31 DESEMBER 2004

Presies een jaar gelede het ek in ’n ander vertrek in hierdie woonstel gesit en gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n laaste stuk van die jaar te skryf eerder as om te gaan dronkraak in die stad saam met ander buitelanders. Ek het geskryf (en sou meer daaroor geskryf het as ek nie tog aan die einde ’n paar biere gaan wegkap het nie) van planne wat gekom het, en planne wat nog gaan kom, van literêre projekte, idees waarmee geld gemaak kan word … en van die toilet wat water drup in die emmer onder die pyp.

Dis Vrydag 31 Desember 2004, om drie minute oor een op ’n winterige middag. Die rede hoekom ek so vroeg al begin om hierdie stukkie teks te produseer, is omdat ek vanaand by my vriendin N.S. se Nuwejaarsparty ’n verskyning gaan maak, en derhalwe nie rondom die middernaguur agter my rekenaar gaan sit met my vingers plegtig hangende bokant die sleutelbord nie – soos ek soms reken dit ’n besete, of obsessiewe skrywer betaam.

Hierdie is dus, benewens die lys wat ek besig is om saam te stel in my notaboek oor die dinge wat definieer wat mens is of wil wees, die laaste teks wat ek hierdie jaar gaan produseer. (Sekerlik is daar nog ’n paar ure oor voor ek my twee klasse moet gaan aanbied, maar ek het die gek idee gekry om die vloer plek-plek met ’n besem by te dam, en die oppervlakke waar ek ornamente en boeke uitstal met ’n verestowwer op te kikker. En siende dat hierdie tipe aktiwiteit onnodiglik lank uitgerek kan word met smoke breaks en nog meer aantekeninge oor definisies en etikette van menslike bestaan, reken ek tyd vir sit agter die rekenaar tydens hierdie spesifieke kalenderjaar is … getel.)

Die jaar 2004 was goed; en indien nie altyd goed nie, meestal bevorderlik vir goeie dinge.

Volgende jaar? Wie weet wat niemand kan weet nie? Aardbewings, tsoenamis, siektes en oorlog; inkomstegenererende bedrywe, en dan bedrywe wat goeie resultaat van ’n ander aard sal bewerkstellig; lekkende pype in die badkamer, nuwe rekenaars en onvergeetlike movies; die beste pizza wat ek ooit in my lewe gehad het, nuwe teorieë, en nog gedigte wat nie altyd rym nie; baie geld, min geld, wasgoed, skottelgoed, gebreekte TV’s en wasmasjiene wat een van die dae gaan breek; CD’s wat oor en oor geluister gaan word, voëls wat buite klets, en vlermuise wat gaan wonder hoe hulle weer by my kombuis gaan inbreek; fietswiele wat gaan pap word op die mees ongeleë tye, nuwe tegnologiese ontdekkings, medisyne wat mense wat gedink het hulle gaan doodgaan, beter gaan maak, en lank uitgestelde besoeke aan die tandarts; koffie saam met vriende, twaalf kilogram vet wat amper oornag gaan verdwyn, en duur Amerikaanse sigarette wat vir dae of weke op die Seven Eleven se toonbank gaan wag vir iemand anders om hulle te koop; dae en nagte wat gespandeer gaan word in diepe bepeinsing, vrae, antwoorde, gemeenskap, samesyn, liefde …

Mag lesers en skrywers, en tandartse en ingenieurs en bediendes en besigheidsmense, en susters en broers en ouers en kinders en ander familie en vriende ’n volgende jaar geniet wat bevorderlik is vir ’n goeie bewussyn, en vir meestal goeie eindresultaat van hul lewens.

Mag 2005 ’n goeie jaar wees. En so ook 2006, en 2007, en 2008, en … as jy ’n goeie patroon gevestig het, hoekom dit versteur?

____________________

Nog ’n jaar – bobbejaan spanner

VRYDAG 31 DESEMBER 2004

Aantekeninge ter afsluiting van nog ’n jaar

Neem jouself waar – versamel data – konfronteer jou gegewens – definieer wie jy wil wees, waar, met wie, watse rol jy wil vervul, en watse resultate jy van jou bestaan wil agterlaat.

* * *

Maak ’n bydrae tot die proses wat ander in staat sal stel om gelukkige, produktiewe, vervullende lewens te lei, en om te streef na goeie resultaat.

* * *

Hoeveel van wat ons doen is werklik keuse, en tot watter graad word ons gedring deur kragte binne ons wat ons nie so mooi kan vasvat met frases soos “vrye wil” nie?

* * *

Gedagte van gisteraand op pad na die Carrefour: Writing has, in the end, outmanoeuvred, outsmarted, outgunned, and outlasted every other possibility of what I had ever wanted to do with my adult life.

* * *

Bobbejaan spanner in die een hand, pen in die ander, herinner ek myself daaraan dat as mens aandring daarop dat ’n ou woonstel in ’n werkersklasbuurt help om te definieer wie jy is en wil wees, mens nie te veel moet kla as jou pype verstop raak, of disintegreer nie.

Siende dat ons op hierdie onderwerp is, en siende dat ek beplan om hierdie nota die laaste te maak van die huidige literêre projek, wat anders as woonplek definieer wie jy is, of wie jy wil wees?

Ek sou sê, die musiek waarna jy luister; hoe jy geld verdien; wat jy doen – kan ek maar die bobbejaan spanner gaan bêre? – wat jy doen as jy nie besig is om geld te verdien nie; die klere, en moontlik juweliersware, wat jy dra; of jy ’n motorkar het, en indien wel, watse tipe kar; indien jy nie ’n kar het nie, op watter wyse jy rondbeweeg as jou bestemming te ver is om te stap; mense met wie jy sosialiseer; hoe gereeld jy sosialiseer, waar, en wat julle doen (suip, dans, visvang, kegelbal of ander moontlikhede); wat jy eet, en wat jy nie eet nie (pizza, bier en oliebolle elke dag sal iets sê van wie jy is en wil wees – of nie omgee om te wees nie; ’n vegetariese leefstyl sal iets ander sê); hoe goed jy daarin slaag om in jou eie behoeftes te voorsien, spesifiek wanneer jy dit vergelyk met die standaard van die gemeenskap in wie se midde jy jouself bevind op ’n daaglikse basis (om byvoorbeeld drie keer per dag mieliepap sonder suiker te eet in ’n gemeenskap waar meeste mense gewoond is aan drie gebalanseerde etes per dag, sal benewens gevolge vir jou gesondheid ook sekere implikasies hê vir jou selfbeskouing); as jy so vooruitstrewend is om soms op vakansie te gaan, waarheen jy gaan, vir hoe lank, saam met wie, en wat jy doen terwyl jy op vakansie is; jou aktiewe belangstellings (sluit aan by wat jy doen as jy nie besig is om geld te maak nie); of jy rook, of ander tabakprodukte gebruik, en indien wel, watse tabakprodukte (sigarette, sigare, pyp) en selfs watter handelsmerk; of jy dwelms gebruik en indien wel, watse dwelms, waar, saam met wie, hoe gereeld, en in watse hoeveelhede; in watter dorp, stad of land jy woon, en ook hoe lank jy al daar woon, en hoe gereeld jy verhuis (indien enigsins); (en uiteindelik, na dertien ander items) of jy getroud is, en indien wel, wie jou huweliksmaat is (en selfs tot ’n mate, hoe jou huweliksmaat se antwoorde op hierdie lys vergelyk met jou eie); of jy/julle kinders het of nie; indien jy ongetroud is, of jy tans in ’n intieme verhouding betrokke is; indien nie, vir hoe lank jy al enkellopend is; indien jy wel in ’n verhouding is, hoe lank jy al betrokke by hierdie persoon is, en selfs hoe gereeld jy in soortgelyke verhoudings was tydens jou volwasse lewe; of jy steel, of jouself skuldig maak aan ander onwettige gedrag; indien wel, watse kriminele gedrag, en hoe gereeld; of jy ooit betrokke raak in fisiese konflik; indien wel, met wie, om watter redes, hoe gereeld, en waar; of jy bystand lewer aan ander wat hulp benodig; indien wel, aan wie jy bystand lewer, hoe gereeld, en watse persentasie van jou tyd en geld opgeneem word deur hierdie bystand; indien jy geen tyd of geld spandeer om bystand te lewer aan jou medemens nie, watse redes jy sou gee daarvoor; (word vervolg …)

______________________

Die lys van die laaste Woensdag van 2004

WOENSDAG 29 DESEMBER 2004

Vir my was hierdie nie die tipe jaar wat mens vul met paniek dat jy nie genoeg gedoen het nie. Ek meen, mens kan nooit alles doen wat jy wil nie, en in daai sin kon ek sekerlik meer gedoen het … maar ek is tevrede met wat ek wél gedoen het, en waarmee ek kan voortgaan sodra ek die kalender agter my deur omgeruil het.

Hier volg dus nou ’n lys van projekte waaraan ek tans werk, of waaraan ek gewerk het gedurende die afgelope twaalf maande. Hierdie projekte word hier gelys nie bloot om meer as drie dinge te noem na so ’n … amper sinnelose en onnodige inleidingsparagraaf nie, maar omdat ek graag hierdie projekte wil afhandel, en deur die titels van die projekte prominent voor my te sien, sal my dalk herinner daaraan dat hulle nog nie volbring is nie.

Dit moet ook genoem word dat dit toevallig is dat ek hierdie lys maak aan die einde van hierdie jaar. Dit het meer te make met die feit dat ek twee weke gelede ’n reuse hersieningstaak afgehandel het en sedertdien effens verlore agter my rekenaar gesit en card games speel het, as met die feit dat dit altyd handig is om ’n lys van hierdie aard op te stel as die dae op die huidige kalender in ’n hoek gedryf word.

Die lys:

Bullets een tot vier: […]

Bullet vyf: Die drie volumes van die afgelope twee jaar se hoof literêre projek moet geproeflees word, dan hersien word, weer geproeflees word, weer hersien word, omgeskakel word in PDF of HTML-formaat, en gebrand word op CD-ROM.

Bullets ses tot tien: […]

(Amper vergeet ek …)

Bullets elf tot veertien: […]

Slotgedagte

Sommige mense vra hulself gereeld, “Wat moet ek met my lewe doen?” Min besef dat dit tot ’n groot mate gereduseer kan word tot die letterlike en figuurlike volgende paar ure.

Dis nou Vrydagoggend 31 Desember 2004 om 01:34. Ek sal binne die volgende 26 minute gaan slaap, en hopelik nie later as nege-uur opstaan nie. Dit sal my ’n uur gee om koffie en kos in my maag te kry, en ’n bietjie TV te kyk. Daarna sal ek ongeveer vyf en ’n halwe ure tot my beskikking hê waartydens ek geen afsprake sal hê nie, voordat ek moet begin gereed maak vir my twee klasse.

Nou, ek kan byvoorbeeld besluit om niks te doen tydens daai vyf en ’n halwe ure nie, waarop lê op die rusbank en kyk TV vir alle praktiese doeleindes sal neerkom. Ek kan ook besluit om te werk aan enige van die items op my lys.

Die herhaling op ’n gereelde basis – indien dan nie altyd as ’n daaglikse roetine nie – van wat ek ook al besluit om later vandag te doen voordat ek my woonstel moet verlaat om kos- en huurgeld te gaan verdien, konstateer dan in die groter beskouing van dinge wat ek met my lewe doen – siende dat ek my inkomstegenerende werk sien as net ’n noodsaaklike maatreël om te kan oorleef.

Dit illustreer die waarde van al die items op die lys: die kreatiewe werk is vir my van allergrootste belang – dit is op hierdie stadium wat werklik waarde aan my lewe gee, en wat ek graag as resultaat van my lewe wil agterlaat. Die studie is vir my ’n uitdaging. As ek my onderwerp tot op ’n sekere vlak kan bemeester, sal dit vir my bepaalde satisfaksie gee. Dit sal my ook in staat stel om beter te funksioneer in die omgewing waarin ek woon en werk. Met die besigheidsidees beplan ek om my kreatiewe natuur te benut vir finansiële gewin, om myself in staat te stel om sekere ambisies en begeertes, wat amper altyd geld kos, ’n redelike kans te gee op verwesenliking. Kommersiële ondernemings sal ook, indien suksesvol, ’n leefstyl moontlik maak wat ek vir myself gedefinieer het as goed – of afhangende van die graad van sukses en wat dit moontlik sal maak, buitengewoon.

(klaar: dertien minute oor donker twee)

____________________

Om te word wat jou sal bring waar jy moet wees

WOENSDAG 29 DESEMBER 2004

Feit is, ek funksioneer nou beter as ’n mens as wat vier jaar gelede die geval was. Ek is meer bewus van die Reëls van die Spel, en ek het geleer hoe om volgens die reëls te speel sonder om myself te verloën. Ek is meer oortuig van my relatiewe waarde in die Breë Gemeenskap, en dan spesifiek ook in die Gemeenskap van Partikulêre Taal en Kultuur waaraan ek verbind is met die spreekwoordelike naelstring. Ek is meer oortuig van wie ek is, en ook van wie ek wil wees. Ek verstaan meer van waar ek vandaan kom, asook wat die waarde daarvan is vir die beantwoording van vrae oor wie ek is en waarheen ek op pad is. Ek verstaan ook die redes en motiverings vir hierdie spesifieke toekomsvisie. Ek is derhalwe meer oortuig van my plek in die Groter Wêreld, en meer oortuig van my eie self as ek in ’n plaaslike kroeg of eetplek instap, of arriveer by ’n braai. Laastens, omdat ek nou ’n bietjie Chinees kan lees en praat, kan ek beter funksioneer in die partikulêre omgewing waar ek elke dag woon en werk as wat die geval was ’n paar jaar gelede.

Dit is uiteindelik so prakties soos die verskil tussen ’n fietswiel wat probleme gee, en een wat werk soos hy veronderstel is om te werk. Enige een wat al ooit fiets gery het, sal die verskil kan waardeer tussen ’n wiel met gebreekte speke, ’n deurgeloopte buiteband en ’n lekkende binneband, en ’n wiel met nuwe speke, ’n nuwe, goeie kwaliteit buiteband, en ’n splinternuwe binneband. Die een is doodgewoon beter. Die een is eenvoudig meer geskik om jou te bring waar jy moet wees.

______________________

Steurnis van die telefoon – twee gedagtes

DONDERDAG 23 DESEMBER 2004

Steurnis van die telefoon …

Telefone kan baie steurend wees. Ek sit agter my rekenaar, half-elf in die aand, en die telefoon lui. Ek was rustig besig met my eie gedagtes, kouend aan ’n tandestokkie … maar nou moet ek skielik ’n verskyning maak, en ’n gesprek voer, en persoonlikheid vertoon, ensovoorts.

Ek dink dis heeltemal redelik om nie die foon te beantwoord as ’n sosiale verskyning jou nie pas nie. As jy dan weet wie gebel het, kan jy eenvoudig die persoon terugskakel op ’n tyd wat jou beter pas. En as dit die betrokke persoon nie dan pas nie, kan hy maar weer dieselfde doen, tot julle mekaar op ’n geleë tyd vang.

[Hoe groter gaping tussen jou privaat self en jou sosiale self, hoe groter jou irritasie daarmee om gepla te word wanneer jy alleen is.]

DINSDAG 28 DESEMBER 2004

Die punt van die gedagte

Die punt aan die einde van die gedagte wat in my kop gebroei het in dele drie en vier, is dit: wie jy wil wees, en die rol wat jy vir jouself gedefinieer het, moet nie net versoenbaar wees met die wêreld waarin jy leef nie, maar moet ook nie die vervulling van jou emosionele en fisiese behoeftes ondermyn nie. Indien hierdie noodsaaklike balans tussen wat jy vir jouself gedefinieer het en wat jy moet wees en doen om te oorleef nie gehandhaaf word nie, is wie jy wil wees, en die rol wat jy vir jouself gedefinieer het, nie volhoubaar nie.

Een van my gunsteling ontwakings van die jaar is die gedagte dat om te weet wie en wat jy “werklik” is, nie die einddoel en -strewe is nie, maar dat dit ’n middel is tot resultaat van jou bestaan – en dan hopelik goeie resultate.

______________________