Voorhoede van die bourgeoisie – Persoonlike Agenda

VRYDAG 25 NOVEMBER 2005

17:21

Ek kyk na die wêreld om my, en ek kan nie anders as om die volgende opinie te verklaar nie: die groot hoop vir die voortbestaan van menslike beskawing op aarde is die middelklas – daai groot massa mense in die sogenaamde ontwikkelde wêreld, en kleiner persentasies mense in sogenaamde ontwikkelende lande, wat elke dag werk toe gaan, karre en huise en TV’s en rekenaars en yskaste besit, en verskeie stelle beddegoed en musiekversamelings en mooi koffietafelboeke en aandenkings van vakansies op ander plekke. Hierdie massa mense is die groot hoop vir die voortbestaan van menslike beskawing op hierdie planeet.

Mense wat skatryk is, maak ook ’n bydrae, maar teen hierdie tyd weet ons meeste van daai geld drup nooit af na die massa mensdom wat hul bestaan voer buite die rykes se piepklein weelderige wêreld nie.

Die werkende armes dra ook by tot die voortbestaan van menslike beskawing deur teen klein fooitjies arbeid te verrig waarmee niemand anders hul hande wil bevuil nie.

Sonder die middelklas, sal menslike beskawing egter in brutale donkerheid verval. Die Middelklas is Lig, Ruggraat en Balanserende Faktor.

Een belangrike ekstra vermelding moet gemaak word: Ten einde te kan voortgaan om Lig, Ruggraat, en Balanserende Faktor te wees, is dit van allergrootste belang dat die meerderheid lede van hierdie stratum opgevoed, verdraagsaam en vredeliewend moet wees.

Natuurlik is dit ’n naïewe ideaal.

Hier is wat sal help: ’n voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame individue. Intellektuele hoef hulle nie noodwendig te wees nie, hoewel ’n kerngroep behoort te bestaan uit rasionele denkers. Hierdie groep mense behoort die leiers te wees van middelklas gemeenskappe. ’n Organisasie, selfs ’n politieke beweging, kan ook voorgestel word wat die idee kan bevorder van sterk, verdraagsame, stabiele sosio-ekonomiese gemeenskappe, gelei deur rasionele, oopkop en verdraagsame individue. (Lank leef die voorhoede van die bourgeoisie?)

17:56

Mens kry tog die idee uit bogenoemde dat ek niks nuut sê nie. Wat ek beskryf in die stukkie teks as die hoop van menslike beskawing is alreeds vir eeue lank ’n aktiewe faktor in die voortbestaan en ontwikkeling van menslike bestaan op aarde. Die voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame mense sal wel ’n groot verbetering wees.

As hierdie my konklusies moet wees na tien-plus jare se dink oor die samelewing, is dit duidelik dat ek nie rewolusies voorstel nie, maar meer van dieselfde – net beter.

SONDAG 27 NOVEMBER 2005

My verhouding met [N.], en haar verhouding met my, is ’n uitdrukking van die tipe mense wat ons graag wil wees, en weerspieëlings van die tipe mense wat ons is.

WOENSDAG 30 NOVEMBER 2005

17:41

Wat sê ek in “Persoonlike Agenda”? Ek sê, stryd is ’n kernaspek van ons bestaan – aanvanklik vir oorlewing, en daarna vir meer. Om uit te werk wat hierdie “meer” is, is deel van ons lewensreis.

Ook, hoe voer ons die stryd? Hoe bestaan ons van dag tot dag? Ons bestaan, en handhaaf en rig ons stryd, deur ’n Spesifieke Persoon te word, met ’n min of meer unieke identiteit. Hierdie identiteit stel ons in staat om te oorleef en te funksioneer. Ons persoonlike stryd word rigting gegee deur tradisie, kultuur of religie, of dit word gedefinieer deur onsself in ’n komplekse proses wat elemente van verskillende bronne insluit. Hierdie stryd word die doel van ons bestaan – dit gee waarde en betekenis aan ons lewens.

18:00

In Korea het ek gesê: Belonging and Commitment.

In Taiwan het ek eers gesê: Stryd en Skepping, en uiteindelik: Stryd, Identiteit, Doel.

______________________

Trek terug van die detail – tapisserie – persoonlike verlies

MAANDAG 21 NOVEMBER 2005

’n Nutsman gaan na ’n buurdorp laat een middag om ’n wasmasjien te gaan regmaak. Vir ’n driekwart uur is hy gefokus op die masjien voor hom: drade en proppe en buise, en die gereedskap wat hy nodig het. Hy lê miskien op die naat van sy rug op die kombuisvloer en sy konsentrasie is skerp ingestel op wat hy besig is om te doen. Dit is soos dit moet wees; dit is hoe hy sy werk behoorlik gedoen sal kry.

Hierdie nutsman moet egter op enige oomblik kan terugtrek van die wasmasjien voor hom, en vrae kan beantwoord oor sake belangriker as net hierdie spesifieke wasmasjien. Hy moet byvoorbeeld ’n vae idee hê in wie se huis hy is – miskien die plaaslike slagter by wie hy al ’n paar keer biltong gekoop het; hy moet weet in watse dorp hy is – nie sy eie dorp nie, maar die buurdorp; hy moet weet hoe laat hy reken hy by die huis sal wees – dalk so 18:00 se kant; hy moet ook weet hoe hy moet ry om by die huis te kom; moontlik selfs hoe die weer buite lyk – miskien hoor hy die donderweer van ’n naderende storm. As die situasie dit vereis, mag hy dalk ook ander dinge in ag neem: sy ouderdom – middel veertigs, sy gesin – vrou en twee kinders, sy inkomste – ±R12,000 per maand, en sy finansiële verpligtinge – huis- en voertuig paaiemente, inkopies, skoolgelde, polisse, ensovoorts.

Sou dit nodig wees, kan die nutsman terugsit, weg van die masjien en die gereedskap en die buise en moere en pype, en vir ’n paar oomblikke die wyer spektrum van sy lewe oorweeg.

WOENSDAG 23 NOVEMBER 2005

Op die onderwerp van paaie wat vir jou uitgelê is, en die stappe wat jy in jou jeug en twintigs neem om hierdie pad jou eie te maak, die volgende metafoor: ’n tapisserie. Die prent, die motief, is reeds uitgewerk voor jy begin met weke se tydsame arbeid met wol en naald. Aan die einde het jy ’n pragtige tapisserie. Die tapisserie is jou eie. Jy het hard gewerk daaraan. Maar dit verander niks aan die feit dat die plan, die patroon, reeds uitgelê was voor die tyd, deur iemand anders nie.

DONDERDAG 24 NOVEMBER 2005

Hoe gaan jy voort met jou lewe as jy ’n groot persoonlike verlies gely het? Ek reken jy gaan nie … kán nie voortgaan met jou lewe soos jy dit geken het nie. Daai lewe, daai bewussyn van dinge, is verby. Wat jy doen, is jy begin met ’n nuwe lewe, gebou op die fondasie, en met die boumateriaal van jou ou lewe. Ek glo alleenlik dan kan jy werklik voortgaan met jou lewe.

______________________

Werkersklas intellektueel – grys wêreld – duisend jaar gebeente

WOENSDAG 2 NOVEMBER 2005

11:16

As godsdiens ten nouste verbind is aan identiteit, en nasionale trots ten nouste verbind is aan identiteit, en die beskerming van die bron van identiteit letterlik ’n saak van lewe en dood is, en oorlog word gevoer oor godsdiens, nasionale trots en beskerming van huis en haard, kan dit gesê word dat oorlog ten nouste verbind is aan identiteit.

11:20

Oorlog is in die verlede gevoer vir hulpbronne, land, prestige, avontuur en die moontlikheid van plundery.

[15/11/10: Oorlog word gevoer deur militêre en politieke leiers bo, en deur voetsoldate op die grond, en heel moontlik om verskillende redes.]

VRYDAG 4 NOVEMBER 2005

Hoekom is dit belangrik of jy ’n middelklas intellektueel of ’n werkersklas intellektueel is? Dit beïnvloed waar jy woon, waarmee jy rondry, waar jy en jou gesin klere koop, watse tipe kruideniersware julle kan bekostig, selfs waar jou kinders skoolgaan (as jy kinders het). Dit beïnvloed ook hoe jy jouself sien in die gemeenskap waar jy woon. As jy jouself posisioneer in ’n middelklas omgewing maar jy kan nie die spreekwoordelike rekening betaal nie, gaan jy dink aan jouself as ’n mislukking, en jy gaan heel waarskynlik beskou word as een.

WOENSDAG 16 NOVEMBER 2005

Geen rasionele mens kan ontken dat ons in ’n grys wêreld woon nie. Maar ongeag of ons die wêreld sien in skadu’s van grys, of in swart en wit, is besluite nooit grys nie. Dit is die dilemma: om swart-en-wit besluite te neem in ’n grys wêreld.

SONDAG 20 NOVEMBER 2005

Het ek een van hulle geword? Hulle – wat rusteloos raak wanneer hulle gedwing word om tyd te spandeer in hul eie geselskap, wat so verknog raak aan die geselskap van ’n spesifieke persoon, dat hulle dit begin nodig kry, soos suurstof.

* * *

Om die saak te dien van beskawing is ’n waardige en edel onderneming.

* * *

Ons vlees, en ons bewussyn van bestaan duur op die meeste dekades. Ons beendere, insluitende die skedel wat ons bewussyn huisves terwyl daar lewe in ons are vloei, mag moontlik oor ’n duisend jaar nog steeds bestaan.

______________________