Ballingskap is onvermoë, en realiteit is altyd NUL

SONDAG 18 MAART 2007

22:27

Beep-beep, beep-beep. Hier volg die nuus om 22:28.

Brand Smit, die skrywer van weleer, steeds in huisarres na die skokkende en onverwagte terugkeer na ’n posisie van mag van die Kommersiële Diktator ’n jaar gelede, het tot die volgende besef gekom: na agt jaar in Taiwan, en twee jaar van ware liefde, is hy inderdaad steeds in ballingskap.

“Ek is al agt jaar in hierdie plek,” het hy ʼn paar minute gelede sy beminde meegedeel, “en twee van hierdie jare was saam met jou, my ware beminde. As ek steeds nie hierdie plek my huis kan noem nie, wanneer sal ek?”

“Waar is jou huis dan?” wou sy liefde net vra toe hy haar voorspring. “En ek meen geensins om te sê Suid-Afrika is my huis nie!

“Nee,” het hy voortgegaan, “ek is steeds in ballingskap omdat ek nie geld het nie.”

En soos hy sy duim teen sy gekromde wysvinger vryf, kondig hy dit toe plegtig aan. “My ballingskap het niks te doen met plek nie; dit het te make met vermoëns. Ek is in ballingskap omdat ek misluk het.”

22:45

HUIS is nie noodwendig ’n enkele geografiese plek nie. HUIS is waar jy die vermoë het om te kan doen wat jy wil. HUIS – is waar jy vry is.

MAANDAG 26 MAART 2007

17:52

Laas naweek, net voor ek een aand aan die slaap geraak het, tref die gedagte van wedergeboorte my weer. En ek weet: soos die huidige inkarnasie van BRAND SMIT stadig besig is om te sterf, so groei die volgende, sterker inkarnasie.

Sondag dink ek toe aan my vakansie van Julie 2003 in Suid-Afrika, en hoe ek toe gevoel het oor my lewe. Ek lees vir Natasja ’n paar bladsye uit “Ballingskap 14” – onder andere oor die wedergeboorte wat in die eerste helfte van 2003 plaasgevind het. Besef ek dat daar iets was aan daai tyd wat nou afwesig is. Die enigste moontlikheid: “Persoonlike Agenda”.

Toe tref dit my: fokuspunt van identiteit.

Vanaf Maart 2003 tot en met die begin van verlede jaar, was “Persoonlike Agenda” en ander literêre projekte die spil gewees waarom my identiteit gedraai het. Ek was ’n skrywer, en ek kon wys wat ek bedoel.

Wie en wat is ek nou, as daaglikse aktiwiteite ’n aanduiding is van identiteit? Ek is ’n entrepreneur – sonder geld; en ek is ’n meester van projekte – wat nie kan klaarkry met enige iets waaraan hy werk nie.

SATERDAG 31 MAART 2007

11:58

Dis eenvoudig ongelooflik: Realiteit is altyd NUL. Dinge sal verander, jou lewe sal verbeter, soms met rasse skrede, maar die volgende dag is jou realiteit steeds NUL.

Jy sal protesteer en sê, “Hoe kan dit steeds NUL wees na wat gister gebeur het, of met hierdie nuwe tegnologie wat ek bekom het wat my lewe soveel makliker maak?”

Feit is, dinge wat verander, word geabsorbeer; die sirkel sluit, en die Nuwe Realiteit word die Nuwe NUL. Asof dinge altyd so was.

DONDERDAG 5 APRIL 2007

02:22

’n Idee tref my ’n paar dae gelede: Almal is weerloos. Almal. Daar is nie ’n enkele siel op hierdie planeet wat nie op een of ander manier, op een of ander tyd, weerloos is nie.

Dit dwing ’n mens dalk om te erken dat ons almal in die moeilikheid is – of in alternatiewe Afrikaans, that we are all fucked. Is dit nie so nie?

Slegs een moontlikheid bly oor: om uit te kyk vir mekaar.

MAANDAG 9 APRIL 2007

21:23

Moet geld maak, wil nie nege-tot-vyf nie, wil nie “Baas” sê nie, wil nie verveeld wees of vasgevang wees in ’n plek met reëls wat dikteer wanneer jy mag uitgaan en wanneer jy moet stilsit nie. Het al baie geskryf, maar wil nie materiaal voorlê vir kommersiële goedkeuring nie, en wil nie veranderinge maak aan materiaal ter wille van kommersiële aanvaarbaarheid nie.

Tot onlangs het ek gedink ek is in die moeilikheid. Toe ontdek ek mens kan meer doen op die Internet as net epos en soek vir inligting.

[Twee ongedateerde notas van later in 2007]

Sê die een ou: Verskeie bronne van inkomste is alles goed en wel, maar as jy vir mense wat geleenthede soek om geld te maak op die Internet te veel keuses gee, sal hulle kies om nie te besluit nie.

* * *

Dit sou altyd ’n gevaarlike kombinasie gewees het: dosyne moontlikhede en my sterk neiging tot oordrewe ambisie. Hierdie kombinasie het getref in Februarie 2006.

DONDERDAG 12 APRIL 2007

17:25

1. Dertien jaar gelede wou ek ’n kluisenaar word.

2. ’n Weersin teen enige konvensionele betrekking is so te sê ’n eienskap van my persoonlikheid.

3. Drie jaar gelede het ek baie geskryf oor nie-verskyning (“Woestyn of Stad?”)

4. Ek voel gedreineer, en wonder of dit tyd is vir my jaarlikse “Groot Moegheid”.

5. Dinsdag op die trein tref die idee van aftrede my as ’n uiteindelike ideaal.

Die patroon is duidelik genoeg. Maar intussen moet ek oorleef.

______________________