Tyd om op te gee

WOENSDAG 22 FEBRUARIE 2012

Een van die min sê-goed wat ek aanhang soos ’n universele waarheid, is dat mens nie moet opgee nie. Ek glo dit nou al vir baie jare, en resiteer dit gereeld aan myself asof dit gebed is. Almal wat ek respekteer wat enige iets te sê het oor die lewe, het dit ook nog altyd bevestig. Jy gee nie op nie. Jy mag nooit, ooit opgee nie. As jy opgee, is dit verby. Jy steek plakkate teen jou mure op wat jou daaraan herinner. Jy koop vir jou T-hemde of ’n bofbalkeps met bewoording wat dit bevestig. Jy forward emails met skakels na videos wat die boodskap uitbeeld. Jy deel kort stories op Facebook sodat vriend en familie dit nie dalk vergeet nie. En as dit nodig is, skryf jy dit met ’n swart pen op jou tekkies se sole: “Never give up.”

Die opgee waarna ek hier verwys, is die fatale tipe, die eksistensiële tipe. Ek verwys hier na ’n besluit om nie meer aksie te neem nie; jy’s klaar met alles, klaar met probeer. As jy ernstig is oor hierdie tipe opgee-storie, behoort jy binne enkele minute te gaan sit, of nog beter, te gaan lê. En jy sal daar sit of lê vir so lank as wat dit sal vat om dood te gaan. Jy sal nie vloeistof inneem nie; jy sal nie kos inneem nie. En as die natuur roep, moet jy dit sommer ook daar doen. Want wat maak dit saak? Jy’t opgegee.

Tog, ten spyte van die lewensnoodsaaklike oortuiging wat mens so na aan jou hart hou, móét mens soms opgee.

Daar is wel ’n verskil tussen hierdie opgee, en die soort waaraan mens herinner word op bumper stickers: dit wat jy opgee is nie lewe nie, en dit beteken nie dat jy nooit weer sal probeer nie.

Soms moet mens opgee op dinge wat nie meer werk nie, of nog nooit regtig gewerk het nie. Soms gee mens op op ’n verhouding, of op ’n huwelik. Soms, na jy jare lank lank probeer het om uit te hou by ’n maatskappy want die hemel alleen weet jy’t die geld nodig gehad, gee jy op. Jy bedank, en vee jou hande af aan iets waaraan jy jou bes gegee het om te laat werk. En soms los jy die stuur van projekte wat jy oor ’n duisend klipperige paaie gery het. Jy los die stuur, maak jou sitplekgordel los, en spring uit die kar uit voor dit oor die afgrond stort.

Want soms moet mens opgee – om te oorleef.

______________________

Koors/Fotografie – Beskikbare Formate

Koors/Fotografie – Twee Versamelings Gedigte is nou beskikbaar in gedrukte vorm en in verskeie digitale formate.

GEDRUKTE KOPIE: US$7.95 £4.95, €6.49

Createspace

(Gedrukte kopieë sal binnekort bestel kan word in Suid-Afrika.)

DIGITAAL: verskeie formate: US$5.99

Smashwords – EPUB (iPad, Sony Reader, iPhone, Kobo, Nook, BeBook, en ander elektroniese leestoestelle, insluitende rekenaars), MOBI (vir Kindle, asook Windows rekenaars en ander elektroniese leestoestelle), LRF (Sony Reader), PDB (Palm Doc)

DIGITAAL: PDF: US$5.99

E-Junkie – PDF’s is leesbaar deur meeste elektroniese leestoestelle, insluitende e-readers, tablet PC’s, en natuurlik gewone rekenaars.

Buy Now

______________________