Drie redes hoekom ek foute moes maak

DONDERDAG 7 JULIE 2011

Die laaste keer toe ek in Suid-Afrika was het my ma vir my gesê my pa is bang ek maak dieselfde foute as hy.

Ek het dit baie interessant gevind. Ek het geweet beide my pa en ma bedoel dit op ’n sekere manier; ek het saamgestem, maar omdat ek dit verstaan het op my eie manier.

As literatuur die pad is wat ek moet stap, die lewensweg wat ek moet volg, kan dit gesê word dat ek die laaste vyf jaar (en ‘n paar maande) die pad byster geraak het. Dat ek inderdaad dieselfde fout as my pa gemaak het, deur te doen wat ek gedink het “reg” is volgens ander se standaarde (of dalk was my eie standaarde ietwat gekompromitteer, maar dis ’n storie vir ’n ander stuk).

Ek is egter van opinie dat die najaag van wins op meer maniere as wat ek kan tel die afgelope half-dekade, nie ’n mors van tyd was nie. Hier is die redes:

1. Ek het geleer hoe om my eie werk te publiseer. Van domain-registrasie tot HTML en WordPress, tot print-on-demand dienste soos CreateSpace, CafePress en Lulu. Dan is daar ook lesse in bemarking, en ervaring met sites soos Twitter, Facebook, YouTube, en dosyne minder bekende platforms wat jou die geleentheid bied om jouself voor te stel, en jou werk bekend te stel aan ’n potensiële gehoor enige plek in die wêreld.

In kort, ek het niks, of nie veel geweet van hierdie dinge voor ek begin kyk het daarna as deel van pogings om geld te maak nie.

2. ‘n Paar jaar gelede het ek geskryf hoe ontuis ek voel in die sogenaamde Wêreld van Geld. Ek het gekyk na mense wat geld het, en ek hulle beny vir die oënskynlike gemak waarmee hulle beweeg het in die Wêreld van Geld. Dit was baie duidelik dat hulle oor die regte woordeskat beskik het, geweet het wat die regte aksies was om te neem om geld te maak, en genoeg ander mense ken wat in oor soortgelyke talente beskik.

In die Wêreld van Geld het ek gevoel soos die vaal, plattelandse kind sonder skoene voel wat by sy neefs en niggies gaan kuier in die Groot Stad.

Nou, meer as vyf jaar nadat ek my soektog na wins en finansiële welstand begin het, na honderde eBoeke oor bemarking en how-to-make-money, dosyne video tutorials, selfs ernstige ondersoek na die moontlikhede van online Poker en Forex Trading, kan ek met ’n aansienlike graad van oortuiging sê dat ek nie meer ongemaklik voel in die Wêreld van Geld nie. Meer as dit, ek kan nou sien dat vele van die mense wat my voorheen so beïndruk het met hulle kennis en bedrewenheid in die Wêreld van Geld, eintlik elke dag maar net die dobbelsteen gooi, hulle oë toeknyp en hoop vir die beste.

3. Teen die einde van 2005 het my inspirasie vir nuwe skryfwerk begin opdroog. Daar was nie veel meer wat ek kon of wou sê oor die vele onderwerpe wat ek aangeraak het in my Persoonlike Agenda projek en die ses maande se skryfwerk wat daarna gevolg het nie. Natuurlik was daar ander onderwerpe waaroor ek kon skryf, maar nie enige wat my genoeg geïnspireer het, of waaroor ek genoeg selfvertroue gehad het om te skryf nie.

Die laaste vyf jaar se vele mislukkings en enkele (maar betekenisvolle) suksesse, asook die wye spektrum van onderwerpe waaroor ek gelees het, en selfs mense wie ek teëgekom het op online forums en oor wie ek gelees het, was, in terugskouing, presies wat ek as produseerder van literatuur nodig gehad het.

Moes ek dus in Januarie 2006 anderpad gekyk toe ek die eerste advertensies gesien het wat een of ander kits-rykdom produk aan my wou verkwansel? Ek wens soms ek het. Ek wens soms ek het nie soveel tyd gemors met so baie navorsing en projekte wat uiteindelik geen dividend gelewer het nie – buiten ’n kriptiese kantnota wat bloot sê, “Dit werk nie”. Ek was voorheen vol selfvertroue oor my keuses; ek was spyt oor min dinge wat ek gedoen of nie gedoen het nie.

Dis nou duidelik dat die laaste vyf jaar ’n goeie leermeester was. Dat ek waardevolle lesse geleer het deur foute te maak soortgelyk aan foute wat my eie pa dalk dertig of veertig jaar gelede gemaak het.

Ek is selfs in die versoeking om te sê ek is ’n beter mens as gevolg daarvan.

______________________

Weer tyd vir ’n “dom vraag”

WOENSDAG 6 JULIE 2011

Hoekom maak ek nie geld met my skryfwerk nie – en daarmee bedoel ek my persoonlike literêre projekte? En hoekom dink ek feitlik nooit daaraan nie? (Hoekom kan dit amper as ’n “dom vraag” beskou word?)

Een van die belangrikste lesse oor bemarking en entrepreneurswese wat ek geleer het, is die volgende: om suksesvol te wees moet die entrepreneur ’n groep mense identifiseer wat óf gretig is om weg te beweeg van iets (soos om oorgewig te wees), óf gretig is om ná ’n sekere punt te beweeg (soos om ’n gholf-voorgee te verbeter). ’n Verdere vereiste is dat hierdie groep mense bereid moes wees om te betaal om óf weg te kom, óf nader te beweeg aan hulle droom-punt. Die idee is dan dat die entrepreneur (of die bemarker) moet dink aan ’n manier om hierdie mense in staat te stel om vinniger weg te kom of ideale punt te bereik; of dalk ’n produk te identifiseer wat dit moontlik sal maak, en dan teen ’n kommissie hierdie produk te bemark aan die regte groep mense.

Hoe pas my literêre projekte in by bogenoemde begrip? Wie sou my mark wees? Op watter demografiese teiken-groep sal ek my visier draai? Hoe aggressief sal ek my “produk” bemark as die “oplossing” vir hulle probleem of strewe?

Feit van die saak is, ek is ongemaklik daarmee om te dink aan my essays en notas oor identiteit, sukkel om sin en betekenis van die lewe uit te maak, en om my plek in die wereld te vind, as ’n produk. Ek is oukei daarmee om aan die einde uittreksels in gedrukte of elektroniese vorm te publiseer en ’n prys daarop te plak. Ek is nie oukei daarmee om daaraan te dink as ’n produk, soos ’n gids oor hoe om jou tennisafslaan te verbeter, of hoe om gewig te verloor nie (belangrik soos hierdie sake dalk mag wees).

Maar ek het steeds nodig om die vraag te beantwoord, al moet ek die definisie ietwat verbreed van wat ek sien as my skryfwerk. Is daar enige manier hoe ek materiaal kan produseer wat kommersiële waarde het – nie as ’n anonieme skrywer van sogenaamde “private label content” nie, maar as wie en wat ek is, onder my eie naam?

Is daar onderwerpe waaroor ek kan skryf wat wel ’n groter mark se aandag kan trek? Is dit moontlik dat ek werk kan produseer aan ’n mark wat bereid is om te betaal daarvoor?

Op ’n stadium het ek gereken: doen iets wat niks te make het met literatuur nie waarmee jy huur- en kosgeld maak, en spandeer die res van die tyd aan die vrye uitdrukking van jou werklikheidservaring, van jou partikulêre waardes en wêreldbeeld, onbesoedeld deur bekommernis of die agente van kommersiële waarde dit aanvaarbaar sal vind of nie.

Tot ’n mate is dit steeds wat ek doen. En tot ’n mate is ek suksesvol, so nou en dan.

Ek dink wel die tyd is ryp om ten minste die vraag weer te vra: Kan ek ’n bestaan maak as ’n skrywer? Kan ek myself aan die lewe hou as my aardse bestaan afhanklik is van my eie, eiesoortige literatuur?

______________________

As ek terugkyk oor die laaste 15 jaar

DINSDAG 5 JULIE 2011

As ek terugkyk oor die laaste vyftien jaar (klink skielik nie so lank nie), dan kry ek amper lus om te sê: Ek moes nooit eens probeer het om geld te maak nie! Dis duidelik nie my ding nie. Dis nie wat ek veronderstel is om te doen nie …

Natuurlik kan ek nie te ver gaan met die hele veronderstelling-storie nie. Dit impliseer Goddelike Roeping, of Kosmiese Opdrag, en hoewel ek hierdie temas aanraak vir poëtiese waarde, kan ek dit nie deelmaak van ‘n rasionele argument nie – of ek kan, maar hierdie stuk skryfwerk is nie die plek daarvoor nie.

Die vraag wat wel by my opkom as ek dink aan ’n alternatiewe persoonlike geskiedenis die afgelope vyftien jaar, is waaroor sou ek geskryf het?

Die feit dat ook ek moes geld maak om te oorleef, het my geforseer om – ongemaklik soos dit was – te onderhandel met die wêreld, soos ek die wêreld gesien het oor die laaste vyftien jaar. Ek moes op een of ander manier my plek vind, of definieer, of ’n stukkie turf vir myself uitkrap, of oopbaklei. Ek moes uitvind wie en wat ek was (en is) IN HIERDIE WÊRELD.

Ek moes dit doen omdat ek geld nodig gehad het, en niemand het enige iets aangebied vir niks nie. Soos meeste ander van my geslag en dié voor my, moes ek op die arbeidsmark my ware uitstal en hoop iemand sien iets wat hulle dink hulle wins uit kon maak – en indien dan nie in my geboorteland nie, dan enige ander plek in die wêreld.

Om te sê hierdie proses van maak-jouself-bruikbaar-vir-iemand-met-geld-of-word-’n-boemelaar was nie regtig waaraan ek my tyd wou verwyl die afgelope vyftien jaar nie, is om net die oppervlak te krap.

Punt is, ek moes dit doen. En dit het my storie geword: hoe ek vanaf my mid-twenties probeer het om te onderhandel met die “establishment”. Hoe ek probeer het om, soos ek geskryf het in Mei 1998, my rekening met die establishment te vereffen. Wat was dit wat ek probeer bewerkstellig het? Om die vryheid te kan hê om te kan kies waar, hoe en op watter terme ek ‘n verhouding met hierdie establishment sal hê.

Waaroor sou ek geskryf het as ek uit ’n Ou Geld Familie gekom het? Sou dit beter gewees het? Interessanter? Sou dit meer literêre waarde gehad? Sou ek literêre werk gelewer het met meer kommersiële waarde?

Wie weet. Dalk was, en is dit nie deel van my Opdrag, of my Roeping nie.

En as daar geen opdrag of roeping is nie?

Dan weet ek steeds: ek moet skryf.

______________________