Alles is ’n dobbelspel – insluitende lewe in Noord-Korea

MAANDAG 8 OKTOBER 2007

Ek het onlangs die insig gehad dat dit baie moeilik is om geld te maak, a) as jy geen teiken-lys het van voornemende kliënte nie, b) as jy geen vennote het nie, c) as jy nie ’n produk van jou eie het wat jy kan verkoop met die samewerking van bemarkers wat ’n kommissie verdien nie, en d) as jy nie ten minste ’n bietjie geld spandeer op advertensies nie. Die idee dat jy net ’n spasie op die Internet kan vul met teks en ’n paar skakels wat sê, “Click here for more information,” is gaaf, maar heeltemal onrealisties.

* * *

Behalwe vir sogenaamde Internet bemarking, het ek ʼn belangstelling begin ontwikkel in sportweddenskappe as ʼn manier om geld te maak. Hoe regverdig ek om kosbare tyd en finansiële hulpbronne op iets te waag waarvan ek tot relatief onlangs amper niks geweet het nie? Die manier hoe ek dit sien, is dat alles ’n dobbelspel is.

’n Sogenaamde vaste betrekking is ’n kans wat jy vat: Jy plaas ’n weddenskap teen enige grootskaalse afdankings in die nabye toekoms, en jy plaas ’n weddenskap op hoe winsgewend die maatskappy is, hoe goed die maatskappy op die aandelemark doen, hoe goed die maatskappy bestuur word, en ander faktore wat totaal buite die beheer van jou en die maatskappy is. Jy vat ook ’n kans met jou eie besigheid, soos ’n reeks pottebakkery produkte of ’n koffiewinkel. Om ander mense se produkte op die Internet te bemark, is ook ’n risiko wat jy vat: Jy plaas ’n weddenskap daarop dat genoeg mense jou kuber-spasie sal besoek, dan sal kliek op ’n skakel, en dan iets sal koop terwyl die stukkie kode op hulle rekenaar wat jou krediet gee vir die feit dat hulle iets gekoop het, nog aktief is op hulle rekenaar.

Jy sit tyd en geld op die tafel, en jy hoop op die beste. In die geval van ʼn vaste betrekking word jy beïnvloed deur sosiale konvensie wat sê: “Almal kry ’n werk, en dan kry jy ’n vaste salaris en na vyf jaar ’n verhoging en alles behoort goed uit te werk.” In die geval van Internet bemarking baseer jy jou risiko op die advies van ’n kenner (werklik of nie) wat sê doen dit, of doen dat, of gaan na hierdie webwerf toe of werk met hierdie platform, en dan sal jou dividend soveel wees per dag of per week of per maand of per jaar.

Alle maniere hoe jy probeer om geld te maak, is ’n waagstuk, en elke industrie het sy sogenaamde kenners. Sportweddenskappe, perderesies en soortgelyke aktiwiteite is bloot dobbelary gestroop van die dun lagie wat ander dinge laat lyk na iets anders as dobbelary.

Elke persoon moet uiteindelik self besluit waar die beste weddenskap lê vir hom of vir haar, hoeveel hulle bereid is om te waag, en hoeveel hulle bereid is om te verloor.

* * *

Ek het ’n paar dae gelede twee dokumentêre programme oor Noord-Korea gekyk. Enkele opmerkings: Noord-Koreane werk met die realiteit waarmee hulle gebore is. Hulle kan nie funksioneer asof hulle byvoorbeeld Amerikaners is wat in Chicago gebore is nie, want dit sal eenvoudig nie bevorderlik wees vir hulle daaglikse voortbestaan nie. Hulle praat Koreaans; hulle resiteer hul ede van lojaliteit aan die Beminde Leier; hulle werk, eet, slaap, neem deel aan massa-uitvoerings, trou, kry kinders, lag, huil, kry swaar; hulle geniet die klein dingetjies in die lewe, en die samesyn van vriende en familie; hulle kritiseer nie die staat of die owerhede, of die Beminde Leier se lengte of gewig of haarstyl nie; en uiteindelik gaan hulle dood.

WOENSDAG 24 OKTOBER 2007

Uit die Complete Memoirs of Jacques Casanova: “If you have not done anything worthy of being recorded, at least write something worthy of being read.”

SONDAG 28 OKTOBER 2007

As 60% van my resultate sleg is, aanvaar ek dit, en ek is bly oor die 40% wat goed is.

As 60% van my resultate goed is, murmureer ek oor die 40% wat sleg is, want ek glo die slegte deel bederf die goeie deel.

Ek beter werk daaraan, vinnig.

______________________