Net genoeg projekte, en goeie stelsels om dit te behartig

WOENSDAG 25 MAART 2015

Op Vrydag 13 Maart en Saterdag 14 Maart het ek aantekeninge gemaak oor die probleem dat ek te veel projekte onderneem.

Die laaste paar dae dink ek weer oor my mislukkings, bowenal die oorkoepelende mislukking om ’n meer skaflike inkomste te verdien, en my enkele suksesse – veral my skryfwerk, wat, indien dit kommersieel suksesvol was, ek nie nodig sou gehad het om hierdie nota te maak nie.

Dit bring my toe by ’n vraag waaroor ek al soveel besin het dat sommige professionele mense sal sê ek het ’n obsessie hieroor. Twee dinge staan uit as redes hoekom ek vashaak by my huidige inkomste:

1) Ek het vanaf 2006 ’n tendens voortgesit wat ek reeds in 1999 begin het, en dit is om te veel projekte aan te vat (soos ek reeds genoem het).

2) Ek het nie goeie stelsels in plek om projekte te bestuur en selfs 90% outomaties te laat loop nie.

Aanvanklik het ek gedink dit is óf die een rede óf die ander een, maar toe besef ek selfs al het jy net een onderneming, of een projek, as jy nie ’n goeie stelsel het om dit te bestuur nie, gaan dit nie op die langtermyn suksesvol wees nie. En selfs al het jy ’n goeie stelsel vir een of twee verskillende projekte, kan jy nie aanhou om projekte aan te vat nie want goeie stelsels val nie uit die lug wanneer jy dit nodig het nie – dit vat tyd en moeite en dalk geld om ’n goeie stelsel te ontwikkel.

Dus, vir elke projek of inkomste-genererende onderneming wat jy aanpak, het jy ’n goed uitgewerkte stelsel nodig ten einde die waarskynlikheid van sukses ten minste 50% te maak, indien nie beter nie.

Dus twee: Goeie stelsels vat tyd, moeite en heel waarskynlik geld om te ontwikkel. Weerhou jouself derhalwe daarvan om projekte aan te pak of ondernemings te begin voor jy nie ’n goeie stelsel het om die nuwe projek te bestuur en uiteindelik op outomaties te sit nie (indien moontlik).

Dus, drie: Fokus daarop om goeie stelsels te ontwikkel, werk dan een vir een jou projekte in die stelselmasjien in, en oorweeg dan om iemand te betaal as opsiener of assistent om seker te maak die masjien loop goed.

______________________

Die grootste struikelblok in my pad na sukses

WOENSDAG 18 MAART 2015

Die woord epifanie kan nie sommer enige tyd rondgegooi word nie. As ek derhalwe sê Vrydag 13 Maart 2015 se “Enkele aangename en onaangename waarhede” begin toenemend soos ’n epifanie te lyk, is ek duidelik in ’n ernstige bui.

Dit laat my voel asof ek in die moeilikheid is. Ek het oor die jare dosyne kere toegelaat dat ek verlei word deur optimisme en geloof in my eie vermoëns. “Haai, dit lyk soos iets wat ek kan doen!” is gewoonlik sonder om langer daaroor te dink, opgevolg met aksie. En voor ek myself van die rand van die afgrond kon red, het ek nog ’n projek begin, myself verbind aan nog ’n taak – nog interessante boeke in ’n spreekwoordelike sak gepak wat ek lankal nie meer oor my skouer kon gooi nie.

Ek sien hoe ander mense wat soortgelyke projekte as ek onderneem verby my stap. “Sterkte!” sal hulle oor hul skouers roep soos ek hulle stof proe op ’n droë tong. “Jou boot sal een van die dae inkom!” sal een dalk byvoeg as ’n nagedagte.

Ek is my eie grootste hulpbron. Ek is ook die grootste struikelblok in my pad na sukses.

______________________

Een alternatief om voor ’n trein in te stap

MAANDAG 16 MAART 2015

In mens se affer tye dink jy soms dinge wat bietjie rof is. Dan, wanneer jy weer beter voel, besef jy hoeveel van daai dinge eintlik waar is.

In my geval: In die eerste plek sal ek nooit verwar kan word vir ’n Viking kryger nie. Kan ek myself of my geliefdes beskerm in ’n oomblik van nood? Ek weet nie. Tweedens, ek is amper 44, en hoewel ek nie skuld het nie, maak ek nie veel geld met my paar deeltydse posisies nie. Derde plek, ek het nie kinders nie, en sal heel waarskynlik nooit kinders hê nie. Vier: Ek het onlangs 23 keer “Ja” geantwoord op ’n lys van 27 vrae om vas tel of ek kwalifiseer as ’n Hoogs Sensitiewe Persoon – wat onder andere beteken dat ek meer vatbaar is vir fisiese pyn, en selfs emosioneel geaffekteer kan word deur ’n groot lawaai. (Nie een van die vrae was oor hoogtevrees nie, maar ek kon dit ook nog byvoeg.) Punt vyf: My ouers en my susters dink ek is ’n verlore saak wat deksels gelukkig was om ’n goeie vrou te ontmoet. Ses: Ek sukkel vir jare om geld te maak met allerhande projekte … en sukkel steeds voort.

Wat staan ’n mens te doen? Wat is my opsies?

Een is selfmoord. Get it over and done with. Maak plek vir iemand anders, dalk iemand beter.

Nog ’n moontlikheid is om regtig hard te werk en een na die ander beskouing van jou op sy kop te draai en almal hulle woorde, en hulle opinies, te laat eet. Klink lekker. Kan werk.

’n Ander moontlikheid is om voor te gee dat nie al die slegte dinge wáár is van jou nie, dat jy nie soveel van ’n verloorder is nie. Terwyl jy doelbewus sommige dinge ignoreer, werk jy daaraan om te verbeter wat binne jou vermoëns is om te verbeter.

Moeilik om voor te gee, mag jy dalk sê. Nie maklik om te ignoreer wat vele mense van jou dink of sê nie, mag jy dalk byvoeg.

Dink so daaraan: een alternatief is om voor ’n trein in te stap.

______________________

Jannie ondermyn homself

SATERDAG 14 MAART 2015

12:15

Soos ’n onseker kind wat speelgoed bymekaarmaak, so maak ek projekte bymekaar. En die “kind” weier om sy speelgoed te deel met ’n ander kind, of om daarvan weg te gee, of om sy ma toe te laat om daarvan te verkoop by die kerkbasaar.

“Ek gáán nog daarmee speel!” sal hy uitroep, en sy armpies styf om sy speelgoed vou.

“Wanneer?” sal sy ma vra.

“Vanaand,” sal hy huiwerig antwoord. “Of môre …”

“Jy weet jy gaan nooit daarmee speel nie, Jannie,” sal sy ma weer probeer. “Jy’t te veel speelgoed!”

“Maar, ek het nog gedink …” sal Jannie begin, en homself meer as sy ma probeer oortuig dat hy nog groot planne het om eendag met ál sy speelgoed tegelykertyd te speel.

12:24

My projekte is soos ’n opgeblase burokrasie wat dreig om die staat te ondermyn wat dit veronderstel is om te dien.

______________________

Enkele aangename en onaangename waarhede

VRYDAG 13 MAART 2015

Meeste ondernemings wat aangepak word, misluk.

Meeste beleggings wat gemaak word, betaal nooit ’n dividend nie.

Meeste boeke wat geskryf word, word deur baie min mense gelees.

Meeste webwerwe word weinig besoek.

Meeste nuwe musiek word deur min mense gehoor.

Optimisme en geloof stu jou soms voort, en soms is dit jou ondergang.

Dit moet ook genoem word dat indien jy een onderneming aangepak het en dis suksesvol, is die waarskynlikheid beter dat jou volgende onderneming ook suksesvol sal wees.

As jy een belegging gemaak het wat wins oplewer, is daar ’n goeie kans dat jy hierdie sukses sal herhaal in jou volgende belegging.

As jy een boek geskryf het wat gelees word deur ten minste ’n paar honderd mense, is die waarskynlikheid goed dat jou volgende boek ook deur ten minste ’n paar honderd mense gelees sal word.

As jy een webwerf ontwikkel wat gereeld besoekers kry, is die kans goed dat jou volgende webwerf ook besoek sal word.

As jy ’n paar van jou eie liedjies beskikbaar stel en ’n duisend mense luister daarna, is die kans goed dat hierdie mense ook na die volgende snit sal luister wat jy uitreik, en dalk vir ander mense sal vertel daarvan.

Sukses, soos die spreekwoord sê, verwek immers meer sukses, en as jy min het van enige iets, sal jy waarskynlik in die toekoms nog minder daarvan hê.

______________________