Staan by ’n rooi verkeerslig, wonder wat om nié volgende te doen nie

VRYDAG 5 JUNIE 2009

10:27

Goed, ek gee toe: ek het dalk gedink volwasse lewe sal makliker wees.

21:01

In my eie land sou ek probeer het om nóg ’n deeltydse werk te kry, so gou as moontlik, siende dat my huidige werkgewer nie vir my meer werk kan of wil gee nie.

My situasie hier in Taiwan is ongelukkig soortgelyk aan dié van pagters in die Middeleeue. Soos hulle, kan ek nie net oorstap na die volgende distrik en my arbeid daar gaan verkoop nie. My werkpermit bind my eksklusief aan my huidige werkgewer: ek kan gestraf word – insluitende om uit die land gegooi te word – as ek sonder toestemming vir enige iemand anders werk, selfs deeltyds. (Ek het natuurlik nie veel van ’n keuse om dit in elk geval te doen ’n paar ure per week nie, ongeag die risiko.) Ook my woonkwartiere is gekoppel aan my werkgewer – dit hoef nie so te wees nie, maar dit is my realiteit op hierdie stadium.

SATERDAG 6 JUNIE 2009

12:33

’n Beeld: ek wat by ’n verkeerslig staan met ’n bord om my nek: “Will teach for money.”

Dit is hoe ek voel oor die idee van self-bemarking.

Goed, nog twee beelde – verskil is dat ek hierdie keer fokus op die persoon – in die kar.

Beeld twee: Dis ’n warm dag. Karre staan en stoom by die rooi verkeerslig. Jy stap nader met ’n bord wat sê, “Will sell ice cold cola for cash!”

Beeld drie: ’n Verblindende stofstorm het ’n halfuur gelede gaan lê. Die lug is nog stowwerig, maar die wind is stil. Motoriste by die rooi verkeerslig hang by hul vensters uit en vee desperaat oor hulle voorruite met sakdoeke en enige ander tipe lap wat hulle in die hande kan kry om ’n bietjie beter te kan sien. Jy stap nader met ’n bord om jou nek wat sê, “Will wipe windshield for cash!”

WOENSDAG 10 JUNIE 2009

13:44

Kyk na 1916 met die oë van iemand gebore in 1840.

Kyk na 1956 met die oë van iemand gebore in 1895, nie met die oë van iemand gebore in 1975 nie.

Kyk na 1823 met die oë van iemand gebore in 1770, iemand wat “eenvoudiger tye” onthou.

DONDERDAG 18 JUNIE 2009

17:52

Dit is asof hierdie subtropiese somerreën, en die vogtige warm lug wat klere en handdoeke en beddegoed die heeltyd klam hou, my interne probleme verskerp – probleme met myself, wat ek doen vir geld …

SATERDAG 20 JUNIE 2009

23:30

Die lewe is ’n proses van eliminasie: vriende, vakke op skool, tersiêre opleiding, beroep, dorp of stad, tuiste, adres, leefstyl, lewensmaat, volgende stap. Dis net soveel ’n keuse van wat jy nié gaan doen nie, as ’n keuse oor wat jy wél gaan doen.

______________________

Nie ’n tragedie nie, maar wel ’n bietjie van ’n stryd

DONDERDAG 11 JUNIE 2009

17:33

Ek frons op enige ondeurdagte vergelyking met die tragedie wat die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) was, maar ek kon nie anders as om vandag ’n paar parallelle te registreer met my eie storie van probeer geldmaak van die huis af die laaste paar jare nie.

1. In die Eerste Wêreldoorlog het almal aan die begin, in Augustus 1914, gehoop op ’n vinnige oorlog. Die realiteit was ’n uitputtingsoorlog van meer as vier jaar.

2. Meeste mense het aan die begin gereken, “The boys will be home for Christmas.”

3. Die hoop op ’n vinnige uitslag het nie verflou na die eerste jaar, of die tweede jaar, of selfs die derde jaar van oorlog nie.

4. Optimistiese, en in terugskouing, naïewe geloof, is geplaas op enige strategie wat die oorlog vinnig kon beëindig. Aan die einde was die oorlog lank en bitter, en min van die strategieë het die aanvanklike optimisme regverdig.

5. Na drie jaar van loopgraafoorlog het Duitsland groter kanse begin vat, hopende op ’n “reversal of a grave situation”. Aanvanklike resultate het belowend gelyk vir die Duitse militêre leiers, maar die groter kanse wat hulle gevat het, het uiteindelik hulle einde verseël en versnel (onder andere het onoordeelkundige aanvalle op kommersiële skeepvaart gelei tot Amerikaanse toetrede tot die oorlog).

6. Hoe langer die oorlog geduur het, hoe moeiliker het dit geraak om te kompromitteer op die eindresultaat. “Too much has been sacrificed already,” is gesê.

7. Die oorlog het uitgebreek met meer entoesiasme as beplanning; te veel passie, en nie genoeg praktiese oorweging nie. Vae, ambisieuse antwoorde is gegee op die vraag na uiteindelike doelwit.

8. Die oorlog het uiteindelik verbygegaan, maar die vrede is beduiwel. Niks moet ooit as vanselfsprekend geag word nie.

VRYDAG 12 JUNIE 2009

01:14

Dooiepunt, uitputting, vermorsing van hulpbronne, geleenthede wat gemis is, opdragte wat moeilik was om te volg, ego en persoonlikheid wat in die pad gekom het daarvan om dinge gedoen te kry, ego en persoonlikheid wat tragiese gevolge gehad het.

WOENSDAG 17 JUNIE 2009

12:17

Geskryf oor een van die Duitse militêre leiers: “[…] prudent, clear-minded […] did not propose to embark on some gigantic […] gamble aimed at winning the war outright.” (The Great War, p.67)

______________________

’n Ou Datsun bakkie sonder identiteit in ’n sloot vol dryfsand

MAANDAG 1 JUNIE 2009

15:20

’n Paar jaar gelede het ek gesê, hoe jy ’n inkomste verdien is nie wie jy is nie, dis net hoe jy geld maak.

Feit is, hoe jy kies om ’n inkomste te verdien, vereis soveel keuses – as jy gelukkig is, bygesê, uit soveel moontlikhede, dat jy uiteindelik óf iets kies omdat jy reken dit sal makliker wees om geld daarmee te verdien as met iets anders, óf omdat jy weet wie en wat jy is en wat jy met jou lewe wil doen.

Wat jy uiteindelik kies as ’n beroep, of hoe jy kies om ’n inkomste te verdien, is vir baie mense ’n konkrete manifestasie van identiteit – van hoe hulle hulself sien, hoe hulle gesien wil word, en van hoe hulle verkies om hulle dae en nagte te spandeer, of dan ’n betekenisvolle blok ure van elke dag.

WOENSDAG 3 JUNIE 2009

13:21

Vir my lê die aantrekkingskrag van “betting and trading” daarin dat geen identiteit of verskyning vereis word nie, slegs toewyding aan die minimum van roetines, en ’n predileksie vir statistiek, en patrone, en strategieë.

14:10

Dit is asof ek sedert 2006 met al die obsessie oor geldmaak vergeet het wie en wat ek is, en waaroor my lewe gaan.

“Money is important,” het ek geskryf op ’n stadium. Wanneer verloor jy jou siel, vra ek nou.

16:58

Iemand sonder identiteit is dood vir die wêreld.

Wil verskyn, moet beskik oor identiteit.

Wie is jy? Wat is jy? Wat is jou doel? Wat is jou funksie? Wat is jou doelwitte?

21:34

Die gedagte kom by my op dat ek beter sal wees daarmee om geld te bestuur as wat ek is daarmee om geld te maak. Probleem is, ek het nie geld om te bestuur nie, so ek moet fokus daarop om in die eerste plek geld bymekaar te maak. Dit, so reken ek, het identiteit nodig – of dan, publieke identiteit: “Hallo, hoe gaan dit? My naam is X”-tipe identiteit.

Dit, vir my, is blykbaar ’n groot fokop.

21:50

Is dit nie ironies nie: Ek het onlangs al hierdie insigte gehad oor “brand name” en identiteit en “Platform35 is Brand Smit” … en nou sê ek basies ek is soos ’n ou Datsun bakkie in ’n sloot vol dryfsand as dit kom by identiteit – spin my wiele dat die lug dik is van die rubber, maar ek kom nêrens nie.

______________________