Fyodor Dostoyevsky – skrywer, uitgewer, entrepreneur

VRYDAG 21 NOVEMBER 2014

Skrywers wat hulle eie boeke publiseer, troos hulleself gereeld daaraan dat van die bekendste skrywers in literêre geskiedenis hul eie boeke gepubliseer het. Mense wie se name geresiteer word sluit in Mark Twain, Louis L’Amour, Alexander Dumas, Thomas Hardy, Beatrix Potter, Stephen King, George Bernard Shaw, Walt Whitman, Virginia Woolf en Edgar Allan Poe.

Volgens ’n artikel op Huffington Post kan bekende skrywers wat hulle eie boeke gepubliseer het in vyf kategorieë gesorteer word: die skrywer wie se self-gepubliseerde boek aanvanklik ’n kommersiële mislukking was, maar wat later wye erkenning ontvang het daarvoor (voorbeeld: Edgar Allan Poe); die reeds kommersieel suksesvolle skrywer wie se vroeë boeke deur kommersiële uitgewers gepubliseer is, maar wat later besluit het om op sy eie te gaan (voorbeeld: Mark Twain); die skrywer wat sy eie boek gepubliseer het as deel van sy beroep (voorbeeld: professor van Engels, William Strunk Jr.); die skrywer wat later wêreldberoemd sou word wat sy eie boeke uitgegee het in sy jeug (voorbeeld: Stephen King); die skrywer wat self sy eie obskure boeke uitgegee het maar wat later kommersieel suksesvol sou word (voorbeeld: L. Frank Baum).

Ek publiseer my eie materiaal – op die internet en in gedrukte en elektroniese boeke. Ek het geen illusies van kommersiële sukses, of dat enige iemand my ooit sal herken as ek in ’n winkelsentrum ronddwaal nie. Wat my wel effens irriteer is die opvatting dat indien jy jou eie boeke publiseer, die boeke kwansuis van laer gehalte is. Hoekom so? Hoofsaaklik omdat geen persoon wie se werk dit is om geld te maak vir ’n maatskappy, die manuskrip deurgelees het, en gedink het die maatskappy kan wins maak deur die boek te publiseer nie.

Sekerlik beteken dit nie jou boek is goed net omdat iemand anders dit gepubliseer het nie, net soos dit nie beteken jou boek is van mindere literêre waarde net omdat jy besluit het om self verantwoordelikheid te neem vir die publikasie daarvan nie.

In elk geval, my bedoeling met hierdie kort artikel is nie om enige iemand te verveel met klagtes oor die snobisme van die establishment uitgewer of met ’n treurlied oor die onsekerhede van die self-gepubliseerde skrywer nie. Ek wil bloot iets deel wat ek gelees het op Wikipedia, oor ’n legendariese skrywer wat – dit kon jy seker raai – self van sy eie boeke uitgegee het:

Back in Russia in July 1871, the family [of Russian author, Fyodor Dostoyevsky] was again in financial trouble and had to sell their remaining possessions. […] Demons [an 1872 anti-nihilistic novel by Dostoyevsky] was finished on 26 November and released in January 1873 by the “Dostoyevsky Publishing Company”, which was founded by Dostoyevsky and his wife. Although they only accepted cash payments and the bookshop was in their own apartment, the business was successful, and they sold around 3,000 copies of Demons. Anna managed the finances.

Dostoyevsky proposed that they establish a new periodical, which would be called A Writer’s Diary and would include a collection of essays, but funds were lacking […].

In early 1876, Dostoyevsky continued work on his Diary. The book includes numerous essays and a few short stories about society, religion, politics and ethics. The collection sold more than twice as many copies as his previous books. Dostoyevsky received more letters from readers than ever before, and people of all ages and occupations visited him.

______________________

Hoekom ek enige ambisies om my eie besigheid te begin, genadeloos moet vergruis

SONDAG 16 NOVEMBER 2014

Ek moet eintlik enige ambisies wat ek het om ’n besigheid te begin, genadeloos vergruis.

Hoekom?

Dis vir my eie beswil.

’n Besigheid is soos ’n huwelik, of eerder, soos om ’n kind te hê. Jy moet die heeltyd dink aan jou besigheid. Jy moet beskikbaar wees sewe dae per week.

Jy moet ook die heeltyd werk daaraan om jou besigheid te laat groei. En elke nou en dan moet jy dink hoe jy ’n groter porsie van die koek kan wegvat van die kompetisie.

Ek dink soms ek kan ’n besigheid begin, en dan net ’n goeie bestuurder aanstel.

’n Goeie bestuurder is belangrik vir enige besigheid, daar’s geen twyfel daaraan nie. Maar ’n bestuurder voer uit wat jy as eienaar besluit. Die eienaar moet beleid bepaal. Die eienaar moet besluit in watter rigting die besigheid gaan. Die eienaar is die een wat visie moet hê, anders stagneer die besigheid.

Die eienaar het uiteindelik ’n goeie span nodig om sy visie uit te voer, maar nie een van sy waardevolle werknemers kan sy werk namens hom doen nie. As hy nie aan die hoof staan van sy eie projek nie, gaan dit op die rotse loop, en dan gaan die waardevolle spanlede, saam met die bestuurder, in elk geval een vir een dros.

Die vraag wat ek dus aan myself stel, is of ek toegewyd kan wees aan my eie besigheid. Nie net aan die begin nie, wanneer alles nuut en opwindend is, maar ses maande later, en vyf jaar later.

As ’n mens vind dat jy inderdaad nie jouself ten volle kan toewy aan ’n besigheid nie – en met besigheid bedoel ek ’n kommersiële onderneming wat oor ’n uitgebreide periode van tyd ’n produk of diens verkoop aan ’n mark, heel waarskynlik met die samewerking, teen vergoeding, van ander mense – moet jy nie jou eie tyd, die tyd van jou teikenmark, en die tyd van mense wat vír, of sáám met jou werk, verder mors nie.

Tensy jy miljoene geërf het, ryk getrou het, of die lotto gewen het, het jy nodig om geld na jou kant toe te kanaliseer om ’n bestaan te kan maak. Jy kan die kans waag om jou tyd aan ander mense, aan maatskappye, of aan instansies te verkoop. Of jy kan jou eie besigheid begin.

As jy egter nié jou tyd aan die hoogste bieër wil verkoop nie, en jy vind dat jy, soos ek, nie jouself behoort te begewe in die huwelik of voogdyskap van jou eie besigheid nie, is jy genoodsaak om iets anders te vind. En vir in geval jy wonder: dis nooit maklik nie, maar dit is nou makliker as ooit tevore.

______________________

Waar lê die probleem?

SATERDAG 8 NOVEMBER 2014

Ek sien vandag ’n meme op Twitter van ’n jong kind wat ’n Bybel vashou. Die teks oor die foto sê:

GOD LOVES YOU SO MUCH … THAT HE CREATED HELL … JUST IN CASE YOU DON’T LOVE HIM BACK

Dit laat my toe dink: Ek weet wat my opinie is oor die saak, maar hoe reageer mense wat self-identifiseer as Christene as hulle so iets sien?

Gestel ’n persoon wat nie veel meer weet van die Christelike religie anders as dat dit een van die Groot Drie is nie, sê vir ’n persoon wat identifiseer as Christen: “Vertel my van jou geloof. Verduidelik vir my die basiese beginsels – die storie, as jy dit so wil stel.”

Ek glo as hierdie toneel herhaal met tien, of 20, of 100 mense, dit net ’n kwessie van tyd is voor iemand sal sê: “Wag ’n bietjie. Wat jy vir my sê is dat God my liefhet, maar dat Hy hel gemaak het om my te straf vir in geval ek Hom nie terug liefhet nie?” En hierdie persoon sal dit vra in groot opregtheid, nie om snaaks of moeilik te probeer wees nie! Dit sal vir hierdie persoon ’n logiese konklusie wees van die storie wat aan hulle vertel is, die beginsels wat aan hulle verduidelik is.

Wat sou die reaksie wees van die persoon wat leef en dink en praat as “Christen”, en wat hom- of haarself sien as lid van ’n bepaalde geloofsgemeenskap? Sou hulle sê iets was verkeerd verduidelik? Sou hulle sê die ander persoon verstaan die hele storie verkeerd, of het nie reg gehoor nie? Sou hulle verskoning maak en die persoon ’n naam en telefoonnommer gee van ’n ander Christen, wat bekend is daarvoor dat hy of sy goed is daarmee om dinge te verduidelik wat ander misverstaan?

______________________

Krisis afgewend

DONDERDAG 6 NOVEMBER 2014

Die sleutelbord slaan nie homself nie. Die muis kliek, maar net wanneer ek een van twee vingers afdruk op sy flanke. Woorde stol op papier, maar sit vas wanneer ek hardop met myself praat … wat eintlik net ’n halwe waarheid is, want woorde sit ook vas in my keel, of kruip weg agter my tande wanneer ek iets vir iemand anders wil verduidelik, of hulle wil verveel met ’n staaltjie oor die Europese Middeleeue, of met een van my befaamde opinies.

Nie dat ek daarmee wil impliseer dat ek oor soveel kennis oor die Europese Middeleeue beskik dat ek sommer op ’n sypaadjie of op die moltrein iemand kan vermaak met staaltjies daaroor nie, maar ek het al ’n paar Wikipedia artikels gelees, ’n paar dokumentêre video’s gekyk, en, om die waarheid te sê, ’n hele paar boeke gelees oor die onderwerp.

Wat mens, in teorie, slimmer kan laat verskyn aan ander, maar dit maak jou geensins ’n beter piesang uitkieser nie. Ek meen, drie van my laaste drie piesangs het kneusplekke gehad! Was hierdie kneusplekke reeds teenwoordig onder die goudgeel skil in die supermark, of het ek die vrugte gekneus toe ek my halfliter koppie groentee daarop neergedruk het in die mandjie wat op die voorkant van my fiets gemonteer is?

Die einste halfliter groentee het gelek gearriveer in die spookagtig verlate buurt waar ek twee vertrekke in ’n ou huis ingerig het as my “kantoor”. Toe ek die sakkie met die tee en die goudgeel piesangs uit die mandjie haal, loop daar tee oor my skoene en oor my broek. “WTF?!” wou ek gil. Toe besef ek die sakkie lek. Het die koppie gebreek? Het die vrou by die teestalletjie nie die deksel behoorlik toegemaak nie? Nadat die sakkie tee oor my skoene en netjiese broek gedrup het vir ongeveer 12 sekondes terwyl lelike woorde vryelik uit my mond gevloei het, het ek uitgehardloop straat toe, die koppie uit die sakkie gehaal, en die tee in die sakkie in die drein gegooi.

Krisis afgewend.

Wat absoluut niks te make het met die Europese Middeleeue, of enige iets waarin enige iemand, ek ingesluit, enigsins belangstel nie.

______________________