ʼn Paar dinge wat Brand Smit geleer het teen April 2008

DONDERDAG 10 APRIL 2008

Te veel. Hoofpyn. Geen kreatiewe gedagtes nie. Kan nie dink aan invalshoeke nie. Desperaat vir kort-termyn bevrediging. Gaan te laat bed toe. Word te vroeg wakker. Ontbyt inspireer nie … Natasja is pragtig. Sy’s die absolute lig van my lewe.

VRYDAG 18 APRIL 2008

Wat ek geleer het hierdie week, deur Brand Smit

Enige manier hoe ’n mens geld wil maak, kan beskryf word as ’n “job”. Vir sommige mense is dit om Engelse klasse te gee; vir ander is dit bemarking deur oorspronklike artikels op die Internet te publiseer, of bemarking deur ʼn dosyn mini-blogs, of ’n betaal-per-kliek advertensieveldtog; en vir ander mense is dit sportweddenskappe, perderesies of die koop-en-verkoop van pryse op ’n weddenskapruilhandelmark.

Ten minste basiese opleiding is noodsaaklik voordat jy enige werk kan begin doen. Meer gevorderde opleiding, beide teoreties en prakties, is van kardinale belang as jy ernstig is daaroor om op die langtermyn ’n sukses te maak van enige iets.

Almal weet dit, reg? Tog, hoeveel “jobs” het ek nie gevat die afgelope meer as twee jaar sonder eens die mees basiese opleiding nie?

Een voorbeeld is bemarking met jou eie webwerf: Ek gereken omdat ek my eie inhoud kan produseer, is ek reeds gekwalifiseerd. Ek kon nie meer verkeerd gewees het nie.

Vele argumenteer: “Gaan op dag een al oor tot aksie. Moenie te veel tyd mors deur te lees hoe om iets te doen nie.”

Ek verstaan oor parkeer by die verkeerslig, maar hoeveel tyd word nie gemors deur te begin met werk sonder ’n noodsaaklike begrip van hoe om dit reg te doen nie? In terme van bemarking op die Internet is dit tyd – kosbare tyd wat verspil word asof ure en dae en weke en maande goedkoop kommoditeite is. In terme van weddenskappe en ruilhandel word die verlies gemeet aan kosbare dollars.

Dit is maklik om die moeilikheidsgraad van werk te onderskat waarmee jy geld van die huis af kan verdien. Dit is ook waar dat ’n mens die kompleksiteit daarvan kan oorskat, en nooit begin met enige iets nie.

Weet dat jy tyd gaan mors en geld gaan verloor as jy begin met projekte sonder die noodsaaklike opleiding, en weet ook dat nie tyd of geld enige opbrengs gaan lewer as jy nooit begin toepas wat jy leer nie.

WOENSDAG 30 APRIL 2008

Resiteer nou die dag vir Natasja die volgende aanhaling: “Fear of failure leads to fear of commitment.”

Ek voeg toe by: “Ek was altyd bang vir mislukking, so ek het my bes probeer om dit te vermy.”

Na die verpligte paar sekondes pouse, ʼn bekentenis, gevolg deur ’n verleë laggie: “Die afgelope twee jaar het ek soveel keer misluk …”

Ek moes leer om beskeie te raak. Ek moes leer van mislukking. En, soos ek ook onlangs besef het, ek moes leer van spyt.

______________________

Skryf om geld te maak; skryf om my plig te doen

[Omdat nie almal bekend is met die verwysings nie, die volgende: 1) Een van die eerste maniere van geldmaak op die Internet waaraan mens blootgestel word wanneer jy begin ondersoek instel na hierdie dinge, is sogenaamde “affiliate marketing” waar jy mense oortuig om sekere produkte te koop. Hoe maak jy geld daarmee? Jy voorsien aan mense ʼn skakel om op te kliek (“Click here for more information!”); ʼn stukkie kode word op die persoon se rekenaar geplant; wanneer die persoon betaal vir die produk, tel die maatskappy wat die betaling behartig op dat die transaksie ʼn sekere roete gevolg het; jy kry krediet vir die transaksie; ʼn paar weke later word jy ʼn kommissie betaal vir jou moeite. Een van die maniere hoe jy mense kry om op jou spesiale skakel te kliek, is deur die skakel te plaas in ʼn artikel wat handel oor ʼn sekere probleem of belangstelling wat die persoon het, of aan die einde van ʼn produk resensie. 2) Squidoo.com was ’n webwerf waar enige iemand ’n blad kon begin oor enige onderwerp waarin hulle geïnteresseerd was. Die blaaie was “lense” genoem. 3) “Private label” verwys na teks of enige ander digitale inhoud of media wat mense produseer en dan verkoop aan ander mense met ’n lisensie om dit te kan verander soos hulle wil en te publiseer onder hul eie name. 4) “Pay-per-click” is klein teksadvertensies wat verskyn langs of bo Google se soekresultate (en op die resultate van sommige ander soekenjins) en op sommige webblaaie; adverteerders betaal vir die advertensies volgens die hoeveelheid kere wat mense daarop kliek of die hoeveelheid kere wat dit verskyn. 5) “PDF” is ’n elektroniese dokument formaat. 6) “Article directories” is werwe met duisende artikels oor honderde onderwerpe. In 2008, toe hierdie teks geskryf is, was “article directories” gewilde plekke waar jy inhoud kon kry vir jou webwerf met die enigste voorwaardes dat die artikel onveranderd moes bly en jy die skrywer se naam en persoonlike skakel moes insluit wanneer jy dit op jou eie werf publiseer. Dit was derhalwe ook ’n goeie manier om blootstelling te kry vir jouself en vir jou eie webwerf.]

DONDERDAG 3 APRIL 2008

10:41

Ek het geen aptyt om te soek na ’n rede hoekom ek nog nie miljoene dollars kontant op my woonstelvloer kan uitpak om na te staar nie.

’n Vraag kom nietemin by my op: Hoeveel van die projekte wat tans op my lys is, vereis dat ek iets moet skryf? Die antwoord: alles behalwe die sport en finansiële markte.

Die volgende vraag: Hoeveel skryfwerk het ek geproduseer die afgelope 26 maande om iets te bemark? Antwoord: Enkele paragrawe hier en daar; ʼn paar produk resensies; drie artikels; ’n paar Squidoo lens inleidings; en een PDF met ’n inleiding, tien kort stukkies oor verskillende maniere om geld te maak, en ’n advertensie vir die “private label” weergawe. In kort, nie veel nie.

Enige iemand wat enige iets weet van Internet bemarking sal vir jou sê een noodsaaklike vereiste vir enige een-persoon vertoning om êrens te kom, is unieke materiaal (meestal geskrewe teks). Dosyne produkte word bemark of gratis beskikbaar gestel om mense te help om iets te doen wat vele uiters moeilik vind – daar is sagteware, templates, en inligtingsprodukte wat alles ontwikkel is om mense deur die proses te help om artikels te skryf. Daar is webwerwe waar mense kan gaan soek vir skrywers wat teen ’n paar dollar per artikel vir hulle materiaal kan produseer. Daar is “private label sites” waar mense bundels artikels kan koop wat hulle dan kan verander soos hulle wil en onder hul eie name kan publiseer. Daar is boeke wat poog om mens te leer hoe om ’n voltydse inkomste te verdien deur “private label” materiaal te produseer vir ander mense, want … mense het inhoud nodig vir hulle webblaaie, en hulle het nie altyd die tyd of die vermoë om die inhoud self te skep nie.

Die vervaardiging van teks is inderdaad ’n industrie wat ontstaan het omdat mense geld wil maak op die Internet. Jy leer vinnig: Geen inhoud vir jou webblaaie nie; geen wins nie.

Fantasties, het ek van die begin af gedink. Ek het nie geld om te gooi in enige projek se rigting nie, maar ek kan skryf. Dit gaan maklik wees! En ek kan oor enige iets skryf. Ek kan lees wat ander mense geskryf het, en dan my eie spin daarop sit. Ek kan dosyne PDF’s deurgaan en dan artikels skryf waarbinne ek my kommersiële skakels kan plak, en – dan wag ek net vir daai eerste vet kommissie tjek!

Ses-en-twintig maande later. As ek alles moes vat wat ek sover geskryf het om iets te bemark, dit saam moes snoer in ’n dokument en dit ’n boek moes noem, sou ek my klere geskeur het en op my tande gekners het (nie te hard nie, want my een tand het reeds ’n kraak in). Die drie artikels wat ek verlede jaar aan “article directories” voorgelê het, was heel oukei. Dit kan ek nog onder my regte naam publiseer. Een vrou het selfs ’n opmerking gelaat waarin sy gesê het, “That was exactly what I needed to hear today!”

Jy kan meeste mense soms om die bos lei, maar jy moet nooit probeer om jouself om die bos te lei nie. Ek probeer artikels skryf oor “horse racing betting systems” en “affiliate marketing”, en in die pyplyn is onderwerpe soos “dog training”, “tattoos”, en “muscle building”. Imagine dit. G’n wonder die ware skrywer is op ’n go-slow nie.

Die goeie nuus is, daar is maniere van geldmaak op die Internet waar jy nie nodig het om enige iets te skryf nie, soos Betfair ruilhandel, sportweddenskappe en handel op die finansiële markte.

Beteken dit alle geleenthede waarmee ek geld kon maak wat geskrewe teks benodig, is vir altyd verlore omdat die ware skrywer binne my dit sielkundig ondraaglik vind om te skryf oor enige iets wat nie ʼn saak van lewe of dood is nie?

Gelukkig nie. Daar is immers “private label content” – en die skrywer het nie ’n probleem met redigering en oorskryf nie, gratis artikels wat mens kan publiseer op jou eie werwe, materiaal waarop kopiereg verval het, en die moontlikheid om alle essensiële teks uit te kontrakteer. Die probleem is dus, in werklikheid, glad nie ’n probleem nie, solank ek nie van myself verwag om enige iets meer te doen as die redigering of oorskryf van teks wat reeds bestaan nie.

Snaaks dat ek gedink het die groot probleem was dat ek nie ʼn bemarker wou wees nie …

Dit wil dus blyk dat ek inderdaad nie ’n eksistensiële probleem daarmee het om bemarking te doen nie, en dit is nog minder van ’n probleem as ek dit kan doen onder een of ander skuilnaam, of selfs beter, anoniem. Internet bemarking is immers nie dieselfde as om worsrolletjies buite ’n rugby-stadion te verkoop, of “Wen ’n Ford!” kaartjies te probeer afsmeer aan mense wat vreedsaam by ’n inkopiesentrum indrentel nie.

* * *

“Breek die dooiepunt, of bly platsak,” skryf ek anderdag op ’n stuk papier teen die kombuismuur. In my notaboek skryf ek op Dinsdag 25 Maart 2008: “As ook dit te veel is vir my sensitiewe karakter wat nooit wil kompromitteer nie, is ek amper lus om te sê, ‘Dis dit! Ek stap nou weg van wat ek geword het, want dit is nou duidelik dat ek gedoem is tot ’n leeftyd van ander mense leer Engels praat! Ek gaan vir my ’n nuwe liggaam soek om myself in tuis te maak!’” Op die kop elfuur dieselfde aand skryf ek: “Die nuwe idee [iets waaroor ek opgewonde was vir ’n paar weke] het twee opmerkings wat in potlood daaroor geskryf staan: ‘kritiese sukses’ en ‘tipiese mislukking’. Die vraag is: Watter een gaan met pen geskryf word?”

Wat sê dit alles? My notas oor die proses van geld probeer maak op die Internet is hier en daar bruikbaar vanuit ’n literêre perspektief. Enige iets meer as dit – of minder literêr as dit, moet eenvoudig uit ʼn ander bron kom.

17:31

Ek kyk na die notas van die afgelope 26 maande, en ek sê aan myself: Kyk daarna nie as ’n verhaal van ontwikkelende sukses of ʼn reeks mislukkings nie, kyk daarna met een vraag op jou lippe: Het die sekretaris sy plig gedoen en getrou notas gemaak oor hierdie nuutste periode in die lewe van die mens, “Brand Smit”?

______________________

Probleem met my ambisie om ’n suksesvolle bemarker te word

DINSDAG 1 APRIL 2008

Ek moet dit eenvoudig aanvaar: Iets is nie reg met my ambisie om ’n suksesvolle bemarker te word nie. Na twee jaar ken ek meeste van die truuks, skuiwergate, “geheime” tegnieke, stelsels, stappe, tendense, ensovoorts, maar ek beweeg nie ʼn sentimeter vorentoe nie!

Ek wil die geld hê, dis verseker, en die hemel alleen weet ek het al genoeg materiaal bymekaargemaak om te weet wat ek moet doen.

Ek het baie geskryf voor ek begin het met hierdie bemarking besigheid, oor ʼn klomp verskillende onderwerpe. Ek word betaal om met Taiwannese volwassenes gesprekke te voer, so kommunikasie behoort nie ʼn probleem te wees nie. En ek het geleer hoe om domeinname te registreer en webwerwe te bou.

Waar lê die probleem dan met bemarking?

Skryf 30 artikels per week oor wat ook al die nuutste gier is; vul ʼn dosyn blogs met dieselfde vervelige inhoud wat verskyn op dosyne ander blogs; skryf e-boeke oor onderwerpe waaroor jy nie veel hoef te weet nie want dis so maklik om dit te “fake”; boekmerk jou eie artikels onder skuilname om soekenjins te probeer fnuik om jou inhoud vinniger in hulle resultate te vertoon.

As ander mense goeie kwaliteit teks en ander materiaal produseer, kan ek dit nog oorweeg om sekere tipes projekte te administreer, maar ek gaan vir ewig vashaak op blokkie nommer nul as ek myself gaan dwing om iets te doen waaraan ek myself nie kan toewy nie.

______________________