My perfekte lewe

MAANDAG 18 AUGUSTUS 2014

Ek kyk vanaand in ’n plaaslike supermark na ’n man en vrou wat kombuisware in hul waentjie laai. Ek dink toe so by myself: “Stel jouself voor dít was jou droom toe jy 28 of 29 was – om getroud te wees en ’n familie van jou eie te begin.”

Nie te veel sekondes daarna nie, onthou ek dit wás my droom toe ek in my laat-twintigs was.

Daar was wel ’n probleem. Ek het geen vertroue gehad in die proses van maak-jouself-bruikbaar, pleit of smeek vir werk, of glimlag blink en doen jou toertjies mooi genoeg sodat jy in diens geneem kan word deur een of ander maatskappy of instansie nie. (En dan, wanneer dit die maatskappy of instansie pas, of wanneer hulle ’n ander rigting ingaan, of as jy net te veel begin kos, werp hulle jou uit in die parkeerterrein met jou kartonboksie vol skerp potlode, tip-ex, en ’n fotoraam met ’n foto van jou en jou vrou en julle twee kinders. En ’n hond en ’n kat. Wat by die huis wag en nie weet daar gaan nie nuwe geld inkom aan die einde van die maand nie.)

Vir die volgende vyftien minute fokus ek toe op my kruideniersware, stap uit na die parkeerterrein, klim op my fiets, en ry huis toe.

Soos ek ry, gaan ek weer oor die kern van die trou-kinders-werk gedagte. Teen die tyd wat ek die deur oopsluit by die huis, het ’n alternatiewe opinie in my gedagtes vorm aangeneem: As ek graag genoeg getroud wou wees in my laat twintigs en ’n gesin van my eie wou begin, sou ek harder probeer het om werk te kry in my eie land. Ek sou steeds nie die proses vertrou het nie, maar soos meeste ander mense, sou ek my oë toegemaak het, gespring het, en gehoop het vir die beste.

Feit is, ek wóú in my laat twintigs en my vroeë dertigs getrou het en ’n gesin begin het, maar daar was ander dinge wat vir my belangriker was. Ek het daai ander … drome, ambisies … nagestreef.

Uiteindelik het ek wél getrou – met ’n vrou wat my maat is, wat my verstaan, en wat my liefhet. En hoewel ons nie kinders het nie, voltooi een vet kat met karakter en sy eksentrieke neef ons gesinsportret.

En vir my, is dit perfek.

______________________