Die vrae wat jy vra voor jy geld maak

VRYDAG 17 APRIL 2009

23:58

Van volgende week af gaan ek dit probeer inwerk om so nou en dan niks te doen nie. Ek begin die idee te kry inspirasie word verjaag deur voortdurende aktiwiteit.

SATERDAG 18 APRIL 2009

13:03

Dit is die probleem met die idee, die oortuiging dat alles binne jou bereik is, dat jy enige iets kan doen: Gestel dit is werklik so, wat doen jy en wat los jy? Hoe besluit jy?

MAANDAG 20 APRIL 2009

13:25

As jy wil geldmaak, is daar ’n paar vrae wat jy eers moet beantwoord voor jy vorentoe kan beweeg. Jy moet besluit of jy geld wil maak deur

A. iets te verkoop – produkte, ’n diens, jou tyd;

B. beleggings te maak en te wag op ’n opbrengs; of deur

C. te spekuleer om die geld wat jy het, meer te maak.

As jy nie genoeg geld het vir B of C nie, het jy nie veel van ’n keuse nie – jy moet verkoop. (Jy kan natuurlik geld leen vir opsie C, maar dit is so ’n slegte idee dat dit nie ernstige oorweging regverdig nie.)

Vrede gemaak met die idee dat jy moet verkoop, staan jy voor twee nuwe vrae:

1. WAT verkoop jy? en

2. aan WIE?

In ag genome dat die mark tot ’n groot mate die “wat” gaan dikteer, kom dit daarop neer dat jy moet vasstel “wie” jou mark is; of, in ag genome ’n paar ander faktore, wie is die mark in wie se behoeftes jy die graagste sal wil voorsien?

’n Basiese demografiese profiel van jou mark – plek, ouderdom, geslag, inkomste, en so meer – sal jou bring by die volgende stel vrae: Wat doen jou mark reeds? Wat wil hulle doen? Wat sal hulle graag meer gereeld wil doen? Wat het hulle reeds, waarvan wil hulle méér wil hê? Wat doen hulle reeds, wat hulle sal wil hê makliker moet wees? Waaruit wil hulle voordeel trek sonder om self veel te doen, of sonder om self te leer hoe om iets te doen?

WOENSDAG 29 APRIL 2009

17:27

Nie dat ek doelbewus daaraan gedink het nie, maar die gedagte kom so laatmiddag by my op dat een van die redes hoekom ek nog nie veel geld maak met enige projekte op die Internet nie, is identiteit.

Feit is, wat ek geskryf het oor myself en identiteit in 2003 en 2004, is geskryf met ’n spesifieke omgewing in gedagte: ek as buitelander in Taiwan, met vriende en familie en kennisse as deel van my wêreld, en ek as deel van ’n abstrakte “breë gemeenskap”. Binne hierdie wêreld het ek geweet wie ek is; ek het selfs ietwat verwaand gevra, “Weet jy wie jý is?”

Waarna ek vanaf 2006 verwys as die “Internet” is ’n totaal, totaal ander wêreld. Amper oornag is ek gekonfronteer met moontlikhede, gevare, en geleenthede om my talent en potensiaal te ontwikkel. Ek het ook geleenthede om deel te word van forumgemeenskappe waar niemand my ken nie, en waar ek myself moet bewys as iemand wat waarde kan bydra tot die spesifieke gemeenskap. Kán ek? Ek kan ’n paar stuiwers in die beurs gooi as die gesprek gaan oor identiteit of godsdiens of ander ernstige sake, maar wat van as dit gaan oor freelance writing markets of sports betting of social networking?

En siende dat ons aan die wonder is, wie of wat is ek – skrywer van e-boeke of sogenaamde “reseller” van e-boeke? Is ek ’n short report producer, of ’n contextual advertising ou?

In 2004 sou ek geantwoord het: Dit is nie wie jy is nie, dis net wat jy doen vir geld. Het ek die pot net effens mis gesit, of was ek heeltemal verkeerd? Daar is tog mense wat sê, “Luister, ek is nie ’n sales rep nie. ’n Winkeleienaar miskien, dalk ’n taxi-bestuurder, maar ek is beslis nie ’n sales rep nie.” Is dit nie waar dat daar mense is wat dit met absolute sekerheid kan sê nie?

______________________

Dink aan kerk, en wees soos water

DONDERDAG 12 MAART 2009

Die Chinese filmregisseur, Chen Kaige, praat van “cinema as church” – waar ’n klomp mense in die donker gaan sit, voor hulle uitstaar, en nie net vermaak word nie, maar iets ontvang.

Dit wat hulle ontvang, is nie soseer boodskap nie, maar stimulus, iets wat hulle krities laat kyk na hul eie lewens, wat maak dat hulle wonder, en dink, en hulle eie toekoms kontempleer.

DONDERDAG 8 APRIL 2009

“Be like water,” resiteer Bruce Lee steeds in my kop. Dit kan ook toegepas word op geldmaak.

Ek weet ek kan geld maak deur een of ander produk te bemark of deur dinge te verkoop, maar as ek dink aan myself as ’n verkoopsverteenwoordiger, ’n glorified door-to-door salesman, dan is ek nie soos water nie. Dan is ek soos dik, klipperige modder wat jy deur ’n nou papiertregter moet gooi.

Aan die ander kant, as ek dink daaraan om hulpbronne beskikbaar te stel of aan te beveel wat ander mense se proses tot ’n beter lewe sal fasiliteer, of om my vaardighede en kennis teen ’n redelike prys aan te bied om ander mense te help waar hulle vasbrand, dan raak die modder waterig, en die klippe verkrummel.

Identifying and removing the obstacles in your way will increase the probability of you achieving your goal; it will significantly enhance the possibility of you reaching your destination in good time. As nie Bruce Lee óf Confucius dit gesê het nie, is ek seker daarvan iemand anders het.

______________________

Die magiese krag (en kompleksiteit) van Super Motivering

VRYDAG 3 APRIL 2009

00:58

Motivering is, vir my, ’n komplekse dier. Elke dag het sy stories, sy invalshoeke, sy idees, sy visies, verwoordings, lyste van dinge om te doen.

Vanoggend se storie was soos volg: Ek vertrek op 1 Junie Bronkhorstspruit toe, en kom op 31 Augustus terug – nie ’n plan nie, let wel, net ’n storie op pad winkel toe. Die idee is om navorsing te doen vir drie maande lank, rond te loop, te kuier, Huisgenoot en Sarie en koerant te lees, en onder ’n boom te sit en dink en skryf. Reken ek toe, dit gee my twee maande om ’n bietjie geld te spaar, maar meer belangrik, om bronne van inkomste aan die gang te kry waaruit ek geld kan trek terwyl ek in Bronkhorstspruit is.

’n Paar ure later – op my fiets op pad terug van êrens af – spreek ek die opinie uit dat dit “heel doenbaar” is. Ek is, inderdaad, vas oortuig dat iets van die aard van stapel gestuur kan word, en tot suksesvolle konklusie gebring kan word. Ek weet ook verder dat ék heel waarskynlik nié binne twee maande die nodige stappe sal kan uitvoer nie. “Hoekom dan nie?” sal iemand dalk vra. Omdat, reken ek, ek ’n spesiale tipe motivering sal nodig hê om so ’n onderneming te laat werk, en drie maande in Bronkhorstspruit is nie genoeg van ’n motivering nie.

Ek glo aan die konsep van Super Motivering; ’n amper magiese krag wat jou tot aksie aanspoor en jou nie laat rus voordat jy nie die prys stewig vasdruk teen jou borskas nie. Super Motivering – soos in die storie van die ma van drie kinders in die boek, The One Minute Millionaire, wat binne een maand een miljoen dollar moes verdien anders verloor sy haar kinders, vir ewig.

Die beeld van die ma, die 30 dae en die een miljoen sit al sedert laat 2003 vasgekleef aan die binnekant van my skedel, soos een van die geel post-it papiertjies teen my kombuismuur. Ek glo al vir ’n lang tyd as jy gemotiveerd genoeg is, kan jy enige iets doen. Ongeag of die storie in die boek gebaseer is op ’n ware persoon of nie, twyfel ek geensins dat groot hoeveelhede geld na jou kant toe kan stroom as jy genoeg van die regte dinge doen nie; en as jy super gemotiveerd is, doen jy genoeg van die regte dinge. Jy rus nie voordat jy nie tevrede is dat jy alles in jou vermoë gedoen het om jou doelwit te bereik nie.

Sedert 2006, en veral sedert ek begin besef het dit gaan dalk langer vat as 30 dae om my eerste dollar op die Internet te maak, het ek gewonder oor wat my motiveer om meer geld te probeer maak. Aanvanklik was dit om op te maak vir klasse wat gekanselleer is toe ek op vakansie gegaan het daai April van 2006. Twee-duisend-en-sewe het gekom en gegaan, en al my beloftes om my familie te besoek in April, of Julie, of September – of dan Desember! – is een na die ander uitgestel of gekanselleer. So, teen 2008 het om Suid-Afrika toe te gaan en weer my familie sien die Groot Prys geword, die pot goud aan die ander kant van die modderige landery waar die reënboog in die sagte aarde inboor. Ek het soos ’n desperate generaal in die Eerste Wêreldoorlog nuwe aanvalle loods, elke paar weke vars strategieë en nuwe idees probeer. Geld was veronderstel om in te stroom, ek moes my kaartjie bespreek, betaal, en so waar as wragtig op die geskeduleerde dag Suid-Afrika toe gaan.

Om my familie te sien as prys. Om my familie te sien as motivering. Om my familie te sien as die vuur agter my aksies elke dag. Maar diep in my binneste weet ek ’n besoek aan my familie is ’n tweesnydende swaard. Jy kom by die huis aan; almal is bly om mekaar te sien; na ’n dag of twee is jy gewoond aan die nuwe landskap, en almal is klaar gewoond daaraan dat jy deel is van die landskap wat hulle daaglikse lewe is. Dan, na ’n dosyn stappies na die Spar en ’n halfdosyn besoeke aan die tuisnywerheid, druk jy maar weer jou klere en ’n paar Huisgenote en Saries en ’n ornament of twee en ’n paar ander items in jou tas, bekla die feit dat jou tas weer oorgewig gaan wees en jy dalk meer as R1000 sal moet betaal vir die ekstra gewig by die lughawe, en dan na nog drie dae … twee dae … laaste dag, word almal weer hartseer omhels en gekus, vae beloftes word gemaak, en dan fokof jy weer landuit.

Vakansie – langverwagte besoek aan die “huis” – as prys. Om my familie weer te sien, en weer afskeid te neem, as motivering, die rede hoekom ek elke dag doen wat ek doen.

———–

Laat ek myself stop voor Juniemaand aan die deur klop en ek steeds sentimenteel raak oor die ou dae, met een paragraaf na die ander wat ou argumente herkou oor alles inpak en permanent terugkeer na Suid-Afrika, soos om ou bene weer op die kole gooi om te sien of daar nog ’n krieseltjie vlees aan is, of ’n bietjie murg wat ek sag genoeg kan kook om uit te suig. Punt is, as ek nog koorsagtig besig was om te beplan om terug te keer na Suid-Afrika, was die motivering aangeleentheid dalk ’n bees van ’n ander kleur.

Waar laat dit my? Wat staan my te doen as ek elke dag moet voortploeg sonder die soet stem van die Wonder Motiveerder om my aan te spoor?

Dit laat my met ’n eenvoudige onderneming om my beste te doen. Daarvoor kan ek myself motiveer – sonder om enige wonderwerke te verwag. Om elke dag op te staan, ontbyt te eet, en te begin werk na die beste van my vermoë. En soos ek onlangs weer geleer het, beteken beste nie noodwendig werk hard ter wille daarvan om hard te werk nie. Dit beteken: werk slim. Ek moenie agt ure spandeer om ’n paar skroewe met my duimnael in te draai as ek tien minute kan vat met ’n skroewedraaier nie. En ek moenie voel ek verdien nie die voordeel van die skroewe waar ek dit ook al ingedraai het nie omdat dit my net tien minute gevat het en nie agt ure soos ek aanvanklik verwag het nie. Ek het duidelik dringend nodig om op te hou om dinge te oorkompliseer.

______________________