ERKENNING & VERSKYNING

[Die leser mag dalk wonder wat die doel is van die enkele notas oor middagetes en Saterdagaandbraais waar dieselfde misterieuse jong vrou toevallig elke keer teenwoordig is. Behalwe dat ek hoop om die teks bietjie op te kikker met die idee dat ek nie ’n vleeslose skim is wat heeldag agter sy rekenaar of notaboek deurbring nie, is hierdie stukkies teks onlosmaaklik verweef met die meer intellektuele aangeleentheid van … ERKENNING en VERSKYNING]

——————–

DINSDAG 30 NOVEMBER 2004

Nota I: Die SKRYWER se klagte

Ek is in ’n situasie waar ek twee 25-jarige dames bevriend het, met die oog op romantiese avonture met een van die twee. My klagte is dat ek glo ek verskyn nie soos ek graag wil verskyn nie.

As wie en wat sal ek wil verskyn? As … (dromrol) … die Skrywer.

WOENSDAG 1 DESEMBER 2004

Nota II: Die insig tref

02:40

Solank ek “ongepubliseerd” is, kan ek nie erkenning kry vir die belangrikste werk wat ek gedoen het die afgelope tien jaar nie, en kan ek derhalwe nie verskyn aan ander (lees: ’n vrou tot wie ek aangetrokke is) soos ek myself sien nie.

08:32

In ander woorde, ongepubliseerd beteken geen erkenning, beteken onakkurate of gebrekkige verskyning.

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

Nota III: Die insig tref met groter impak

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê. Wat is so eenvoudig in my geval? Die konneksie tussen ERKENNING en VERSKYNING!

Ek kan nie glo ek het dit nie vroeër al opgelet nie! Dit spreek ook boekdele dat erkenning iets was wat ek met suspisie bejeën het, want dit sê “behoefte” en “ander mense” en doen dinge sodat mense X, Y, of Z moet dink van jou.

Tog, as jy nie erkenning kry vir jou belangrikste werk nie, kan jy nie verskyn soos jy jouself sien nie. Dis so eenvoudig dat mens onnosel moet wees om dit nie te begryp nie! (En ek is bekend daarvoor dat ek op die beste van tye ’n bietjie stadig kan wees …)

Die vraag wat noodwendig dan by jou opkom, is waarvoor wil jy erkenning ontvang?

______________________

Om neer te sien op die kinders: ’n tirade

MAANDAG 29 NOVEMBER 2004

Daar’s lede van verskillende groepe mense wat neersien op die sogenaamde massas. Daar’s dié in posisies van politieke mag wat die massas sien as “kinders” waarvoor die politieke leier, as “ouer”, verantwoordelikheid aanvaar. Dan’s daar sommige geleerde mense wat neersien op die massas as meestal onkundig oor sake wat nie hul daaglikse bestaan raak nie. In die derde geval is daar sommige ryk mense, wat die massas sien as kleinburgers wat hul klein lewens leef in onkunde van hoe goed die lewe kan wees – mits hulle slim genoeg of gelukkig genoeg kan wees om uit hul klein wêreldjies te breek.

Daar is sekerlik baie mense wat ’n probleem het met snobistiese individue, of enige iemand wat neersien op sy of haar medemens, wat ook al die motivering. Ek glo elke geval moet op sy eie meriete beoordeel word.

Daar is wel een geval waar minagting baie glad en amper outomaties uit my mond gly, en dit is vir die volwasse kinders van sommige ryk mense, en vir die volwasse kinders van sommige politici. Van hierdie individue het niks, absoluut fokkol, gedoen om hulle posisies in die samelewing te verdien. Hulle sien neer op die massas wat struggle van dag tot dag, en verwag om gerespekteer te word deur die diensknegte en diensmaagde wat agter hulle skoonmaak en hulle hoflik bedien van borde vol uitsoekkos … waarvan hulle nie een grieseltjie verdien het nie!

Hulle sien neer op mense laer af op die sosio-ekonomiese skaal, en het die verwaandheid om te verwag om gerespekteer te word deur hierdie mense. Tog het hulle fokkol gedoen om hulle eie status te verdien!

Ek het niks meer as minagting vir hierdie mense nie. Die politikus wat neersien op die algemene publiek … is ’n onderwerp vir ’n ander stuk teks. Die intellektueel wat na jare se studie kennis en begrip opgedoen het wat hom of haar onderskei van die sogenaamde massas, is in ’n meer regverdigbare posisie. En ek kan selfs van die ryk man of vrou sê wat hul eie geld gemaak het, dat hulle moontlik jare lank gewerk het om te kom waar hulle is, selfs al was geluk heel waarskynlik ook aan hulle kant.

Maar die ryk man en vrou se kinders? Die politikus se volwasse kinders?! Ek sê as hulle gerespekteer wil word, moet hulle werk vir respek!

______________________

Verleë verskynings – “knocks” in jou programmering

DINSDAG 16 NOVEMBER 2004

Verleë verskynings

Ek het vandag by [die skool vir volwassenes] effens verleë gevoel oor hoe ek verskyn het. Dit het alles te make gehad met my uiterlike voorkoms: ou, voos belt, en ’n kakkerige ou kortmouhemp.

Ook hierdie issue kan beredeneer word tot jou belt uiteindelik van jou middellyf afvrot, maar ’n elementêre waarheid bly staan: indien jy, om watter oppervlakkige rede ook al, verleë is oor hoe jy verskyn, vat dit net daai edge van jou selfvertroue af. Die teenoorgestelde is ook waar: as jy goed voel, om watter oppervlakkige rede ook al, oor jou uiterlike voorkoms, dan gee dit jou net daai ekstra boost in selfvertroue.

In ag genome hierdie besonderse insig, wat staan my te doen? Ek moet môre vir my ’n nuwe belt gaan koop, ek moet gaan kyk na ’n paar hemde, en ek moet die knoop vaswerk aan my groen broek.

VRYDAG 26 NOVEMBER 2004

Om die “knocks” in jou programmering te aanvaar, of nie

Die lewenservarings wat aan jou sielkundige “knocks” gee, maak deel uit van jou “programmering” wat bepaal hoe jy funksioneer as ’n volwassene. So het sekere ervarings in my verlede gemaak dat ek ’n patologiese onwilligheid het om vir karakters te werk wat bevele op my skree. Ek weet waar hierdie onwilligheid vandaan kom, en ek klassifiseer dit beslis as ’n “knock”. Dit dra ook by tot die partikulêre programmering van hoe “Brand Smit” funksioneer.

Nou vir die werklike interessante punt: hierdie sogenaamde programmering kan deur terapie verander word.

Wat beteken dit? Dit beteken ek kan ’n sielkundige gaan sien, en na ’n paar maande se “harde werk” sal ek heel waarskynlik ’n vaste betrekking kan aanvaar in ’n korporatiewe omgewing waar ’n poepol wat nie my respek waardig is nie, op my kan gil, en dit behoort my nie te pla nie.

______________________

Nooit te vroeg vir ketterse gedagtes nie

VRYDAG 26 NOVEMBER 2004

08:28

Die probleem met godsdiens as identiteitsbepaler is dat dit konstant moet bly om geloofwaardigheid te behou vir die mense aan wie dit ’n religieuse identiteit verleen. Maar om betekenisvol te bly as bepaler van identiteit, moet die bron van religieuse simbole (religieuse teks, instellings soos “kerk”) soms verander – bietjie vir bietjie, maar steeds tot so ’n mate dat die bron vandag fundamenteel verskil van die bron van 500 of ’n duisend jaar gelede.

Wat gebeur dan wanneer iemand wat ’n partikulêre godsdiens benut vir identiteitsdoeleindes kennis en kritiese begrip bekom van hierdie fundamentele verandering? Een moontlikheid is dat so ’n persoon ’n toestand sal ontwikkel wat genoem kan word, ’n geloofskrisis.

* * *

Siende dat ek sopas opgestaan het en nog nie eens ontbyt geëet het nie, mag mens dalk wonder of dit nie ’n bietjie vroeg is vir gedagtes soos bogenoemde nie. My antwoord is, blykbaar nie – nie as mens die gedagte, formulering en al, gedink het in jou laaste droom nie!

Die droomtoneel het afgespeel aan ’n etenstafel saam met mense saam met wie ek stedelike sendingwerk gedoen het meer as ’n dekade gelede, en ook ander tydgenote van hoërskool. Terwyl ons geëet het – in die eetkamer van die vroeg twintigste-eeuse herehuis wat die hoofkwartier van die organisasie was, was daar ’n helse party aan die gang in die voortuin. Soos ek toe hap aan nog ’n heerlike dis op my bord, kom die gedagte …

08:39

Mense met wie ek in daai tyd baie noue verhoudings gehad het, mag dalk sê dat ek my religieuse identiteit verloën het. Ek is van mening dat ek my religieuse identiteit ontgroei het.

Een so ’n persoon mag dalk verder gaan en met kalm oortuiging sê dat mens nie die waarheid kan ontgroei nie. Ek sal, ewe kalm, reageer: “Ek is steeds toegewyd daaraan om die waarheid te ken. En ek het nie ’n institusie-gedefinieerde identiteit nodig om die waarheid te ken, of na te streef nie.”

———————

[In vele gevalle sal leiers van religieuse bewegings aanspraak maak daarop dat hulle niks verander aan hul religie nie, hulle draai bloot terug na ’n vroeër, suiwerder vorm daarvan. Hierdie verduideliking verseker dat die religie geloofwaardigheid behou as identiteitsbepaler, en dit regverdig ook die veranderinge wat hulle aanbring aan die praktiese uitdrukking van lidmaatskap aan die religie, of dalk selfs aspekte van die teologie, juis om dit toepaslik te hou vir mense met ander religieuse behoeftes as wat mense gehad het 500 of ’n duisend jaar gelede.]

______________________

Dokument 1_181104_2359

Die Sekretaris is moeg vir notas maak, en hy’s moeg vir die hersiening van vorige maande en jare se tekste. Die Sekretaris is fisies moeg, en hy wil gaan slaap, al is dit net 23:38. Drie en twintig … agt en dertig?! Verskyning en waarheid. Identiteit, en mans wat nie baarde mag groei nie omdat die hare sal vashaak in hul selfone as hulle besigheid praat met ander mense wat in kantore werk. Mense is emosioneel armoedig omdat hulle nooit geleer het hoe om op hul eie te wees nie. Die feite, om 23:40 (dubbelpunt) ek het twee hande, tien vingers, ’n sleutelbord onder my vingers wat gekoppel is aan ’n rekenaar wat gekoppel is aan ’n elektriese stroom wat ingebed is in die muur. Ek druk met my vingers op die sleutels, en die resultaat is ’n uitdrukking van my werklikheid om 23:41. Ek is bewus van die feit dat ek nie die sleutelbord is nie. Of miskien is ek, maar ek is groot gemaak met die idee dat ek nie ’n sleutelbord is nie. (Dan weer, ek was nie tien jaar gelede ’n sleutelbord nie. Soos ek dit verstaan, is konstantheid ’n belangrike element in die bewussyn van “ek”. Dit kan derhalwe geargumenteer word dat omdat ek nie tien jaar gelede ’n sleutelbord was nie, ek ook nie nou ’n sleutelbord kan wees nie … hoewel hierdie tipe logika nie gebruik kan word as ek nie, sê nou maar, tien jaar gelede ’n tandarts was nie.) Ek bestaan uit vleis, vel, bene, en bloed. Ek weet van die vleis, want ek het myself al oopgekloof (per ongeluk, nie as ’n eksperiment nie) en gesien dat my vleis soortgelyk is as dié van ander diere wie se vlees ek eet as vleis. Ek weet, vanweë dieselfde oopklowery, dat bloed onder my vel loop. Ek het nog nooit my eie beendere gesien nie, maar ek het al gehoor hoe mense wat weet van hierdie dinge, praat daarvan. Ek het ook al foto’s gesien van gebeendere van mense wat moontlik ook voorheen agter sleutelborde of notaboeke gesit het, maar wat sedertdien hulle vleis en vel verloor het. As ek streel oor my vel, voel ek iets hard onder die oppervlak. Ek vermoed waarmee ek op so ’n geleentheid kontak maak, is inderdaad my eie privaat gebeendere. Hoewel ek ook nog nooit my eie brein gesien het nie, het ek vertroue in die akkuraatheid van die prentjies en tekste wat geproduseer is deur mense wat blykbaar navorsing gedoen het oor hierdie onderwerp, en onteenseglik bewys het dat (meeste) mense ’n brein het. Ek is verder bewus daarvan dat ek vroeër kleiner was. As ek nou daaraan moet dink, kan ek onthou dat ek op ’n stadium so jonk was as drie of vier, en my ma se hand vasgehou het tydens ’n mallemeule-rit. Ek weet verder dat ek in die verlede ook hierdie spesifieke herinnering gehad het. As ek, aan die ander kant, al oud was, kan ek dit nie onthou nie. Dit mag ook wees dat waarna ek verwys as “ek” (met behulp van die sleutelbord onder my vingers) al voorheen bestaan het – en met voorheen bedoel ek voordat ek hierdie mens geword het wat nou agter ’n rekenaar se sleutelbord sit, om 23:55, en wat weet, of glo, dat hy voorheen kleiner was, en sy ma se hand vasgehou het in ’n donker tonnel tydens ’n mallemeule-rit.

Die Sekretaris krap aan sy nek (wat net effens juk, maar hy geniet die sensasie om iets te voel, en derhalwe te weet dat hy lewe). Hy kyk na die vingers wat die aangename sensasie veroorsaak het. Hy sien die netjiese, kortgeknipte naels. Hy sien ook olievlekke op sy regterduim, en stukkies olie onder veral sy regterhand se naels. Die rede hiervoor – weet hy omdat sy brein die herinneringe daarvan gestoor het, saam met al die herinneringe van gebeure van wat hy “gister” noem, en al die dae wat “gister” voorafgegaan het terug tot enkele jare voor hy sy ma se hand vasgehou het tydens die mallemeule-rit (hoewel hy nie veel kan onthou van sy huidige lewe voor die mallemeule-rit nie) – het te make met die feit dat die ou man wat ’n monopolie het op fietsherstelwerk in die buurt, laat vanmiddag gelê en slaap het toe die Sekretaris sy vriendin se blou fiets waarvan die binneband oornag pap geraak het, na die ou man se werkswinkel gestoot het ten einde laasgenoemde te betaal om die band te vervang. Die Sekretaris, nadat hy in beleefde Chinees met die ou man se ongeskikte vrou of dogter deur die agterdeur ’n gesprek gevoer het, het toe sy vriendin se fiets wat sy twee jaar gelede by hom gelos het en wat hy nou al vir ongeveer sewe maande gebruik, teruggestoot na sy woonstel, die fiets staangemaak teen die muurtjie onder die sitkamervenster van die ander ou man wat altyd sit en TV kyk en soms hardhandig sy sitkamervenster toeskuif as hy hoor die Sekretaris het teruggekeer van die dorp af, opgestap by die trappe, sy sleutels uit die Seven Eleven sak gehaal, die deur oopgesluit, sy sandale uitgeskop, en sy boksie met gereedskap gaan haal in die kombuis ten einde self die pap band om te ruil met een wat hy geweet het hy kan kry uit die agterwiel met die gebreekte speke van sy eie geel fiets – wat hy sou verkies het as die speke nie gebreek was nie – wat in die spaarkamer staan saam met sy vriendin, wat twee jaar gelede die land verlaat het, se ander aardse besittings. Hy weet dus waar die sewe oliespatsels op vier van sy regterhand se vingerpunte vandaan kom. Van die fiets af. Wat hom gelukkig gemaak het – dat hy die fiets reggemaak het. Die gele. Sy eie fiets. Hy’t die blou fiets se wiel gevat, die geel fiets se binneband, en ook die geel fiets se buiteband (wat hy verkies omdat dit growwer is), dit alles aanmekaar gesit en dit nie teruggesit aan die blou fiets soos hy aanvanklik gedink het hy sou nie, maar aan die geel fiets – waarmee hy toe na die Engelse gespreksklas gery het om nog R169.81 te verdien. Hy’t gereken, ’n mens behoort dinge te skep, of dan ten minste dinge reg te maak, want dit is nader aan die ware natuur van die mens. So’t hy gereken sal iemand eendag sê: “Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte het eenkeer gesê …” Maar toe onderbreek hy homself en hy dink: Daar is skrywers, digters, essayists, playwrights, romanskrywers, columnists, maar ek is nie werklik een van hulle nie. Ek is ’n Notist, of ’n Notisist … nee, ’n Notist. Toe skryf hy dit neer in sy notaboek wat altyd gereed op die antieke kassie lê: A Notist/’n Noteerder. Toe stap hy die kombuis binne, haal ’n sigaret uit een van die vier pakkies wat op die wasbak lê, steek een aan, en dink: Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte – of dan, die Sekretaris! – het gesê dis nie in die mens se natuur om baie van die werk te doen wat mense doen nie, maar dat dit ook waar is dat 80% van die mense wat hierdie arbeidsposisies vul, mense soos hy se lewens vergemaklik omdat hulle die werk doen wat hulle doen. Hy’t ook gewonder of ’n mens kan sê “die mens se natuur”. Toe dink hy dat beide Charles Manson en Mohandas Gandhi oë gehad het, en dat hierdie oë presies dieselfde doel gedien het. Hulle oë het wel verskillende dinge gesien, in verskillende lande, en op verskillende tye. Dit was dan ook so dat hulle besluit het … of miskien het hulle nie besluit nie, want dit was nie in die eerste plek hul keuse om as Charles Manson of Mohandas Gandhi gebore te word nie, maar siende dat die mens steeds vrye wil het en so aan, kan ’n mens sê dat hulle gekies het om verskillende dinge raak te sien met oë wat nietemin presies dieselfde funksie en merendeels (behalwe miskien vir kleurpigment) dieselfde ontwerp gehad het. Hy dink toe ook dat dit ironies is, in ag genome nou, dat Charles Manson se gekose professie dié was van “musikant”, terwyl Mohandas Gandhi ’n “advokaat” was. Tog reken hy dat hulle albei gebore is met nie net dieselfde ontwerp in oë nie, maar ook dieselfde menslike natuur – wat volgens hom bepaal dat die mens se ware rol en funksie dié is van Skepper, en nie Kantoorwerker nie. Op pad terug van die dorp af, op sy geel fiets met styfgepompte bande, en die Seven Eleven sak nou gelaai met ’n boksie Koreaanse gefermenteerde kool, sop met noedels en twee hamburger patties, ’n plastiekglas vol papajamelk en ’n plastiekglas vol groentee, gaan die Sekretaris voort. Hy dink toe, mense wat administratiewe werk doen, of enige ander vervelige werk wat geen kreatiwiteit vereis nie, maak eintlik ’n opoffering sodat die res van ons nie bekommerd hoef te wees oor die administrasie van maatskappye en instellings en regeringsdienste nie. Nietemin, as ’n mens die vervelige werk wat mense doen net sodat hulle geld kan kry vir kos en klere, maar ook vir gemors wat hulle nie regtig nodig het nie maar wat hulle koop om beter te voel oor hulleself, kan outomatiseer, en kom ons sê 50% van hierdie arbeidsmag kan afdank … gaan dit natuurlik die ekonomie nadelig beïnvloed. Dit is inderdaad so dat ’n mens in allerhande snaakse stegies opeindig as jy wil verander hoe dinge werk. As ’n mens dan miskien hierdie arbeidsmag van mense wat vervelige, nie-dienslewerende, nie-kreatiewe werk verrig kan verplaas na werk waar hulle iets vervaardig, maar ook nie in die sin van rolband-arbeid circa 1925 in ’n Ford motoraanleg nie … beland jy weer in ’n ander stegie, naamlik die feit dat dit hul status in die gemeenskap, en hul beskouing van hulleself nadelig sal beïnvloed. Rede? Die dominante kultuur van die dag gee hoër status aan sogenaamde witboordjiewerkers wat sieldodende arbeid verrig in kantore, as aan mense wat dinge vervaardig met hulle hande. Mense moet inderdaad heropgevoed word! Meeste mense verstaan nie die komplekse vrae rakende die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe nie. Meeste mense bevraagteken ook nie die skewe kultuur waar mense hoër status, en in baie gevalle meer geld kry, as hulle nie hul hande hoef vuil te maak nie. Die Sekretaris verstaan die historiese agtergrond van hierdie ontwikkeling in die ewolusie van die mens as arbeider, maar hy kan nie verstaan dat meer mense nie hewiglik ontsteld raak oor hierdie kultuur nie! Of hy kan ook dít begryp, want meeste mense reken as hulle kan voorsien in hul eie behoeftes, as hulle ’n maat kan vind en ’n familie kan begin en kan voortsit wat aan hulle voorgeskryf word as ’n “goeie lewe”, dan’s alles reg, en vrae oor die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe, grootliks onnodig. Of, indien hierdie vrae steeds geag word as waardevol, word dit nietemin gereken as voldoende om die uitlatings wat gemaak word oor hierdie sake deur iemand soos die plaaslike priester of pastoor, onkrities te resiteer. Benewens hierdie gedagtes, reken die Sekretaris ook dat alle mans die reg behoort te hê om ’n baard te kan groei; dat hulle nie voorgesê behoort te word in hierdie saak deur hulle sogenaamde hoër offisiere in die maatskappy, organisasie of besigheid waar hulle geld verdien nie. En wat betref vrouens wat kla oor baarde wat in die pad is as dit by vryery kom of dat hulle mans slordig lyk met ’n baard, is die Sekretaris definitief ou-skool. “Van wanneer af is mans bereid om hulle antieke reg op te gee om ’n baard te groei, net omdat hulle vrouens sê hulle mag nie, of dat hulle simpel lyk? Waarheen is die wêreld op pad?!” sal die Sekretaris sê. Nie dat hy kwaad is vir vrouens en mans se kant kies nie. Meeste mans irriteer hom. Goed, meeste vrouens ook. Maar vrouens (veral die twee wat tee verkoop in die hoofstraat) het die onregverdige vermoë om mans te kan manipuleer deur net te wees wie hulle is. Mans is swak. Vrouens ook. En as vrouens nie hul beenhare of armholtes wil skeer nie, is dit hul eie reg. As die Sekretaris wel eendag saam met ’n vrou opeindig, sal hy nie haar beenhare of onderarmhare mind nie, solank sy nie kla oor sy baard as sy hom soen nie. (Dit is waar dat die wêreld heel waarskynlik aanvanklik sal ondergaan as die Sekretaris die baas is, maar dit sal net tydens die eerste paar dekades wees.) Hy het ook tot die insig gekom dat vrouens sekere dinge soek in ’n man, en as hy nie hierdie dinge het op 25 nie, sal sy hom nog die voordeel van die twyfel gee in die geloof dat hy dit wel oor ’n paar jaar sal hê. As ’n man egter reeds 33 is en steeds nie ’n huis en ’n kar en kredietkaarte en tjekboeke en duur skoene het nie, dan meen sy dit is hoe dit vir die res van sy lewe gaan wees. Dit maak nou minder saak as ’n jaar of twee gelede, want hoewel vrouens hom steeds mal maak, herwin hy deesdae veel vinniger sy gesonde verstand. Vrouens het merkwaardige anatomie. Wat hy egter soek, is ’n buitengewone vrou. En hulle, soos buitengewone mans, is so skaars soos ’n administratiewe betrekking wat kreatiwiteit vereis.

Dis nou 01:25. Die Sekretaris is uitgeput. Hy wil gaan slaap, want dis laat, en hy’s besig om aan die slaap te raak agter sy rekenaar.

DOKUMENT 1_181104_2359

Charles Manson het ’n baard gehad. Gandhi nie. Manson was ’n musikant. Gandhi was ’n advokaat. Manson het baie mense doodgemaak, of ten minste ander mense geïnspireer om op ’n moordtog te gaan. Gandhi het miljoene geïnspireer om goed te doen. Ek is nou regtig moeg.

____________________