Verloor jouself, of wees jouself …

DINSDAG 7 SEPTEMBER 2004

00:40

As iemand my moet vra wat die eindresultaat is van tien jaar se dink en skryf oor “dinge”, sal ek aanvanklik etlike temas wil noem. In praktiese terme kom dit egter daarop neer dat ek toenemend voel ek verstaan hoe dinge werk, dat ek gereed is om aan te beweeg. Ook dat die dag tot dag stryd om oorlewing, om behoeftevervulling, ’n spel is waaraan ek nie werklik meer wil deelneem nie. Wat amper blyk ’n selfmoordwens te wees, is eerder wat ek nou onttrekking noem – om te “sterf” as deelnemer in hierdie wêreld. Hoewel die idee, oppervlakkig gesien, aanloklik is – geen lang argumente of verduidelikings meer nie, geen konvensies of reëls nie, huiwer ek steeds by die kruispad: onttrek, of raak betrokke?

(En dan is daar die moontlikheid dat die afgelope vyf of tien jaar –  my laaste jaar op Stellenbosch, twee jaar in Korea en sover amper ses jaar in Taiwan, wel gesien kan word as my onttrekking van die wêreld.)

’n Paar maande gelede het ek gesê: Vind jouself.

Nou sê ek: Verloor jouself, of wéés jouself vir ’n goeie doel.

08:19

Hoe sou jou persoonlikheid, jou identiteit, wie en wat jy is, gelyk het as dit nie gebou was op vrees nie – vrees vir honger, vir armoede, vir pyn, vir die dood, of vir eensaamheid?

14:16

Weereens, as jy uiteindelik op die punt kom waar jy verklaar dat jy weet wie jy is, en jy weet ook hoekom jy dit is en nie iets of iemand anders nie, dan besef jy moontlik dat die soeke na jou “ware, naamlose self” maar nog net begin het.

Jy staan dan voor ’n keuse: verminder die noodsaaklikheid om te wees wie jy nou is – ter wille van funksionering in ’n partikulêre omgewing – deur jouself te onttrek van die wêreld (relatief gesproke); óf, kies ’n rol en begin om die rol te vervul (wetende dat dit ’n rol is), en pas jou kennis, jou ervaring, jou vaardighede en jou persoonlikheid toe op ’n wyse wat jou lewe waarde gee in ’n partikulêre omgewing, en op ’n bepaalde tydstip van die wêreldgeskiedenis.

In ander woorde: Wees wie jy (nou) is, ter wille van ’n goeie saak.

______________________

Los fragmente wat aansluit by “Verloor jouself, of wend jouself aan”

(Lees: “Verloor jouself, of wend jouself aan”)

__________

MAANDAG 6 SEPTEMBER 2004

Vrees is die Fondasie waarop die Huis van Lewe en Funksionerende Identiteit gebou is. Die vraag is, wat lê begrawe onder die huis?

* * *

Die opsies: Onttrek of Raak Betrokke

* * *

“Vervul jou doel op aarde deur betrokkenheid met die wêreld.”

Serve your purpose and leave … or stay and enjoy the show for as long as your ticket is valid?

* * *

As onttrekking die antwoord is, wat is dan die sin van die manier hoe geboorte plaasvind?

* * *

Die Boeddha het sy vrou en pasgebore kind verlaat, en die wildernis binnegestap.

Jesus het betrokke geraak. Hy’t vertroosting gegee, pyn verlig waar hy kon, en homself – sy fisiese self – opgeoffer vir ’n “goeie saak”.

Mohammed het ook betrokke geraak. Hy’t oorlog gemaak om die wêreld te transformeer sodat mense hul lewens op “korrekte” wyse kan leef (volgens sy oortuigings).

* * *

Siddhartha Gautama (die Boeddha) het onttrek die wildernis in. Mohammed het ook aanvanklik onttrek – na ’n grot. Jesus het veertig dae en nagte in die woestyn gespandeer.

Beide Jesus en Mohammed het onttrek … en toe betrokke geraak.

Selfs Nietzsche se held – die uiteindelike “superman” – het vir tien jaar onttrek, en toe begin met ’n poging om mense uit onkunde te verlos.

* * *

Dus: Onttrek … en herverskyn as ’n getransformeerde mens – een met ’n agenda, ’n saak waarvoor jy bereid is om te sterf?

____________________

In transito, en aan die dink | Welkom terug

SATERDAG 4 SEPTEMBER 2004

In transito, en aan die dink (oor skemas en planne)

(Kuala Lumpur Internasionale Lughawe)

09:47

“Aircraft Interior Maintenance ASU” staan op die kant van die trok op die aanloopbaan. Agter my strek ’n leë gang vir seker ’n halwe kilometer in die hart van hierdie deel van die lughawe in.

“… to Hanoi, ready for boarding at Gate C6,” sê ’n Maleisiese vrou. Haar stem is mooi, en sterk.

“Barang bang, barang bang,” kondig sy weer aan, “… to Bangkok … for immediate boarding,” is die laaste deel wat ek vang (ek kan nie skryf én luister nie).

“Langer, en meer gereeld,” herinner ek myself aan wat ek vroeër vanoggend gedink het oor tyd spandeer met my familie. Ek speel rond met die idee vir nog ’n paar minute voor ek hardop sê, “Meer gereeld is belangriker as langer.” Ek sluit af met ’n voorlopige, potloodgeskrewe skema in my kop: Desember, April, Augustus.

Welkom terug …

(Fengshan City, Taiwan)

21:15

Ek het nog nie werklik ’n “integrated view of existence” nie. Ek het wel heelwat boustene. En welkom terug.

23:15

Die stilte van die veld …

______________________

Verloor jouself, of wend jouself aan

VRYDAG 3 SEPTEMBER 2004

(Johannesburg)

Dis eenvoudig, dis voor die hand liggend, en almal weet dit, maar dis nogmaals handig om te noem: ten einde te oorleef, het jy nodig om te funksioneer. Identiteit (al die antwoorde op die “Wie is ek?” vraag) dien ’n doel, en hierdie doel is om jou in staat te stel om te funksioneer in ’n partikulêre omgewing, op ’n partikulêre tyd.

Die vraag is dan: Is dit wie jy werklik is?

Dit wil voorkom asof daar voorgestel word dat ten einde jouself werklik te kan vind, jy jouself moet verloor. Dit is ’n risiko in die partikulêre omgewings en tyd waarin ons leef. Ten einde te kan oorleef, moet ons kan funksioneer, en ten einde te kan funksioneer, het ons nodig om onsself te kan voorstel aan ander in ons omgewing (ons moet onsself identifiseer, en het derhalwe nodig wat genoem word “identiteit”).

Dit kan verder gesê word dat die omgewing (of omgewings) waarin van ons verwag word om te funksioneer – en dan binne sekere neergelegde grense van aanvaarbaarheid, nie bevorderlik is daarvoor om sulke reuse stappe te neem soos om jouself te “verloor” nie. (As daar ’n Kaart van die Psige was, sou so ’n plek waar jy jouself kon verloor, gemerk gewees het met die waarskuwing, “Hier lê drake!”)

Die enigste manier hoe ’n mens dus jou “ware self” kan ontdek in hierdie lewe, is om te onttrek na ’n plek waar jy steeds kan oorleef, maar sonder om te funksioneer in gemeenskap met ander mense (waarvoor jy sogenaamde identiteit benodig).

Interessant om te kyk wat twee spesifieke godsdienste te sê het op hierdie gebied.

Tot ’n mate is dit wat Boeddhisme voorstel – onttrek van die wêreld, moenie geheg raak aan aardshede nie, en spits jouself toe daarop om voor te berei vir die uiteindelike vrylating van die onsterflike element van jou persoon uit die oënskynlik eindelose siklus van lewe en dood.

Die Christelike geloof vertel weer van Jesus wat ’n partikulêre identiteit gehad het, en relatief goed gefunksioneer het in die tyd en omgewing waarin hy gebore was, as beide timmerman en prediker – laasgenoemde was relatief suksesvol tot en met sy dood. Hy het geleef volgens sy oortuigings, en uiteindelik gesterf vir dit waarin hy geglo het; anders gestel, toe die keuse aan hom gestel was om sy oortuigings af te water of te sterf daarvoor, het hy geweier om homself, of sy oortuigings te verloën. Jesus het homself – wie en wat hy was as mens – opgeoffer; hy’t gesterf in, en volgens die Christelike geloof, vir hierdie wêreld, en uiteindelik geword, volgens Christelike dogma, wie hy werklik is – God. Volgens Christelike leerstellings het hy derhalwe gesterf as ’n partikulêre mens … en Universele God geword.

[Sekere teoloë, en slim dominees, sal moontlik daarop wys dat Christus reeds as Partikulêre Mens ook Universele God was. Hoewel dié punt van allergrootste teologiese belang is, is hierdie teks nie die korrekte platform om meer aandag te gee aan hierdie onderwerp nie.]

* * *

Miskien is die doel van hierdie lewe nie om te gaan waar die drake lê nie, naamlik, om jouself te “verloor” nie, maar om betrokke te raak, kant te kies, en jou self as’t ware aan te bied vir ’n “goeie saak”.

Wend jouself dus reeds in hierdie lewe aan vir die verwesenliking van goeie dinge, en berei jouself daardeur voor vir wat ook al wag na jou aardse bestaan. (Ek is bewus van die dramaties nuwe rigting waarin ek my kompas draai.)

* * *

“I’ve converted to a new faith.”

“Oh? What’s it called?”

“It’s called … oh heck, I don’t know what it’s called. Does it matter?”

* * *

Ek herhaal wat ek reeds geskryf het in ’n vorige nota: Miskien is die doel van hierdie lewe nie om jouself te verloor ten einde jou ware, reiner self te vind nie, maar om jouself, wie en wat jy nou is, aan te wend tot ’n goeie saak.

[Hoekom nie net jouself “aanwend” tot jou eie geluk nie?

Ek ken my eie redes, my eie motiverings, wat vir my goed genoeg is en wat nie. Ek kan derhalwe nie hierdie vraag vir enige iemand anders as myself antwoord nie … vir nou.]

__________

(Lees ook: Los fragmente wat aansluit by “Verloor jouself, of wend jouself aan”)

______________________