Ek doen my eie ding, nie seker of ek gaan oorleef nie

WOENSDAG 8 DESEMBER 2010

1. Baie mense klou vir al wat hulle werd is aan hul besoldigde posisies, en hoop op godsgenade as hulle die posisie verloor.

2. Vat enige besigheid met, sê vyf werknemers – insluitende die bestuurder, en dank almal af behalwe die bestuurder. Vat dan 90% van die besigheid se bedryfskapitaal weg, en verduidelik vir die bestuurder dat hy maar net sal moet klaarkom daarsonder. Dan sê jy vir hom, “Doen jou bes. Ek is seker daarvan jy sal oukei wees.”

DINSDAG 14 DESEMBER 2010

“I was once free. Now at least I have money.” ~ uit ’n dagdroom

DONDERDAG 13 JANUARIE 2011

Ek sal nie graag ’n poster teen my kombuismuur wil opsit wat sê, “Death to all new ideas!” nie, maar kom ons sê maar net dit sal beter wees, veral oor die volgende paar maande, om byvoorbeeld eerder iets te produseer om te verkoop, as om nog notas te maak oor hóé om iets te produseer om te verkoop.

VRYDAG 14 JANUARIE 2011

Ek hoop om oor die volgende ses maande ’n ordentlike bedrag geld in te samel met ’n skedule wat iets lyk soos volg: tien ure per dag, vier dae per week; of tien ure per dag, vyf dae per week, drie weke per maand; of vyf ure per dag, ses dae per week.

Een ding is seker: Ek sal nie weer die fout begaan om my daaglikse bestaan te laat draai om pogings om meer geld te maak nie.

VRYDAG 21 JANUARIE 2011

Ricky Gervais sê vanoggend ’n interessante ding vir Piers Morgan op CNN: “Do your own thing, and see if you survive.”

______________________

Om nie meer te leef soos ’n voortvlugtige nie

MAANDAG 17 JANUARIE 2011

Ek leef soos ’n persoon wat ontsnap het uit ’n plek en nou wegkruip.

– Ek het ’n werkspermit, toegeken op voorwaarde dat ek ten minste elf ure per week werk by ’n spesifieke skool. In werklikheid werk ek net drie ure per week by die skool.

– Ek het nie ’n bestuurderslisensie nie, hoewel ek gereeld met ’n scooter ry, waarvoor ek ’n lisensie nodig het.

– Ek het nie ’n National Health Insurance kaart nie – die enigste wettige inwoner van Taiwan waarvan ek weet wat nie een het nie. Wat beteken ek moet altyd verduidelik hoekom ek net ’n residence card het as ek na ’n dokter of tandarts toe gaan.

– Ek huur al vir sewe jaar lank ’n woonstel, maar ek het nog nooit enige huurkontrak geteken nie. Ek weet nie eens hoe die eienaar van die woonstel lyk nie.

– Ek woon nie meer in die woonstel nie. Ek gebruik dit as kantoor en stoorplek.

– My telefoonrekening is in die naam van ene “Ma-li-ou Ma-ka-ne” – die gesinifiseerde naam van ’n Suid-Afrikaanse vriend van my wat reeds vyf jaar gelede Taiwan verlaat het.

– Die residensiële adres op my Taiwannese ID kaart dui aan dat ek in die skool woon waar ek werk. Uit die aard van die saak woon ek nie daar nie.

’n Paar jaar gelede het ek gepraat daarvan om myself te rehabiliteer vir ’n lewe in die sosio-ekonomiese middelklas. Voordat ek by daai fase uitkom, kan ek dink aan ’n hele paar voordele wat ek sal geniet as ek ten minste nie meer leef soos iemand wat skynbaar bang is om dinge reg te doen nie.

______________________