Die handewerk van mense

WOENSDAG 22 MEI 2013

Dit is inderdaad intimiderend om voor die majestueuse konstruksie te staan wat die Christelike religie is, jou keel skoon te maak, en te verklaar dat jy reken dat hierdie godsdiens, in jou beskeie mening, die handewerk is van mense, ontwikkel en verfyn oor meer as 2000 jaar deur duisende denkers en teoloë, priesters en pouse, monnike en pastore, én deur gewone gelowiges.

Dit is ook baie moeilik wanneer jou eie ouers glo dat die Christelike religie die universele waarheid is van die Een en Enigste Almagtige God. Dit is moeilik as jy begin het om presies die teenoorgestelde te glo, maar jy wil nie jou ouers ontstel nie. Wat dit veral ’n sensitiewe onderwerp maak, is dat hulle groot troos vind in hierdie stelsel van oortuigings.

DONDERDAG 23 MEI 2013

’n Belangrike vraag om te vra met betrekking tot die Christelike geloof is die volgende: Waarom moes Jesus sterf?

Die antwoord wat jy kry sal meestal gaan oor ’n bloedofferkultuur wat algemeen was in die Midde-Ooste twee tot drie duisend jaar gelede.

Wat gewoonlik nie veel van ’n indruk sal maak op gelowiges nie, is wanneer jy daarop wys dat dit ’n bietjie vreemd is dat ’n god wat veronderstel is om universeel te wees, wat volgens leerstellings bestaan het miljarde jare voor enige mens vorendag gekom met die eerste teken van kultuur of beskawing, sal toelaat dat sy eie seun – volgens sekere teologiese standpunte, hyself – gemartel en vermoor word omdat ’n kulturele gebruik wat algemeen was op ’n spesifieke tyd en spesifieke plek dit so gedikteer het.

Indien te min belydende gelowiges hierdie tipe vrae vra, is dit heel waarskynlik omdat vrae van hierdie aard aktief ontmoedig word. Gelowiges word ook gereeld herinner aan wat hulle pynvolle en ewige straf sal wees indien hulle versuim om te glo op die regte manier – dat hulle sekerlik nie die “toorn van God” sal kan ontvlug as hulle vrae vra wat hom beledig nie.

Nog ’n vraag wat nie waardeer sal word nie: Waar eindig kultuur van spesifieke tyd en plek, en waar begin wat veronderstel is om tydlose waarheid te wees?

______________________

Twee speurders, en twee dokters

DINSDAG 21 MEI 2013

Situasie een:

Stel jouself voor ’n misdaadtoneel. Een speurder daag op by die toneel, lig hier en daar ’n flits, en haal dan ’n boekie uit sy baadjie se binnesak. Hy lees vir ’n paar minute, en verklaar dan dat dit logies is dat “die man” dit gedoen het – volgens die boekie wat hy styf in sy hand vasklem.

“Die man?” vra ’n paar omstanders.

“Ja,” antwoord die speurder. “Moenie julleself onnosel hou nie. Julle weet presies waarvan ek praat.” Kort daarna verlaat hy die toneel.

Dan kom ’n tweede speurder op die toneel. Hy lig ook sy flits op ’n paar plekke, maar hy neem ook vingerafdrukke, hy neem ’n klomp foto’s, seel ’n klomp items in plastieksakkies, en praat uiteindelik met ’n paar potensiële ooggetuies.

Na ’n paar dae vra iemand vir hom wie hy dink die misdaad gepleeg het. “Ek weet nog nie,” sal die tweede speurder antwoord. “Ek kyk nog waarheen die leidrade my vat.”

Situasie twee:

’n Man gaan dokter toe. Hy verduidelik dat sy hart nie meer so lekker werk nie, dat dit soms wild aan die klop gaan, en so aan.

“Wat is fout?” vra hy die dokter.

Die dokter leun oor, kyk so bietjie hier en daar in die rigting van die man se borskas, en trek dan ’n boek uit sy laai uit. Die siek ou merk op dis ’n baie ou boek.

“Dis logies,” laat die dokter dan hoor. “Jy hou nie tyd met die seisoene nie.” Dan laat weet hy sy ontvangspersoon dat hy gereed is vir die volgende pasiënt.

Die volgende dag gaan die siek man na ’n ander dokter toe. Die dokter vra hom ’n klomp vrae – wat hy eet, of hy rook en drink, of hy enige oefening inkry, of hy stres het by die werk. Die man word geweeg, en sy bloeddruk word geneem. Dan vra die dokter hom om sy hemp uit te trek. Hy klop ’n bietjie hier, luister ’n bietjie daar. Dan vra hy die verpleegster om van die man se bloed te trek.

Aan die einde van die konsultasie lig die dokter die siek man in dat hy oor ’n paar dae moet terugkom. Hy sal dan vir hom kan sê wat die resultaat is van die toetse.

———–

Watter speurder gaan jy vertrou – die een wat die leidrade volg met ’n oop gemoed om te sien waarheen dit hom lei, of die een wat na ’n paar dinge kyk, en dan die leidrade interpreteer op so ’n wyse dat dit korrespondeer met wat sy boek sê? Watter dokter gaan jy vertrou?

Soos enige redelike mens sal meeste volgelinge van religieuse tradisie ook die speurder verkies wat kyk waarheen die leidrade hom vat, en aandring op die dokter wat verskillende moontlikhede oorweeg en toetse doen en vrae vra voordat hy of sy uiteindelik tot die gevolgtrekking kom dat die oorsaak van die probleem waarskynlik X, Y of Z is.

Wat my egter verbaas, is wanneer dit kom by vrae oor die ontstaan van die heelal en lewe op aarde, gryp talle godsdienstige mense onmiddellik na religieuse mitologie, en verwerp alle twyfel en bespiegelings as oneerbiedig en afstootlik en verwag dat sulke gedrag onmiddellik gestaak moet word.

“Sit weg julle sogenaamde wetenskapboeke,” sal hierdie mense sê. “Ons almal weet klaar wat die waarheid is.”

______________________