Verveling – innerlike natuur – woordelose bewussyn

MAANDAG 31 JANUARIE 2005

19:43

Ek vermoed, en het al in die verlede ook vermoed, dat ek verveeld raak met die blote idee van iets.

Ek kyk byvoorbeeld in die Engelse handboek wat ek tans gebruik met ’n groep 12-jarige studente en sien ’n prentjie van ’n familie in ’n agterplaas besig om te braai. Ek kyk na die volwassenes en dink, “Hoe fokken vervelig …”

Die probleem is, hierdie verveling met die blote idee van iets registreer as ’n ernstige gedagte in my brein, en dit word opgeneem in my Amptelike Gedagtes Oor Onderwerp X!

Ek dink ek is al jare lank op ’n bitter veldtog teen dinge – in sommige gevalle niks meer nie as geluk waarop ek dink ek vroeër uitgemis het, of dat dinge wat my gelukkig kon maak, glans verloor het omdat dit amper altyd met angs en onsekerheid gepaard gegaan het.

Ek glo dis net my innerlike natuur – wat in wese goed is – wat verhoed het dat ek op ander maniere uiting gegee het aan hoe ek voel.

Wat my weer by die vraag bring van “innerlike natuur” en/of “kern persoonlikheid”: dit is gegewes, dan nie? En van kardinale belang in die produsering van eindresultaat, reg? Hoe skuldig is Gegewe dan, en hoe skuldig is Vrye Wil?

[…]

Ek het nou net in die bed gelê. Ek was bewus van my liggaam. Ek was ook bewus van die gedagte dat ek bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek op ander tye, vroeër tye, bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek toe gedink het, of geweet het, dat ek bewus was van my liggaam.

Bewussyn ontwikkel; dis nie net een oomblik skielik daar nie. Tog moet daar ’n kritieke oomblik wees – die waterskeidingsoomblik in die ontwikkeling van selfbewussyn.

Daar kan sekerlik geen twyfel wees dat ’n fetus na 30 of so weke ’n bewussyn het nie. Die fetus se bewussyn en dié van die pasgebore baba (tot en met ’n paar maande) is wel uniek in die geskiedenis van die persoon se bewussyn: dis woordeloos.

Verskil tussen woordelose bewussyn, en bewussyn waar taal ’n rol begin speel …

______________________

Woordeskat – die Bron – gevaarlike frekwensie

VRYDAG 21 JANUARIE 2005

09:20

Dis Vrydagoggend. Ek maak ontbyt, gaan sit op die bank, skakel die TV aan, flits deur die kanale en … Notting Hill, met William Thacker wat aan die begin deur die mark stap, met die begin credits wat nog rol.

Ek besef toe: dit is my movie metafoor. Ek is die ou met die “boek besigheid” wat nie geld maak nie – maar dis my lewe, en sy is die ster.

“And miracles,” soos die vrou by die aandete sê, “do happen.”

SATERDAG 22 JANUARIE 2005

00:42

Eers bestaan iets, en dan vind jy woorde om uitdrukking te gee daaraan. Bestaan gaan taal en spesifieke woordeskat vooruit.

Vraag: Wat bestaan waaraan ons nog nie woordeskat etikette kon hang nie? Wat bestaan, wat nog nie aan ons verskyn nie?

Taal is noodsaaklik vir begrip, om iets te kan “sien” of om dit te kan “hoor”. Indien iets wel in ons visie verskyn of opgetel word deur ons gehoor, maar ons beskik nie oor die gepaste woordeskat nie, word hierdie dinge maklik geïgnoreer of verwerp as nutteloos – as geraas rondom dit wat wel sin maak omdat ons reeds weet wat om dit te noem of hoe om dit te beskryf.

02:45

Die repatriasie tema in “Persoonlike Agenda” gaan daaroor dat dit soms nodig is om die Bron te verlaat, en hoekom dit belangrik kan wees om terug te keer na jare buite die Bron – selfs hoekom mens dit kan regverdig om nie “permanent” terug te keer nie.

* * *

Uit ’n artikel oor Nawal el Saadawi in die China Post van 18 Januarie 2005 getiteld, “Egyptian secular writer battles religious state”: “I’m still living in exile because I cannot speak, I cannot work, I cannot have my potential here.”

09:21

Ek is op ’n gevaarlike frekwensie! Gistermiddag het ek amper my skouer uit sy potjie gestamp omdat ek nie gefokus was op die meganika van broek uittrekery nie – en derhalwe die muur stormgeloop het met my broek rondom my enkels.

Nou staan ek hier met ’n seer voet met ’n opgeswelde groottoon omdat ek gisteraand my ritme met die trappe verloor het, gedink het, “Toemaar, daar’s nog net ’n paar trappe oor,” en gespring het.

Vanoggend dink ek aan hierdie frekwensie ding terwyl ek naarstigtelik soek na my sleutels … net om te vind ek het dit reeds in my baadjie se sak gesit.

Ek weet op watse frekwensie ek is, en dat dit gevaarlik is, is nie debatteerbaar nie. Ek is bedwelmd; bedwelmd met ’n idee…

12:53

Ek ís bedwelmd met ’n idee, dis waar. Dit is ook waar dat hierdie idee te make het met ’n sekere jong vrou se bestaan. Dit kan egter ook gesê word dat indien hierdie jong vrou nie ’n soortgelyke idee koester oor ’n spesifieke Skrywer van Notas nie, sal genoemde skrywer ’n rougedig komponeer, dit plegtig verbrand, en aan die einde van so ’n vaal dag gaan slaap … om die volgende oggend op te staan en ontbyt te nuttig met sy gebruiklike, en onblusbare Geloof – en sal mens waag om te sê, Hoop? – in die Onvervangbare Derde Een.

______________________

Bron en funksie van identiteit

WOENSDAG 19 JANUARIE 2005

“Look at how they dress! This is the seventies! Somebody should tell them. It’s no wonder they get pointed at in the streets, if they go around looking like that!”

“Maybe. But they don’t complain about it, do they? They endure everything – mockery, hate, even disgust. That’s the price they’re willing to pay to remain who they are.”

Gesprek tussen ’n jong vrou en ’n ouerige Joodse man in verwysing na ultra-ortodokse (Harediese, of meer spesifiek in hierdie geval, Hassidiese) Jode in Antwerpen, 1972 (in die film, Left Luggage).

My vraag: as “ultra-ortodokse Joodsheid” in die primêre sin ’n bron van identiteit is, wat mense in staat stel om te funksioneer in ’n spesifieke omgewing en tyd (al is dit in ’n relatief geïsoleerde omgewing, en al herinner die kleredrag aan ’n vroeër tyd), het dit enige meer waarde as funksionering om ’n “ultra-ortodokse Jood” te wees?

Is dit die enigste funksie van identiteit?

En as spesifieke religie tot ’n mindere of meerdere mate ’n bepaler is van identiteit, en die waarde van identiteit gekoppel is aan die funksionering van die individu in spesifieke tyd en plek, wat kan gesê word oor sulke ekstreme bronne van identiteit as Hassidiese Judaïsme, of fundamentalistiese Islam, of ’n soortgelyke weergawe van die Christelike religie?

Ek skiet nie noodwendig die idee van konserwatiewe eenvormigheid te alle tye en in alle plekke af nie, maar ek wil tog weereens vra: kan ’n bron van identiteit verkeerd wees? Wanneer doen godsdiens, as belangrike bron en bepaler van identiteit en voorgeskrewe bewussyn, meer skade as goed?

[Spesifieke Identiteit X werk goed in Spesifieke Plek X en op Spesifieke Tyd X. Indien Spesifieke Identiteit X nie slaag daarin om die individu in staat te stel om te funksioneer in ’n spesifieke omgewing en in ’n spesifieke tyd nie, moet die individu óf verstellings aanbring aan sy identiteit, of verhuis na ’n omgewing waar daai spesifieke identiteit meer gepas sal wees. Indien tydreis ’n opsie was, sou dit ook voorgestel kon word.]

* * *

Ons het nodig om lief te hê. Maak dit ons liefde enigsins minder opreg?

______________________

Bewys jou identiteit – om niemand te wees

SONDAG 16 JANUARIE 2005

13:03

In die movie, Life As A House sê die hoofkarakter aan die einde iets soos, “I’ve built myself the house that I wanted to be.”

* * *

“I will not get lost,” sê Thibault in die film, Just Visiting. “You can only be lost if you have no purpose, and I have purpose.”

MAANDAG 17 JANUARIE 2005

13:11

As jy jou paspoort, identiteitsboekie, bankkaarte en alle ander persoonlike dokumentasie verloor, is daar geen manier wat jy jou identiteit kan bewys nie – behalwe natuurlik deur ander mense wat kan verifieer wie jy is, en selfs tot ’n mate wát jy is – goeie mens? slegte mens? betroubaar? onbetroubaar? krimineel? swendelaar? onderwyser? kunstenaar? tandarts? bankklerk? gelowige? leuenaar? waarheidsverteller? vriend of kennis? broer of suster of neef of niggie? As jy op ’n plek is waar niemand jou ken nie, of waar niemand gevra kan word nie, is jy niemand … is jy wie jy sê jy is. En niemand – kan van vooraf begin.

[Selfs al het jy paspoort, identiteitsboekie, bankkaarte en ander persoonlike dokumentasie, as jy op ’n plek is waar niemand jou ken nie, is jy niemand.]

* * *

Tom Cruise se karakter in Vanilla Sky: “What is the answer to 99 out of a hundred questions? Money.”

______________________

Fokkol om te sê – godsdiens en identiteit

VRYDAG 14 JANUARIE 2005

10:13

Verbeel jouself jou kop word van agter afgekap met ’n vlymskerp swaard, en jy was in die middel van ’n gedagte – en jy’t geen benul gehad dat daar eens ’n moontlikheid was dat dit kon gebeur nie.

11:42

“Private property is the root of all evil! Abolish all private property, and you will have started on the road to a more just, classless society!” was heel moontlik ook ’n “epiphany – a sudden striking understanding of something”.

14:39

Die skrywer staan by die antieke kassie en krap woorde met ’n blou pen in sy notaboek. Hy is bewus daarvan dat sy huidige selfbewussyn die … idee insluit dat hy gereeld by die kassie staan en notas maak.

Hy herken die handskrif waarmee hy nou woorde vorm as soortgelyk, indien nie presies dieselfde nie, as die handskrif waarin vorige aantekeninge ook gemaak is.

Die rede hoekom hy nou hier staan – en as die buurman oorkant die stegie sy kop uit die venster steek en maak asof hy net die wêreld bespied, sou dit ook aan hom voorkom asof die skrywer hier staan en doen wat hy altyd doen – is egter nie om ’n insig te noteer nie. Hel, hy’s skaars bewus van homself as die Groot Noteerder, die selfaangestelde Sekretaris van Insigte! (Al waarvan hy tans, Vrydag 14 Januarie 2005 om 14:39, bewus is, is dat hy ’n mens is, effens koud kry, effens honger is, lus is vir nog ’n sigaret, en nie lus is vir drie ure se klasgeëry later vanaand nie.)

Wat sy hand geforseer het na hierdie notaboek, die primêre motivering om ink te spil oor ’n bladsy onbevlek tot enkele minute gelede, die oorsaak vir hierdie daad nie werklik eerbaar of eens sinvol nie – en sekerlik sal dit interessant wees om later die redes hiervoor uit te sorteer – is die feit dat hy op hierdie oomblik absoluut fokkol het om te sê.

19:11

Die groot probleem met “waarheid” is dat die grootste bron van waarheid, tradisioneel gesproke, religie is – en religie is ook een van die grootste bepalers van identiteit. Hoe kan religie beide ’n draer wees van universele waarheid, en van spesifieke identiteit?! [Is dit hoekom sendelinge glo dat identiteit ook min of meer universeel moet wees? Hoekom, as byvoorbeeld die Hindoe homself bekeer tot die Christelike religie, hy tot ’n groot mate moet verwesters?]

______________________