Waarvoor jy leef, en waarvoor jy sterf – ’n paar kort notas

WOENSDAG 29 OKTOBER 2014

Op Sondag 14 November 2004 skryf ek:

“Die vraag is nie aan die einde net waarvoor jy leef nie, die vraag is ook waarvoor jy sal sterf. My opinie is dat jy sterf vir die dinge of die mense waarvoor jy leef, vir die saak wat jy dien.”

Soos ek die nota kontempleer, dink ek: Mense wat kinders het, het iets waarvoor hulle lewe, en iets waarvoor hulle sal sterf.

Ek noem dit nie omdat ek wens ek het kinders gehad nie; die tema is bloot iets waarop ek gereeld terugval as ek dink aan belangrike sake wat die volwasse persoon se lewe raak.

Onvermydelike vrae: Waarvoor lewe ék? Watse saak dien ék? Waarvoor sal ék sterf?

Antwoord: Ek het ’n maat. Ek het haar lief. Ek dink nie gewoonlik dat ek leef om haar gelukkig te maak nie, maar dit is iets wat daagliks meeste van my belangrike aksies en besluite affekteer. Sal ek bereid wees om vir haar te sterf, indien nodig? Ja, ek sal.

———————-

Ek het later gesien daar was twee addisionele notas op Maandag 13 Desember 2004:

11:26

Die punt is om vir iets te leef, sodat wanneer ons sterf, ons sal weet ons lewens was nie verniet nie.

11:36

Die vraag is dan, waarvoor leef jy?

Vele mense sal antwoord, “Ons leef vir ons kinders.”

Ek vra: Wat beteken dit? Jy leef vir jou kinders, hulle leef vir hulle kinders … op een of ander punt sal iemand moet leef vir iets anders, maak nie saak of hulle kinders van hulle eie het of nie.

Ek dink dis ondeurdag, selfs gevaarlik om te sê jy leef vir jou kinders. Dit voel reg. Jy’s regtig lief vir jou kinders, en jy sal regtig iemand se gesig pap slaan ter wille van jou kinders, so … dit kan mos net reg wees om te verklaar: “Ek leef vir my kinders! En vir my vrou … (of man).” Dan nie?

Nee! Dis iets wat edel en reg vóél – en lyk op papier, maar in werklikheid vervang die een geslag die ander met geen behoorlike begrip van die waarde of moontlike doel van hulle lewens nie, anders as, “Ek moet kinders kry.”

Hoor enige iemand anders die alarm weeklaag?

______________________

Die man, die kind, en ’n spesiale toebroodjie

VRYDAG 24 OKTOBER 2014

Toe ek vyf jaar oud was, het ek een oggend in ’n boom in ons voortuin gesit en wag vir die kleuterskoolbussie om my te kom haal. My ma was in die kombuis besig om vir my ’n toebroodjie te maak. Die volgende oomblik stop die bussie voor ons huis. Ek spring uit die boom uit, maak die tuinhekkie oop, en klim in die bussie in.

Soos die bussie wegry, sien ek hoe my ma by die voordeur uitkom met my toebroodjie in haar hande.

Dit het my hart gebreek. Ek het jare later nog vir haar vertel hoe diep dit my geraak het.

Ek is nou 43. Ek het vanoggend vir myself ’n toebroodjie gemaak, my vrou totsiens gesoen, en na die moltreinstasie toe gery.

Terwyl ek wag vir die trein, sit ek my plastieksakkie met die toebroodjie op ’n bankie neer. Ek herinner myself daaraan om nie die sakkie te vergeet nie (ek raak maklik verlore in gesprek met myself).

Dis toe dat ek onthou van die insident met my ma en die toebroodjie toe ek vyf was.

Ek wonder toe, as my vrou vir my die toebroodjie gemaak het, en ek het die toebroodjie in die stasie vergeet, hoe sou ek gevoel het daaroor?

Tot my groot vermaak besef ek dit sou my diep ontstel het.

______________________

Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?

WOENSDAG 22 OKTOBER 2014

Vanoggend by die tee-winkel staan ek langs ’n ouerige man van een of ander Westerse land. (Sy pienk skouers, ontbloot omdat hy ’n moulose frokkie aangehad het, het sy herkoms verklap toe ek nog etlike meter van die stalletjie af was.) Na hy liggies, in Engels, geflankeer het met die eienares van die besigheid en met haar bejaarde moeder, het hy na my gedraai.

“Are you an English teacher?” wou hy vriendelik weet.

Op my bevestiging merk hy op dat omtrent al die buitelanders wat hy raakloop, onderwysers blyk te wees.

“There are some engineers as well,” het ek hom reggehelp.

Toe ek wegry van die stalletjie, kon ek nie help om weer my kop te skud vir die vreemdheid van die vraag nie.

Stel jouself voor die eerste vraag wat iemand jou vra, is “Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?” Of, “Maak jy geld deur karre reg te maak?” Of dalk, “Maak jy geld deur mense te verteenwoordig in regsake?”

Ek vind dit hoogs amusant dat mense dink dis heeltemal normaal om, wanneer hulle jou vir die eerste keer ontmoet, te vra, “Hoe maak jy geld?”

Sou dit onbeleefd wees om vir iemand te vra, “Wat het dit met jou te doen?”

Natuurlik verstaan ek hoekom mense vir mekaar hierdie tipe vrae vra. Jy het beperkte geleentheid om iemand te identifiseer as vriend, vyand, of neutraal, en hoe hy of sy geld maak, is seker ’n maklike begin. (Asof iemand sal erken hy steel karre of beroof banke om kos op die tafel te sit.)

Ek sou nietemin graag vir die man wou verduidelik van my skryfwerk wat nie juis geld maak nie, maar wat vir my baie waarde inhou, en selfs ander maniere hoe ek wel geld maak, maar wat nie in een-woord etikette soos “English teacher” of “engineer” uitgedruk kan word nie.

Ek sou ook nog wou noem dat baie Westerlinge net werk as English teachers in Taiwan om dit te kan bekostig om te reis, of om tyd te kan spandeer aan hulle musiek, of aan ander artistieke ambisies.

Toe hy my vra of ek klasgee by die plaaslike laerskool, ’n paar blokke van die tee-winkel af, sê ek nee, ek werk by ’n taalsentrum in die dorp.

“It’s just a part-time job,” voeg ek toe by, “but it keeps me alive.”

______________________

Jy beter opstaan as jy getel wil word

MAANDAG 20 OKTOBER 2014

Ek dink vanoggend dat medium.com ’n eksklusiewe platform geword het vir skrywers in hul twintigs.

Vyf sekondes later verander ek my opinie. “Bullshit,” sê ek hardop vir myself. “Dis soos om te sê boeke het die eksklusiewe domein geword van jong mense omdat baie mense in hul twintigs boeke skryf.”

“Jy moet opstaan as jy getel wil word,” herinner ek myself. Of eerder, jy moet opstaan as jy ’n kans wil staan om getel te word.

As jy wegkruip in ’n donker hoekie, gaan jy nie getel word nie.

As jy jouself kamoefleer, gaan niemand jou raaksien nie.

As jy platlê, agter ’n bos, gaan jy geïgnoreer word.

Is dit belangrik dat jy getel moet word?

Feit is, baie mense is gelukkig genoeg om hulle lewens te lei sonder om erken te word as enige iets meer as gewone sterflinge.

Maar, as jy deur ten minste ’n paar mense erken wil word vir iets wat jy sê of doen, veral as dit wat jy sê of doen in jou opinie waarde het, dan beter jy op jou voete kom.

______________________

Die SELF as miljoene brokkies data

SONDAG 12 OKTOBER 2014

’n Digitale videogreep is in werklikheid miljoene brokkies data, maar dit beweeg so vinnig, en is op so ’n wyse gegroepeer, dat die illusie geskep word van bewegende beeld – wat sin maak, en waarmee die kyker bekend is.

Bewussyn van self is dalk iets soortgelyks. Daar is nie ’n vaste punt waarna jy kan wys, of wat geïsoleer kan word as “die self” nie. Die bewussyn dat jy ’n persoon is met ’n kernpersoonlikheid wat min of meer dieselfde bly, is ’n illusie wat geskep word deur voortdurend veranderende bewussyns. Hierdie bewussyns vervang mekaar egter so vinnig – soos die brokkies data van ’n digitale videogreep, dat dit vir alle praktiese doeleindes vóél asof jy ’n enkele bewussyn-van-self het.

[Hierdie gedagte is geïnspireer deur iets wat ek gelees het in die boek, Guide to Philosophy, deur C.E.M. Joad.]

———–

Op WOENSDAG 19 JUNIE 2013 het ek gelees wat die Skotse filosoof, David Hume, gesê het oor oorsaak.

My konklusie daai dag: “Die goeie nuus … nee, die slegte nuus is dat jy nie werklik bestaan nie. Die goeie nuus is dat dit nie werklik saak maak nie, want jý glo jy bestaan, en op die vreemde wyse wat ervarings gesien word as waarheid, bevestig jou daaglikse ervarings jou geloof dat jy werklik bestaan.”

______________________