Woensdag 31 Desember 2014

Ek is regtig bly dis die laaste dag van 2014. Dit gee my ’n verskoning om vandag en môre by die huis te bly.

(Vir meer as dit sal ek ’n formele hoedjie moet opsit en allerhande konvensies moet eerbiedig. En ek sou dalk as ek nie ’n vaakheid, of verveling, oor my voel neerdaal het nie.)

Ten minste die helfte van 2014 was besonders lekker. Ek het baie gedoen. Ek gaan 2014 uit op ’n goeie punt. Ek betree 2015 op ’n goeie punt.

Ek hoop ten minste die helfte van 2015 gaan net so goed, of selfs beter wees as 2014 … oftewel, ek gaan my uiterste doen om dit so te maak.

Hoop dis dieselfde vir almal.

____________________

Jy bou nog so lekker aan jou kaarthuis …

VRYDAG 19 DESEMBER 2014

Jy’s besig om vir jouself ’n huis te bou – met speelkaarte. Iemand stap nader, kyk na wat jy besig is om te doen, en stamp die huis om. Die kaarte fladder aarde toe. Jy’s woedend. “Wat de fok …” gil jy. “Hoe durf jy?! Ek was besig om ’n huis te bou – ’n tuiste! Beteken dit niks vir jou nie?! Beteken dit niks vir jou dat ek al maande lank bou aan hierdie huis nie?!”

“Ek het jou ’n guns gedoen,” begin die ou te verduidelik. “Ek verstaan dat jy besig was met iets waaraan jy baie waarde heg, maar goeie aarde buddy, jou huis was gebou met kaarte! Met fokken speelkaarte! Wat dink jy sou gebeur het as jy en jou familie hier ingetrek het en die eerste storm steek op?”

Jy stap woedend weg, skree elke nou en dan iets vieslik oor jou skouer.

Die volgende dag sien jy weer die ou. Jy skud sy hand. Jy sê, dankie, ek verstaan nou. “Ek was so gefokus op my plan,” gaan jy voort, “op die idee van ’n tuiste, ’n huis van my eie, dat ek die werklikheid misgekyk het.”

Daai selfde dag nog begin jy, weereens, van voor af.

______________________