Rook en gomsnuif, raad as jy wil skryf, en advies oor die monster

VRYDAG 2 JANUARIE 2009

Sigaretrokery: ’n verslawing aan die toksiese dampe van brandende blare.

As dit nie was vir die slim verpakking (tot onlangs), slim bemarking (tot ’n dekade gelede), identiteit-verwante handelsmerke, sosiale aanvaarbaarheid (aan die kwyn) en die wye verkrygbaarheid en relatiewe lae koste nie, sou net ’n fraksie van die mense wat tans rook, in die eerste plek begin rook het. Hoe sigarette aangebied word, en hoe mense daaraan dink, verander alles.

* * *

Om gom te snuif het ’n reputasie dat dit die eerste keuse van dwelm is van straatkinders, arm tieners, en ander mense wat nie positief is oor die lewe nie, maar nie geld het vir ’n beter verdowingsmiddel nie. Om tabak te rook – daagliks, as ’n saak van roetine – word deur rokers gesien as in ’n totaal ander klas as gomsnuiwery.

Hier is wat ek dink: om tabak te rook, maak jou nie dommer nie, maar dink vir ’n oomblik daaraan: jy rol droë blare in ’n stukkie papier toe, steek die storie aan die brand, en suig die rook in jou longe in. Toegegee, dis nie dieselfde as om gom te snuif nie, maar dis ook nie juis die resultaat van ’n geniale denkproses nie.

MAANDAG 5 JANUARIE 2009

Jy kan die mees kriminele gedrag regverdig en rasionaliseer. Wat jy nodig het, is die vermoë om jouself eerlik te kritiseer, om jou eie gedrag en keuses te bevraagteken, en op kritiese wyse te heroorweeg.

MAANDAG 12 JANUARIE 2009

Hier is my raad aan ander mense wat wil skryf: skryf jou gat af aan alles wat jou pla, en alles wat jou gelukkig maak. Skryf asof jy mal in die kop is; redigeer later. En wees beskeie. Opinies oor jou eie belangrikheid, dat die wêreld nie sonder jou sal funksioneer nie, dat jy oor kennis en insig beskik waaroor niemand anders beskik nie, vervaag soos die jare aanstap, en raai wat: dan sit jy maar weer op ’n klip langs ’n stowwerige pad, en jy moet maar weer jou eie kaart teken met ’n stomp potlood op ’n stukkie ou koerant, en jou tas vol stop met grond en gras en ʼn bottel afgewaterde no-name brand cola in die hoop dat alles sal verander in iets beter as jy lank genoeg daarop sit.

Die lewe is ’n reis. Moet niks as vanselfsprekend neem nie. Stry voort.

En om te dink dis nou eers Maandag. In Januarie.

SONDAG 18 JANUARIE 2009

Presies ’n dekade na ek in Taiwan aangekom het.

Kruispad, weer: Ek kan óf soos ’n nat klapper ’n laaste paar vonkies uitspoeg, of ek kan vlamvat vir nog vyf … of net miskien, nog tien jaar.

MAANDAG 19 JANUARIE 2009

Mismoedigheid is ’n monster wat sy bewerige vingers om jou strot sal vleg en die lewe uit jou sal wurg – tensy jy hom doelbewus, en daagliks, systap, en sy herhaaldelike pogings aktief teenwerk, en ondermyn.

DINSDAG 20 JANUARIE 2009

Mite 1: Arm mense wat daagliks stry om te oorleef en niks as vanselfsprekend ag nie, raak nooit verveeld nie. Verveling is die eksklusiewe reg van die bourgeoisie.

Mite 2: Geluk is ’n luuksheid wat jy net kan bekostig as jy ryk is, of as jy onnosel is en nie van beter weet nie.

______________________