“Ek,” my verbintenisse, die avontuur ding, en die taal wat ons praat

WOENSDAG 8 MAART 2006

09:28

Ek het hard probeer om laat te slaap nadat ek eers 03:30 in die bed gekom het. Ek het weereens die heelnag gedroom van geldmaak, e-boeke, lêers op die rekenaar, ensovoorts. Toe, skielik, maak die een “marketing guru” in ʼn droom die uitspraak: “Daar is natuurlik ander, belangriker dinge as geld. Daar is ons konneksie met alles wat is.”

Kort daarna dink ek, steeds half aan die slaap, “Ook ek is verbind aan alles wat bestaan.”

Gister het ek vir die hoeveelste keer in my lewe die geweldige kloof gekontempleer tussen mooi en goed, en die totale ander kant van die spektrum: mense wat gemartel word, en dan, nadat hulle tyd gehad het om behoorlik bewus te raak van hul situasie, vermoor word op die mees genadelose wyse.

Soos ek toe nog in my bed lê (het ek nog geslaap?), dink ek toe: Ek is verbind aan beide die martelaars en die gemarteldes – al is dit net in my kop, omdat ek bewus is van hulle bestaan.

Ek besef toe ook dat my verbintenis met hierdie twee groepe nie juis bevorderlik is vir ’n goeie bewussyn nie. Aan die een kant van die spektrum haat en vrees ek mense wat ander martel; aan die ander kant voel ek intens jammer vir die gemartelde. En ek weet dis in vele gevalle ’n rol van die dobbelsteen – dit kon net sowel ek gewees het.

Wat doen ’n mens met hierdie negatiewe verbintenisse?

VRYDAG 17 MAART 2006

19:07

[…]

Ook sy was op soek was na ’n tuiste – ’n plek, ’n omgewing waar sy nie haarself die heeltyd hoef te regverdig nie, waar sy kan ontspan, waar sy nie die heeltyd ernstig hoef te wees nie, waar sy kan wees wie sy is, en vrye uitdrukking kan gee aan hoe sy voel op enige oomblik, en aan hoe sy haarself, die wêreld, en haarself binne die wêreld sien.

DINSDAG 28 MAART 2006

13:52

Hoekom is dit dat daar in vele Christelike kerke gepredik word dat lidmate moet wegbeweeg van die klem op die “ek”, en eerder moet fokus op “Christus”? Wat is die sielkundige effek hiervan op die “ek” – wat altyd daar is, maak nie saak hoe hard jy probeer om weg te beweeg daarvan nie? Het dit te make met ’n merendeels ongesproke ideologie van minagting vir die “ek” – wat menslik is, feilbaar, vol foute, met ’n ewige neiging na “sonde”, en onwillekeurig gekoppel is aan die sterflike liggaam van die unieke “jy”? Het dit te make met ’n strewe na die tydlose en onverganklike? Is dit gesond vir die “ek” wat jy noodgedwonge is tot jou liggaam vergaan?

* * *

Daar is ’n nuwe dokumentêre reeks op, ek dink, National Geographic, wat stories vertel van “adventures gone wrong” wat amper gelei het tot die dood van een of twee avonturiers. Een ou was byvoorbeeld vasgevang in die Amazone vir drie weke – hy was die heeltyd honger en nat, oortrek van siektes, en het gevoel hoe sy vlees stukkie vir stukkie weggevreet word deur miere.

Dit het my laat dink: jou kanse op oorlewing neem dramaties af indien jy jouself in ’n omgewing plaas wat nie juis bevorderlik is vir menslike oorlewing nie (byvoorbeeld, woestyn of reënwoud). Tog, mense plaas hulleself gereeld in sulke omgewings en noem dit “avontuur”. Hierdie sogenaamde avonturiers is dan ook van mening dat avontuur opwindend is, en lekker, en dat mense wat nie avontuur opsoek nie, vervelig is.

Wat presies is hierdie avontuur ding? Watse behoefte word bevredig met avontuur? Watse behoefte word derhalwe nie bevredig as jy nie moeite doen om avontuur op te soek nie, en dan spesifiek in omgewings wat jou kanse op oorlewing ondermyn? Sal dit werk as ek vir ’n avonturier sê dat ek nie die behoeftes het wat hom of haar dryf om hulle lewens in gevaar te stel nie?

(Nota aan myself: ʼn Behoorlike definisie van avontuur sal handig wees, want my avontuur is jou verveling. Wees ook versigtig daarvoor om nie te vinnig tot konklusies te kom nie – ’n sogenaamde sin vir avontuur is soms noodsaaklik vir die vooruitgang van beskawing, en selfs vir persoonlike verbetering.)

DONDERDAG 30 MAART 2006

09:35

Ek dink: tot in my diepste wese kan ek dit aanvoel – the mother and child reunion is getting close.

Toe dink ek: “my diepste wese”? Ons word van jongs af geleer dat dit verkeerd is om te sê, “Ek praat met ek,” en “Ek diepste wese”, maar is dit verkeerd?

Taal speel ’n kardinale rol in hoe ons oor onsself dink, hoe ons oor onsself praat. Maar behoort filosowe of sielkundiges nie ’n groter sê te hê oor hierdie spesifieke aangeleentheid as taalkundiges nie?

Is dit regverdigbaar dat taalreëls en taalkundiges aan ons dikteer in watse filosofiese terme ons aan onsself moet dink en oor onsself moet praat?

Die woord “my” is ’n besitlike voornaamwoord wat gebruik word om eienaarskap aan te dui, soos in, “my huis”, “my boek”, “my pen” – maar dit dui ook verhouding aan, soos in “my vrou”, “my kind”, ensovoorts. Tog, “ek” en “myself” is nie twee verskillende entiteite nie – ek IS myself. Is dit nie dan meer akkuraat om te sê, “Ek praat met ek,” en “Ek diepste wese” nie?

______________________