’n Mees betekenisvolle en diepgaande sukses

DINSDAG 4 AUGUSTUS 2009

Ek leef in ’n grys wêreld. Niemand is ooit heeltemal skuldig nie, en niemand is ooit heeltemal onskuldig nie. Die lewe is mooi, en die lewe is genadeloos. Die lewe is soms deurtrek met patrone en dieper betekenis, en soms is daar absoluut geen sin of rede aan die lewe nie. Mense sterf, maar hulle verdwyn nie heeltemal in die nietigheid in nie. ’n Mens bly dieselfde, en soms verander jy soveel dat dit belaglik is om voor te stel dat jy dieselfde mens is wat jy eens was.

WOENSDAG 5 AUGUSTUS 2009

Sekerlik is daar mense wat sê, “My naam is Jan Burger. Ek het al gelees en gehoor dat mense praat van vind jou ware self, kies jou eie naam en sulke goed, en ek weet my naam is nie wie ek is nie – maar dit werk goed genoeg vir my.”

Ook: “Ek weet nie altyd wat bedoel word met ’n agenda nie. Ek weet ook nie of ek ook het wat party mense noem, ’n persoonlike agenda, nie. Ek werk vir ’n saak waaraan ek glo. Ek doen my bes om mense by te staan wat sukkel om hulle eie koppe bo water te hou. Of my naam Jan of Koos, of Oom of Boet is, dit maak minder saak as my aandeel in hierdie stryd. Persoonlike agenda? Ek dink party mense fokus dalk te veel op hulleself.”

DONDERDAG 6 AUGUSTUS 2009

15:14

Ek oorleef. Ek eet baie groente, en hoender en vis, en ek drink baie tee en water. Ek ry fiets en doen oefeninge in die oggende. Ek drink min alkohol, en ek het opgehou rook.

Ek oorleef, maar ek sal nie sê ek handhaaf dieselfde kwaliteit lewe as voorheen nie. Ek het min sosiale kontak met my tydgenote, en ek geniet min sosiale ontspanning van ’n aard wat algemeen is onder mense wat oppervlakkig as my sosio-ekonomiese gelyke beskou kan word. Ek het amper veertig maande gelede laas my familie gesien. Ek het geen kontant om op terug te val sou ek per ongeluk van my fiets afval, of wat meer waarskynlik is, as een van my tande dalk uit my mond uitval nie. Laastens skuur ek meer as ooit tevore elke maand deur op die naat van onderbroeke vol gate – en ek is nie meer 19, of 28 nie; ek het in alle eerlikheid verwag om teen 38 ten minste deur te skuur op beter kwaliteit onderklere.

[Redakteursnota: Die laaste verwysing was ’n onbeplande gemengde idioom van die Engelse “flying by the seat of your pants” en “pulling through by the skin of your teeth”. Wat ek bedoel het om te sê, was natuurlik dat my finansies redelik knap was, oftewel, dat dit “broekskeur” gegaan het.]

17:50

Geld is die maatstaf, dit weet almal. Dit is hoekom gewelddadige, psigopatiese lede van georganiseerde misdaadsindikate geag word as suksesvol deur ’n betekenisvolle persentasie van die samelewing, terwyl arm maar talentvolle kunstenaars deur baie mense beskou word as mislukkings.

Die feit dat gewelddadige, psigopatiese bendelede ook gevrees word deur die breë publiek, en wanneer moontlik opgesluit word, is ’n indikasie dat die saak ietwat kompleks is.

SONDAG 9 AUGUSTUS 2009

Ek poog tans om die siening te verander dat my lewe net gedraai het oor geld sedert vroeg 2006.

Hier is nog ’n opinie: Sou dit wel so wees, sou dit wel waar wees dat my lewe in die laaste paar jare hoofsaaklik gegaan het daaroor om geld te probeer maak, is dit werklik verbasend dat dit nie ’n reuse sukses was nie?

VRYDAG 14 AUGUSTUS 2009

Sonder iets spesifiek wat ek moet doen – ’n projek, of ’n spesifieke deel van ’n projek – voel ek belaglik, verlore, en onseker van myself.

Dit wil sê, indien ek nie daadwerklik besig is met iets nie, voel ek onseker van myself, onseker van wat ek doen met my lewe, selfs onseker oor die waarde van my bestaan. (Wat kan ek sê, dinge ruk maklik hand-uit met my.)

DONDERDAG 20 AUGUSTUS 2009

My onderbewuste is soos ’n drie-jarige kind (’n redelike kragtige kind, bygesê) wat in die hier-en-nou leef. Hierdie “kind” glo my huidige lewe is oorleefbaar, oukei, en gemaklik genoeg.

Dat dit nie volhoubaar is nie om etlike goeie redes, gaan hierdie “kind” nie aan nie. Al waarin hy belangstel, is of die hier-en-nou veilig en gemaklik is.

Wel, daar is niks wat my op hierdie minuut fisies bedreig nie, en die stoel waarop ek sit, is redelik gemaklik.

Goed genoeg, dink die “kind”. Derhalwe moet niks verander nie.

Wat my bring by die huidige oomblik, veertig maande later.

DONDERDAG 27 AUGUSTUS 2009

Kom ons wees eerlik: Wat ek deurgemaak het sedert 2006 kwalifiseer volgens vele standaarde as ’n volslae en algehele, mees betekenisvolle en diepgaande mislukking.

Ek sê dit met die grootste agting vir myself. Ek sê dit ook met ’n ope hart en ’n goeie gemoed, want ek weet die pad vorentoe lyk goed; ek weet ook die pad wat agter my lê, is deel van my lewensverhaal.

MAANDAG 31 AUGUSTUS 2009

11:55

Dink aan sintuiglike redes hoekom jy finansieel suksesvol wil wees. Dink aan die sintuiglike beloninge van finansiële sukses. (Stel jouself voor jy is suksesvol. Wat ruik jy? Wat sien jy? Wat voel jy onder jou vingers? Wat proe jy?)

20:55

Daar is, vermoed ek, ’n “iets” binne my wat my verhoed om finansieel suksesvol te wees. Kom ons noem dit, “DIT”.

Ek en my onderbewuste, my rasionele brein, en my kreatiewe natuur, sal DIT vernietig.

______________________