Die aarde draai, dinge verander, die tyd gaan verby

MAANDAG 29 JANUARIE 2007

Ek het die afgelope uur ’n visie gehad van my wat skielik oud word, vyf of so jare van nou af. Moeg, nie meer lus vir rondkarring of sukkel nie; sit op ’n stoel, geniet die uitsig, kombersie oor my bene.

Ek sê, as iemand nou na my lewe kyk, mag dit lyk soos vrede, maar daar woed ʼn oorlog. En die feit dat ek besig is om te wen, beteken nie dit raak makliker nie.

MAANDAG 26 FEBRUARIE 2007

Natasja G.: Innerlike krag, ʼn sterk begeerte om die regte ding te doen, om dinge reg te doen, en om goed te voel oor wat sy doen.

DINSDAG 27 FEBRUARIE 2007

Groot verandering vind plaas in ’n mens se lewe, en die aarde bly draai sonder om een asemteug te mis. Jy wil skree, “Hou vas daai bal! Son, gee my ’n sekonde! Almal haak net vas – ek moet net ’n bietjie dink …”

Helaas, hier is hoe dit gebeur: ontbyt, middagete, aandete, TV, slaap, ontbyt, massiewe verandering, middagete, aandete, TV, slaap, ontbyt, middag, kos, TV, nag, slaap, ontbyt …

SONDAG 11 MAART 2007

“Sê wie?” en “Wie is jy?” – die boustene van my persoonlike ideologie.

DINSDAG 13 MAART 2007

Ek voel op tye asof ek wil sê, “Gaan lê! Slaap tot twee-uur, en kyk TV die res van die dag! Aanvaar dat jy vir ewig struikelblokke in jou eie pad sal gooi! Bieg! Erken jy’t misluk!”

Dan dink ek weer aan iets anders – en ek kan nie anders nie as om te sê, “Behou perspektief. My sukses ses maande van nou af, en twee jaar van nou af, en tien jaar van nou af, sal altyd gewortel lê in die afgelope 12 maande, en die paar jaar wat geboorte gegee het aan die laaste 12 maande.”

* * *

So gaan die tyd verby. Ek staan op. Ek skakel alles aan, maak die gordyne oop, werk – en 15 ure later skakel ek weer alles af, maak weer die gordyne toe, en gaan slaap. En as ek weer my oë uitvee, het nog twee maande verbygegaan.

______________________

Banke is staatsgesteunde georganiseerde misdaadsindikate – of skerpioene

VRYDAG 9 MAART 2007

[Agtergrond: Toe ek op universiteit was, het my ouer suster een jaar borg gestaan sodat ek ’n lening kon kry.]

My ma bel my vandag: “Het jou suster jou al gebel?”

In die eerste plek, my ma bel my uit Suid-Afrika? Ek dink krisis. Het my suster my al gebel? Ek dink krisis by my suster.

Draai toe uit dis [uitgelaat] Bank wat, soos hulle dit beskryf, my suster “opgespoor” het, te vertelle het dat hulle my nêrens kan vind nie, en ten spyte van die feit dat ek – wat nie “opgespoor” kan word nie – elke maand vir hulle geld gee, hulle meer wil hê. En my suster moet onmiddellik vir hulle meer geld gee anders gaan hulle ’n klag maak en ’n saak indien en my suster se werk sal in kennis gestel moet word en dit sal ’n “klad” op haar naam wees en dis ’n helse krisis. En die onvermydelike: “Jou suster is histeries.”

Ek sit en luister, en toe na ’n paar minute ontplof ek: Ek betaal hulle elke maand en hulle het my epos-adres en ek is moeg hiervoor en ek het in die eerste plek nie gevra vir die lening nie en ek het al meer as R100,000 vir hulle betaal en wat meer moet ek doen …

Na ’n uur, ’n 7-Eleven chicken burger, ’n bruinrysmelk en twee sigarette het ek genoeg bedaar om vir “Christina” te bel en te sê dat sy my moet opskryf vir meer geld vanaf einde volgende maand.

Enkele belangrike punte:

Punt 1. Hoekom het ek my humeur verloor? Verleentheid, die skaamte wat oor jou neerdaal as jy “uitgevang” word, as jy nie “doen wat jy moet doen” nie, as jy volgens jou eie reëls wil speel en dit werk nog nie lekker uit nie. O ja, en omdat jy skielik weer voor die establishment staan, hoed in die hand, om berispe te word omdat jy daai aartsonde gepleeg het: jy het skuld gemaak – en jy gee dit nie gou genoeg terug nie. (Vergeet maar daarvan dat ek lankal die oorspronklike bedrag dubbel terugbetaal het, want as gevolg van rente “skuld” ek hulle nog geld.)

Punt 2. ’n Bank is nie veel meer as ’n staatsgesteunde georganiseerde misdaadsindikaat nie, al speel hulle volgens die aanvaarde reëls. Glimlaggende, blink gesigte op advertensieborde nieteenstaande.

Punt 3. Almal – ek, my suster, en die bank – het elk ’n stukkie grond waarop ons kan staan. Nietemin, ek glo om ’n gifpil in die sop te gooi deur te beweer hulle kry my nie in die hande nie, was ’n immorele taktiek waarvoor iemand by die bank verantwoordelikheid moet neem.

Punt 4. Die situasie herinner my aan die film, The Crying Game, waar die ou die storie vertel van die padda en die skerpioen, met die padda wat instem om die skerpioen oor die rivier te help. Ten spyte van versekering en beloftes dat hy dit nie sal doen nie, steek die skerpioen die padda halfpad oor die rivier. “Hoekom het jy dit gedoen?” vra die padda. “Want dis in my natuur,” antwoord die skerpioen. “Wat het jy verwag?” So reken ek toe, is dit met banke, skuld, en die manier hoe banke mense hanteer wat hulle geld skuld. Dit is immers ’n bank. Dit is in die natuur van hulle besigheid om te doen wat hulle ook al nodig ag, maak nie saak hoe immoreel dit is nie, indien dit in hulle belang is. Wat meer kan ’n mens verwag? (eindig: Maandagmiddag 12 Maart 2007)

______________________