Die ander persoon se oë

WOENSDAG 29 SEPTEMBER 2004

Ek probeer soms na myself kyk deur die oë van ’n ander persoon … en ek glo natuurlik dat hierdie ander persoon binne dae, of hoogstens weke, al my angstighede en onsekerhede gaan raaksien, en so gou as moontlik sal retireer van die slagveld wat ek is.

Ek besef nie altyd dat hierdie “ander persoon” ’n karikatuur is met geen angstighede en onsekerhede en verleenthede van haar eie nie. Of ekskuus, niemand is volmaak nie – so sy hét probleme, “but they’re cute problems,” soos die ou in High Fidelity sê.

Waarheid is, tensy sy werklik ’n emosioneel onderontwikkelde entiteit is, dat ook sy angstig is oor dinge, onseker is van haarself op tye, of sy verskyn soos sy graag wil verskyn aan ander mense, of sy is en optree as die persoon wat sy graag wil wees.

“Weet ek werklik wie ék is,” sal sy wonder, “en wat ek met mý lewe wil doen? Hierdie ou kom so selfversekerd voor oor wie en wat hy is, wat hy reeds doen met sy lewe, en watse rol hy wil speel. Ek wonder wat hy werklik van my dink? Miskien is hy meer aangetrokke tot vrouens wat self oortuig is van wat húlle wil doen, en waarin hulle glo … vrouens soos, Sannie X. Ek wens ek het eerder my hare anders gedra nou die aand by die braai … en ek wonder wat hy sal sê as hy weet wat my ma anderdag vir my gesê het? En hy’t net beleefd geglimlag toe ek vir hom vertel het wat gister met my gebeur het …”

______________________

Twee swart-en-wit waarhede | Sosiale vuurdoop

Dinsdag 28 September 2004

Twee swart-en-wit waarhede

  1. As ek op Woensdag 28 Julie 2004 opgehou eet het, was ek heel waarskynlik nou dood. Een van die redes hoekom ek dus steeds lewendig is, is omdat ek nie opgehou eet het twee maande gelede nie.
  2. As ek nie selibaat en alleen was die afgelope 21 maande nie, sou “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” nie geskryf gewees het nie.

Woensdag 29 September 2004

Sosiale vuurdoop

Om te beweeg van “perfect solitude” na die meer menslike alternatief moet ek deur ’n vuurdoop gaan. Is dit nodig om te sê dat ek mislukking vrees? Is dit nodig om te noem dat ek verwerping vrees?

Hoekom word ’n mens steeds voortgedryf? Omdat jy vashou aan daai strooihalm van ’n moontlikheid dat jy nie sal misluk nie, dat jy nie verwerp sal word nie. En indien jou sosiale verskyning dan min of meer suksesvol is, mag jy dalk die lewe ervaar op wyses waarsonder jy in jou sogenaamde perfekte alleenheid moes klaarkom.

____________________

Arme Brand (dele 1 & 2)

Arme Brand (deel 1)

So is “Brand Smit” en al sy drome, ambisies, frustrasies, en maatreëls vir daaglikse oorlewing weer terug by die huis, op Vrydagaand 24 September 2004 om 21:36.

Wat gaan hy doen vanaand om waarde en betekenis aan sy lewe te gee?

Môre-oggend gee hy vir twee ure lank klas, en in die middag weer twee ure. Môre-aand is hy heel moontlik weer alleen by die huis.

Hierdie stand van sake sal voortduur tot hy Maandagmiddag om 16:23 die huis verlaat om weer klas te gaan gee.

Arme Brand, wat gaan hy tog doen om sy droewige situasie te verlig?

Die stryd om die self, en die gepaardgaande bomskok

Vir baie mense is die proses van selfkennis opdoen en antwoorde soek ’n “war of attrition” – wag en probeer, wag en probeer, en hopelik is alles verby voor Kersfees …

Voorsien hierdie proses uiteindelik antwoorde waarmee mense tevrede is? Sekerlik word sommige vrae beantwoord, maar ek reken vele mense ly aan bomskok as gevolg van die proses vir die res van hulle lewens.

Arme Brand (deel 2)

So hier staan Brand Smit en suig aan ’n L&M Charcoal “Especially Smooth” sigaret. Dis Maandagoggend 27 September 2004 om 01:23. Het hy sedert Vrydagaand aksies geneem om aan sy lewe waarde en betekenis te gee, of om sy lewe die moeite werd te maak? Was hy betrokke in enige insident wat hierdie dinge kon bevorder?

Hy het wel ’n aangename gesprek gehad met twee jong damestudente Satermiddag. Hy was wel Saterdagaand in die stad waar hy aandete geniet het saam met enkele vriende en kennisse. Hy het ook vanaand – Sondagaand – ’n braai bygewoon van ’n groep 22-jarige Ekonomie studente waarheen hy genooi was deur een van die twee dames met wie hy Saterdagmiddag ’n aangename gesprek gehad het.

Hy het dus sedert Vrydagaand etlike verskynings gemaak in die wêreld buite sy woonsteldeur, beide professioneel en sosiaal. Hy het, soos gewoonlik, ’n bevredigende vertoning gelewer van “Persoon Brand Smit”.

Hoe voel hy egter op hierdie oomblik, Maandagoggend 27 September 2004 om 01:30?

____________________

Woestyn of stad – beginsel

DINSDAG 21 SEPTEMBER 2004

WOESTYN of STAD?

Om jou identiteit-ter-wille-van-funksionering te verloor, of om dit te aanvaar en te wees ter wille van ’n (goeie) doel … sê jy stap al vir jare lank in sirkels en loop kruis en dwars oor dieselfde areas maar jy kry dit reg om lank genoeg koers te hou, en jy kom by die rand van die STAD, net voor jy die WOESTYN betree, waar jy nie meer hoef te funksioneer volgens konvensies van tyd en plek nie, en jy draai om en stap terug, weer die STAD binne, om met die kennis wat jy het oor wie en wat jy waarlik is, en wie en wat jy moet wees om te oorleef en te funksioneer, jou lewe te leef in diens en nastrewing van ’n Goeie Saak … tot die tyd aanbreek wat jy die WOESTYN in ’n ander gedaante sal betree.

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2004

’n Beginsel …

Vele van ons bly vasgevang in ’n lewe wat nie die beste is wat ons kan bewerkstellig nie, want om verstellings te maak, sal meer energie verg as wat dit vat om die huidige, soms frustrerende lewe bloot te onderhou op ’n daaglikse basis.

Dit is hoekom verandering gewoonlik volg op ’n bliksemstraal wat ons tot aksie skok – ’n gebeurtenis of insident wat ons huidige bestaan ondraaglik maak.

____________________

VERSKYN of VERDWYN?

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2004

Vir jare het ek gesoek na wie ek is, en probeer uitwerk hoe ek moet verskyn aan die wêreld. Ek het uiteindelik tot die insig gekom dat jy jou “gegewe self” moet konfronteer, moet aanvaar wat jy nie kan verander nie, en dan in ag genome die gegewe materiaal, asook gegewe tyd en plek, moet definieer wie jy wil wees, hoe jy aan die wêreld wil verskyn, of jy enigsins ’n rol wil speel in die wêreld, watse rol jy wil speel, waar jy hierdie rol wil speel, asook hoe jy beplan om in jou behoeftes te voorsien op die plek waar jy is en in ag genome wie jy gedefinieer het jy wil wees en watse rol jy wil speel, of watse bydrae jy wil maak.

Een vraag bly egter na jy hierdie dinge uitgesorteer het: WIL JY VERSKYN?

Indien jy kies om wel te verskyn, skop al jou antwoorde op bogenoemde vrae in.

Sou jy kies om nié te verskyn nie, verander alles. Dit maak meeste van jou antwoorde nutteloos, met nuwe vrae wat beantwoord moet word om ’n ander stel behoeftes te vervul (of soortgelyke fisiese behoeftes, maar sielkundig verskillend).

Dit is die vraag wat ek op hierdie punt van my lewe kontempleer. Wil ek wees wie ek (tans) is, op die plek waar ek gekies het om hierdie “ek” te wees, en die rol vervul wat ek vir myself gedefinieer het, of wil ek verdwyn … of dan slegs minimale, en meestal anonieme verskynings maak ten einde my basiese fisiese behoeftes te vervul?

SONDAG 10 OKTOBER 2004

Noodwendige verloop van spirituele ewolusie?

Jy raak moeg daarvoor om jouself te verduidelik aan ander mense. Jy raak ook toenemend bewus van jou eie karikatuur in verskyning aan die wêreld. Jy begin toenemend ’n behoefte te ervaar om te onttrek.

Is dit ’n noodwendige verloop van spirituele ewolusie? Kan dit vermy word dat jy jouself toenemend wil losmaak van die wêreld?

______________________