Die doel van bestaan 310305.doc

DONDERDAG 31 MAART 2005

’n Fundamentele verskuiwing het plaasgevind in my denke. Vier jaar gelede het ek gepoog om die doel van my eie bestaan te formuleer as “kreatiwiteit”. Ek het geglo dat om kreatief te wees, om te skep, die uiteindelike doel was nie net van my eie bestaan nie, maar van enige mens se bestaan, sou hy of sy ver genoeg ontwikkel van ’n bestaanstoestand van primêre behoeftevervulling.

Die mens se bestaan word gevoer binne ’n spesifieke omgewing met unieke (of semi-unieke) sosiale, kulturele, ekonomiese, politieke en historiese elemente, en met behulp van, en soms gekortwiek deur, ’n unieke mengsel van genetiese eienskappe wat aan elke mens GEGEE word deur die spreekwoordelike noodlot. Soos dinge is, vind sommige mense dit moeilik om ’n lewe met ’n bepaalde betekenis te bewerkstellig binne hierdie omgewing wat aan hulle gegee is. Belangrike KEUSES moet dan gemaak word. Hierdie individue sal moontlik verstellings moet aanbring aan hulle identiteit wat elemente van ander oorde sal benut as wat oorspronklik aan hulle gegee is. Hulle sal heel moontlik – in ag genome die kardinale impak van omgewing op wie en wat ons is en hoe ons ons bestaan aanwend – van omgewing moet verander. Uiteindelik sal die uitvoering van die rolle wat hulle mettertyd vir hulleself definieer neerkom nie net op ’n bestaan met ’n bepaalde betekenis nie, maar op die nastrewing van ’n spesifieke doel van hulle bestaan.

Sou enige iemand my nou tromp-op loop met die vraag van hoe kreatiwiteit inpas in hierdie hele aangeleentheid, sal ek moet bieg dat ek nie ’n antwoord gereed het om te resiteer nie. Om kreatief te wees, om jou aardse bestaan te voer as ’n Skepper, is nie meer vir my goed genoeg as antwoord op die vraag na die doel van my eie bestaan nie.

Die vraag na die Ware Doel van die Mens se Bestaan sny soos ’n ritualistiese lem deur die sagte vlees van dit wat ons noem, “lewe”. Waar kom die mens vandaan? Is daar ’n rede vir ons teenwoordigheid op hierdie planeet? Watse tipe vrae het ons vroegste voorouers gevra? Is hierdie ding van vrae vra ’n byproduk van ons ontwikkeling, of deel van dit wat ons vorentoe dryf? Was dit altyd op die spreekwoordelike kaarte van wat die mens sou word? Is daar ’n onsigbare mag agter die mens se bestaan? Was, en is die veronderstelling van hierdie “mag” dat ons een of ander doel moet dien? Indien wel, hoekom word dit nie duidelik aan ons uitgelê nie? Was dit al aan ons uitgelê, meer as een maal, met vele van ons wat dit eenvoudig bly ignoreer, soos vele van ons voorouers ook gedoen het? Hoekom, as ons vir die oomblik aanvaar dat om ’n doel te dien inderdaad belangrik is, word die doel van ons bestaan dan nie weer en weer en weer aan ons uitgespel as ’n saak van daaglikse kosmiese ritueel nie?

Die mens is tot ’n mate wat nooit oordryf kan word nie, ’n produk van sy of haar omgewing. Die stel klanke waarmee jy kommunikeer en die woordeskat waarin jou gedagtes vorm aanneem, die oortuigings wat jy aanhang, die ambisies wat jy as jou eie definieer, waar jy woon, waar jy werk, hoeveel inkomste jy bewerkstellig elke dag, maand of jaar, waar jy slaap, op watse meublement, onder watse beddegoed, saam met wie, wat jy doen tussen die oomblik van wakker word en die oomblik wat jy tot rus kom, hoe gereeld jy jou tuiste verlaat, vir hoe lank, waarheen jy jouself vervoer en met watse vervoermedium, en hoe al hierdie dinge op jou bewussyn inwerk, kan alles direk, of indirek, teruggevoer word na die omgewing wat aan jou “gegee” is met geboorte. (Selfs as die omgewing waar jou volwasse bestaan gevoer word radikaal anders is as die omgewing wat aan jou gegee is, is jou gekose omgewing steeds onlosmaaklik verbind aan jou gegewe omgewing omdat jou uiteindelike keuse heel waarskynlik beïnvloed was deur jou gegewe omgewing en moontlik tot ’n mate ’n reaksie was daarop.)

Dit is dan ook so dat die omgewing waar jy ontstaan het en waar jy jou vroegste “programmering” ontvang het, die primêre bron is van informasie aangaande die doel en betekenis van die mens se bestaan. Nou, 500 of 1500 jaar gelede was dit ook so, maar die wêreld waarvan vele van ons bewus is in die 21ste eeu strek natuurlik aansienlik verder as net die grense van die dorp, stad of gehuggie waarbinne ons bestaan gevoer word. Massamedia en die Internet stel ons bloot aan alternatiewe idees oor die moontlike doel en betekenis van ons lewens wat twee of drie geslagte gelede nie op die rustigste van oggende kon besin nie.

Die bronne wat ons kan raadpleeg, sou ons ’n minuut êrens wou afknyp om daaroor te kontempleer, is veel ryker as ’n geslag of tien gelede. Ten spyte hiervan kies vele steeds om antwoorde te soek by plaaslike leermeesters, hetsy dit ouers, grootouers, vriende, pastore, priesters, rabbi’s, imams, selfhelp-ghoeroes of populêre vermaaklikheidsterre is. Antwoorde word sekerlik gevind by hierdie mense. My vraag bly: watse antwoorde? Watse moontlikhede word uitgelê deur die gewone selfaangestelde, of gemeenskapberoepte Gewers van Waarheid en Leiding?

Miskien ’n vraag nader aan die hart van die een wat wegkruip agter ’n rekenaarskerm met woorde wat hy tik terwyl niemand hom steur in die privaatheid van sy eie woonstel nie: WATSE ANTWOORDE SOU EK GEE AS IEMAND MY MOES NADER OOR DIE WARE DOEL EN BETEKENIS VAN DIE MENS SE AARDSE BESTAAN?

[Een-honderd-twee-en-sewentig woorde netjies geweef in vier paragrawe het gevolg, om op te maak vir die feit dat ek nie aan enige duidelike antwoorde kon dink nie. Een-honderd-twee-en-sewentig woorde het derhalwe die spit gedelf.]

______________________

Weet die waarheid – graanvlokkies – regte woorde

MAANDAG 28 MAART 2005

10:36

Ek stap uit by die fotowinkel, kom by my fiets, wil my masker opsit. Ek voel aan my broek, kyk in my boeksak, sien dit hang nie aan die stuurstang nie. Ek stap terug in die winkel in en gooi ’n vinnige blik oor die toonbank, en lei af dat ek die masker verloor het tussen die bank en die fotowinkel. Ek klim op die fiets en trap weg.

Oor die volgende twee of drie minute is ek ’n funksionerende organisme: ek neem verkeer in ag, voetgangers, rooi ligte, groen ligte; ek draai in die regte stegies en strate links of regs; ek beheer my spoed, trek die remme waar nodig, en stop waar ek moet. Ek is ook besig met intelligente denkprosesse: om foto’s van ’n digitale kamera op CD te kry, reken ek, is onnodig, want ek het klaar al die foto’s op my rekenaar; ek dink ook daaraan dat die ou gesê het ons druk sommer die memory card in die rekenaar op sy toonbank, gaan deur die foto’s, en dan merk ons net watter ek wil laat druk.

Dan, skielik, besef ek die masker is oor my kennebak getrek. Dit was die heeltyd op my gesig. Ek was net nie bewus daarvan vir die twee of drie minute wat ek in volle menslike funksionering modus was nie.

En so, dames en here, is dit met vele ander waarhede.

[08/06/15: Mense dink maklik as X die waarheid is, of as Y nie die waarheid is nie, sal hulle dit tog weet. Ons besef nie altyd hoe ten volle ons bewus kan wees nie, hoe wakker ons kan wees, en nugter, en intelligent, en hoe ons suksesvol kan funksioneer in komplekse verhoudings en situasies, en hoe ons in al hierdie tyd totaal en al onbewus kan wees van ’n waarheid wat ons so te sê in die oë staar nie. Dit geld ook vir religieuse oortuigings. Mense sal 100% glo aan iets, en dink as dit nie waar is nie, sou hulle “geweet” het, omdat hulle ten volle bewus is van dinge om hulle, en omdat hulle nugter en intelligent is, en ten volle funksioneer in komplekse situasies elke dag. “Hoe kan ek elke dag funksioneer soos ek doen,” sal hulle vra, “en nie vermoed daar’s iets fout nie?”]

13:55

Twee dinge: Ander se beskouings van jou, en ander se beskouings van hulleself soos hulle dink jy hulle sien.

14:56

Nou net onthou van die frase wat ek ’n paar dae gelede al wou noteer: Die kaart is op die tafel – oorweeg dit, verwerp dit, aanvaar dit, of kritiseer dit.

15:52

Die Groot Apostel van Kreatiwiteit en die Evangelie van ’n Buitengewone Lewe

DINSDAG 29 MAART 2005

15:08

“Die prys van graanvlokkies en tamaties het gestyg in sekere supermarkte en kleiner winkels, maar die graad nege leerlinge in Kirgistan se Biologie huiswerk is minder as verlede week.”

“Ek vang dit nie.”

“Presies.”

15:10

Daar was al baie tye in my lewe wat ek probleme geïdentifiseer het, dit geanaliseer het, wat ek moontlike oplossings uitgedink en oorweeg het en dan, skielik … is die probleem oor en verby. Dan dink ek gewoonlik: “O, nou ja, daar het jy dit.”

15:14

Die prys van graanvlokkies en tamaties, en die graad nege leerlinge in Kirgistan.

DONDERDAG 31 MAART 2005

09:49

Om tande te borsel is ’n kwessie van selfonderhoud. Mens borsel nie net tande wanneer jy ’n probleem het met jou tande nie; jy doen dit juis om probleme te verhoed. So is daar ook ander aspekte van jou lewe waar selfonderhoud toegepas moet word as ’n voorsorgmaatreël, en nie as ’n noodmaatreël nie.

Dit is belangrik om die regte woorde te koppel aan die regte prosesse – selfde met ’n pampoen wat nie ’n tamatie genoem moet word nie.

23:03

Indien die mens se bestaan ’n doel dien, impliseer dit noodwendig dat daar beplanning en/of ontwerp was, voor die mens se bestaan?

______________________

Platsak – eie geselskap – koop jou tyd

MAANDAG 21 MAART 2005

12:32

Om platsak te wees, in ’n nuwe verhouding, en om ’n elektriese ketel te begeer.

17:26

Weereens: verveling lei tot neerslagtigheid omdat jy waardeloos voel op daai oomblik – of dan omdat jy ervaar ’n dramatiese verlies, of dramatiese vermindering van die waarde van jou lewe op sekere tye. Werk dit teë! Beveg verveling!

20:56

Om (weer) platsak te wees voel asof ek steeds in die kloue is van die kragtigste faktor wat my gemaak het wat ek is vandag. Dis een van daai ervarings wat jou toets, wat jou geloofwaardigheid toets, wat vir jou sekerheid gee of dit wat jy sê (of skryf) en wat in werklikheid jou lewe is op ’n daaglikse basis, steeds eg is.

Nietemin, ek hoop hierdie is die laaste keer in my lewe wat ek sonder geld sal wees. Ek meen, behalwe vir die inspirasie wat dit loswikkel, is die frustrasie baie werklik.

DINSDAG 22 MAART 2005

As ek so gelukkig en tevrede was met my eie geselskap soos ek altyd ewe verwaand beweer, sou ek gelukkig en tevrede gewees het met my eie geselskap wanneer ek kort reise onderneem. ’n Hele paar ervarings oor die jare vertel egter ’n ander storie.

Dit kan dus gesê word dat ek gelukkig en tevrede is met my eie geselskap binne ’n spesifieke omgewing, dit wil sê ’n omgewing waar ek geen betekenisvolle verskyning hoef te maak nie, maar ook veral waar ek kreatief uiting kan gee aan wat ek dink en voel.

[Ek voel nie eensaam wanneer ek alleen is nie, maar wanneer ek moet verskyn – dan het ek ’n maat nodig, iemand anders om mee te gesels en die ervaring mee te deel.]

DONDERDAG 24 MAART 2005

Die PUNT is: mens moet jou eie tyd koop! Jy moet as’t ware jou eie lewe loskoop van die stryd om basiese oorlewing, en al die onvrye verskynings wat dit op jou forseer, of van jou vereis!

______________________

Gedagtes – bazaar – maatreëls

SATERDAG 12 MAART 2005

Sommige van die gedagtes wat in ’n mens se kop ontstaan en wat jy dalk neerskryf, het net waarde vir jouself, en soms net in ’n spesifieke periode van jou lewe. Ander gedagtes het potensieel waarde vir veel meer mense as net die een wat die gedagte op ’n sekere wyse genoteer het. Hierdie gedagtes, of idees, is belangrik: die tipe idees wat deur enige een kan vloei, uit, na ander mense toe, wat deur hulle opgeneem en persoonlik gemaak word vir hul eie lewens.

WOENSDAG, 16 MAART 2005

15:11

Uit die China Post: “[If you] understand the origin of [your] fear, the origin of [your] status […], [you will] discover that life can be different.”

15:59

Soveel beelde, soveel woorde … dis asof daar ’n [N.] konferensie in my kop aan die gang is wat dreig om in ’n bazaar te ontaard! Ek voel wel elke nou en dan hoe ’n obsessie nader kruip, soos ou spoke, om haar te vertel, om haar te wys, wie ek “werklik” is.

Natuurlik het sy ’n eintlik goeie idee het wie en wat ek is. My werklike obsessie is die PROSES wat gelei het tot hierdie punt. En die proses sluit in eensaamheid, alleenheid, wanhoop, stryd met die oorblyfsels van godsdienstige oortuigings, ’n soms desperate behoefte aan die tipe liefde wat jy voel aan jou vel, onsekerheid, moedeloosheid, eksistensiële angs, vervreemding van my geboorteland, my familie, en op tye selfs die enkele vriende wat ek hier het. Dit – dit is wat ek aan haar wil openbaar!

VRYDAG 18 MAART 2005

09:30

Ek het ’n bepaalde beskouing gehad van myself voor ek vir [N.] ontmoet het. Die beskouing het ingesluit dat indien ek op my eie gelukkig moet wees, dit dan so sal wees. (Ek het nooit aanvaar dat dit noodwendig so sal wees nie, maar ek het geweet dat ek gekonfronteer is met die baie werklike moontlikheid.) Ook my siening van myself as ’n “verligte enkeling” het onderstreep dat ek nie intieme bevestiging nodig het vir wie en wat ek dink ek is nie.

En toe arriveer sy.

En toe kom die gedagte dat om tyd terug te draai en weer sonder haar te wees … dat dit moeilik sal wees.

So ook het sy ’n sekere beskouing van haarself gehad, voor ek op haar toneel verskyn het. Hierdie beskouing het ingesluit dat sy op haar eie geluk moet vind as ’n man wat aan haar toenemend hoë standaarde voldoen, nie oor haar pad kom nie. Soos ek, het sy sekerlik gehoop dat sy nie die res van haar lewe alleen hoef te wees nie; soos ek het sy geweet die moontlikheid draal agter haar aan soos ’n skadu op ’n sonnige, wolklose dag. Sy het ook toenemend aan haarself begin dink as sterker as van die vroulike karakters met wie sy al tyd gespandeer het. Dat sy nie gesien moet deur ’n man as behoeftig nie, het haar eie troetel obsessie geword.

En toe verskyn ek op haar toneel. En toe ontwikkel sy die gevoel wat sy nou het. En toe onthou sy hoe sy gevoel het oor haarself, en oor mans in die algemeen, voor my verskyning. En sy neem waar hoe sy teenoor my voel.

Sou die teenstrydigheid haar ook angstig maak?

12:18

Mens ontmoet iemand, en as jy weer kyk, het jy ’n koorsagtige behoefte ontwikkel aan haar teenwoordigheid in jou lewe. Jy verval in ’n toestand van paniek want jy wéét, jy weet as hierdie persoon onttrek, is jy in jou moer in. En jy vind dat jy stil-stil begin met die konstruksie van maatreëls, net vir in geval … en op so ’n manier dat dit nie die proses waarmee julle besig is, te veel sal belemmer nie.

Wat ek wil voorstel is eenvoudig: fok die maatreëls. Gee oor. Maak oop jou hart. En as die proses nie lei tot die resultate waarvoor jy in jou beste oomblikke hoop nie, dan tel jy maar van vooraf die stukke van jou lewe op – en stukke sal dit wees! Maar jy weet jy moet dit doen, want as jy nie die stille konstruksie van maatreëls staak nie, sal ook sy stil-stil begin bou aan maatreëls van haar eie. Waar laat dit julle?

Nee, laat vaar die maatreëls. Bevry jouself van vrees en onsekerheid. Leef … en as dit nie uitwerk nie, sal jy ten minste weet, en onthou.

17:23

Gisteraand drink ons tee in die dorp. Ek spot dat ek steeds ’n bietjie gespanne voel as ek by haar is.

“Hoekom?” vra sy. “Dis net ek.”

______________________

Wildernis – Oomblik van Geboorte

SATERDAG 5 MAART 2005

As jy iets vir ewig in jou hande wou vashou, en dit gly deur jou vingers, is jou hande ooit weer daarna dieselfde? Laat dit agter, nie soseer littekens nie, maar iets moois wat jou sal herinner aan die wonder waaraan jy wou vasklou?

WOENSDAG 9 MAART 2005

01:51

Jakobus die Woestynloper strompel die wildernis binne. Hy was al daar. Hy’t ’n rowwe kaart in sy kop. Maar wildernis, dit weet hy, is nie woestyn nie. En woestyn … is beslis nie die wildernis nie.

21:49

Die beroep wat ek vir myself gedefinieer het, of gekies het uit die talle moontlikhede waarmee ek gekonfronteer is sedert ek verneem het dat ook ék eendag ’n werkende volwassene sal wees, was dié van Digter.

Sal vele vra, “Digter? Jy moet sekerlik weet dat jy nooit bokant die broodlyn sal leef nie!”

Dit is dan ook so dat ek oor die jare bewus geraak het daarvan dat die wêreld waarin ek my plek in die son moet oop baklei, nie “digters” beloon met vaste betrekkings, ’n gereelde inkomste, ’n maatskappymotor, of ’n mediese fonds nie. Ek moes derhalwe my gekose pad effens verbreed sodat ek, benewens gedigte skryf, ook ander genres kan benut om in fyn detail die wêreld te kan kritiseer waar ek nie dieselfde kompensasies kan geniet vir mý beroep as ’n tandarts, ’n straatveër of ’n bankklerk nie.

DONDERDAG 10 MAART 2005

’n Mens bestaan net, tot jy gebore word.

Oftewel: Sommige mense bestaan slegs as dít wat aan hulle gegee is plus die resultaat van hul keuses tot op ’n punt – die resultaat van introspeksie, van kennis opdoen oor hulleself, van hulleself konfronteer, hulleself waarneem, van definieer wie en wat hulle wil wees. Indien hierdie proses van ’n bepaalde kwaliteit is, en indien hulle lank genoeg tyd daaraan spandeer, kan die oomblik wat daai bepaalde punt bereik word vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Oomblik van Geboorte.

VRYDAG 11 MAART 2005

Vele dinge in my pad – littekens, vrese, onsekerhede, ervarings van die verlede wat maatreëls laat rys het soos forte in die woestyn … alles word onthou, maar agterweë gelaat ter wille van een ding – as jy weer glo, ten spyte van vrese en onsekerhede, weet jy dat jy jouself toelaat om te leef.

______________________