My ambisies – in 1998 en in 2014

MAANDAG 8 SEPTEMBER 2014

My professionele ambisies* is om te SKRYF, te PUBLISEER wat ek skryf, en om GELD te MAAK.

* Professionele ambisies: Dit wat jy doen wanneer jy nie ontspan of dinge doen wat jou lewe verbeter nie.

DONDERDAG 11 SEPTEMBER 2014

Terloops, op Dinsdag 17 November 1998 het ek gevra, “Hoekom Taiwan?”

Ek het antwoord: “Om oor twee of drie jaar vry te wees van skuld, en om myself finansieel te bemagtig. Hoekom? Om myself te kan toespits op my enkele ambisie – om te skryf. Hoekom? Sodat ek uiting kan gee aan my behoefte, my begeerte, my drang om te skep. Hoekom? Sodat wanneer ek tot stof terugkeer, ek iets kan nalaat.”

Hoe vergelyk dit met wat ek Maandag geskryf het? In beide notas het ek die woord ambisie gebruik. In beide notas was om te skryf, prominent. Maar wat help dit jy handel elke paar maande ’n roman af, en elke paar weke nog ’n kortverhaal, en elke nou en dan ’n gedig of ’n essay, en niemand lees dit ooit nie? Dis waar publikasie inkom. Ek het dit ’n prioriteit gemaak om te leer hoe om te publiseer – my eie literêre projekte, maar ook meer kommersiële projekte.

Ek noem ook finansiële bemagtiging in November 1998, om dit moontlik te maak om my “enkele ambisie” na te streef. Ook nóú wil ek geld maak, nie net sodat ek die beste ure van my dag kan spandeer aan skryfprojekte nie, maar om die lewe vir die spesiale vrou in my lewe makliker te maak, en om saam met haar meer van die lewe te kan geniet.

In kort, die woordkeuses is ietwat anders. Wat agter dit sit, is min of meer onveranderd.

______________________

Gemoed, “trading”, en veilige padgebruik

SONDAG 7 SEPTEMBER 2014

’n Man op ’n motorfiets sny voor jou in sekondes voor jy by ’n verkeerslig kom. Jy moet skielik briek. Die ou jaag oor die oranje lig, en jy moet, as gevolg van die feit dat jy moes briek trek, by die rooi lig staan en wag.

Ses blokke later ry jy in iemand vas. Nie omdat jy ’n slegte bestuurder is nie. Nie omdat die ander persoon iets vreeslik verkeerd gedoen het nie. Jy het in hom vasgery omdat jy nog opgestoom was omdat “daai ander vark” jou afgesny het – ses blokke tevore. Nou moet jy geld opdok vir skade aan iemand se voertuig, want jy het in hóm vasgery. Omdat jy nie jou emosies kon beteuel nie. Omdat jy alles waaroor jy gebelgd is, al jou onsekerhede, saam met jou op die pad gevat het.

Selfde met “pre-race trading”. Ek kom toenemend agter dat my begrip van die storie nie meer so ’n groot probleem is soos agt maande gelede nie. Die wyse hoe ek “trade”, is ook aansienlik beter. Maar omdat my gemoed nie is wat dit moet wees nie – vanweë die hitte en die humiditeit, die feit dat my fiets se ketting elke dag afval en dan moet die oorgewig Uitlander met die ouma-fiets op die brug staan en met sy sleutels sy ketting regmaak, en wie weet wag nog alles, laat ek elke nou en dan toe dat ’n “trade” gaan waar hy wil, in stede daarvan om dit te beheer. En dis nie omdat ek ’n slegte “trader” is, of omdat ek nie mooi verstaan wat aangaan nie. Dis omdat ek nie my emosies kan beteuel nie. Omdat ek ’n vertroebelde gemoed saam met my na die “trading” sessie toe vat. En die resultaat is dat ek nie geld maak nie – of nog erger, dat ek geld verloor.

Mens vertel graag vir jouself dat jy gelukkig moet wees, dat dit beter is vir jou gesondheid, en vir jou verhoudings en so aan. Voorwaar, voorwaar sê ek vir myself: Werk daaraan om gelukkig te wees, verduidelik mooi vir al jou onsekerhede wat hulle met hulleself kan doen, en maak meer geld.

’n Gelukkiger mens met minder onsekerhede sal dit waarskynlik ook makliker vind om kalm te bly in die verkeer. Wat dalk net eendag jou en/of iemand anders se lewe of ledemaat sal spaar.

______________________