Terug by die begin: ’n “tweede” Persoonlike Agenda

DINSDAG 29 MEI 2012

14:22

Ek gaan op die oomblik deur my notaboeke van die jare 2005 tot 2011.

Twee opmerkings:

1. Ek het elke nou en dan ’n paar minute afgeknyp uit my besige skedule van amper voltydse mislukking om notas te produseer van hoogs bruikbare kwaliteit.

2. Indien ek na 2004 ’n persoonlike skryfprojek aangepak het sonder om ’n eerlike oorsig te gee van my talle mislukkings tussen 2006 en 2011, sou die projek geëindig het in flou, halfhartige pogings. As gevolg van my ervarings die laaste paar jare, my maniese gewerk en minder as positiewe resultate, is die kans goed dat ek nog ’n persoonlike projek sal kan produseer. En die notas wat ek getrou gemaak het, sal, soos altyd, van onskatbare waarde wees.

Nog een opmerking: Ek moet ophou om die vals en onakkurate idee te vertroetel dat die tydperk 2006 tot 2011 in my lewe een groot nagmerrie was vol mislukkings. ’n Skrywer het ’n lewe nodig om materiaal te kan produseer. Vir ’n beter een kon ek nie gevra het nie.

19:22

Teen die tyd wat ek besig was om vensters toe te maak vanaand, het twee gedagtes in my kop rondgerol.

Gedagte een: 2005 se materiaal is ’n ander saak, maar Januarie 2006 tot en met hierdie jaar se notas begin vir my al hoe meer te lyk soos ’n groot, nuwe projek – ’n “tweede” Persoonlike Agenda, as’t ware. Die “eerste” Persoonlike Agenda het gehandel oor my stryd na identiteit, plek in die wêreld, doel van my bestaan, betekenis van my lewe, hoekom ek voortgegaan het met my lewe wetende dat ek kon opgee, en wat om te doen as mens al hierdie dinge ontdek en uitgewerk het. Die “tweede” Persoonlike Agenda sal handel oor ’n stryd waarmee omtrent alle volwassenes bekend is – die stryd om geld te maak. Dit mag banaal klink, maar ek reken ’n bondige vertelling van my dosyn pogings om geld te maak, en my deursettingsvermoë na herhaaldelike mislukkings, is dalk net ’n lees werd.

Gedagte twee: Dit blyk asof ek heelwat werk het om te doen. Met my vaardighede ontwikkeld, en lesse geleer oor bemarking en publikasie van eie literatuur, wil dit verder blyk asof my literêre projekte dalk net ernstig oorweeg kan word as meer as net persoonlike werk – dis dalk tyd om daarna te kyk as ’n bron van inkomste.

Ek besef toe dit is asof ek volsirkel gekom het. Aan die begin van Januarie 2006 was ek ernstig daaroor om my skryfwerk te publiseer. Ek ontdek toe dat ek geld kan maak van die huis af, op my rekenaar gekoppel aan die internet. Vir die volgende meer as vyf jaar beweeg ek toe weg van my skryfwerk, in ’n poging om meer geld te maak. Die plan was, eers finansiële onafhanklikheid (“Alles lyk dan so moontlik!”), dan kan ek ander mense betaal om my materiaal te proeflees en te vertaal. Vyf, ses jaar later is ek terug by die begin: Soortgelyke finansiële situasie, en ek wat besluit ek kan nie langer wag voordat ek publiseer wat ek geskryf het nie.

So, geld of geen geld nie, ek werk weer aan my skryfwerk. As my boeke uiteindelik geld maak, die huur betaal, kos en ander kruideniersware koop, dit vir my moontlik maak om my vrou uit te vat vir ’n lekker ete en ’n film, en dalk selfs om ’n naweek in die berge te kan bekostig, sal ek reken ek het nie te sleg gedoen nie. ’n Beter storie sou ek sekerlik nie kon uitdink nie.

______________________

Soekenjin met ’n ideologiese databasis

MAANDAG 14 MEI 2012

Vroeër vanaand wonder ek hoe dit sou wees as almal hardop moes gedink het oor die groot lewensvrae: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Wat gebeur as ek doodgaan? Hoe het die aarde en alles daarop ontstaan?

Nadat ek gedink het daaraan dat ek antwoorde gehad het op meeste van hierdie vrae tot op ’n punt in my vroeë twintigs, besef ek toe godsdiens is soos om toegang te hê tot ’n soekenjin gelaai met ’n bepaalde ideologiese databasis. Jy tik ’n vraag in, en binne sekondes is daar ’n antwoord.

Elke godsdiens het natuurlik sy eie databasis met verskillende antwoorde. Daar is ooreenstemming tussen die databasisse van al die hoofstroom Christelike denominasies, en sommige meer obskure sektes het weer databasisse met heeltemal verskillende antwoorde.

Die punt is, dis fantasties! Kan jy jouself dit voorstel? Jy tik ’n vraag in, en – boem! – daar’s die antwoord! Nog ’n vraag … nog ’n antwoord.

Die probleem skop in wanneer die soekenjin breek, wanneer dit toenemend duidelik raak dat die databasis gekorrupteer is, of dat die antwoorde nie geloofwaardig is nie.

Dit is wanneer die regte werk begin: om ’n databasis van die grond af op te bou.

______________________

Die man sonder identiteit

DINSDAG 1 MEI 2012

Ek lees deur die 2004-stuk, “Ek besit sewe onderbroeke …”. Weereens interesseer die idee my: Wat sal gebeur as iemand – miskien in sy tienerjare (jonger is te vroeg, later is dalk te laat) – moet sê: “Ek sien wat hier aangaan, en ek gaan nie saamspeel nie.”

Hierdie persoon ontken dan sy gegewe naam, en weier om enige ander naam aan te neem. Hy weier om vrae te beantwoord oor waar hy vandaan kom. Hy bely geen geloof nie. Hy verwoord geen ambisies of drome nie. Hy besit niks; nie eens die klere aan sy lyf nie (hy sou kaal rondgeloop het, maar hy het moeg geraak daarvoor om gearresteer te word). Hy uiter nooit enige woord nie – siende dat amper enige iets wat hy sal sê, hom sal identifiseer as deel van ’n sekere taalgemeenskap.

Is dit onvermydelik dat hy weggesluit sal word, en as geestelik versteurd bestempel sal word?

Hoe sou sy lewe ontvou in die dekades na sy rewolusionêre besluit?

______________________