Teen apartheid, én teen ’n korrupte regering

SATERDAG 11 OKTOBER 2014

Sommige blanke Afrikaners is van mening dat die Afrikaner nooit sy politieke mag moes opgee nie, en dat mede-Afrikaners wat twee of drie dekades gelede gereken het apartheid is ’n onreg en dat Suid-Afrika eerder ’n veelparty demokrasie behoort te wees, “volksverraaiers” is.

Die enigste mense wat nie wil toegee dat die huidige regering korrup is nie, het heel waarskynlik self hulle snoete in die trog, maar om tot die slotsom te kom dat die vorige bedeling nooit moes geëindig het nie omdat die huidige regering korrup is, is om jouself te bedrieg, en jouself te ontbloot as intellektueel lui, of oneerlik, of beide.

Apartheid en alles waarop dit in die praktyk neergekom het, móés beëindig word, omdat dit immoreel was, en omdat dit die onderdrukker en uitbuiter se wese tot in die kern korrupteer om ander mense te onderdruk en uit te buit.

Dit het verder tot almal se voordeel gestrek om apartheid te beëindig met ’n relatief vreedsame politieke skikking, want as dit nie op so ’n wyse tot ’n einde gekom het nie, sou dit verslaan moes word met ’n stryd wat bloediger en gewelddadiger sou wees as wat dit tot op daardie stadium was, waarin die blanke Afrikaner meer sou verloor het as net politieke mag.

Die huidige groep politici wat hul posisies van mag misbruik om die staat te beroof en die publiek te belieg en te bedrieg, moet gekritiseer word as ’n saak van beginsel. Dit is die plig van elke verantwoordelike Suid-Afrikaner, ongeag velkleur of politieke oortuiging, om onbevoegdheid, korrupsie en ander afstootlike gedrag te kritiseer. Nietemin vind sommige blanke Afrikaners dit vreemd dat mense wat ’n paar dekades gelede gepredik het dat apartheid moes eindig, nou saam kla oor die ANC regering. “Is dit nie wat julle wou gehad het nie?” sal hulle vra in hulle aanlyn kommentaar.

Wat “hulle” wou gehad het – die liberales en progressiewe mense van 20 of 30 jaar gelede, was vir ’n moreel onregverdigbare stelsel van onderdrukking om te eindig, omdat dit immoreel was, en omdat dit die blanke Afrikaner tot in die pit vrot sou maak – en reeds sommiges vrot, tot in die pit, gemaak het.

Wat hierdie liberale en progressiewe mense steeds wil hê, is ’n nie-rassige, demokratiese republiek. Om húlle te blameer omdat die regering in 2014 korrup en onbevoeg is, omdat hulle twee of drie dekades gelede gesê het apartheid moes eindig, en dalk selfs gewerk het daarvoor, is om by die verkeerde boom op te blaf.

______________________

Wat mense dink voor hulle kinders kry

WOENSDAG 8 OKTOBER 2014

Ek het self nie kinders nie (ek noem dit net vir lesers wat nie weet nie), maar ek reken ek het ’n goeie idee wat dit beteken om kinders te hê.

1. Jy ervaar blydskap en vervulling en geluk wat jy nooit, ooit sal kan verwoord aan iemand wat nie self kinders van sy of haar eie het nie.

2. Jy ervaar ook bekommernis, en hartseer, en teleurstelling wat jy nooit sal kan verwoord aan mense wat nie kinders van hulle eie het nie.

3. Jy dink anders oor jouself, jou eie waarde, jou rol in die samelewing, en wat jy sal nalaat van jou bestaan.

Ek wonder wel hoeveel mense dink aan die blydskap en die vervulling en die geluk, en besluit tog om nié kinders te kry nie. Hoeveel mense dink aan die bekommernis, en die hartseer, en die teleurstelling wat hulle in die gesig staar, en maak ’n wilsbesluit om tóg kinders te hê?

______________________

Om te argumenteer met ’n opgeblaasde ballon vol ou asem

MAANDAG 6 OKTOBER 2014

Meeste mense verstaan die verskil tussen ’n opinie en ’n voorkeur. “Ek hou van Italiaanse kos – om die waarheid te sê, ek verkies dit bo Spaanse kos,” is ’n voorkeur. Aan die ander kant is dit opinie om te beweer, “Italiaanse kos is beter as Spaanse kos.”

Met voorkeure hoef jy niks te staaf nie. Jy hoef geen bewyse voor te lê nie. Jy hoef geen feite aan te haal uit ’n gesaghebbende bron om gewig te verleen aan jou voorkeur nie.

Opinies, aan die ander kant, is ’n dier van ’n ander kleur. Hoekom sê jy byvoorbeeld Italiaanse kos is beter as Spaanse kos? Hoekom reken jy een speler sal waardevoller wees vir die nasionale span as ’n ander speler? Hoekom reken jy een oplossing is beter as ’n ander een?

Meeste mense wil hê dat hul opinies gewig moet dra; dat dit, inderdaad, van so ’n aard moet wees dat ander mense amper verplig sal voel om daarmee saam te stem.

As ek ’n opinie gee, wil ek dit kan staaf met betroubare feite – name, datums, dalk statistiek, en as ek my brein sover kan strek, wetenskaplike data. As ek nie op daai oomblik die nodige feite kan resiteer nie, sal ek óf stilbly, óf my opinie uitspreek met duidelike begrip dat ek dalk my feite verkeerd kan hê. As jy kan bewys dat ek my feite verkeerd het, kan jy van my verwag om toe te gee dat ek verkeerd is. Ek sal jou ook bedank dat jy my onkunde ontbloot het.

Natuurlik verwag ek dieselfde vergunning van jou. As jy nie jou opinie gewig kan gee met verifieerbare feite nie, en ek staan jou teë met relevante name en datums en syfers, gaan ek ook van jou verwag om te erken dat jy verkeerd was. Dieselfde geld indien jy wel aangehaal het wat jy gedink het feite is, maar ek kan bewys jou inligting is verkeerd.

As ek verifieerbare feite ter tafel gelê het wat bewys jou opinie dra geen gewig nie, en jy volhard dat jou opinie akkuraat is, sal ek jou nog ’n kans gee – mense gee nie graag in die hitte van die oomblik toe dat hulle die kat aan die stert beet het nie. As jy egter volhou dat jy reg is, en die feite wat ek ter tafel gelê het, eenkant toe stoot as blote ongerieflikhede, gee jy my geen keuse anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat jy ’n opgeblaasde ballon vol ou asem is nie – een wat enige tyd kan bars. Ek sal jou nie glo as jy beweer jou naam is Piet Verdriet of Piet Pompies of Jan Burger nie. Ek sal jou nie glo as jy vir my sê jy’s ’n gekwalifiseerde tandarts of ’n motorwerktuigkundige of ’n dosent aan ’n plaaslike universiteit nie. Ek sal inderdaad nie weer ’n woord glo wat uit jou mond uitkom nie.

Indien jy weier om ’n feit te aanvaar as ’n feit, ontbloot jy jouself as onbetroubaar, intellektueel vlak en onderontwikkeld, en heel waarskynlik as een wat nie skroom om mense te belieg en te bedrieg nie.

Mense wat ’n gewoonte daarvan maak, moet hulleself afvra hoekom dit so erg is om toe te gee hulle is verkeerd. En hoe seker is hulle dat hulle nie professionele hulp nodig het nie?

NASKRIF: Sondag 11 Junie 2017

Voorspelling kan ook gesien word as opinie. Dit is ook moontlik dat twee verskillende voorspellings gemaak kan word wat beide gebaseer op verifieerbare inligting, met die tweede voorspelling wat gerugsteen word deur inligting wat geïgnoreer is met die eerste voorspelling.

Voorbeeld: Ek reken Tennisspeler A is ’n beter kleibaanspeler as Tennisspeler B. Om gewig te verleen aan my opinie, haal ek statistiek aan van die twee spelers se wedstryde op kleibane.

“Ek sien wat jy bedoel,” gee my gespreksgenoot toe, maar maak dan ’n voorspelling. “Ek dink egter steeds B gaan vandag se wedstryd wen.”

“Waarop baseer jy dit?” sal ek vra. “Ek het dan nou net bewys dat A ’n veel beter rekord het op klei.”

Dalk is daar ’n paar mense wat ons gesprek volg. Almal kyk nou na my vriend. Sê hy niks om gewig te gee aan sy voorspelling nie, gaan die mense sy opinie ignoreer. Selfs as hy reg is en Speler B wen die wedstryd, sal die ander mense heel waarskynlik reken hy was bloot gelukkig.

Daar is egter ’n ander moontlikheid. Nadat ek my vriend herinner het daaraan dat ek feite op die tafel gelê het wat, sover as wat dit my aangaan, bewys dat Speler A ’n beter kleibaanspeler is as Speler B, sê my vriend: “Ek hoor wat jy sê, maar kyk ’n bietjie dieper. A het in elk van die eerste vier wedstryde van hierdie toernooi ten minste vier stelle nodig gehad om sy opponent te verslaan. B, aan die ander kant, het van die eerste rondte af sy teenstanders gedomineer. As jy kyk na die vorige drie kleibaantoernooie, sal jy ook sien B se spelkwaliteit en sy tegniek het verbeter met elke toernooi. Plus, moenie vergeet dat A ’n knie-operasie gehad het sewe maande gelede nie.”

Die eerste stel feite oor die spelers se vertonings in kleibaantoernooie is steeds akkuraat, maar dit is duidelik dat meer inligting aan die lig gekom het. Selfs al verloor Speler B aan die einde tog sy wedstryd, behoort almal beïndruk te wees deur my gespreksgenoot se redenasievermoëns, en deur die wyse waarop hy gewig gegee het aan sý opinie, aan sy voorspelling dat die speler met die minder goeie algemene rekord dalk net ’n hoër waarskynlikheid het om te wen.

______________________