’n Kolpunt oorsig van die Neanderdallers en die Cro-Magnon-mense

VRYDAG 20 FEBRUARIE 2015

Neanderdallers

• Neanderdallers se DNS verskil net 0,3% van moderne mense s’n.

Krediet: Tim Evanson, via Wikimedia Commons

• Die eerste mense met proto-Neanderdal eienskappe het geleef in Eurasië 350 000 tot 600 000 jaar gelede.

• Die eerste sogenaamde ware Neanderdallers het tussen 200 000 en 250 000 jaar gelede hulle verskyning gemaak.

• ’n Omvattende 2014-studie van Neanderdal bene en gereedskap het bewys dat Neanderdallers uitgesterf het in Europa tussen 41 000 en 39 000 jaar gelede.

• Hierdie skatting val saam met die begin van ’n baie koue tydperk in Europa, en is 5 000 jaar na Homo sapiens Europa bereik het.

• ’n Vergelyking van die DNS van Neanderdallers en Homo sapiens dui daarop dat die twee groepe afgeskei het van ’n gemeenskaplike voorouer tussen 350 000 en 400 000 jaar gelede. Hier voorouer was waarskynlik Homo heidelbergensis.

• Heidelbergensis het ontstaan tussen 800 000 en 1.3 miljoen jaar gelede, en het uitgesterf ongeveer 200 000 jaar gelede.

• Heidelbergensis se bestaansarea het gestrek oor Oos- en Suid-Afrika, Europa en Wes-Asië.

• Daar word geglo dat die Afrika-tak van Heidelbergensis tussen 350 000 en 400 000 jaar gelede begin ontwikkel het in die rigting van die moderne mens en dat die Eurasiese tak ontwikkel het in die rigting van die Neanderdallers.

Lees meer op hierdie blaaie:

https://af.wikipedia.org/wiki/Neanderdaller

https://en.wikipedia.org/wiki/Neanderthal

Cro-Magnon-mens

• Die vroegste bekende oorblyfsels van Cro-Magnon-agtige mense is volgens radiokoolstofdatering tussen 43 000 en 45 000 jaar oud.

• Die Cro-Magnon-mens word beskou as die voorouer van moderne Europeërs.

Krediet:  Oorspronklik opgelaai deur Elapied op die Franse Wikipedia, via Wikimedia Commons

• Daar is aanduidings dat sommige Cro-Magnon-mense blou oë, donker hare en ’n “swart” gelaatskleur gehad het.

• Anatomies moderne mense het na skatting hul eerste verskyning gemaak in Oos-Afrika 100 000 tot 200 000 jaar gelede.

• Volgens teorie het ’n uittog uit Afrika oor die Arabiese Skiereiland ongeveer 60 000 jaar gelede die moderne mens na Eurasië gebring, met een groep wat hulleself gevestig het in die kusgebiede rondom die Indiese Oseaan en die ander groep wat verder noord beweeg het tot in Sentraal-Asië.

• Die binnelandse groep word beskou as die stigters van Noord- en Oos-Asiërs, blankes, groot dele van die Midde-Oosterse bevolkings, en van die bevolkings van Noord-Afrika.

• Migrasie van die Swartsee-gebied na Europa het begin ongeveer 45 000 jaar gelede, en teen ongeveer 20 000 jaar gelede het die moderne mens die westelike rand van Europa bereik.

• Cro-Magnon-mense het die Europese landskap gedeel met Neanderdallers vir 10 000 jaar of langer, totdat laasgenoemde van die fossielrekord verdwyn het.

• Daar bestaan onsekerheid oor die verhouding tussen die Neanderdallers en die Cro-Magnon-mense, en oor die verdwyning of uitwissing van eersgenoemde. Teorieë sluit in vreedsame naasbestaan, kompetisie, verbastering, assimilasie, en volksmoord.

Lees meer op hierdie blaaie:

https://af.wikipedia.org/wiki/Cro-Magnon-mens

https://en.wikipedia.org/wiki/Cro-Magnon

______________________

Die jaartalle krap aan my

DONDERDAG 5 FEBRUARIE 2015

Wat beteken 2015? Wat beteken dit dat ek gebore is in 1971? En niemand behalwe wetenskaplikes praat eens van 2045 of 2055 nie!

Dit krap nou al lank aan my dat ek die heeltyd dink aan hierdie jaartalle, maar ek weet nie mooi hoe hulle in mekaar steek nie. En as ek weer sien, verander die nommer al weer.

Hier is een verduideliking:

Ek is gebore in 1871. Dis nou 1915, die tweede kalenderjaar van die Groot Oorlog. Indien ek ernstige ongelukke en siektes kan vermy en ’n redelike gesonde leefstyl handhaaf, kan ek verwag om te leef tot min of meer die middel 1940’s.

Dit beteken ek is gebore in die jaar toe Otto von Bismarck Pruise en geallieerde Duitse state gelei het tot oorwinning oor Frankryk, en die vereniging van Duitsland. As Suid-Afrikaner kan ek praat van my tydgenote Jan Smuts, Louis Botha, en Sol Plaatje. Op die internasionale toneel sluit my tydgenote in Mahatma Gandhi, Franklin Roosevelt, Winston Churchill, Josef Stalin en Vladimir Lenin.

My laaste dae breek dalk aan in my sewentigs, net nadat die geallieerdes die Fasciste verslaan het in die Tweede Wêreldoorlog. Sou ek nog ’n dekade leef, tot in my middel tagtigs, sou ek kon sien in ’n kleurtydskrif en moontlik op swart-en-wit TV hoe ’n jong sanger met die naam van Elvis Presley sy been skud soos geen ordentlike jong man dit in my dag sou gedoen het nie.

   

——————–

(Erkenning vir die Bismarck foto: Bundesarchiv, Bild 183-R68588 / P. Loescher & Petsch / CC-BY-SA 3.0)

______________________

“As geldmaak nie jou eerste prioriteit is nie, wat is dan?”

WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2015

Stel jouself voor iemand vra jou om ’n redelike groot geldelike bydrae te maak tot ’n saak, en jy antwoord, “Ek kan jou nie regtig help nie. Ek maak nie juis veel geld nie. Dis nie my fokus nie.”

“Wat bedoel jy geldmaak is nie jou fokus nie?” sal die persoon vra. “Almal het tog geld nodig!”

Nie een om ’n kans te laat verbygaan om ’n wanopvatting uit te wys nie, reageer jy deur te bevestig dat meeste mense geld nodig het, maar dat nie almal nodig het om geld te maak nie. As voorbeelde noem jy monnike en nonne, ryk mense se kinders, mense wat ryk geërf het, kriminele wat reeds genoeg gesteel het, en so aan.

Jy verduidelik verder dat jy wel ’n deeltydse werk het, maar dat jy net genoeg geld maak om huur te betaal, kos te koop, rekeninge te betaal, en so nou en dan iets te doen wat jy geniet. Jy voeg by dat enige ekstra geld gespaar word sodat jy elke jaar of twee jou familie kan besoek.

Na ’n oor en weer gevraery kom dit uit dat jy tog probeer om meer geld te maak.

“Ja,” sal jy sê. “Dit is so.”

Jy verduidelik dat jy nie onnosel is nie. Jy is bewus van die voordele daarvan om meer geld te hê as net wat jy nodig het om die nodigste te betaal en die noodsaaklikste dinge te koop. “So ek probeer om ’n bietjie meer geld te maak, maar weereens, dis nie my eerste prioriteit nie.”

“Jy’t nie kinders nie, het jy?” sal die ander persoon vies vra.

“Nee,” sal jy antwoord. “Daarvoor sal ek immers heelwat meer geld nodig hê.”

“As geldmaak nie jou eerste prioriteit is nie, wat is dan?” sal die ander persoon vra, teen dié tyd sigbaar geïrriteerd.

“Soos elke ander mens op hierdie planeet,” begin jy nadat jy ’n gepaste pose ge-strike het, “insluitende die man of vrou wat met liefde ’n kind grootmaak, die man of vrou wat in groot opregtheid ’n god aanbid, en die man of vrou wat groot hoeveelhede dwelms of drank gebruik, is my eerste prioriteit om my eie lewe die moeite werd te maak. Ek het ontdek dat daar dinge is wat relatief min geld vereis wat my inderdaad laat voel asof my lewe die moeite werd is om te leef, meer as wat die geval was toe ek bloot probeer het om soveel geld te maak as moontlik en nie veel anders nie.

“As ek deur wie ek is en wat ek doen ’n klein bydrae kan maak om ander mense te help om ook oortuig te wees dat húlle lewens die moeite werd is om te leef,” voeg jy dan na by na ’n kort pouse, “is dit ook goed.

“Maar,” sê jy dan, en sirkel terug na die begin van die gesprek, “ongelukkig maak ek nie tans genoeg geld om veel by te dra tot hierdie edel saak nie.”

Is dit goed genoeg vir jou ondervraer?

Dit sal die dag wees.

______________________

Desperaat, en ’n historiese probleem met identiteit

VRYDAG 23 JANUARIE 2015

The One Minute Millionaire is ’n 2002-boek deur Mark Victor Hansen en Robert Allen wat verduidelik hoe ’n mens in teorie in 30 dae een miljoen dollar kan maak. Die proses word verduidelik aan die hand van ’n storie van ’n vrou wat pas haar eggenoot verloor het. Sy is in haar dertigs, met twee kinders, ’n karige inkomste, en skoonouers wat dreig om haar onbevoeg te laat verklaar en haar kinders weg te neem. Sy gaan ’n ooreenkoms aan met hulle dat indien sy een miljoen dollar in een maand kan maak, hulle haar sal uitlos. Indien sy misluk, verloor sy haar kinders. Haar gevolglike desperaatheid was presies wat sy nodig gehad het om haar te skok tot aksie – meer spesifiek, om ’n vrou wat sy geïdentifiseer het as ’n suksesvolle entrepreneur, te nader en te vra vir advies.

Vir my was desperaatheid eenvoudig nooit genoeg om sukses te verseker met enige van die vele ondernemings waarmee ek probeer het om geld te maak sedert 2006 nie. Of, soos ek telkemaal gedink het, dalk was ek nie desperaat genoeg nie. Ek het immers die heeltyd ’n dak oor my kop gehad, en ek het geen kinders wat na my kyk met honger in hulle oë nie.

Dát ek desperaat was om geld te maak, was nietemin duidelik. Dit was ’n probleem om verskeie redes:

1. Ek het nie saadkapitaal gehad nie.

2. Ek was bewus van die feit dat ek desperaat was, en hierdie bewussyn het my selfbeeld ondermyn.

3. Ek het derhalwe nie genoeg selfvertroue gehad om ander mense te nader om saam met my te werk nie. Ek was bang hulle sien my vir wat ek was: ’n behoeftige wat húlle hulp nodig gehad het.

4. As jy desperaat is, het jy nie tyd vir iets wat eers oor ses maande of ’n jaar kan begin geld inbring nie; jy het onmiddellik geld nodig.

5. Omdat jy nie jouself kan toewy aan ’n langtermyn projek of onderneming nie, is jy geneig om te spring van een idee na die ander.

6. Gebrek aan saadkapitaal, gebrek aan selfvertroue en verlaagde selfbeeld, en ’n rondspring tussen projekte is alles faktore wat waarskynlikheid van sukses verlaag. Jou amper onvermydelike gebrek aan sukses na drie maande, na ses maande, na twee jaar, na drie jaar … maak jou nog meer desperaat.

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2015

Ek het ook ’n geskiedenis met identiteitsprobleme. In my skryfwerk het ek kapitaal gemaak daarvan, maar dit kan nie ontken word dat ek steeds sukkel daarmee nie. Natuurlik weet ek wie ek is … maar wáár? wanneer? saam met wie?

As ek vroeg in 2006 besluit het EK IS WEBSITES – die skep van ’n webwerf vir ander mense óf om die werf te verkoop, sou die desperaatheid steeds ’n effek gehad het, maar ek sou dit vinniger oorkom het. As ek besluit het EK IS SHORT REPORTS, sou desperaatheid ook ’n effek gehad het, maar ook dán sou dit mettertyd vervaag het. As ek moes besluit het EK IS SPORTSBETTING, sou dit my steeds twee of drie jaar gevat het om suksesvol te raak, maar ek sou nie tyd gemors het met enige iets anders nie. Dieselfde kan gesê word oor finansiële markte, pryshandel op die sportmarkte, vryskutskryfwerk, of sosiale media bemarking vir ander mense.

Die probleem was, nie net was ek desperaat vir kontant nie, ek het ook geen benul gehad oor “wie” ek wou wees nie. Soos gewoonlik wou ek alles doen, want alles het goed gelyk.

Hierdie probleem steek steeds sy kop uit elke keer wanneer ek gekonfronteer word met meer as een opsie.

* * *

Om suksesvol te kan funksioneer en ’n aanspraak te kan maak op ’n plekkie in die son, moet ons aanvanklik ontdek en later besluit wie ons is en wie ons wil wees, en dan fokus daarop om elke dag hierdie persoon te wéés. As ons elke tweede maand van identiteit verander – “My naam is nie meer Johan nie, dis nou Tienzin, en ek hou nie meer van braaivleis nie, ek is nou ’n vegetariër” – gaan ons sukkel om ’n sukses te maak van wat dit ook al is wat ons wil doen.

______________________