My onbewustelike handewerk: Die Mitologiese Geldgod

DONDERDAG 29 APRIL 2010

Op pad skool toe vanmiddag gaan ek deur my lys van take waarmee ek tans besig is. Kom ’n gedagte uit ’n plek wat ’n mens net kan beskryf as die onderbewuste, siende dat ek nie bewustelik ’n keuse gemaak het om die gedagte te dink nie.

“Dis alles goed en wel,” meen die gedagte, “maar iets is nie lekker nie.”

“Wat?” vra ek.

“Ek weet nie,” kom die antwoord. “Die take is so … alledaags.”

“Alledaags?” wil ek bevestig.

“Ja, ek meen – is jy nie veronderstel om geld te maak nie?”

“Ja? En?”

“Wel,” begin die Gedagte Uit Die Diepte, “om geld te maak is mos ’n helse groot saak, is dit nie? Hoe dink jy gaan jy geld maak met sulke alledaagse take?”

En daar het jy dit. ’n Oortuiging uit die Onderwêreld.

Maak geen fout nie: Ekself het hierdie monster geskep uit geldmaak – ’n god as’t ware, waarvoor ek moet neerbuig in nederigheid, wat ek moet beïndruk met my harde werk: agt ure se gesukkel om ’n skroef in te draai met my duimnael waar dertig sekondes met ’n skroewedraaier voldoende sou wees; en met komplekse prosesse en indrukwekkende take, nie die alledaagse soort wat enige entrepreneur met ’n halwe brein kan doen nie. Dit is my werk, hierdie. Dit is wat ek doen. Ek het hierdie mitologiese figuur geskep, want om geld te maak, is immers ’n helse groot affêre. (Later gedink as ek die figuur van nader moes ondersoek, ek sou agterkom hy is gemaak uit papierpulp en gom, want ek kon nie klei of metaal bekostig nie.)

Reken ek dit laat my met twee opsies:

Opsie A) Selfs al is ander entrepreneurs nie opgeskeep met ’n soortgelyke monster in hulle koppe nie, sal ek moet voortgaan om die handgebeitelde God van Geld te eer. Ek sal seker ook ’n mantra moet uitwerk wat ek sal opsê terwyl ek my take doen. Ek sal ook, uit die aard van die saak, wierook moet brand, en godsdienstige dreunsang in die agtergrond moet speel.

Opsie B) Ek moet hierdie lomp, opgeblase figuur herken vir die valse god wat dit werklik is. Net soos ander mense monsteragtige figure maak van hulle vrese, of van dinge wat hulle moet doen waarvoor hulle nie opgewasse voel nie, so moet ek erken dat hierdie niks meer is as my eie skepping nie. Ek reken, indien ek daarin kan slaag om hierdie afskuwelike hallusinasie uit my verbeelding te dryf, ek sal kan voortgaan met die somtyds alledaagse take wat net dalk mag lei tot die inkomste wat lankal myne kon wees.

______________________