleef, en om Suid-Afrika toe te kan gaan elke twee jaar of so om my familie te sien. Ek het genoeg tyd om te lees en te skryf. En teen alle verwagtinge in, het ek ontmoet en is uiteindelik getroud met ’n wonderlike vrou.

* * *

Terug in Suid-Afrika was my ouers se finansiële welstand vasgevang in ’n skynbaar eindelose tuimeltreinrit. By tye het hulle baie meer geld gemaak as ek; ander kere minder.

Uit die aard van die saak wil ek help wanneer hulle in die moeilikheid is. Vir hierdie doel moet ek meer geld maak.

Hier is waar die ironie inskop: Ten spyte daarvan dat ek nog altyd gemaklik was met ’n Spartaanse leefstyl, en dat ek nooit belanggestel het om voor te hardloop in die resies vir meer geld nie, ken ek nie persoonlik enige iemand wat al meer maniere probeer het om geld te maak nie. Al wat ek nog nie probeer het nie, is prostitusie, en misdaad.

Feit is, ek is siek en sat daarvoor om sleg te voel omdat ek nie méér geld maak nie. Maak nie saak wat jy doen nie, aan die einde van die dag vra ’n man wat lyk soos ’n begrafnisondernemer: “Hoeveel geld het jy?” Dan probeer jy weereens verduidelik. Niks, tik hy dan op sy rekenaar in. En soos jy jou hand oplig om beswaar te maak, kyk hy reg deur jou en wys met ’n benerige vinger vir die volgende persoon in die ry om nader te stap.

______________________