Elke man het sy plafon

DONDERDAG 19 MEI 2011

My fiets se binneband het gisteraand op pad huis toe ontplof, so ek moes vanoggend die fiets stoot na my ou buurt toe waar my “kantoor” is. Toe ek by die fietsherstelwinkel kom naby my ou woonstel, was dit nog toe. So ook toe ek twee ure later weer gaan kyk het. Derhalwe moes ek vanmiddag skool toe stap. En terug. Op pad terug loop ek toe verby die fietswinkel – wat toe uiteindelik oop is. Tien minute later is ek daar met my fiets en die gebarste binneband.

“NT$450,” probeer die ou my beroof toe ek hom vra hoeveel dit sal kos om die binneband te vervang.

Sekondes later stoot ek toe maar weer my fiets kantoor toe, en kort daarna pak ek weer die twee kilometer aan terug huis toe. In my sandale.

Twee insigte:

1. Dis ’n jammerlike waarheid dat nie elke donker wolk ’n silwer randjie het nie. Maar as jy nie die silwer rand raaksien nie omdat jou houding verkeerd is, moet jy jouself afvra: Is my probleem terminaal, of kan ek iets daaraan doen?

2. “Every man has his price, Bob, and yours was pretty low,” sing Roger Waters. So het elke persoon ook sy plafon waar hy sê: “Ek kan nie verder nie. Ek kan nie meer nie …”

Vraag is: Waar is jou plafon?

Dalk is jou bitter ervaring iets van die verlede oor vyf minute, of oor twee dae, of oor ’n week. Gaan jy dan, wanneer dit verby is, terugkyk en verleë sê: “Deksels, ek wens ek het nie so gou ingegee nie … Ek wens ek het nie so gou opgegee nie … Ek wens ek het nie op daai punt al so hard begin kerm en kla nie …”

Naby aan die einde van my stappery vanmiddag was my bene al stokstyf, en ek het ’n dosyn klein klippies opgeskep met my sandale soos ek geskuifel-stap het. Ek het gedink aan soldate wat kilometers ver moes marsjeer in haglike omstandighede, net om die volgende oggend in ’n sloot te moet lê, en op ander stappers te moet skiet.

Dis toe wat ek dink aan die Roger Waters lirieke: “Every man has his price … and yours was pretty low.”

Ek besef toe, as ek op daai punt hard aan die kerm gegaan het, sou dit my plafon gewees het. En dit sou pretty damn laag gewees het.

______________________