’n Nuwe vraagstuk: Waaroor skryf ek nou?

SATERDAG 21 JANUARIE 2006

13:11

Ek begin verveeld raak met my metodiek van die afgelope paar jaar: gaan deur die stappe van ’n relatiewe normale dag, neem alles om my waar, dink, maak notas, dink nog ’n bietjie, gesels dalk met iemand, lees iets, rook ’n sigaret, dink weer, maak weer notas …

15:57

Waarheen met my skryfwerk?

’n Intellektuele boeddha gaan ek nie word nie, en maak nie saak hoe lank ek staan en wonder daaroor, of hoeveel opstelle ek skryf nie, die Volle Waarheid sal ek nooit ken of verstaan nie.

Die vraag is dus: Waarheen nou?

SONDAG 22 JANUARIE 2006

12:12

Vir jare het ek geskryf oor ballingskap, identiteit, rol wat ʼn mens kan speel, doel wat jy kan nastreef, plek in die wêreld, en self-ontwikkeling en selfrespek – veral as jy nie in ʼn verhouding is nie. Die ballingskap vraagstuk in my lewe is tot ’n groot mate opgelos met die “strydbyl” notas. My identiteit, rol en doel, en plek in die wêreld is ook tot ’n groot mate uitgesorteer en gedefinieer. En sedert verlede jaar is ek nie meer alleen nie.

Vir die afgelope 12 tot 18 maande het ek, tot ’n groot mate (jammer vir die herhaaldelike gebruik van die frase) my aandag gefokus op ’n vae soeke na Absolute Waarheid. Dit, soos ek gisteraand genoteer het, is te groot, vir my, in my huidige lewe.

Vir die eerste keer in jare sit ek dus met ’n nuwe vraagstuk: Waaroor skryf ek nou?

SONDAG 29 JANUARIE 2006

01:10

As kennis beskryf kan word as ʼn ommuurde stad, dan is ek niks meer nie as ʼn pagter wat die velde om dit bewerk. En as die Absolute Waarheid Aangaande Alles vergelyk kan word met die uitleg van die ommuurde stad se ingewikkelde straatnetwerk en die mees intieme geheime van haar uitnemende burgers, dan is my eie gedagtes niks meer nie as ʼn binnesmondse gemompel oor die grootte van die buitenste poort, en die diepte van die grag rondom die mure.

______________________

Die ontwaking en ontwikkeling van ware liefde

VRYDAG 6 JANUARIE 2006

09:11

Die ontwaking: jy raak bewus van die vermoë, en die keuse, om goed te kan wees vir iemand; om dinge te kan doen wat daai persoon se werklikheidservaring beter sal maak, selfs ’n mooier kwaliteit sal gee. En dit gee ’n betreklike satisfaksie om die keuse, die potensiaal, te realiseer.

SONDAG 22 JANUARIE 2006

02:18

’n Groot deel van dit wat “liefde” genoem word in ʼn intieme verhouding, is ’n intense deernis wat die twee mense het vir mekaar, wat op sy beurt spruit uit ’n gewaarwording, na herhaaldelike en voortdurende kontak in ’n wye reeks situasies, van die “ander een” as een soos ek, in die mees betekenisvolle filosofiese en sielkundige wyse denkbaar.

Hierdie deernis aspek van “liefde” is diepgesetel. Wanneer hierdie houding jeens ’n spesifieke persoon eers wortelgeskiet het, kan dit ’n leeftyd hou. Dit is veel, veel sterker as gevoel – wat wissel van dag tot dag, en volgens gemoed en omstandigheid.

Keuse – ’n uitdrukking van vrye wil asook ’n uitdrukking van hoe jy jouself sien, hoe jy jouself definieer as mens, asook hoe jy gesien wil word deur ander – speel ’n groter rol by die intense deernis aspek van liefde as by die opwinding van romantiese euforie.

Hoe meer deernis in ’n intieme verhouding, hoe meer akkuraat kan die verhouding beskryf word as een waar “ware liefde” aan die orde van die dag is – of ’n verhouding waar “ware liefde” die regerende agent is. Indien ’n intieme verhouding hoofsaaklik gekenmerk word deur romantiese euforie, met die veel meer betekenisvolle en substansiële deernis merendeels afwesig, of waar die verhouding gereeld in gedrang gebring word deur aksies en gedrag wat fluktueer volgens gevoel, sal dit meer akkuraat wees om te sê dat “ware liefde” nie die regerende agent is in ’n spesifieke verhouding nie.

Ware liefde kan, uiteindelik, slegs ontwikkel in ʼn intieme verhouding indien die karakters van die twee partye dit toelaat – karakter wat op sy beurt spruit uit ontwikkeling van jou persoon, selfkennis, en ʼn gesonde graad van selfrespek.

SATERDAG 28 JANUARIE 2006

11:15

Die vermoë om lief te hê gaan enige betekenisvolle verhouding vooraf. Dit is natuurlik ʼn algemene verskynsel dat ’n verhouding tussen twee mense bevorderlik is daarvoor dat hierdie vermoë om lief te hê, geaktiveer word; dit is egter ook waar dat sommige verhoudings met die verloop van tyd eenvoudig blyk nie bevorderlik te wees daarvoor nie.

______________________

’n Lewensbeskouing om oor verleë te voel

DONDERDAG 26 JANUARIE 2006

20:13

Vrees vir verleentheid: die groot, verskuilde oorsaak vir ’n sekere benadering tot die lewe wat ek nog nooit kon skud nie. Ek het nog altyd gedink as mens kom op jou sterwensoomblik, en jy’t vyf minute te vore nog rondgespring en gelag van blydskap dat jy lewe, hoe verleë jy nie moet voel in daai oomblik voor jy jou laaste asem uitblaas nie. Dink net hoe laf, hoe simpel jy sal voel! Amper asof jy vir die Engel van Dood wil sê, “Jammer dat ek vyf minute gelede nog so ligsinnig was … as ek geweet het … en ek moes geweet het! As ek maar net op daai oomblik gedink het daaraan dat ek oor vyf minute my laaste asem sou uitblaas … sou ek soveel ernstiger gewees het! Ek sou nie grappies gemaak het en opgewekte musiek geluister het nie! Ek het inderdaad Dood disrespekteer deur so ligsinnig te wees! Kyk nou na my! Ek voel so ontsettend skaam …”

So dan is ’n mens maar ernstig die heeltyd. Of indien dan nie die heeltyd nie, sorg jy dat jy gereeld genoeg dink aan die dood, en aan slegte dinge wat kan gebeur, en aan al die situasies wat dreig met moeilikheid as jy nie oppas nie, sodat wanneer jy in die moeilikheid kom, of nog erger, as jy Dood in die gesig staar, jy ten minste nie skaam hoef te wees nie. Sodat niemand, minste van almal jyself, op daai laaste oomblik kan sê nie, “Ja, en om te dink jy’t oomblikke gelede nog so lekker gelag!” Of, “Jy was nou die dag nog so gelukkig. Kyk hoe simpel lyk jy nou!”

Vrees vir verleentheid – hoeveel kommervrye dae, hoeveel geluk offer ek nie op, op die altaar van hierdie vrees nie?

* * *

Wat, net so terloops, is vrees vir verleentheid? Wat is skaamte? Is dit nie om ontbloot te word vir wat jy is nie – naak, klein, weerloos, bang, en aan die einde, sterflik, soos ’n plant of ’n insek? Dit ten spyte van ons beste pogings om onsself te laat verskyn as beter en meer gesofistikeerd as insekte of plante of ander diere.

“Is ons dan nie belangriker as ’n plant of ’n insek nie?” mag jy dalk vra.

Natuurlik is ons, sal vele argumenteer. Maar op watter punt word Belangriker As ’n Plant of ’n Insek ons ondergang? Op watter punt raak trots en selfliefde die oorsake van ons oervrees om ontbloot te word?

Aan die einde: Wat is ons werklik? Wat is ons werklike waarde? Hoe word dit gemeet? En is ’n laaste oomblik van skaamtelose erkenning van ons sterflikheid dit werd om die heeltyd in ons spoor te trap om nie te gelukkig te wees nie?

20:43

Asof ’n mens verder sal val wanneer Dood en Onheil jou tref terwyl jy hard probeer het om jouself oor minder te bekommer en dalk ’n bietjie gelukkiger te wees, en so nou en dan geslaag het daarin.

Bly dan maar sukkelend, bly maar arm, kruip maar voort in die modder … ten minste sal jy nie so ver val nie.

En droom! Ja, droom van baie geld en lekker tye en doen wat jy wil! Drome is goedkoop! Drome maak nie saak nie! Solank jy nooit hard genoeg daaraan werk om dit waar te maak nie, want as jy eers werklik baie geld het, as jy sien hoe lekker dit is … dat dae verby gaan wat jy nie bekommerd is oor enige iets nie, wat jy reis en interessante plekke sien en tyd spandeer met familie en dinge doen wat jy geniet … gaan jy al hoe hoër klim … gaan jy al hoe verder val.

Twintig jaar gelede sou ek gedink het God kyk na my met kwaai oë as ek te hoog wil klim. Nou is dit Dood en Onheil. En jy moet hulle respekteer. “Bly laag,” sê jy vir jouself. “Sukkel. Maar droom voort. Dit maak in elk geval nie saak nie …”

______________________

Waarheid, identiteit, lewe in die stad, en Meneer S. Gautama

WOENSDAG 18 JANUARIE 2006

Ek het vanaand na my laaste klas ’n vreemde sensasie gehad: jaloesie. Nog vreemder was die persoon waarop ek jaloers was: Siddharta Gautama, beter bekend as die “Boeddha”.

Die sensasie het gespruit uit ’n gesprek met ’n student in haar middel-dertigs wat ek twee keer per week sien vir ’n Engelse klas. Op ʼn kol gedurende die klas vertel sy my van die nuwe godsdiens wat haar gewese eggenoot aanhang. Ek sê toe dit klink na ’n partikulêre waarheid, eerder as ’n “universal truth”.

“Universal truth?” vra sy my toe.

“Yes,” antwoord ek toe, “something that no person can deny.”

“Like what?”

“Well,” antwoord ek toe, “maybe you can answer that question.” (Sy is immers die student.)

“Love,” sê sy toe versigtig. “All people believe in love.”

“Love is a virtue,” help ek haar toe reg, “not really a truth.”

Na ’n minuut waartydens sy oor iets anders gepraat het, was ek gereed met ’n antwoord. “People are born. People die. Those are examples of universal truths that no one can deny.”

’n Opmerking van haar kant af oor Boeddhisme herinner my toe aan ’n leerstelling van daai religie wat ek nog altyd gereken het ’n universele waarde het. “All suffering is caused by desire,” resiteer ek toe. “That could also count as a universal truth.”

Konsensieus soos sy is, skryf sy dit toe neer in haar notaboek. “What do you think of that?” vra sy my toe.

“I think it’s not that simple,” antwoord ek. “Say I want to assist someone in need and act on this desire, but suffer painful consequences because of my assistance, where did I go wrong? Should I not have assisted the person in need? Am I being punished because of my benevolence?”

“The Buddha said …” reageer sy toe, maar ek kon nie lekker volg wat sy sê nie (sy is geneig om haarself verskeie kere in die verloop van ’n sin te korregeer, en ek het begin dink aan my aandete wat spoedig sou aanbreek).

“That’s interesting,” sê ek toe sy klaar gepraat het.

Ons sessie eindig toe kort na ons gesprek oor die Boeddha. Toe ek by die klaskamer uitstap, kry ek die sensasie wat ek geïnterpreteer het as jaloesie. “Daar’s geen twyfel daaroor dat die Boeddha veel wyser was as wat ek is nie, en sekerlik baie slimmer,” dink ek hardop. “As ek vir ’n paar jaar in die bosse kon verdwyn en my baard en hare laat groei en nooit my tande borsel nie – wie weet waarmee ’n mens vorendag kan kom?”

Op pad terug van die groente-en-vleis plek dink ek toe verder: “Miskien moet ek meer uitvind oor hierdié man, die Boeddha, en oor die idees wat hy aan die wêreld gegee het.”

Die rede hoekom ek meer wil weet oor die Boeddha is nie om myself uiteindelik as ’n Boeddhis aan die wêreld te kan voorstel nie. My identiteit, soos ek myself op hierdie stadium van my lewe ken en aan mense voorstel, is voldoende. Ek het nie nodig om te sê “Ek is …” en dan die sin te voltooi met ’n verwysing na een of ander religie nie. Godsdiens is vir miljoene mense ’n onvervangbare bepaler van identiteit. Gelowiges voer ook aan dat die godsdienste waaraan hulle glo die draers is van universele waarhede – terwyl dit in werklikheid die draers is van ’n aansienlike hoeveelheid kulturele taboe’s, voorkeure, vooroordele en reëls wat voorgehou word as “waarhede”. Vir vele mense is die soektog na ’n identiteit egter van groter belang as waarheid. Godsdiens X is dan vir Persoon Y die waarheid, want hy is ’n volgeling van Godsdiens X, eerder as dat hy ’n volgeling is van Godsdiens X want, soos hy dalk kon verduidelik, “Na deeglike oorweging en jare se studie het ek gevind dat hierdie religie die mees omvattende begrip verskaf van die lewe soos ek dit ervaar, en is dit derhalwe my volgelingskap waardig.”

Nietemin, die rede hoekom ek meer wil lees oor Meneer Gautama is omdat ek nuuskierig is om te weet met watse idees ’n man vorendag kom as hy jare lank in die wildernis woon, met min, of geen kontak met ander mense nie. Met watse begrip van die lewe en van menslike bestaan sal ’n mens vorendag kom as jy vir maande lank alleen in die bosse woon, nooit skeer nie, nooit jou tande borsel nie, nooit bad nie, nooit jou klere was nie, op die grond slaap, water uit ’n rivier drink, siek word maar nie dokter toe gaan nie, tandpyn ontwikkel maar nie tandarts toe gaan nie; as jy blare en wortels en vrugte eet, en geen vleis nie, en jy dae en nagte spandeer deur meestal onder ’n boom te sit en te dink oor vrae aangaande die menslike bestaan? Met watse antwoorde sal jy vorendag kom?

——————–

Ek het ’n tyd gelede gevra: Woestyn of Stad? Verskyn of Verdwyn? In ag genome waar ek vandaan kom, en in ag genome die wêreld waarmee ek bekend is, het ek gekies vir Stad, en derhalwe om te verskyn, eerder as om te verdwyn soos ’n moderne askeet en om in stilte, en op my tyd, menslike bestaan te kontempleer.

Ek het ook gesê, as ek Stad kies, as ek kies om te verskyn as die spesifieke persoon wat ek ontdek het in my kop en in my liggaam, en wie ek gedefinieer het om te wees en wie ek kies om te wees, kan ek dit nie langer alleen doen nie. Ek het ’n maat nodig, het ek neergeskryf in een of ander notaboek.

Enkele weke na ek bogenoemde gedagtes noteer het, het ek ’n jong vrou ontmoet. Binne enkele maande het ons gevind dat ons dinge in mekaar sien, en het ons geglo dat ons iets by mekaar sal vind, wat nie een van ons tot op daai punt in ons lewens by ’n ander persoon gesien het of kon vind nie.

En so is my lewe in die Stad verseker, en my verskyning as “Brand Smit” onbepaald hernu.

Steeds wonder ek: Wat sal ’n mens vind as jy die wildernis betree vir ’n onbepaalde tyd, sonder die gerief van ’n tandarts of ’n dokter, of die luuksheid van lopende water en ’n spoeltoilet en toiletpapier, of die vermaak wat ’n TV, of die internet, of koerante en boeke, of vriende, of filmteaters mens gee. Inderdaad, wat vind ’n mens sonder liefde – as jy ’n vae idee het hoe om te soek wat jy nie noodwendig kan verwoord nie?

______________________

Monsters en fondasie: die projekte van Brand Smit

MAANDAG 16 JANUARIE 2006

Ek staan elke dag agter my rekenaar, en net soos ek die einde van nog ’n bladsy vol teks bereik, of die einde van ’n hoofstuk, of die einde van ’n gedig, of ’n les van een of ander teksboek, herinner ek myself daaraan om nie te opgewonde te raak nie: daar is immers nog honderde bladsye vol teks wat hersien moet word, en dan is daar meer as ’n dosyn notaboeke met geskrewe materiaal wat oorgetik moet word. Dan sal dit sekerlik goed wees as ek nog “een laaste keer” my gedigte hersien, en daar is ʼn halfdosyn teksboek idees waaraan ek nog wil werk, of wat afgehandel moet word, en kortverhale, en greeting cards en kalenders en vertalings van afgehandelde Afrikaanse materiaal en vertalings van materiaal wat nog oorgetik en verwerk moet word … Dat die projekte wat in hierdie dokument gelys sal word monsters is, maar ook die fondasie waarop ek my toekoms bou, is teen dié tyd ou nuus in die lewe van Brand Smit.

Vanmiddag konfronteer ek myself toe met ’n vraag: Wanneer het dit gebeur? Wanneer het dit gebeur dat ek myself so toegegooi het onder dit waarna ek so lieftallig verwys as my “projekte”? Vyf jaar gelede het ek vae idees gehad oor digbundels en ’n boek met my sienings oor menslike bestaan op hierdie planeet; daar was ook taalhandboeke wat ek wou skryf omdat … wel, omdat dit moontlik was, en omdat ek gedink het dat sommige van my idees vir handboeke beter was as van die handboeke wat ek soms moes gebruik. Toe, in 2001, besluit ek om minder klas te gee en eerder te werk aan die projekte waaroor ek al so lank gedreig het. Daai jaar het ek klaargemaak met my eerste handboek, getiteld Countries of the World – wat veronderstel is om die eerste boek te wees in ’n reeks van vier of vyf. Teen die einde van 2001 het ek ook begin werk aan ’n fonetiek handboek vir jong leerders. Lyste met woorde en sinne vir my Chinese studies is ook opgestel teen die tweede helfte van 2001, wat die basis sou word vir ’n ander projek waaraan ek koorsagtig gewerk het aan die begin van 2004. Materiaal wat uiteindelik “Persoonlike Agenda, Boek Een” sou word, het al gelê en stof vergader vir jare voor ek dit uiteindelik begin verwerk het aan die begin van 2003. Teen die tyd wat ek Boek Een afgehandel het (in Junie 2003), het ek geweet ek is besig met ’n projek wat alle ander in belangrikheid sou oortref. Ek het voortgeskryf aan essays en notas wat deel kon vorm van Boeke Twee en Drie en Vier en Vyf en so aan. Gedigte het ek al probeer skryf van die middel-negentigs af, en elke paar maande het ’n paar nuwe titels gesien, of verwerkte weergawes van vroeër pogings. Intussen het ek ook ’n paar kortverhale geskryf. ’n Reeks stories vir jong kinders met ʼn fokus op woordeskat en eenvoudige vrae is ook eendag uitgedink, en ek moes uit die aard van die saak onmiddellik daaraan begin werk. Tussendeur het ek gedink aan ’n reeks groetekaartjies, en siende dat ek nog altyd ’n ligte obsessie gehad het met datums, hoekom nie ook werk aan ’n stel onkonvensionele kalenders nie? En tussen-in skryf en tik ek steeds my handsenings styf aan Boeke Vier, Vyf, Ses …

So het ek vandag, Maandag 16 Januarie 2006, ’n lys opgestel, net om weereens – ter wille daarvan om angs te verdring en moontlik om myself moed in te praat – my idees van die afgelope vyf jaar in oënskou te neem, om te sien presies waarmee ek besig is, en om te kyk waarheen ek hopelik op pad is.

My hoop was nog altyd gewees dat ek die spreekwoordelike “alles” sal kan afhandel binne die veel befaamde “volgende ses maande”, ongeag die hoeveelheid ure in ’n gewone dag, en ongeag my menslike beperkinge. Dink ek toe: Dit het my vyf jaar gevat om hierdie lys van projekte uit te dink, en die werk te doen wat sover gedoen is. Sou dit onvanpas wees om te dink dat dit my nog vyf jaar sal vat om alles klaar te maak? Dit is waar dat dit baie werk is. Dit is waar dat ek alleen aan elke enkele projek werk. Dit is waar dat dit ’n wye verskeidenheid projekte is – daar is essays oor persoonlike politiek en religieuse oortuigings gekombineer met sosiale kritiek en sommer net alledaagse gebeure; taalhandboeke vir ’n spektrum van studente wat wissel van kleuters tot volwassenes wat hulle taalvaardigheid en kennis van die wêreld wil uitbrei tot mense wat sê, “Give me everything I need to know. I’ll do it on my own time”; daar is poësie wat vertel hoe ek die lewe ervaar; daar is selfs reuse kalenders wat jou daaglikse lewe reduseer tot klein blokkies teen die muur. Dit is ook moontlik dat die saad van langtermyn finansiële onafhanklikheid reeds geplant is. Wat daarvan as nog vyf jaar verbygaan voor die laaste item op die huidige lys deurgehaal kan word? Dit wat ek dan nie gedurende die volgende ses maande afhandel nie, word gedurende die ses maande daarna afgehandel, en dit wat nie dan afgehandel word nie, oor die volgende ses, en dan die volgende ses, en die volgende ses – tot elke handboek geskryf en gepubliseer is, en elke gedig tot vervelens toe hersien is, en elke opinie blink geskaaf is, en ’n stapels boeke op die tafel lê wat sê: Dit is hoe ek die lewe sien.

En aan die einde sal ek steeds in die nietigheid verdwyn – die papier waarop al die handboeke gedruk is, uiteindelik herwin vir ander gebruike; al die kopieë van my digbundels weggepak in bokse; Boeke Een al die pad tot Sewe … ingedruk saam met ander ou boeke op stowwerige rakke. Maar ten minste sal ek kan sê: Ek het nie opgegee nie. Ek het gesê ek dink dit kan gedoen word op ’n ander manier as wat voorgeskryf is, en dit het my vyf jaar gevat, of tien, maar “finansiële onafhanklikheid deur kreatiwiteit” het geseëvier!

Alles kom hierop neer: Brand Smit het sy beroep gekies. Hy het gekies om nie ’n personeelbestuurder, ’n predikant of ’n sielkundige te word nie – hy het besluit om ’n meester van projekte te word. En die hoofrede hoekom hy besluit het om ’n meester van projekte te word, is omdat hy van jongs af gevoel het hy moet iets met sy lewe doen. Soos hy sy twintigerjare een na die ander agtergelaat het in notaboeke en pogings tot poësie, het hy ook oortuig geraak van die feit dat hy iets het om te sê. En om te kan sê wat hy wil sê, het hy nodig om sy dae en nagte op ’n sekere wyse te spandeer. En om ’n lewe te kan leef wat bevorderlik is vir die werk wat hy nodig het om te doen, dit het hy geweet, moet hy geld verdien op wyses wat nie in ’n hoërskool voorligtingonderwyser se loopbaanboek verskyn nie. Derhalwe: Projekte.

Tot so onlangs as vanmiddag het ek aan my projekte gedink as werk wat ek jare gelede al begin doen het, en wat nog nie afgehandel is nie. Dit het gelei tot ’n siening van myself as iemand wat agter is met sy werk, iemand wat steeds besig is met werk wat eintlik maande gelede, selfs drie, vier jaar gelede, al afgehandel moes wees. Dit verander, vandag.

Sommige van die projekte wat ek begin het gedurende die afgelope vyf jaar is kommersieel van aard; ander is meer persoonlik. Sommige projekte is reeds afgehandel; meeste is nog ver daarvan af. Die werk aan die onafgehandelde projekte gaan voort, en dit sal voortgaan tot dit klaar is, al neem dit my nog ses maande … of nog vyf jaar. Die lys is lank genoeg.

Die lys: […]

Dit is vandag (reeds) Dinsdag 17 Januarie 2006 (00:12), die sewende herdenking van die dag wat ek gearriveer het op hierdie eiland. Sewe jaar en ons tel steeds – tot dit nie meer bevorderlik is nie.

______________________