Konflik met myself – vasgevang in ’n kluisenaarsbestaan

MAANDAG 19 NOVEMBER 2007

“Hy het dit in hom om sukses te behaal, maar het hy dit in hom om suksesvol te wees?” ~ deel van ’n gesprek in my kop

MAANDAG 26 NOVEMBER 2007

Dis asof ek altyd in konflik is met myself. Een deel is amper outisties – wil net die heeltyd in sy klein hoekie sit waar alles bekend is, elke stofbolletjie op sy bekende plek. Niks moet ooit verander nie.

Die ander deel is ambisieus. Hy wil dinge verbeter; hy wil dinge beter hê. En hy is ongeduldig, en ongelooflik gefrustreerd met die ou in die hoek.

DINSDAG 27 NOVEMBER 2007

Temas vir ’n skryfprojek:

– Morele kompromieë, en die situasies wat aanleiding gee daartoe

– Die lewe as stryd, en dan rus jy

– Om te leef met die gevolge van jou eie katastrofiese foute of mislukkings

– Om te weet wat kan gebeur (in teorie, volgens CNN, koerante, ens.) en te leef elke dag asof dit sal gebeur nie

DINSDAG 18 DESEMBER 2007

Ek kan dit vat om te verloor. ’n Pyn wat ek enige tyd sal wil systap, aan die ander kant, is ontnugtering.

MAANDAG 31 DESEMBER 2007

Dat ek dit noem op die laaste dag van 2007, is toevallig.

’n Oorsig van die jaar in gister se Taipei Times herinner my daaraan dat ek tot ’n groot mate geslaag het in een van my toekomsvisies van 1994: ek het ’n kluisenaar geword. Dat ek uitgaan om elke week ’n paar klasse te gee, en uitgaan om saam met Natasja te wees, maak dit net minder duidelik, maar nie veel verder van die waarheid nie.

Daar is kulturele aktiwiteite in hierdie stad, toneelstukke, opvoerings, kuns- en museum-uitstallings, maar vir jare al is ek vasgevang in ’n kluisenaarsbestaan, ’n gereduseerde realiteit as enige sosioloog of sielkundige ooit gehoop het vir nog ’n gevallestudie, vol ywer en fokus, bedrywig met een of ander projek, een of ander stryd.

Is dit absoluut noodsaaklik dat dit so moet wees?

______________________