Die nuwe dag

DINSDAG 9 NOVEMBER 2004

Die brein is soos ’n rekenaar – die eerste paar minute na jy hom aangeskakel het in die oggend, word die files en programme wat die vorige aand ook aktief was, weer stadig geaktiveer. Na ’n paar minute maak ’n bekende karakter weer sy of haar verskyning: jy’s weer van voor af skaam oor dieselfde insident as die vorige aand (omdat die “program” wat jare gelede geïnstalleer is, natuurlik weer geaktiveer is om “skaamte” te stimuleer); jy’s weer opgewonde oor dieselfde dinge; jy’t dieselfde drome, dieselfde ambisies, en dieselfde oortuigings. Sekere onsekerhede, verleenthede en angstighede het dalk wel ’n bietjie gaan lê, maar jy’s in wese dieselfde mens.

Kan dit dus steeds gesê word dis ’n nuwe dag? Soos ek hierdie woorde sit en skryf, is dit “Dinsdagoggend” om “08:06”. Ek het nou net ontbyt geëet. Dis redelik vroeg in die oggend, en tog is dit dertien en ’n halwe ure later as my aandete “gisteraand”.

Janis Joplin het eenkeer gesê (of geskree), “Because as a matter of fact, as we discovered on the train, tomorrow never happens, man! It’s all the same fucking day, man!”

Tog, die idee van ’n nuwe dag is veels te waardevol om te laat vaar op ’n tegniese punt. Elke nuwe Tydseenheid van Daglig gevolg deur Donkerte bied etlike moontlikhede wat nooit onderskat kan word nie: geleenthede om droog te maak, geleenthede waar jou lewe in gevaar kan wees, geleenthede waar jou lewe in een oomblik kan eindig … en geleenthede om op te hou om rond te fok, en op ’n beter pad te klim as die een waarop jy sover rondgedrentel het.

’n Nuwe dag dan – al is dit net omdat dit meer poëties klink – wag op my, en op jou …

______________________

Notas oor die materiaal en die karakter

WOENSDAG 3 NOVEMBER 2004

Nota oor die hoofkarakter

Teen teen die tyd wat mens kom by “Persoonlike Agenda, BOEK DRIE” gaan die materiaal nie meer oor my nie – dit gaan oor ’n karakter. Hierdie karakter se naam is “Brand Smit” – selfde as myne, en sy storie stem toevallig 100% ooreen met my lewe. Die leser sien egter teen hierdie tyd die karakter, “Brand Smit”, op maniere wat beïnvloed word deur hul eie identiteite en agendas, en nie presies soos ek, as “skrywer”, die karakter beskou nie.

DONDERDAG 4 NOVEMBER 2004

Oor die materiaal onder oë

Vele vrae moes beantwoord word in die ontwikkeling van my gekose rol as skrywer: In watse genre wil ek skryf? Waaroor wil ek skryf? Hoe wil ek my materiaal beskikbaar stel aan die leser – gedrukte vorm, CD-rom, Internet? Indien boekvorm, wil ek dit self publiseer, of gaan ek dit stuur na uitgewers tot iemand dit “goedkeur”? Ook, watse doel wil ek dien met my materiaal? Wil ek mense vermaak, of vir hulle preek? (My keuse is om lig te werp op sekere aangeleenthede wat meeste mense raak op ’n persoonlike vlak.) Wil ek geld verdien met my materiaal? Anders gestel, hoe belangrik is finansiële kompensasie vir my skryfwerk, wat natuurlik inhoud, styl, genre en wyse van publikasie sal beïnvloed?

______________________

Notas vir ’n INLEIDING

DINSDAG 2 NOVEMBER 2004

Skrywers stuur die materiaal wat hulle in privaatheid produseer die wêreld in om verskeie redes. Hulle verwoord ook die gedagtes wat uiteindelik manifesteer as die leesstof wat in boekwinkels en op bedkassies opeindig, in verskeie genres waarmee lesers min of meer bekend is. Gedigte, romans, kortverhale, artikels, essays, en meningskolomme in plaaslike koerante is enkele voorbeelde van hierdie literêre tipes.

Ek, as beide leser van ander se materiaal en verwoorder van my eie gedagtes op papier, is bekend met bogenoemde genres. Die gedig, kan ek seker in eerlikheid erken, is ’n literêre tipe waarvoor ek heelwat sentiment koester. Die (gewoonlik) kort lengte van die gedig, die manier hoe elke woord en elke reël saak maak, die uitdaging om wat jy wil sê, te sê terwyl jy tred hou met ritme en rym, maak die gedig ’n uitsonderlike uitdaging. Ander skrywers verkies die roman – die langer verhaal, met sy karakters, sy milieu, sy dramatiese insidente, begin, middel, ontknoping en dies meer. Kortverhale is ’n medium wat ek meer aanloklik vind. Een van die aspekte van die kortverhaal wat my immers die meeste aantrek, is die kort aard daarvan – jy begin, jy skryf nog ’n paar bladsye, jy eindig, en jy begin die volgende een (om dit eenvoudig te stel). Meningskolomme het ek nog nooit geskryf nie. Artikels het ek al probeer skryf, maar ek het nog nie verder gevorder as die tweede opdrag van ’n skryfkursus waarvoor ek ingeskryf het drie jaar gelede omdat ek steeds sukkel om met vyf onderwerpe vorendag te kom waaroor ek artikels wil skryf. Die essay is ’n genre waarmee ek gemaklik geraak het die afgelope paar jaar. Essays kan kort wees – so min as 500 woorde, of dit kan aangaan vir bladsy na bladsy sonder om noodwendig ’n bevredigende konklusie te bereik (bietjie jammer vir die leser, maar nou ja).

Die literêre uitdrukkingsvorm wat my die meeste aanstaan, is die geskrewe nota. Die nota is onmiddellik. Titels is luukshede waaroor mens veel later eers besin. Die klem is op vars uitgedrukte idees. Soms sal enkele ure verbygaan voordat ’n gedagte dit maak tot op papier. Soms word die vertraging tussen gedagtevorming en gekrap in potlood of ink getel in sekondes. Natuurlik sal die soms rowwe bewoording van gedagtes en emosies later ’n bietjie gepolitoer word. Paragrawe, opskrifte en ander formaliteite van literatuur stuur uiteindelik die voormalig rowwe gekrap die wêreld binne soos ’n boemelaar wat skoongeskeer, en in nuwe klere gereed is om vir die kameras te glimlag.

Mens word gereeld herinner daaraan dat ander mense nie juis belangstel in jou persoonlike wroegings en dagboeknotas nie. As boekentrepreneur moet ek ook die verskil in verkope oorweeg tussen genres waarmee meeste lesers bekend is, en die meer obskure tipes. Die nota mag dalk ’n handige formaat wees wanneer jy onmiddellik uitdrukking wil gee aan gedagtes wat hulleself aan jou voordoen, maar die genres wat blykbaar deur meeste lesers verkies word, is romans en kortverhale. As jy dan meen jy’t iets om te sê wat jy nie soos ’n H.G. Wells of ’n George Orwell kan verwoord in ’n verhaal nie, is die essay gewoonlik die voorkeur keuse.

Wat my by ’n tegniese kruispad bring: Gaan ek die geskribbel in my laaste paar notaboeke hergiet in die vorm van opstelle, wat die boek waarvan dit deel gaan uitmaak, ’n beter kans sal gee om daai droom verkoopsyfer van ’n hele dosyn kopieë te haal, of gaan ek bloot die notas politoer tot ’n meer verteerbare styl, en dit die buitewêreld instuur naastenby soos dit oorspronklik my binnewêreld betree het – wat moontlik die verkoopsyfer sal afbring na ’n meer beskeie twee of drie kopieë?

Ek sê, laat die woorde vir eers staan soos dit is.

______________________

Kort opstel oor die kloof van onortodokse sienings

DINSDAG 2 NOVEMBER 2004

Dis heeltemal te verwagte dat die onverbonde enkeling iemand sal soek met wie hy sy solitêre bestaan vir ’n wyle – as dit dan nie beter kan wees nie – kan ophef. ’n Ryk verskeidenheid van probleme verhoed egter soms die bestes onder ons om die kloof oor te steek tussen Ek-op-my-eie, en Ek-saam.

Onortodokse sienings oor die lewe, die mens se bestaan, wie en wat ons is, godsdiens, politiek, en wat mense doen met ten minste agt ure van elke weeksdag, is een van hierdie faktore wat die sprong oor die kloof inhibeer.

Die skrywer van hierdie nota is, soos een of twee lesers moontlik al teen hierdie tyd agtergekom het, een van die miserabele siele wat glo sy eie oortuigings is so ongewoon dat mense wat hom nie sy hele lewe lank al ken en tot ’n mate vrede gemaak het met die woorde wat gereeld oor sy lippe vloei nie, so verskrik sal wees deur hom dat hulle al gillend sal hardloop na die naaste bus- of treinstasie om so vinnig as moontlik afstand te bewerkstellig tussen hulleself en hierdie vreemde kreatuur.

Soos enige miserabele leuenstoel-filosoof wat sy sitplek werd is, plaas ek natuurlik die blaam op ander se kortsigtigheid – as mense net bietjie die gange van hul eie verstand wil verbreed, die vensters miskien oop wil beur, en hier en daar ’n alternatiewe deur wil oopmaak, sal ek nie kan bybly met al die sosiale afsprake nie.

Dit is dan ook so dat ek myself bevind in ’n omgewing waar potensiële vroulike metgeselle in twee hoofgroepe verdeel kan word: vrouens wat in Taiwan gebore is en hier grootgeword het, en vrouens wat in Westerse lande gebore is en daar grootgeword het. Laasgenoemde kom in werklikheid, vir my eie doeleindes, neer op vrouens van my eie land, en meestal van my eie taal en kulturele agtergrond.

Daar is een belangrike verskil tussen Taiwannese en Afrikaanse kandidate, wat my persoon aanbetref: my onortodokse sienings, en my leefstyl waarin hierdie sienings ’n daaglikse tasbare werklikheid is, is ’n meer pertinente onderwerp van gesprek met laasgenoemde groep. Dit is in vele gevalle byvoorbeeld makliker om weg te kom met my spesifieke godsdienstige oortuigings met ’n Taiwannese vrou wat self óf geen duidelike godsdienstige oortuigings het nie, óf wat haar eie mengsel volg van meer as een godsdiens, as met ’n Afrikaanse vrou wie se identiteit en wêreldbeeld heel waarskynlik gevorm is in ’n Calvinistiese huishouding.

Ook die omgewing wat Taiwan is, is bevorderlik vir my om voltyds “skrywer” te wees, en deeltyds steeds ’n goeie inkomste te verdien as “English teacher”. Suid-Afrika, wat altyd ’n baie sterk moontlikheid is as omgewing waarheen ek sal terugkeer met ’n vroulike metgesel met wie ek ’n taal en kultuur deel, is ietwat meer onvergeeflik; of die uitdaging om dinge in Suid-Afrika vir my te laat werk soos in Taiwan, is veel meer ingewikkeld.

My sogenaamde onortodokse sienings kom amper altyd ter sprake met Afrikaanse vrouens, in ’n taal waar ek nie kan wegkruip agter gebrekkige woordeskat of swak uitspraak nie, en in terme en implikasies wat ek wéét, ons albei alte goed ken en verstaan. Om ’n vrou van my eie taal en kultuur te ontmoet met wie ek my sienings en oortuigings kan deel sonder inhibisie, is derhalwe ’n uitdaging van ’n uitsonderlike moeilikheidsgraad.

Dit kan gesê word dat ek nodig het een van twee tipes vrouens in my lewe:

* ’n vrou wat onbewus is van presies waarin ek glo; of

* ’n buitengewone vrou wat my oortuigings en persoonlike politiek verstaan, en breed genoeg kan dink om te kan sê: “Ek stem nie noodwendig saam met alles nie, maar ek hou van jou.”

______________________

Enige iemand vergeet – ek is ryk

SATERDAG 23 OKTOBER 2004

Vir as enige iemand vergeet het

Ons het nodig om te funksioneer, en om dit te kan doen het ons inligting nodig – wie ons is, wat ons is, wat ons nodig het, wat ons wil hê, en wat ons moet en mag doen om te kan kry wat ons nodig het en/of wat ons wil hê.

Ons moet ook ’n omgewing skep, of ons deel bydra in die skepping van ’n omgewing, wat bevorderlik is vir ons om te word wat ons wil wees.

Hierdie proses van “word” moet egter nie beperk word tot mense wat net hul eie agendas dien nie, wat net hul eie behoeftes en begeertes najaag nie. Die deelname van individue in ’n groter proses wat gemik is op ’n resultaat waarby meer as net ’n enkele persoon of ’n handvol individue sal baat, moet altyd opreg en aktief aangemoedig word.

Hoekom? Vir een rede, soos jy bydra tot die verbetering van iemand anders se omgewing, so dra iemand anders by tot die verbetering van joune. Ons deel ook omgewings, beide in die groter sin van die woord en in ’n meer plaaslike sin. As ons almal bydra tot die verbetering van ons gemeenskaplike omgewings, trek ons almal individueel voordeel daaruit.

MAANDAG 1 NOVEMBER 2004

Ek is ryk – tot my pap weer op is

Almal weet hoe belangrik dit is om rykdom te meet … of dan almal wat ernstig is oor geld (is daar nog mense wat simpel genoeg is om nie ernstig te wees oor geld nie?).

Verskeie maatstawwe word dan ook benut om rykdom te bepaal: die tipe motorvoertuig waarin mense rondrits; die hoeveelheid motorvoertuie waaroor die persoon beskik; die hoeveelheid toilette wat iemand in sy of haar woonplek het om van te kies wanneer noodsaaklike besigheid druk; die hoeveelheid kere per jaar wat mens oorsee gaan, en in watter klas sitplek jy jou agterstewe in neerplak op die vliegtuig; die kwantiteit en kwaliteit klere wat mense het om oor hul naaktheid te drapeer; blink stukkies wat mense aan hul ledemate hang, en so kan jy aangaan.

Ek, soos mens kan raai, is ook baie ernstig oor geld. (Hoekom anders sal ek hierdie stukkie teks produseer?) Maar van wanneer af word mens nie ernstig opgeneem met finansiële sake as jy jou rykdom meet aan die hoeveelheid bokse ontbytpap in jou kombuis nie? Ek meen, weet enige een met drie karre en sewe toilette en ’n snyerspak en ’n goue horlosie hoeveel kos Amerikaanse muesli deesdae? En ek besit ten minste vier bokse daarvan!

______________________