Dinge wat ek moes leer, en dinge wat ek nog moet leer

VRYDAG 9 MEI 2008

Hier is die aantekening wat ek moes gemaak het op Vrydag 10 Februarie 2006:

Benewens om te leer geldmaak van die huis af, op my eie tyd, en op maniere wat ek goedvind, stel ek aan myself die volgende doelwitte oor die volgende twee of drie jaar:

1. Ek moet leer om volslae te misluk, en dan die volgende dag van vooraf te begin, en weer volslae te misluk, en dan die volgende dag weer van vooraf te begin.

2. Ek moet leer om opinies te waag en vooruitsigte te maak, en heeltemal verkeerd te wees, en die volgende dag weer opinies te waag en vooruitsigte te maak, en weer verkeerd te wees, en dan die volgende dag weer opinies te waag en vooruitsigte te maak.

3. Ek moet leer om geduldig te wees. Ek moet leer om pynlik stadig te vorder, insluitende om elke paar dae terug te gly tot amper by die begin, en dan die volgende dag voort te gaan.

O ja, en ek moet al bogenoemde leer terwyl iemand wie se respek en agting ek waardig wil wees, elke een van my mislukkings aanskou, en weet van amper elke keer wat ek verkeerd is, of was.

MAANDAG 19 MEI 2008

16:35

As jy ophou asemhaal, gaan jy dood. As jy ophou probeer, misluk jy by verstek.

SATERDAG 24 MEI 2008

22:45

“Een van vier duisend,” dikteer die gedagte terwyl ek op die naat van my rug lê. Een van vier duisend skrywers tans lewend, wat skryf oor die lewe op ’n bepaalde manier. En omdat nie almal aktief is nie – om verskeie moontlike redes, maak dit die werk van die skrywers wat wel skryf, soveel belangriker.

DONDERDAG 29 MEI 2008

14:01

Net oor die brug op pad na my gewone aandete plek toe gister, dink ek aan hoeveel keer ek – nie doelbewus nie, maar nietemin – grootgepraat het oor groot welstand die afgelope twee jaar, en hoe Natasja na alles geluister het, gesien het hoe skokkend min daarvan gerealiseer het sover, en steeds lief is vir my.

Teen die tyd wat ek my fiets staangemaak het teen die lamppaal, het ʼn gedagte my soos ʼn nat kluit tussen die oë getref. Ek kan die gedagte soos volg illustreer: As ’n vrou eers besluit het om lief te wees vir ’n man – of as dit gebeur op die misterieuse wyse waarop dit gebeur, kan die man aan die ontvangkant van die liefde gerus sy weg vind na die naaste Daoist tempel toe. Op pad kan hy ’n kilogram wierook optel, en by die tempel kan hy een na die ander stokkie aan die brand steek, terwyl hy elke figuur wat naastenby lyk soos ’n godheid plegtig, en met trane wat opwel in sy oë, bedank vir die goeie voorspoed wat hom beval het.

SATERDAG 31 MEI 2008

16:34

(Deel van ’n groter kombuis kontemplasie oor Eros en Tanatos: begeerte om te lewe, en begeerte om te sterf.)

Ek verwag dat goeie dinge soms sal gebeur, en wanneer dit gebeur, maak ek dit af as onbeduidend, of ek ignoreer dit selfs, terwyl ek slegte dinge – selfs relatief geringe gebeurtenisse – aangryp as onteenseglike bewys dat “dinge nie reg is nie”, dat ek besig is om “droog te maak”, dat dit “duidelik is dat dinge nie uitwerk nie – en moontlik nooit gaan uitwerk nie”.

Terloops, wie is ek, en wat doen ek met my lewe?

______________________

Liefde van ʼn vrou – gereed vir nog ’n dag se reis

DONDERDAG 1 MEI 2008

13:39

Die liefde van ’n vrou – uit die man se oogpunt

Stel jou voor ’n man stap deur ’n woestyn. Hy loop al vir dae lank. Sy kos en water is op en hy is gedehidreer. Hy struikel soos hy by ’n duin afgaan. Rol tot aan die onderkant. Lê net daar.

Dan, op daai oomblik, verskyn ’n reddingsvliegtuig in die blou lug bo hom. Iemand met noodvoorraad daal neer met ’n valskerm. Drie ure later arriveer ’n jeep-ambulans.

’n Paar dae later word hy wakker in ’n hospitaal. Hy is gekoppel aan buise, en dokters en verpleegsters monitor sy toestand. Hy gaan orraait wees, verseker die dokter almal in die wagkamer.

Dit, vanaf die oomblik dat die reddingsvliegtuig verskyn het tot by die versekering van die dokter, dit is die liefde van ’n vrou. Dit is ’n hoogs gunstige wending in die lewe van enige man.

(vir Natasja)

VRYDAG 2 MEI 2008

16:38

[…]

Die gedagte kulmineer toe in ’n vraag na wat die afgelope twee jaar in my lewe genoem kan word. Ek het reeds ’n paar maande gelede daarna begin verwys as die Tweede Kommersiële Diktatorskap, maar bedoelende om ’n bietjie meer beskrywend en meer akkuraat te wees, sê ek toe: ʼn Tyd van ontdekking, mislukking, verleentheid, geloof, ontnugtering – en die begin van die einde van finansiële onbevoegdheid.

DONDERDAG 8 MEI 2008

17:16

Teen Woensdag of Donderdag of Vrydag raak herhaling van dieselfde vervelige aksies en gebrekkige kreatiewe vervulling ’n probleem. ’n Goeie manier om dit te verwerk, is om uit te gaan vir ʼn bier, te gaan tennis speel, of om ’n film te gaan kyk.

Ek dwing myself egter terug in my kantoorstoel, en sit die roetine voort – wat ook al die roetine is daai week. My gemoedstoestand is derhalwe vatbaar vir enige foute wat ek maak, resultate wat nie so goed is as wat ek verwag het nie, selfs vir goeie resultate wat “te min, en te stadig” is.

Die uiteinde is voorspelbaar: “Dit” werk nie. Ek moet “iets anders” doen. “Dit” is te stadig. Dalk moet ek weer na “dit” of “dat” kyk.

As ek net gaan sit het – op die groen rusbank, en gelees het, of ’n film gaan kyk het, was ek na ’n paar ure, of die volgende dag, weer op pad. Uitgerus. Gereed vir nog ’n dag se reis.

Hoe ék egter die probleem benader, is soos iemand wat op die pad is sedert kort na ontbyt. In plaas daarvan om ’n motel te soek wanneer dit begin donker raak, na tien of so ure op die pad, ry die man voort, sonder stop. Tot hy in ’n trok of ’n telefoonpaal vasry.

______________________