Kinders en mislukking – goed en sleg

DINSDAG 11 JANUARIE 2005

[trein na Kaohsiung ± 08:45]

Die koerant sê Taiwannese mans is nie so gretig om kinders te kry as Taiwannese vrouens nie.

Ek weet die volgende gedagte is vinnig, en word nie tans ondersteun deur wetenskaplike studie nie, maar … ek reken die gebrek onder mans aan gretigheid om kinders te kry word veroorsaak deur dieselfde verskynsel wat maak dat sommige vrouens wel gretig is om kinders te kry: in albei gevalle voel die kindlose persoon soos ’n mislukking.

Mans is versigtig vir die ekstra verantwoordelikheid, die ekstra druk op reeds dun hulpbronne (naamlik, hulleself) en is bang dat ’n kind (of meer kinders) hulle mislukking nog meer sal toelig, of dit sal vererger deurdat hulle dan nie net mislukkings sal wees as volwasse mans of as eggenote nie, maar ook as vaderfigure.

Sommige vrouens, aan die ander kant, voel ook soos mislukkings, en/maar sien die rol van “moeder” as een wat hulle beter sal laat verskyn aan hulleself, hul families, en aan die breë gemeenskap.

14:02

Argumente oor “goed” en “sleg”, die toeskrywing van skuld en verantwoordelikheid, en die gepaardgaande karakterisering van “agente” van Goed en Sleg, byt in vele gevalle stof vanweë een ding: niemand is 100% goed of 100% sleg nie. Die oomblik as grysheid uit die oog verloor word, begin die vloer van die bokskryt glibberig raak.

* * *

Die “waarhede” waaraan mense hulle lewens verbind, waarvolgens hulle hulself identifiseer, en waarvolgens hulle hul lewens lei kan almal teruggevoer word na sogenaamde ontwakings (epiphanies) wat individue gehad het.

Voorbeelde: Een God, reïnkarnasie, Ying/Yang, die Vyf Elemente, die Onsterflike Siel …

20:10

Mens moet bly glo. Jy moet aanhou glo dat mense kan verander, dat hulle getransformeer kan word in mense wat goed doen eerder as sleg, wat opruim eerder as om te besoedel, wat opbou eerder as om te vernietig. As jy ophou om hieraan te glo … wat het jy dan? Wat is jy? En wat is die alternatiewe, in elk geval?

______________________

Doel van bestaan – konvensionele lewe

SONDAG 9 JANUARIE 2005

15:18

“Hoekom moet daar noodwendig ’n doel wees aan die mens se lewe?” mag iemand dalk vra.

Ek glo, as ek kyk na die natuurlike wêreld, dat alles, van wolke tot lug tot water tot die voelers van ’n kakkerlak ’n doel het. Hoekom op aarde, as die hele planeet gevul is met doel en rede, sal daar geen doel en rede wees vir die mens se bestaan nie.

Vir my is die vraag eerder: WAT?

[05/01/12: Die pote van ’n sjimpansee dien ’n duidelik doel. Maar watse doel dien die sjimpansee? Het elke dier en elke spesie werklik ’n doel? Muskiete versprei virusse en parasiete wat verhoed dat sekere spesies te veel aanteel en die natuurlike balans versteur… behalwe natuurlik dat muskiete en die vrag wat hulle dra in die moderne wêreld beskou word as ’n gruwel wat uitgeroei moet word.

Die vraag na doel is warm vir kontemplasie en bespreking. Ek is ten volle oop vir die moontlikheid dat doel en betekenis slegs waardes is wat ons heg aan dit wat ons waarneem in die fisiese wêreld, insluitende ons eie lewens. Tog wil dit voorkom asof die hele wêreld deurspek is met hierdie-ding-doen-dit-en-daardie-ding-doen-dat.

My bedoeling is nie om af te stuur op ’n teologiese argument nie, dit gaan eerder vir my oor die veronderstelling dat as doel ’n patroon is regdeur die hele sigbare wêreld, dat die mens se lewe ook ’n doel moet hê. [[Maandag 25/05/15: Kan “mens se lewe” werklik vergelyk word met iets soos “sjimpansee se poot” of “menslike oog”? Is eersgenoemde nie te abstrak om ’n doel te hê nie?]]

En net om dinge te kompliseer, moet mens dalk ook wonder of individuele sjimpansees ’n unieke doel het wat hulle onwetend nastreef …]

[26/12/12: Dis soos ’n hiërargie: hierdie sel dien ’n doel; hierdie versameling selle dien ’n doel; hierdie versameling van verskeie groepe vorm ’n “voet”, wat ’n doel dien; die “voet” is vas aan ’n “been”, wat ’n doel dien … maar die totale organisme waaraan die voet en die been en die oog en die kop en die hand ensovoorts gekoppel is, dien geen doel nie? Of “doel” is net ’n versinsel van ons verbeelding?]

16:11

Vir die rekord: wat bedoel ek met “konvensionele lewe”? Inkomste-genererende arbeid (vaste professionele betrekking, of iets anders), vind ’n maat, begin ’n familie, streef na standvastigheid, doen dinge in jou “vrye tyd” wat jou gelukkig maak (of gelukkiger, in sommige gevalle).

As iemand nou, na al die jare, vir my moet voorstel dat ek net my lewe daaraan moet toewy, kan ek in alle eerlikheid vir die persoon vra, “Is jy van jou sinne beroof?”

* * *

“Families have been torn apart. Whole communities have disappeared. In countries where religion, spirituality and culture lie at the heart of human existence, places of worship have been wiped out. The very things that define people’s identities and values have been swept away.”

Kofi Annan, by die Tsunami Summit (uit China Post, Vrydag 7 Januarie 2005)

* * *

Sê die 60-jarige vrou in The Shipping News:

“Thought I’d never come back here [to Newfoundland] but the older you get … there’s an ache, a pull, something you’ve got to figure out, like you’re a piece in a puzzle …”

Jy doen dit eers wanneer jy 60 is? Wat doen jy dan tussen 18 en 33?

______________________

Sintuie – swangerskap – verganklikheid – huwelik

VRYDAG 7 JANUARIE 2005

00:25

Die mens, soos ander diere, gebruik sintuie – sig, gehoor, gevoel, reuk – om te weet wie hulle is, en om hulle plek in die wêreld te vind, keer op keer.

12:55

1. Vele mense sê hulle het hul lewens toegewy aan hul kinders – of hulle doen tans so.

2. Mense kry nie in die eerste plek kinders vir die kinders se onthalwe nie, maar om hulle eie diepliggende begeertes te bevredig.

3. Vele mense kry kinders om hulle rolle en sin van eiewaarde in die tyd en plek waar hulle woon, te verbeter.

Gevolgtrekking: Beplande swangerskap is ’n berekende stap wat mense neem om meer waarde aan hul eie lewens te gee, om ander, meer bevredigende rolle te vervul as wat tot op daai betrokke punt in hul lewens die geval is, en om hul lewens te kan toewy aan iets “beters” as net hul eie oorlewing in ’n wêreld gevul met swaarkry, teleurstellings, pyn, en soms ondraaglike verveling.

(Vraag: Hoekom sou ek kinders wou hê? Om dieselfde redes …)

17:27

Data word verwerk van die oomblik van selfbewussyn …

Een van hierdie brokkies data wat my van jongs af die skrik op die lyf gejaag het, was dié van verganklikheid – en dan veral die idee dat mense vergaan, soms onverwags op ’n jong ouderdom, en soms na genoeg dekades om op twee hande af te tel. Nog ’n waarheid wat nie ontken kan word nie: selfs al tref die werklike oomblik van verganklikheid eers op ’n hoë ouderdom, na ’n lang en vrugtevolle lewe, word dit voorafgegaan deur ouderdom wat die gesig jaar na jaar vol plooie ploeg, wat die vol maan hare van die jong leeu laat uitval tot net ’n blink vel met ’n paar klossies hare die skedel bedek, wat die organe laat ingee, die spiere moeg maak en die bene broser maak by die dag.

SATERDAG 8 JANUARIE 2005

Mense trou met wie hulle trou, omdat hulle glo daai betrokke persoon sal vir hulle kan gee wat hulle op daai stadium van hul lewens nodig het. In vele gevalle word die res van hulle lewens gekenmerk met ’n stryd om hulleself te versoen met die keuse wat hulle gemaak het.

______________________

Liefde – persoonlikheid – bewussyn – woordeskat

WOENSDAG 5 JANUARIE 2005

10:14

Intieme liefde, en die warm liggaam van ’n ander persoon is geen wondermiddel teen pyn, teleurstellings, en die ondraaglike verveling wat soms dele is van ’n mens se daaglikse bestaan nie. Dit kan egter nie ontken word dat dit miljoene mense in staat stel om elke dag se pyn, teleurstellings en verveling te verduur nie. Dit is dan ook so dat as hierdie dinge verduur word, daar nie altyd iets gedoen word om sake te verbeter nie … wat mens terugbring by die voordele van alleenheid en selibaatheid … die punt wat ek egter wou maak, vandag, is oor die voordele van samesyn tussen twee mense.

12:40

Ek is vol entoesiasme vir hierdie jaar. Hoekom? Want ek leef … en ek weet no one makes it out alive, maar tot dan leef ek. En dit beteken ek kan elke dag van my bestaan, elke uur, elke week en maand, en ook my hande, my voete, my brein, my oë en my ore aanwend tot iets, tot projekte, tot dinge waarna ek aan die einde sal kan terugkyk en sê, “Dis goed.”

En wat betref die onvermydelike minder goeie? Wel, die lewe is ’n stryd, en solank jy staande bly, val jy nie.

16:45

Kan die kern van ’n persoon se persoonlikheid verander word?

Ek glo nie, want dis tot ’n groot mate ’n gegewe genetiese disposisie. Dit hang ook af van hoe “verander” gedefinieer word. Ek glo die kern van ’n bepaalde persoonlikheid kan aangepas word, en op sekere wyses volgens wil en keuse aangewend word. Maar of die kern verander kan word, is ’n ander vraag.

[“Some facets of our personality are inherited,” volgens die webblad, Mental Health and Illness.]

[Wat bedoel ek met “kern”? Op watter wyse is die kern apart van die “res” van persoonlikheid? Is daar ooit iets soos ’n kern van ’n bepaalde persoonlikheid, of is daar bloot aspekte? Of is daar meer dominante aspekte van persoonlikheid wat argumentsonthalwe hanteer kan word as die kern?]

DONDERDAG 6 JANUARIE 2005

14:42

Elke mens is bewus van hom- of haarself.

Die vraag is, is hierdie bewussyn goed? Indien nie, hoekom nie?

Het jou huidige bewussyn te make met gegewe noodlotsdata, of met verskyning op ’n spesifieke plek? Indien eersgenoemde, wat kan verander word? Indien laasgenoemde, wat kan verander word? Ook, moet jy noodwendig op daai spesifieke plek verskyn?

21:06

Die punt is om ’n persoonlike woordeskat op te bou wat jou bestaan definieer, wat definieer wie en wat jy is, en wat jy doen met jou lewe. ’n Groot deel van my skryfwerk van die afgelope paar jare het oor presies dit gegaan: om ’n spesifieke woordeskat op te bou.

______________________

Seëlversameling of seks

DINSDAG 4 JANUARIE 2005

Hoekom het mense seks?

Anders gestel, hoekom is seks so belangrik vir so baie mense? (Ek wil my vraag beperk tot seks tussen mense wat mekaar nié lief het nie, maar slegs tot ’n bevredigende mate seksueel aangetrokke is tot mekaar.)

Die antwoord: beslis nie om ’n nageslag te verseker nie, maar vir die plesier daarvan!

Goed, ek weet enige mens oud genoeg om te weet wat twee honde doen op die sypaadjie en wat weet mense doen iets soortgelyk van tyd tot tyd (hopelik nie op die sypaadjie nie), weet van die plesieraspek. Wat is my punt? ’n Vraag natuurlik: hoekom is plesier so belangrik? Plesier is so belangrik omdat dit die lewe draaglik maak; oftewel, die pyn, teleurstelling en soms ondraaglike verveling wat so deel is van so baie se daaglikse bestaan.

My punt is verder dat as plesier die motivering agter die hele liefdelose seks storie is, kan dit sekerlik gesê word dat hierdie motivering tot ’n groot mate nie soseer onderdruk kan word nie as gekanaliseer kan word in ander rigtings in.

“Soos wat?” mag iemand dalk vra.

Seëlversamelings, om een moontlikheid te noem. En dan kan elkeen natuurlik sy of haar eie lys vul met dosyne ander persoonlike projekte wat die pyn, teleurstellings en ondraaglike verveling meer draaglik sal maak.

Persoonlike projekte het ook die byvoordeel dat dit ’n sin van eiewaarde kan bevorder, en selfs – kan jy glo dat ek by hierdie van alle onderwerpe kan uitkom? – jou identiteit kan bevestig, asook jou plek en relatiewe waarde in die Groter Beskouing van Dinge.

Seks kan sekerlik ook hierdie dinge vir jou gee. Maar seëlversamelings, of enige ander persoonlike projekte, belemmer nie die delikate ritme van mens se hart te veel nie. Plus, jou seëlversameling verstaan as jy eerder ontbyt wil eet op ’n Maandagoggend voor jy werk toe gaan …

______________________