Drie breë moontlikhede vir wat jy met jou lewe kan doen

MAANDAG 12 MAART 2012

Ek dink al vir lank dat alles wat ek tot nou toe geskryf het, nie die hele storie is nie. Sekere konklusies moet nog getrek word. Ek glo ek moet alles op ’n punt bring om ’n antwoord te kan gee vir die vraag: Wat nou?

Een gedagte wat dalk ingewerk kan word is dit: ek glo daar’s drie breë moontlikhede vir wat jy met jou lewe kan doen.

1. Jy leef vir jouself, vir jou eie geluk, en vir jou eie welsyn. Jy is niemand enige iets verskuldig nie. Jy leef nie vir enige iemand of enige iets anders nie. Hierdie is ’n geldige moontlikheid, ongeag wat dit genoem word of hoe vele mense die opsie bejeën.

2. Jy onttrek. Jy spandeer soveel tyd as moontlik op jou eie, ten einde dinge vir jouself uit te sorteer. Ander noem dit “om die waarheid te soek” of “om na God te soek” of “om naby God te wees”. Ek verkies om dit eenvoudig te hou: Jy sorteer dinge vir jouself uit.

3. Jy leef vir iemand anders, of vir iets waarin jy glo. Jy kies om jou eie geluk en welsyn, en die vervulling van jou eie drome en ambisies tydelik op te skort of permanent op te offer ten einde ’n ander persoon of persone in hulle stryd by te staan, of om jouself te bearbei vir die groei van ’n instelling of om ’n saak te bevorder waarin jy glo.

In werklikheid doen vele van ons iets van alles. Ons glo dis verkeerd om net vir jouself te leef, so ons gee Nommer Drie altyd sterk oorweging. Meeste mense hou ook daarvan om deel te wees van iets groter as hulleself, en jy hoef nie ’n meestersgraad in sielkunde te hê om te weet as jy iets doen vir ander mense, ander mense meer van jou hou nie. En vele mense hou daarvan as ten minste een ander mens van hulle hou. Maar ons droom soms ook van Nommer Twee – wanneer alles “te veel” raak. En soms, selfs al offer mense die beste deel van elke dag op vir kinders of vir vriende en familie, sal hulle soms iets doen net vir hulleself – selfs al moet iemand anders dan maar ’n bietjie swaar dra as gevolg daarvan.

Bogenoemde is soos primêre kleure: en niemand is perfek groen, of heeltemal rooi, of 100 persent blou nie.

______________________