Jou getroue dienskneg, Amper Man

DONDERDAG 12 FEBRUARIE 2009

Oorgelaat aan my eie lot, aan my eie genade, oorgelaat aan my eie toesig, is ek goed vir ’n paar dinge. Ek kon nog altyd notas maak tot die pen opdroog, of skryfwerk redigeer asof ek nege lewens het om dit klaar te maak. Ek is ook goed met navorsing. Ek kan dosyne PDF’s van die mees obskure bronne vind en aflaai, en dis nie asof ek dan die dokumente net los in ’n donker hoekie van my hardeskyf en daarvan vergeet nie. Ek kan myself absoluut verdiep in die uitsortering van inligting en die kategorisering daarvan.

En as ek my oë uitvee, het nog vyf weke verbygegaan. Whatever.

Om geld te maak op die Internet, word ’n mens geleer om spesifieke dinge op spesifieke maniere te doen, en jy moet gereeld genoeg, genoeg daarvan doen. Werk hierdie geldmaak-op-die-Internet-stories werklik, of is dit alles net ’n slenter? Is dit alles net stories wat sogenaamde Internet bemarkers spin om jou helder oordag te beroof van jou hardverdiende kontant?

Gebaseer op my ervaring moet ek sê die moontlikheid is werklik genoeg. Die feit dat ek feitlik die hele Januarie oorleef het – ontbyt geëet het, aandete geëet het, tandepasta kon koop, tee kon koop, saam met Natasja kon gaan koffie drink en selfs ’n versnapering saam met my koffie kon geniet, en dat ek al die ander items en aktiwiteite kon bekostig wat ’n mens se lewe alledaags maak – is te danke aan ’n paar dollar wat ek gemaak het omdat ek ’n paar dinge op ’n spesifieke manier gedoen het, en dit ten minste op ’n stadium gereeld genoeg gedoen het, en genoeg daarvan.

(word vervolg)

MAANDAG 30 MAART 2009

Ses weke en vier dae later. (word vervolg) was veronderstel om te eindig met, “Ek het ’n bestuurder nodig, want ek is soos ’n rock band wat goeie musiek kan skryf as hulle op hul eie gelaat word, maar die rock band het ’n bestuurder nodig om optredes te reël, en vervoerreëlings te tref, en die band op die lughawe of bus- of treinstasie te kry sodat hulle by een of ander dorp of stad of land kan kom om op te tree en geld te maak.

(20 minute later)

Ek voel soos iemand wat met ’n geheim rondloop, ’n persoonlike geheim wat ek altyd bang was iemand anders ontdek. Enigste verskil is, ek brand om hierdie geheim uit te blaker.

Saterdagmiddag sak ek vir ’n oomblik neer in die rottangstoel in die kombuis en ek dink, “Ek moes lankal gerol het in die geld met alles wat ek weet, en alles wat ek kan doen.”

Die rede, reken ek toe, hoekom ek nie rol in die geld nie, is omdat ek nie in staat daartoe is om myself te verkoop nie. Ek kan dit nie doen nie; of, ek kan, maar dit skaaf so teen my dat ek onbewustelik altyd die proses sal bederf.

Wat bedoel ek met “verkoop myself”? Ek bedoel om na myself te kyk, my belangstellings, my natuurlike aanlegte, my aangeleerde vermoëns, en dan te kyk na die ope arbeidsmark en te oorweeg waar en hoe ek myself en my dienste kan aanbied teen vergoeding; hoe ek my arbeid, en die potensiële waarde daarvan vir die koper, op die tafel kan plaas in die hoop en verwagting van redelike kompensasie.

Goed en wel, dit is tot ’n mate presies wat ek gedoen het toe ek Noordoos-Asië toe gekom het – maar omdat taalsentrums in lande soos Korea en Taiwan gretig is om universiteitsopgeleide Westerlinge so te sê op eerste blik te huur en in ’n klaskamer te druk en redelik goed te betaal vir hulle moeite, het ek nooit nodig gehad om baie hard te probeer om myself te verkoop nie. Ek was ook gelukkig genoeg in die verlede dat ek genoeg klasse aangebied is om my hele skedule te vul. Daar was enkele gevalle waar ek gereageer het op geadverteerde aanbiedings van werk – Korea 1996, en ’n skool in Kaohsiung wat geadverteer het in die plaaslike koerant in die somer van 2001. Al die ander Engelse klasse wat ek oor die jare gedoen het, was vir my persoonlik aangebied. Ek sou gewoonlik ’n telefoonoproep kry van iemand wat my nommer by iemand anders gekry het, en hulle sou verduidelik dat hulle dringend ’n Engelse onderwyser nodig het. My interne reaksie was altyd, “Verdomp! Moes dit nou gebeur het?” Maar, ek is ’n redelike mens. Ek weet ek het geld nodig, so in meeste gevalle sou ek ’n paar dae later inval by die nuwe werk, en natuurlik na die eerste paar weke gretig besit neem van die kontant wat my kant toe gekom het as vergoeding vir my arbeid, en vir my vrye tyd wat ek opgegee het.

Van die werk wat ek oor die jare gedoen het, en steeds doen, is vervelig. Soms glo ek dit is benede my. Maar ek doen dit, as gevolg van die kompensasie. En as my telefoon nou moet lui, met ’n stem aan die ander kant wat my werk aanbied wat ek reken vervelig sal wees, en moontlik by tye benede my, sal ek weereens heel waarskynlik die werk aanvaar. Want ek het die ekstra geld nodig. En ek is ’n redelike mens. Ek dink soms ek is spesiaal, maar nie so spesiaal dat ek ’n geleentheid van die hand sal wys om van my tyd te verkwansel vir harde kontant wat ek nogal redelik kwaai nodig het op die oomblik nie.

Bereidwilligheid om sekere werk te doen, is een ding. Probleem is, ek kan myself nie sover kry om myself te adverteer nie. Ek is bekwaam op ’n paar gebiede. Daar is individue en besighede wat wins kan maak, of dinge vir hulleself geriefliker kan maak, of hulle eie situasies kan verbeter, deur gebruik te maak van my kennis of arbeid. En hulle sal my vergoed vir my kennis of arbeid – as hulle net geweet het my kennis en arbeid is beskikbaar.

Dit bring my by die geheim wat ek in my binneste ronddra, die geheim wat brand om uitgeblaker te word aan almal vir wie dit sal saak maak. Ek dink nie my finansiële situasie gaan verbeter binne die volgende paar weke nie. Ek dink ook nie my finansiële situasie gaan veel beter lyk oor twee of drie maande nie. Teen einde Junie? Julie? Teen September? Desember? Volgende jaar? 2011? Ek kan aanhou nommers en maande uitgooi, vol hoop dat ek teen daai maand, of teen die middel van ’n ander jaar daarin sou slaag om beter te doen as wat ek tot nou gedoen het. Maar die opinie sal dieselfde bly.

As ek op hierdie oomblik mismoedig was, of onder die invloed was van ’n gemoedstoestand wat ek voorheen sou assosieer met ’n Sondagaand, of ’n Maandag, of Maartmaand, dan het ek hierdie nota afgeskryf as ’n resultaat van emosie, en dit soos ’n swak gedig onder ’n klomp ou rekeninge ingedruk. Feit van die saak is, ek is nie mismoedig nie, en ek gaan nie tans gebuk onder ’n gebrek aan geloof of entoesiasme nie. As ek dit nie nodig gevind het om op hierdie oomblik hierdie nota aan myself te skryf nie, kon ek vol oorgawe gewerk het aan enige van ’n halfdosyn projekte.

Dat ek nie glo my finansiële situasie gaan verbeter oor die volgende twee tot drie dekades nie, is ’n berekende opinie. Ek glo dit sal bly soos dit nou is, tot een of ander krisis die storie onderste-bo gooi. Dan sal ek skop en spartel en mooi praat net om dit weer so goed te hê soos nou. Want beter sal dit nie wees nie.

Moet dit noodwendig so wees?

Die versoeking is daar om te sê: Ja. Brand Smit het sy bes gedoen. Hy’t die einde bereik van sy natuurlike talente. Dis soos om te ry en te ry en te ry, en dan stop die pad skielik, in die middel van nêrens. Of soos wanneer iemand vir jou in Kazak ’n komplekse wetenskaplike vraag vra. Al wat jy kan doen is om verleë te glimlag, want die vraag is in ’n taal wat jy nie praat nie – en selfs al kon jy gebroke Kazak praat, sou jy in elk geval nie die vraag kon beantwoord nie, want jy weet nie genoeg van wetenskap nie. In kort, skaakmat.

Maar dan, die dowwe, soms irriterende stem van rede: Is dit skaakmat? Hoekom is dit skaakmat? Wat kan gedoen word om die naderende krisis af te weer? Kán iets gedoen word om die naderende krisis af te weer?

1. Die krisis sou lankal ’n doodsknal toegedien kon word as ek myself beter geken het. (En ek hoor die skrywer van “Persoonlike Agenda” stik in sy springmielies en tee.)

2. Daar sou nie ’n krisis gewees het as ek met ander mense kon saamwerk nie – nee, as ek ander mense kon nader en hulle kon oortuig om saam met my te werk nie.

3. Die krisis voed op homself. As ek nie die heeltyd nodig gehad het om my fokus te verander na iets wat “vinniger” geld kon maak nie, het ek moontlik lankal meer geld gemaak. Of dalk nie – maar dis moontlik.

4. Ek gaan waarskynlik vir die res van my lewe arm bly, bekend staan aan myself en ander as Amper Man. Jare van nou af sal ek sê, “As ek maar net …” – wat aan my die alternatiewe titel sal besorg van As Ek Maar Net Man, wat dalk handig sal inkom wanneer Amper Man afgesaag raak.

———–

Genoeg slim praatjies. Feit is, ek gaan arm bly tot ek iets kan bewerkstellig om meer gereeld geld te maak as wat nou die geval is, en meer geld te maak as wat ek tans maak. Daar is ander maniere hoe ek dit kan verwoord, maar dit het nog altyd neergekom op dieselfde ding.

Arm, tot dan
Jou getroue dienskneg
Amper Man

______________________