Veg vir die Vegtende Gees – stryd om geluk

DINSDAG 1 MEI 2007

’n Paar weke gelede noteer ek hoe weerloos ons almal is (“Almal van ons,” het ek geskryf), en dat die enigste rede hoekom ons nie volslae … geruïneer is nie, is omdat ons in mekaar troos en beskerming vind.

Toe, op Maandag 16 April haal ’n 23-jarige student in Amerika twee pistole uit sy kaslaai, laai hulle vol patrone, trek sy “uniform” aan, wys die pistole in meer as sestig mense se rigting, en trek die sneller keer op keer. Maklikste ding op aarde. Twee-en-dertig mense sterf.

Die ou was nie sterk nie. Hy was nie bogemiddeld intelligent nie. Hy was nie ryk nie. Wat hy wel kon doen, was om twee pistole te koop met ’n kredietkaart, hulle te laai, die pistole te wys in die rigting van studente en leerkragte vasgevang in hulle klaskamers, en die sneller te trek. Twee-en-dertig lewens het tot ʼn einde gekom, en 32 families is gedompel in smart.

Ons is weerloos, orraait.

Feit is, ons almal het donker impulse. Ons almal kan doodmaak, ons almal kan vernietig, en ons almal kan skade aanrig. Om rede te vind om nie dood te maak nie, om rede te vind om nie te vernietig nie, en om rede te vind om nie skade aan te rig nie, is uiteindelik ons en die wêreld wat ons bewoon se enigste hoop.

* * *

Vir sommige mense raak identiteit ’n krisis wanneer hulle besef hulle het veelvuldige keuses, opsies, en moontlikhede.

DONDERDAG, 3 MEI 2007

Donderdag of Maandag of Vrydag, 13 of 5 of 10 April of September of Mei.

Daar was die gedagte oor keuses en identiteit. Toe nou die aand ry ek verby my ou woonbuurt en ek dink: “Ek het daar gewoon.” Kort daarna skop die bedenking in: Ek het daar gewoon?

Ek-nou is in terme van verantwoordelikheid onder die wet steeds dieselfde persoon as die een wat vier jaar gelede gewoon het in daai woonbuurt, en dieselfde persoon as die persoon wat tien jaar gelede in Korea gewoon het, en dieselfde persoon wat sestien jaar gelede met R100 in my sak in Stellenbosch aangekom het. In terme van spirituele en intellektuele groei is ek-nou egter net verwant aan die persoon wat X, Y en Z gedoen het, of in A, B, of C gewoon het; ’n direkte afstammeling, as ’n mens meer spesifiek wil wees.

MAANDAG 21 MEI 2007

“Jy weet hoe dit is: die stof gaan lê, jy raak gemaklik, en een dag maak jy jou oë oop en tien jaar het verbygegaan. Dit is hoe jy opeindig in ’n plek soos hierdie.” ~ gedagte geïnspireer deur ’n krot in my ou woonbuurt

DINSDAG 22 MEI 2007

Ek gesels ’n paar dae gelede met [iemand na aan my], en sy vertel hoe sleg dit gaan – geld, eiendom op die mark, tweede kind op pad, man wat nie stres kan hanteer nie. Ek besef toe ek kon nie regtig identifiseer met haar probleme nie, en omdat ek nie kon identifiseer nie, was my opsies vir bemoediging en advies beperk: “Byt vas!” is nie altyd van toepassing nie.

Wat sê ’n mens dan? Sê jy een ding, dan sê die ander persoon iets anders wat die toepaslikheid van jou advies, of die effektiwiteit van jou bemoediging ondermyn. Jy vind jouself in ’n posisie waar jy soek na iets waarteen niemand kan argumenteer nie, iets wat nie afhanklik is van iets anders wat moet gebeur voor die advies of bemoediging geldig kan wees nie. Byt vas … want, wat? Dinge sal verander? Verander dit nie, klink die “Byt vas!” ook maar na niks.

“Fight for the fighting spirit,” sê ek toe, die oortuiging terug in my stem, “for the sake of fighting for the fighting spirit! Hierop sal ek nie kompromitteer nie.”

Hoekom? Dit is absoluut. Dit is nie afhanklik van iets anders soos beter tye om die draai om dit geldig te maak nie. Dit is geldig, want die alternatief is ondenkbaar. As jy nie meer veg vir die Vegtende Gees nie, sterf die Vegtende Gees. En as dit gebeur, sal jy nooit weer lewe nie.

Selfs al is beter tye werklik net om die draai.

VRYDAG 25 MEI 2007

Natasja kom môre terug, so ek is besig om my woonstel skoon te maak – spesifiek die wanorde wat ek ’n stoorkamer noem. Kom af op ’n warm plaat, ’n boeksak wat nog nooit gebruik is nie – en my huidige een is juis ernstig uitgerafel, en ’n pakkie uitgedrukte papiere wat dateer van ’n reeks klasse wat ek in Julie en Augustus 2005 gedoen het.

Tussen die gewone vervelige lyste, woordeskat, sinskonstruksies en dialoë, die volgende nota van Dinsdag 2 Augustus 2005: “Van die oomblik wat jy jou oë oopmaak in die oggend, tot die oomblik wat dit toeval laat in die nag, is jy gewikkel in ’n stryd om oorlewing – en om geluk, om die oorlewing die moeite werd te maak.”

______________________