Waagkans op roulette – vry man se skryfprojekte

VRYDAG 3 NOVEMBER 2006

[Agtergrond: In Oktober 2006 het ek in ’n e-boek gelees van ʼn Roulette strategie waarmee mens blykbaar geld kan maak by aanlyn casino’s. Die strategie behels dat jy wag tot iets nie gebeur het nie vir ’n paar rondtes, en dan begin jy om ’n reeks weddenskappe te plaas dat daai ding spoedig sal gebeur. Indien jy nie met die eerste spin van die wiel wen nie, verhoog jy jou weddenskap ietwat. As jy nie met die tweede rondte wen nie, doen jy dit weer. In teorie is jy veronderstel om na ’n paar rondtes te wen, en omdat jy toenemend meer gewed het met elke spin, is jy veronderstel om al die geld terug te wen wat jy verloor het. Die skaal van toenemend hoër weddenskappe gaan op tot 11 rondtes. Maar, verduidelik die ou van die e-boek, moenie jouself te veel daaroor bekommer nie. Dit is, volgens hom, uiters raar dat jou weddenskappe so hoog sal raak.]

Ek sal vinnig wees.

Verlede Vrydag het ek ’n deposito gemaak by [ʼn aanlyn casino], en teen Woensdag het ek begin “werk”. Donderdag (gister) betaal ek R200 in by [ʼn ander casino], en ek begin toe ’n halfuur later daar ook te speel.

Een ding het my wel ’n bietjie gespanne gemaak: Wat gebeur as die kolom waarop ek toenemend hoër weddenskappe plaas na 11 rondtes nog steeds nie gewen het nie? Ek het geweet dis tegnies moontlik, en die e-boek ou wat die Roulette storie oorspronklik onder my aandag gebring het, het iets genoem van 94.6%.

Derde sessie by [die eerste casino], toe gebeur dit: sewende rondte, agste rondte (ek sluk), negende rondte … tiende rondte … “Nou moet dit werk …” Plaas R67 op die kolom vir die elfde en hopelik laaste rondte in die reeks. Kliek “Spin” … verloor.

“Oukei,” dink ek, “ek het nou die dag uitgewerk jy speel R101 as jy 11 keer in ’n ry verloor het.” Plaas die weddenskap. Kliek. Spin. Verloor. Wit in die gesig. Skuif bewerig ’n R25-chip na die punt van die gewraakte kolom. Spin. Wen. R75. Ek het R99 oor in my rekening. Ek het sopas R241 verloor.

MAANDAG 20 NOVEMBER 2006

Ek is moeg. Ek is moeg vir sogenaamde geld-projekte wat óf nooit klaarkom nie, óf drie stappe vorentoe gaan, en 2.999 stappe terug.

Ek is lus – ek het nodig en ek het lus om vir net aand te vergeet van geld, of vir net een aand en ’n dag, of miskien selfs vir een aand en die res van die week. Want op hierdie stadium, op hierdie aand, sal selfs sukses te veel wees vir my.

WOENSDAG 22 NOVEMBER 2006

Brand dink sy lewe is vervelig en hy spandeer nie genoeg tyd aan dinge wat hy geniet nie. Die enigste manier hoe hy sy daaglikse bestaan draaglik kan maak, is om homself te oortuig dat dinge anders sal wees oor ses maande. Oor ses maande sal sy lewe meer opwindend wees; oor ses maande sal hy meer tyd kan spandeer aan die dinge wat hy geniet – skryfwerk, studie, en so aan.

Wat Brand egter nie besef nie – of wat hy miskien tog besef maar waaraan hy skynbaar magteloos of onwillig is om enige iets te doen – is dat “ses maande” elke ses maande hernu word. Elke ses maande word daar dus opnuut gesweer: “Oor ses maande …”

Dalk nader aan die werklikheid: Elke dag is ’n vorige ses-maand periode verby. Elke dag verbind hy homself plegtig tot die volgende ses maande.

Elke dag, elke maand, elke jaar. Elke ses maande.

Is hy magteloos om hierdie skynbaar oneindige siklus te verbreek? Gaan hy 37, en 40, en 45 en 50 jaar oud word en steeds glo dat alles beter gaan wees binne ses maande?

Niemand kan kwalik geneem word as hulle dink, “Ek is bly ek is nie hierdie Brand-ou nie.”

Ek, aan die ander kant, het nie daai opsie nie. Ek moet eenvoudig myself in die spieël kyk en sê: “Dit is ek, hierdie ‘Brand’. Dit is ek wat nie my doelwitte kan realiseer nie.” Of kan ek? (Moes net vra, anders lyk dit asof ek nie geloof in myself het nie.)

VRYDAG 24 NOVEMBER 2006

Die studente skryf, so ek sit hier en doen niks nie. Ek het niks om te sê nie. Ek is moeg, en ’n bietjie moedeloos. Ek is 35 jaar oud. My grootste skryfprojek tot dusver is afgehandel, en ek weet hoe om ’n lesersmark te bereik – selfs hoe ek mense kan kry om te betaal vir wat hulle lees. Ek moet wel fokken baie geld in die hande kry om te kan betaal vir proeflees en sulke goed. Ek moet ook fokken baie geld in die hande kry om te kan betaal vir – en hier is ek opreg as ek sê ek is geseënd – my en Natasja se troue [ons het onlangs verloof geraak]. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om my tande te laat regmaak, skuld af te betaal, my bokse in Suid-Afrika uit te sorteer, en vroeg volgende jaar op vakansie te kan gaan. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om my ouers uit hulle suffering te (probeer) red. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om te belê in projekte wat in die toekoms kan voortgaan om vir my baie geld te gee sodat ek kan voortgaan om te wees wat ek nou is: ’n vry mens.

SATERDAG 25 NOVEMBER 2006

As jy streef na persoonlike vryheid, maar jy doen dit ten koste van ’n ander persoon se strewe na vryheid, dien jy nie die saak van vryheid nie; jy dien eenvoudig jou eie selfsugtige behoeftes.

WOENSDAG 29 NOVEMBER 2006

My skryfprojekte het in die verlede ’n doel gedien – dit moes bewys lewer van my bestaan in ’n periode van my lewe toe daar meeste van die tyd niemand was om dit te verifieer nie – of dan, niemand wat vir my veel beteken het of vir wie ek veel beteken het nie. (Die gedagte is geïnspireer deur die 2004 film, Shall We Dance? Susan Sarandon se karakter verduidelik in een toneel dat in ʼn huwelik die twee persone onderneem om getuies te wees van mekaar se lewens.)

My vraag is nou: Wanneer ek terugkeer na vars literêre projekte, watse doel sal dit dan dien? Moontlik dieselfde? Graad verskil, met ander motiewe?

______________________