Geluk en blydskap is die eerste muur, en die laaste boom

VRYDAG 30 JANUARIE 2015

Vir lank het ek geglo blydskap en geluk is luukshede wat slegs geniet kan word deur mense met geen probleme nie. Ek het hard probeer om myself te oortuig dat dit oukei is om gelukkig te wees – dat mens nie ’n aartsonde pleeg en deur ’n bliksemstraal getref sal word as jy met ’n glimlag rondstap en vriendelik is met mense en grappies maak en oor die algemeen redelik positief voel oor die lewe nie.

Met die verloop van tyd het ek myself begin glo.

Helaas, ek val alte maklik terug in ou denkgroewe. Elke nou en dan vang ek myself dat ek weereens dink dat slegs onkundiges, kinders, psigopate en dwase kan wegkom daarmee om geluk en blydskap te ervaar as ’n normale bestaanstoestand.

Die waarheid, soos vele mense reeds weet, is dat geluk en blydskap die eerste muur is wat jou beskerm teen die aanslae van die lewe; geluk en blydskap is ook die boom in die agterplaas waar jy jou laaste posisie sal inneem om jouself lewendig, en min of meer gesond te hou.

______________________

Suksesvol as wie, en wat?

WOENSDAG 28 JANUARIE 2015

Ek is al vir ’n geruime tyd gefassineerd deur die verskil tussen suksesvolle mense en minder suksesvolle mense. My aandag verskerp altyd wanneer iemand my aandagveld betree wat ek reken ’n goeie gevallestudie sal wees – in vlees en bloed, in ’n TV-program of in ’n film. Ek let op hoe hierdie mense optree, hoe hulle ’n vertrek binnekom, hoe hulle mense groet, hoe hulle na ander mense luister, hoe hulle aantrek, selfs watse woordeskat hulle gebruik.

Twintig jaar gelede was my rolmodel – die persoon wat ek die graagste wou wees, die persoon wat ek geïdealiseer het, die askeet. Ek het gedroom daarvan om in staat te wees om te onttrek van die samelewing en in ’n klipfort te woon ten minste drie dae se stap van die naaste dorp af – en met geen paaie wat toegang verleen aan enige tipe voertuig nie.

Hierdie belangstelling in die suksesvolle persoon manifesteer ’n ambisie wat sekerlik geen verrassing is nie: ek wil suksesvol wees. Ek wil soos ’n suksesvolle persoon optree; ek wil soos ’n suksesvolle persoon praat, soos ’n suksesvolle persoon dink, en mettertyd verwag dat ek suksesvol sal wees wanneer ek ’n projek of onderneming aanpak.

Het ek uiteindelik ’n transformasie ondergaan? Het die een wat ’n askeet wou word moeg geraak vir eenkant staan? Het hy begin wonder hoe dit sal voel om een van “hulle” te wees?

Die feit is, die askeet ís suksesvol, al sal studente en na-apers van konvensioneel suksesvolle mense dit nie sien nie. Wanneer die askeet praat, praat hy nie apologeties nie. Die askeet dra nie ’n duur pak klere nie, maar hy is gemaklik in die materiaal wat hy oor homself drapeer. Die askeet is nie arm nie, al het hy min geld.

Die askeet is suksesvol, want hy doen wat hy wil. Hy volg sy eie kop. Hy vra nie verskoning nie. Hy verwag nie om aanvaar te word nie. Hy verwag wel om in vrede te leef, relatief goed te voel oor wie en wat hy is, en uiteindelik in vrede te sterf.

Meeste mense wil sekerlik aan die einde van die dag suksesvol wees, maar jy moet jouself afvra: suksesvol in wát, en as wié?

———————-

Lees ook oor Richard Withers, ’n kluisenaar in die “moderne woestyn”.

______________________

Regte plek op die regte tyd

DINSDAG 20 JANUARIE 2015

Malcolm Gladwell redeneer in sy boek, Outliers, dat Bill Gates en Steve Jobs in hulle tienerjare op die regte tyd op die regte plek was. Belangstelling in rekenaartegnologie, goeie skole en toegang tot rekenaars het alles die pad vir hulle voorberei om jare later ikoniese figure te word in die rekenaar- en besigheidswêrelde.

Ek is ook tot ’n mate gelukkig wat betref my skryfwerk. ’n Paar dekades gelede was daar ook skrywers soos ek wat materiaal geskryf het oor hulle eie lewens, en oor hulle idees oor die lewe. Min van hierdie mense se skryfwerk is seker ooit gelees deur meer as tien mense, en vele het uiteindelik gesterf sonder veel erkenning.

So ook is daar nou ander mense wie se lewens soortgelyk is aan myne, wat skryf oor soortgelyke temas, op wyses wat dalk ook nie sal lei tot enige kommersiële sukses nie.

Hier is waar my geluk inskop, my regte-plek-op-die-regte-tyd. Ek het aaneenlopend sedert 1999 ’n rekenaar gehad het vir my eksklusiewe gebruik met stabiele, vinnige toegang tot die internet – ’n voorreg wat ek nie geniet het voor ek Taiwan toe gekom het nie. Bepaalde kondisies in Taiwan het my ook in staat gestel om genoeg geld te maak om te oorleef en ’n bietjie te spaar sonder om veel meer as dertig van my lewensure per week op te gee daarvoor. Gooi hiermee saam my begeerte om geld van die huis af te verdien wat my blootgestel het aan internet bemarking, en binne ’n paar jaar het ek ’n kritiese hoeveelheid kennis en ervaring opgedoen van self-publikasie.

Ek kan dus bekostig om tyd te spandeer aan my skryfprojekte, ek weet hoe om dit te publiseer op my eie webblaaie en op ’n groeiende aantal ander platforms en in ander formate, en hoe om hierdie materiaal te versprei en verspreibaar te maak.

______________________

Skryfwerk as gesprek

SATERDAG 3 JANUARIE 2015

Vir lank het ek gedink aan baie van my skryfwerk as lesings, selfs preke. Nou verstaan ek dat meeste van my stukke deel is van ’n gesprek. Iemand anders lees dit, dink daaraan, en besluit hulle stem saam, of hulle stem nie saam nie. Great. Dis hoe dit moet wees. Dan is my skryfwerk deel van ’n gesprek, al kan ek meeste van die tyd nie daar wees om te reageer nie.

DINSDAG 6 JANUARIE 2015

Dit is goed om selfversekerd te wees en te sê wat jy dink, maar min mense twyfel aan die waarde van beskeidenheid – om jou opinie te lug, en dan te luister na wat iemand anders te sê het.

Wat jy gesê het of geskryf het mag dalk goeie punte aanraak; dit mag dalk ’n goeie argument wees; dit mag dalk iemand dwing om aan iets te dink waaraan hulle nog nooit gedink het nie, of om op ’n ander manier daaroor te dink. Maar die waarskynlikheid is sterk dat jy nie al die kante van die saak oorweeg het nie, dat jy nie al die hoeke gedek het nie. Dit is op hierdie punt wat ’n redelike mens sal besef wanneer jy ’n stelling maak, of ’n argument waag, verbaal of in geskrewe vorm, jy ’n poging aanwend tot gesprek eerder as om die ander persoon te bekeer tot jou kultus of ideologie.

Ek dink byvoorbeeld aan die spotprenttekenaar en skrywer, Scott Adams, se blog, sy interessante artikels, en dan lesers wat dinge skryf in die kommentaar seksie wat ewe slim is, maar hulle neem dalk ’n teenoorstaande posisie in.

Ek het ook gedink aan gesprekke wat ek het met volwasse studente. Ek maak byvoorbeeld ’n stelling, wat ek dink min of meer korrek is. Kort na ek my stelling gemaak het, staan ek terug, en een na die ander reageer die studente – sommige van die reaksies is weldeurdag, ander minder so. Die akkuraatheid al dan nie van my oorspronklike stelling is sekerlik belangrik, maar wat belangriker is, is dat ons in gesprek verkeer oor ’n spesifieke onderwerp. Dit, in my opinie, is veel waardevoller as enige lesing of preek wat ek kan afsteek.

______________________