Die opkoms van die Nuwe Middeleeue

WOENSDAG 17 NOVEMBER 2010

’n Gedagte het ’n tydjie gelede al by my opgekom – tot ’n mate geïnspireer deur Michael Moore se dokumentêre film, Capitalism. Die gedagte handel oor die opkoms van ’n nuwe aristokrasie, die toenemende verval van middelklas sosio-ekonomiese stabiliteit, en meer en meer voormalige middelklasmense wie se lewens, vanuit ’n sekere perspektief beskou, ooreenstem met dié van pagters in die Middeleeue.

Waar staan ek in hierdie wêreld?

Daar was ’n tyd toe ek geïdentifiseer het met die werkersklas – of dan ten minste my idee van die werkersklas. Daar was ook ’n tyd toe ek bereid was om “vrede te maak” met die middelklas. Nou sê ek, “Don’t get caught on the wrong side of the line.”

Ek het die laaste paar jaar ’n ding of twee geleer van hoe jou agtergrond en jou opvoeding jou verhouding met geld beïnvloed, hoe dit beïnvloed hoe jy “werk” sien, en uiteindelik hoe dit bepaal waar jy opeindig in die wêreld. Ek het ook geleer hoe moeilik dit is om sekere dinge te ont-leer, en om jou houding teenoor werk en geld te verander.

Nietemin, ek glo in my eie vermoë om my lewe te verbeter. Ek glo verder dat enige mens sy of haar lewe kan verbeter as hulle glo hulle kan, en bereid is om die nodige veranderinge te maak. Laastens, ’n pagter wil ek nie wees nie. En wat die middelklas betref, glo ek nie die droom is meer wat dit was ’n paar dekades gelede nie.

* * *

Praktiese implikasie van bogenoemde teks: Leer hoe om ’n halfdosyn of meer bronne van inkomste op te bou en te handhaaf. Werk vir jou eie “maatskappy”. Verkoop slegs jou tyd op kontrakbasis as jy reeds ander bronne van inkomste het, en jy steeds in werklikheid vir jouself werk – wat in werklike terme beteken hoe minder afhanklik jy is van die persoon wat jou betaal, en hoe minder van jou tyd gekoppel is aan sy of haar profyt, en hoe minder onderhewig jy is aan hierdie persoon of persone se toestemming en/of goedkeuring van hoe jy jou tyd gebruik, hoe beter.

______________________

Oorweeg die moontlikheid dat moeilike dinge maklik kan wees

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2010

21:45

Die afgelope paar dae het ek deur notaboeke gelees van die laaste paar jare. Êrens – was dit tydens middagete? – drentel die gedagte my bewussyn binne dat ek alles wat te make het met geldmaak op die Internet oorkompliseer, dat daar geen manier is wat dit so ingewikkeld kan wees nie.

Stel jouself voor, kom die idee soos ek 15 minute later huis toe trap, dat alles wat jy nou dink moeilik is, in werklikheid maklik is – en ek praat nie net van geldmaak nie, ek praat ook van dinge soos gewig verloor en om ’n nuwe taal te leer praat.

Dink daaraan: Jy sal jouself kasty omdat jy vandag eers begin met iets! Het jy ’n paar dae gelede al geweet dis maklik, het jy dalk nou al kontant in jou agtersak gehad! Dan het jy nou al ’n paar frases van daai taal gepraat wat jy so lank al wil leer! Dan kon jy al klaar ’n baksteen stukkend geslaan het met daai Oosterse gevegkuns wat jy wil bemeester!

22:35

Eers deur die plaaslike winkelsentrum gaan stap om te probeer herstel van die skok – dat alles eintlik maklik is! En sommer so in die hitte van die oomblik besluit ek toe om ook nie meer negatiewe stellings te maak nie. So, eerder as om te sê, dit was nie moeilik nie, sê jy (almal saam), “Dit was maklik!”

Ek het intussen ontdek dat dit iets wat vaag is verander na iets meer konkreet, in ’n eenvoudige stelling gevolg deur ’n moontlike oplossing. Een voorbeeld: My rekenaar is nie lekker nie. Ek weet nie wat is fout nie, verander na: My rekenaar is gebreek. Ek moet dit invat om dit te laat regmaak.

SATERDAG 13 NOVEMBER 2010

14:43

“Dit is nie maklik nie, dis moeilik.”

Wat is moeilik?

“(Antwoord – wat daarop neerkom dat dit moeilik is om ’n skroef in te draai met jou duimnael.)”

Kan dit makliker gedoen word, sê (met ’n skroewedraaier)?

“Wel, as ek nou regtig eerlik moet wees …”

* * *

MAKLIK blyk ’n uiters interessante onderwerp te wees. Snaaks ook hoeveel weerstand opkom in my eie psige elke keer wat ek dit durf waag om iets as maklik te bestempel.

Die goeie nuus is, hierdie gevestigde maniere van dink oor dinge wat jou op ’n bepaalde wyse laat reageer wanneer iets opkom – kan wees ’n woord, ’n gedagte, of ’n spesifieke situasie, kan gewysig word sodat die psige anders reageer wanneer daai woord, of gedagte, of situasie opkom.

17:44

Gestel iets is werklik moeilik, of dalk regtig onaangenaam. Wat sal ek dan aanbeveel?

Ek sal vra: Kan dit makliker gemaak word, en indien wel, hoe? Kan ek iemand betaal om dit vir my te doen? Is daar ’n stuk gereedskap of enige ander hulpbron wat dit makliker sal maak? Het iemand al ’n boek geskryf wat verduidelik hoe die ding makliker gemaak kan word? Het ek nodig om ’n vaardigheid aan te leer? Waar kan ek uitvind wat ek nodig het om te weet?

SONDAG 14 NOVEMBER 2010

Jou persoonlikheid, jou spesifieke ervaring en jou vermoëns speel alles ’n rol in hoe “maklik” jy iets ag.

Tog, jy skuld dit aan jouself om ten minste te oorweeg dat iets maklik kán wees vir jou – selfs dat dit alreeds makliker is as wat jy dink. Jy mag dalk ook daaraan wil dink om solank jou onderbewuste in te span om hierdie realiteit te omhels.

______________________

Ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense vol nonsens is

SATERDAG 13 NOVEMBER 2010

Die sewentiende en agtiende eeue voorsien ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense, ten minste helfte van die tyd, vol nonsens is.

1. In 1642 het die Britse Parlement die koning onttroon, en hom onthoof ’n paar jaar later om seker te maak hy sit nie weer die kroon op sy kop nie. Weer in 1688 het hulle dit baie duidelik gemaak dat hulle glo dat hulle die reg het om hul eie monarg te kies – John Locke se politieke teorie het dit blykbaar baie mooi verwoord. Tog, toe die Amerikaanse kolonies amper ’n eeu later die heerskappy van die Britse Parlement en kroon wou omverwerp, en selfs John Locke se argumente gebruik, wou die einste Britse heersersklas niks daarvan hoor nie. Die koning se posisie kan ’n mens nog tot ’n mate verstaan, maar die Britse Parlement het vasgeskop: die koloniste het geen reg gehad om onafhanklikheid te eis nie.

2. So idealisties soos die Amerikaanse rebelle was in hulle rewolusie met “All men are created equal” en “Life, liberty and the pursuit of happiness,” het hulle net so omgedraai en ongelykheid geforseer op mense van kleur wat hulle gereken het hulle die reg het om te besit as persoonlike eiendom, en hierdie mense nie net ontneem van hul persoonlike vryheid nie, maar van enige redelike kans op ’n goeie lewe en ’n bietjie aardse geluk.

3. Na hulle nederlaag teen die Engelse in 1763, het die Franse gejuk vir wraak. Die Amerikaanse rebelle se stryd teen hulle koloniale meesters was, volgens die Franse koning Louis XVI en sy raadgewers, die ideale geleentheid. “Kom ons ondersteun die rebelle in hulle rewolusie teen koning en aristokrasie!” het die koning uitgeroep, en nog ’n chocolate eclair in sy mond gedruk. Tog, nie veel meer as ’n dekade later nie, ruk Franse rebelle aan die hekke van Versailles, en hang rewolusie swaar in die lug in Parys. “Hoe durf hulle?!” het die koning in die rigting van sy paniekbevange raadgewers gemompel, en gewonder wat van die roomkoek geword het.

En, nou dat ek daaraan dink, daar is ’n vierde voorbeeld.

4. Die rewolusionêre leiers in Frankryk was driftig met idealisme en ywer vir vryheid, gelykheid en broederskap in 1789 en die jare onmiddellik na die rewolusie. Maar was die vryheid beskore vir die gewone werker in ’n leerlooiery, of die pagter op die platteland? “Moenie belaglik wees nie!” sou van die leiers van die rewolusie in die veiligheid van hul woonkwartiere dink (dit sou op ’n stadium ’n bietjie gevaarlik gewees het om so ’n oortuiging op ’n Paryse straathoek te verkondig). Het gelykheid en broederskap ’n beter kans gestaan? Kon die gewone man en vrou wat nie besigheid, professionele titel of eiendom besit het nie, opgewonde raak oor die rewolusie? Hulle kon sekerlik aanvanklik opgewonde raak, maar teleurstelling was nie ver agter nie. Ten spyte van edel uitsprake was die rewolusie, aan die einde van ’n lang en bloedige dag, gemik op die verbreding van die aristokrasie. “Dis ons beurt om goed te leef!” sou ’n lid van die nuut bemagtigde bourgeoisie deur sy tande sis vir sy dienskneg, en nog ’n glas wyn opkommandeer.

______________________