’n Oggend onder die Afrika-son

DONDERDAG 6 JUNIE 2013

Ek het ’n heerlike oggend gehad. Eers het ek ontbyt geëet – hawermout wat ek self gemaak het, met All Bran Flakes, sprinkelings pekanneute, en ’n paar rosyntjies, en ’n koppie koffie klaar gedrink wat my swaer gemaak het – so sterk dat ’n druppel wat die hond van die vloer af opgelek het, amper haar hart laat staan het.

Toe het ek ’n warm bad gevat – die eerste in jare (ek stort gewoonlik). Na die bad het ek geskeer, tande geborsel, en vir myself ’n koppie groentee gemaak.

Soos ek toe my koppie Taiwannese tee koud blaas, gaan sit ek in die son – lekker warm Junie-son, Afrika-son, winterson. Nadat ek notas gemaak het vir ’n essay oor irriterende mense, het ek vir so halfuur lank gelees.

Ek sit toe die boek opsy, sit my oorfone op my kop, skop my plakkies uit, en druk “Play” op my musiekspeler. En toe, vir die tweede helfte van 1982 en feitlik die hele 1983 skop ek ’n sokkerbal rond oor die grasperk, van die een kant na die ander kant, en weer terug.

Wie sê net ’n kind kan die dinge van ’n kind geniet?

______________________

Ons is soms die mense wat ons verpes

DONDERDAG 6 JUNIE 2013

Ek was gister “daai persoon” op die Gautrein: die een wat op die perron by die lughawe nie wag tot ál die passasiers uitklim voor hyself met sy groot stukke bagasie inklim nie.

Dis nie dat ek as ’n reël onbeskof is nie. Dis net, die oomblik toe die trein tot stilstand gekom het en die eerste klomp mense uitgeklim het, het ek in Kaohsiung MRT-mode ingegaan: wanneer die uitkomende verkeer begin minder raak, vat jy ’n gaping.

Die oomblik toe ek in is, besef ek natuurlik die lughawe is die laaste stop: almal moet eers uitklim voor die volgende groep reisigers mag inklim.

Dit was onvermydelik dat iemand, rooi in die gesig van ontstokenheid, sou vassteek en vir my preek. “Wait for everyone to get off!” gil die man toe vir my. “The train is not going anywhere! You’ll all get a chance!”

My “whatever” respons was onoortuigend. Ek het geweet ek het myself skuldig gemaak aan gedrag wat my daai persoon gemaak het wat almal verpes op ’n trein, veral een soos die Gautrein as dit sy laaste stop maak by ’n besige stasie soos die lughawe. Ek was die persoon vir wie ekself al my tong geklap het en ’n vuil kyk gegee het.

Die gedagte kom toe by my op dat ek sekerlik in die opinie van die ou met die rooi gesig ’n eendimensionele karakter is. Ek is “Die Poephol Wat Nie Wag Nie”. As hy regtig daaraan moes dink, sou hy seker toegegee het dat hy reken ek loop die heeldag rond en irriteer mense. Of ek stap die heeldag rond op die lughawe en wag vir die trein om te arriveer sodat ek mans met rooi gesigte se gesigte nog rooier kan maak deur hulle uitgang te blokkeer met my reusagtige bagasie. Óf dit, óf ek verdamp soos kondensasie die oomblik as ek klaar my onbeskofte daad gepleeg het.

By Sandton-stasie het ek mooitjies gewag dat ’n paar mense afklim voor ek die trein verlaat het. Omdat ek ’n ander trein Rosebank toe moes haal, het ek nóg ’n kans gehad om te wys ek wéét hoe om ’n trein te betree soos ’n beskaafde mens.

Toe die trein ’n paar minute later tot stilstand kom by ’n ander perron, het ek teruggestaan. Die deure het oopgegaan … maar voordat ’n enkele passasier ’n kans gehad het om uit te klim, het ’n jong vrou die deur bestorm.

“Ongeskik,” het ek geprewel, en gevoel hoe my wange warm raak van irritasie. Soos ek die vrou toe agterna kyk, wonder ek hoe lank dit sou vat voordat sy verdamp.

______________________