Een of twee punte oor identiteit en geldmaak

WOENSDAG 4 JULIE 2012

Ek het voorheen gereken dat om te sê, “Ek is ’n advokaat,” moet nie gesien word as ’n stelling van identiteit nie. Dit is bloot hoe jy geld maak. Ek het gereken as jy jou werk wil noem, dit meer korrek sal wees om te sê, “Ek maak geld as ’n advokaat,” as om te sê, “Ek is ’n advokaat.”

Toe, oor die volgende paar jare raak dit toenemend duidelik aan my dat hoe jy geld maak, ’n redelike belangrike deel is van jou identiteit – klink sinvol genoeg, maar dis steeds die tipe ontdekking wat ek self, op my eie tyd moes maak. Jy kan dus nie sê, “Ek is X” en “Ek maak geld met Y” en verwag dat die een niks met die ander te doen sal hê nie. “Ek is ’n advokaat” is nie ’n stelling wat ’n persoon se hele identiteit verteenwoordig nie, maar dit is wel ’n belangrike aspek van daai persoon se identiteit.

Die ander groot ontdekking was te verwagte. As jy nie weet wie jy is as geldmaker nie, gaan jy dit moeilik vind om geld te maak.

Ook goed om die teenoorgestelde in ag te neem: As jy deur die proses gegaan het om uit te sorteer, te ontdek en te kies hoe jy wil geld maak – en dan op ’n manier, of selfs maniere, wat jou persoonlikheid en talente pas, sal jy heel waarskynlik vind dat jy minder struikelblokke onbewustelik in jou eie pad rol.

* * *

Wat doen ’n mens dan met Karl Marx wat geskryf het in ’n meer ideale wêreld sal dit moontlik wees om vandag een ding te doen, en môre ’n ander – om groente te plant in die oggend, vis te vang in die middag, na jou koeie om te sien in die aand, en na aandete ’n toespraak af te steek oor ’n politieke traktaat wat jy gelees het, sonder om ooit groenteboer, visserman, beesboer of politikus te word?

Dalk het Marx veronderstel dat mens nie nodig sal hê om geld te maak in ’n ideale wêreld nie. Iemand sou wel moes jag of groente plant; iemand sou moes visvang; vee en ander diere sou steeds gevoer moes word; en iemand moes steeds opinie kon vorm en opinie kon kritiseer. In Marx se ideale wêreld, as jy dus bekwaam was in enige of al hierdie terreine, het jy die werk gedoen sonder om aan jouself te dink as groenteboer, visserman, beesboer of politikus. Verwyder geld uit die storie, en verwag dat dinge anders daarna sal uitsien.

MAANDAG 9 JULIE 2012

Ek glo in myself – oftewel, ek het sekerlik wat beskryf kan word as ’n positiewe selfbeeld (redelik belangrik siende dat mens sonder ’n positiewe selfbeeld 98 meter agter die ander atlete is in ’n 100-meter resies). Ek weet ook dat dit tot ’n groot mate ’n vertoning is, maar dat dit belangrik is omdat die vertoning praktiese waarde het. In werklikheid is daar veel meer onsekerheid. Dit moet so wees as mens eerlik wil wees.

______________________