Ek weet wie ek is, deel twee

VRYDAG 28 MEI 2004

Mense wat dink ek hou daarvan om alleen te wees, moet hulle koppe laat lees. Maar watse alternatief is daar vir die persoon vir wie alleenheid ’n daaglikse realiteit is anders as om sy waarde as individu te bevestig volgens sy eie standaarde?

Hierdie persoon sal poog om sy waarde as ’n enkeling te bevestig in ’n gemeenskap waar lidmaatskap aan ’n groep een van die gesogste pryse is wat ’n individu vir homself kan toeëien.

Om een lid te wees van ’n intieme twee-lid groep word egter veral hoog op die prys gestel, want dit impliseer onder andere dat die individuele lede seksueel aantreklik is vir ten minste een persoon. Dit weer beïnvloed die aansien van hierdie twee lede in die groter sosiale groep waarbinne hulle beweeg, en ook in die breër gemeenskap, want seksuele aantrekkingskrag (en die gepaardgaande bevrediging van ’n ander persoon se behoefte aan plesier) is saam met finansiële vermoëns van die belangrikste faktore wat ’n individu se waarde bepaal in die wêreld waarin ons van hierdie tyd leef.

As jy dus nie ’n gewaardeerde lid van ’n sosiale groepering is nie, en jou seksuele aantrekkingskrag is nie van so ’n aard dat mense fisieke gemeenskap met jou begeer nie (op wyses wat vir almal duidelik is), is daar slegs een moontlike etiket vir jou persoon, naamlik ENKELING-ALLEENLOPER. (As jy egter, as ENKELING-ALLEENLOPER, oor sigbare finansiële vermoëns beskik, sal jy wel mense aantrek wat die voordele wat jou finansiële status inhou, begeer.)

Om ’n ENKELING-ALLEENLOPER te wees, veral een sonder sigbare finansiële vermoëns, is uit die aard van die saak nie so genotvol soos om saam met iemand te wees nie. Dit het ook geensins ’n kalmerende effek op enige eksistensiële angs wat jy dalk ervaar nie. Dit is ook ’n persoonstoestand wat lei tot geniepsige aanvalle op jou waardigheid, wat weereens jou bewussyn van andersheid beklemtoon, wat jou kanse nog verder verminder om wel ernstig opgeneem te word in ’n groter sosiale konteks.

Wat staan jou te doen? Moet jy voor ’n trein inspring? Moet jy ander mense eindeloos verveel met jou selfbejammering? Wat jy doen, is om jou waarde te bevestig volgens jou eie standaarde, wat soms in konflik is met dié van die gemeenskap wat enkelinge met agterdog bejeën en lidmaatskap aan sosiale groepe aanmoedig. ’n Kritiese beskouing van sommige van die gemeenskap se standaarde is dus te verwagte.

Terloops, vir wie maak ek hierdie aantekeninge? Selfs die moontlikheid dat dit net vir myself is, is ondraaglik.

En ek weet waar hierdie nuutste stukkie sosiale kritiek vandaan kom: Dit voel sleg om alleen te wees, so nou vleg ek ’n sweep uit woorde waarmee ek die gemeenskap kan wetter (of ’n sweep wat ek kan klap ver genoeg van die naaste piekniektafel af – ek wil nie my kanse op ’n bietjie gemeenskap te erg in die wiele ry nie).

Ek trek nie ’n enkele woord terug van wat ek gesê het in die voorafgaande paragrawe nie, maar dit is ter wille van intellektuele eerlikheid weereens belangrik om te erken dat ek weet wat my kritiek aanvuur.

Ek is vasgevang in ’n dilemma. Die kloof tussen hoe ek myself sien, en “die gemeenskap” se beskouing van my – soos gemanifesteer word in die reaksies van mense op wat ek met my lewe doen, en wat ek soms in hulle gesigte kwytraak – raak toenemend onoorbrugbaar.

Twee moontlikhede: a) ek moet die erkenning kry van die gemeenskap wat ek glo ek verdien, of b) ek sal voortgaan om die gemeenskap met toenemend venynige minagting te bejeën. (Dit moet noodwendig so wees – as “hulle” nie saam met my is nie, is ek teen hulle. En die malhuis of die tronk kruip nader …)

Hou ek die gemeenskap verantwoordelik vir my eensaamheid? Nee. Ek is reeds skuldig aan sinisme, ek kan nie bekostig om nog onnosel ook te wees nie.

[…]

Nietemin, soos jy die gras soms skud om ’n slang te laat uitkruip, so glo ek my eie gebrek aan gereelde intieme kontak en my afgeslotenheid van die gemeenskap is die medium waardeur ek sekere insigte bekom oor die posisie van die enkeling in die gemeenskap. Die bitterheid waarmee ek soms skryf daaroor, bevestig dat dit nie net ’n interessante onderwerp is wat ek met die objektiwiteit van ’n akademikus bestudeer nie. Ek weet waarvan ek praat.

Weereens kan ek verklaar dat ek weet wie ek is. Weereens kan ek vir mense wat tyd op hulle eie so ver as moontlik vermy, vra of hulle weet wie húlle is – buiten die kombinasie van na-apings om suksesvol te kan funksioneer binne ’n spesifieke sosiale gemeenskap.

Ek kan ook verklaar dat wie ek is nie altyd goed is nie, en definitief nie altyd lekker nie. Mens wonder ook soms wat dan so goed is aan breedvoerige selfkennis as die resultaat daarvan is dat jy jou dae en nagte alleen slyt …

______________________

Die SELF – toepassing – identifiseer

DINSDAG 18 MEI 2004

Die SELF.

“Wat is ’n huis – die plek waar jy voel jy behoort, anders as ’n plek waar jy wéét wie jy is?”

Dit was gisteraand. Vandag vra ek, wat beteken dit om te “weet wie jy is”? Dit beteken jy weet wat jou plek is tussen ander mense met wie jy op ’n partikulêre tydstip ’n partikulêre omgewing deel. Dit beteken jy is bewus van jou eie waarde in hierdie omgewing. Jy weet ook naastenby hoe jy beskou word deur ander in die omgewing.

Interessant vir bogenoemde definisie van “huis” is dat ek nie vyf jaar gelede geweet het wie ek-in-konteks was nie (siende dat ek pas in Taiwan gearriveer het). Ek kan verder sê dat dit my omtrent vyf jaar gevat het om te weet wie ek-in-konteks is (veral tussen “ander soos ek”, naamlik ander Suid-Afrikaners in Taiwan); ook dat ek wou “huis” toe gaan kort nadat ek meer sekerheid ontwikkel het oor wie ek-in-konteks is. Dit kan verder geargumenteer word dat ek ook kan weet wie ek-in-konteks is op ’n ander plek, hoewel dit weereens tyd sal vat.

In een woord, wat definieer wie jy is? Ek sou sê meer as enige iets, verhoudings met ander mense.

* * *

Terloops, Nietzsche het nie geglo dat daar ’n “fixed self” is wat “ontdek” kan word nie. Hy’t gereken, “WILL a self and thou shalt BECOME a self.” [Eie beklemtoning]

* * *

Is daar iets soos ’n “kern-self” wat ontdek kan word, waarop die persoon ontwikkel word wat jy graag wil wees? Kan hierdie kern-self in sy vroegste vorm beskou word as rein en onbesmet, iets wat dan deur blootstelling aan omgewing buite die baarmoeder gekorrupteer word? Of is die kern-self iets wat vanweë genetiese samestelling in die wortel reeds gekompromitteer kan wees, iets wat dan deur vroeë ervarings verder beskadig en gekorrupteer kan word, jare voor dit deur die persoon “ontdek” word?

* * *

Nietzsche reken dus dat die self nie gevind kan word nie, maar dat dit gedefinieer, en ge-word moet word. (Wat sou hy sê oor die idee van ’n “kern-self” wat ontdek kan word?)

Dit wil amper voorkom asof ek weer by die begin is: Wie is ek, en waar is my plek? Die interessante ding is nou, die Nietzsche beskouing wil ’n mens amper dwing om eerder te vra: Wie wil ek wees? En, watter plek wil ek toeëien as my eie?

Hoe definieer mens die “self” (wie jy is/wil wees)? En hoe definieer jy “plek” (jou huis/waar jy hoort)?

(Ek moet myself verwyder van die res van die mensdom en hulle soms tragiese lewens, en slegs selektief betrokke raak.)

As omgewing so ’n belangrike faktor is in kennis oor die SELF (om te weet wie jy is, of wat dit beteken om “jy” te wees), is dit moontlik om ’n universele “ek” te hê? As “ek, in Fengshan City, Taiwan” nie heeltemal dieselfde is as wat “ek” in, sê Bronkhorstspruit sal wees nie, wie is “ek” dan? En as dit verander, dan is dit mos onmoontlik om ’n universele “ek” te ken, of te kan wees! Dan is om ’n funksionerende, partikulêre “ek” te wees in die omgewing waar jy jouself op die huidige oomblik bevind, en om ’n soortgelyke persoon te wees in enige ander omgewing, die beste waarvoor jy ooit kan hoop!

Dit volg dus dat selfkennis relatief is tot jou omgewing. Wat mens wél het as jy radikaal van omgewing verander (Fengshan, Taiwan na Riyadh, Saoedi-Arabië), of as jou omstandighede radikale verandering ondergaan, is verwysingspunte. Jy weet hoe jy opgetree het in die ander omgewing, of toe jou situasie anders was, of jy reken jy weet hoe jy sou optree. Hierdie kennis voorsien jou dan van ’n verwysingsraamwerk waarbinne jy kan uitwerk hoe jy in die nuwe omgewing of veranderde omstandigheid moet optree om steeds naastenby “dieselfde persoon” te wees, indien dit enigsins van toepassing is dat daar ooreenkoms moet wees.

Kan jy jouself ooit ten volle ken? En in ag genome die kardinale rol wat omgewing speel in die “kennis” van wie jy is, WIE IS JY WERKLIK?

DONDERDAG 20 MEI 2004

Toepassing van ’n teorie/Die SELF en omgewing

So ek wil nie hier weggaan nie, want ek weet wie ek is hier. Wat ook beteken as ek hier weggaan om te woon in ’n plek soos Pretoria of Bronkhorstspruit en ek definieer wie ek is dáár, ek ook nie dáár sal wil weggaan nie, om dieselfde rede.

Jy sal nie wil weggaan van ’n plek nie, tensy jy ontevrede is met wie jy is op daai plek. Ontevredenheid van hierdie aard sal lei daartoe dat jy sal aanhou weggaan van plekke tót jy ’n plek vind waar jy nie net wéét wie jy wil wees nie, maar waar jy kan wéés wie jy wil wees.

[Die beginsel: As jy weet wie jy is op ’n bepaalde plek, en tevrede is met wie jy is op daai plek, as ekonomiese en ander faktore in daai plek verder van so ’n aard is dat jou kanse op oorlewing beter is as op ’n ander plek waar jy jouself in teorie ook kan vestig, is dit verstaanbaar en redelik dat jy sal wil bly net waar jy is.]

DINSDAG 25 MEI 2004

Identifiseer jou SELF – en hoe dit aan jou geïdentifiseer word

Die SELF, hoe die persoon sy eie SELF áán hom- of haarself identifiseer, en ook hoe die persoon sy of haar SELF aan die gemeenskap identifiseer. Laasgenoemde is egter nie ’n eenrigting gesprek nie – die taal waarin die individu sy of haar SELF aan die gemeenskap identifiseer, is nie deur die individu bedink nie, maar word benut met die komplimente, as’t ware, van die gemeenskap waarvan die individu deel is. (Voorbeelde van taalkonsepte wat benut word sluit in “man”, “vrou”, “sterk”, “slim”, “leier”, “skrywer”, “ryk”, “arm”, “intellektueel”, “ateïs” en “Christen”, om net ’n paar te noem.)

In my geval het ’n gemeenskap wat hoofsaaklik uit blanke Afrikaansprekendes bestaan, my SELF áán myself geïdentifiseer. Tans identifiseer ek myself as volwassene aan ’n ander gemeenskap – Oosters, Chinees – met behulp van taal wat ek besig is om te bemeester en ander data waarvan ek bewus geraak het deur persoonlike ervaring.

______________________

Ek weet wie ek is

SONDAG 23 MEI 2004

Ek is nie ’n wese van die buitenste ruim nie. Ek maak hierdie stelling omdat gerugte van my alternatiewe kosmiese herkoms nou al vir maande dik lê in die kringe waarin ek soms gesig wys, en die vermoede word gereeld sterk gefluister onder mense wat klaarblyklik nog nooit een soos ek gesien het nie. Die reaksie na aanvanklike kontak met die “vreemde wese” is altyd dieselfde: Behandel hom met beleefdheid, bejeën hom met agterdog – hy is nie “soos ons” nie.

Tog is ek nie ’n wese van die buitenste ruim nie. Ek is ’n mens, selfde as die karakters wat verkeerdelik veronderstel hulle het voldoende verstand om ’n mening oor my te formuleer. Ek het ingewande, en organe, en arms en bene. Ek het hare op my lyf, tande in my mond, en oë in my kop wat, dit erken ek, miskien met te veel kritiek kyk na die wêreld om my.

Maar ’n wese van die buitenste ruim is ek nie. Soos enige sterflike siel het ek behoeftes wat bevredig moet word. Ek meen, eet ek nie immers elke dag ontbyt nie? Hunker ek nie soos alle sterflinge na die vriendelike aanraking van ’n ander mens nie? Het nie ook ék soms behoefte aan ’n beskermende hand nie? Soek nie ook ék troos ná pyn en teleurstelling nie?

Nee geliefdes en ander belanghebbendes, wat ek is, is ’n verligte individu … en indien nie altyd verlig nie, verseker op pad. En dít, geagte lesers, is vir sommige mense net so skrikwekkend soos ’n groen, jellie-druppende, vyf-ogige kreatuur van ’n ander kosmos.

Maar ’n wese van ’n ander ruim, wees gerus, is ek nie.

Ek weet maar te goed ons almal leer om te vrees wat ons nie verstaan nie. Ons almal leer om met agterdog te bejeën wat nie soos ons is nie. Ons dink etikette uit, en hang dit figuurlik om nekke as ons agter ons hande fluister, ons oë dartelend agter ’n vreemde figuur aan om seker te maak hy of sy drentel nie in ons rigting nie.

Die teenwoordigheid van ’n verligte individu is soms ’n skrikwekkende ervaring vir sommige mense. Maar wat ís ’n verligte individu? Dit is die persoon wat ons eie onkunde blootlê; so ook ons vrese, en soms ons eie intellektuele tekortkominge. ’n Verligte individu breek die ongesproke ooreenkoms wat bestaan tussen ’n betekenisvolle persentasie volwassenes – as ek nie weet (of verstaan) nie, en jy weet (of verstaan) ook nie, dan’s ons albei orraait.

Verligte individue beskik oor unieke selfkennis. Hy of sy verstaan die motiverings agter meeste van hul eie aksies. Hulle verstaan hul begeertes – waar dit vandaan kom, en wat dit beteken. Hulle verstaan ook hul vrese, en wat dit veroorsaak. Hulle begryp wat agter ’n hele paar “geheimenisse” van die lewe sit, en hulle weet dat hulle nooit al die geheime kan ken nie.

Verligte individue erken hul eie tekortkominge; hulle erken hul eie onkunde en hul eie vrese; en hulle erken hul eie nietigheid. Hulle het nie rede om andersins voor te gee nie, en hulle kan die gedagte aan selfverloëning in elk geval nie verduur nie.

Verligte individue verstaan die waardes van die gemeenskap waarbinne hulle gebore is en/of waarbinne hulle hulself bevind as volwassenes – ongeag óf hulle hierdie waardes aanvaar as hul eie óf nie. Hulle verstaan ook die instellings en konvensies van hierdie gemeenskap, en die verwagtinge wat maak dat een individu aanvaar word deur ’n gemeenskap, en ’n ander verwerp word.

Verligte individue verstaan hulself beter as wat enige ander persoon hulle verstaan. Hulle verstaan ook die konteks waarbinne hulle hul lewens uitleef beter as die kollektiewe begrip van ’n dosyn onverligtes.

Is die VERLIGTE INDIVIDU dus ’n wese van ’n planeet ligjare verwyderd van ons eie?

’n Mens kan amper simpatie hê vir VERLIGTES as dit soms vir hulle voel asof hulle net sowel vreemde kreature kon wees wat ’n onwelriekende slym sal afgee as jy aan hul vel krap. En die VERLIGTES het soms begrip vir die ONKUNDIGES as hulle eersgenoemde vermy asof die woorde wat hulle uiter, gif is wat ’n stadige, pynlike dood kan veroorsaak.

Kan daar, helaas, ooit iets anders as antagonisme wees tussen ONKUNDIGES en VERLIGTES? Kan daar ooit harmonie wees tussen TROPDIERE aan die een kant – wat vasklou aan instellings asof dit totempale is en aan konvensies asof dit opdragte van God is, en aan die ander kant die VERLIGTE ENKELING?

Ek weet wie ek is, en wie ek wil wees. Die vraag is nou, waar staan jy met hierdie aangeleentheid?

______________________

Nommers en tyd – verligte gees

WOENSDAG 12 MEI 2004

Nommers, en tyd

Hoe weet mens wat nog vir jou wag in die lewe? As jy maar kon geweet het jy is nou halfpad na ’n groot gebeurtenis in jou lewe, twee-derdes op pad na ’n ander gebeurtenis, vier-vyfdes op pad na iets anders, en so aan. Alles – jou hele lewe, voel soms gekonsentreerd in die huidige oomblik.

Vyf jaar en vier maande mag dalk nou afgehandel wees van wat uiteindelik sal blyk ’n sewe-jaar verblyf te wees vir my op hierdie eiland. Ek mag dalk in die oorblywende tyd ’n besigheid begin wat uiteindelik vir my ’n goeie jaarlikse inkomste sal verseker. Ek is nou in maand nommer 64 van wat uiteindelik, sê 83 maande in Taiwan mag wees. Ek mag dalk die liefde van my lewe ontmoet in maand nommer 71, maar ek weet dit net nog nie.

Wat weet ek van wat gaan gebeur as ek 37 is, en 43, en 67 …

[Feit: Ek het die vrou wat die liefde van my lewe blyk te wees, ontmoet in maand nommer 69.]

MAANDAG 17 MEI 2004

Verligte gees

Waar pas spirituele verligting in op die spektrum van persoonlike ontwikkeling? Wat is spirituele verligting? Is dit om jouself los te maak van ’n materiële bestaan in uitsluitlike strewe na spirituele reinheid, om jou gees, of siel, te “bevry” van die “cycle of birth and death”?

Een interessante aspek van sogenaamde spirituele verligting en om jouself los te maak van hierdie wêreld, is dat dit 100% selfsugtig is. Jy gaan op ’n missie waar die res van die mensdom nóg minder saak maak as vroeër … behalwe natuurlik as dit is spirituele verligting nie deur jouself los te maak van die wêreld nie, maar deur betrokke te raak in en met die wêreld. Is dit enigsins ’n moontlikheid?

Wat beteken intellektuele verligting? Dit beteken jy bevry jouself van onkunde, vooroordele, en oortuigings wat gebaseer is op vrees eerder as rede. Jy leer ook om jou intellek te gebruik as ’n instrument om jou eie kanse op oorlewing te verbeter; ook om die ontwikkeling van jou persoon te fasiliteer, wat insluit om uit te werk wat jy met jou lewe wil doen wat verder strek as net blote fisieke oorlewing. Dit impliseer begrip van jouself en die mens as spesie asook begrip van jou omgewing – begrippe wat waarskynlik meer gevorderd is as opvattings wat gehuldig word deur ’n meerderheid van die bevolking.

______________________

Sinvolle projek – enkeling en die gemeenskap

SATERDAG 8 MEI 2004

’n Lewe wat sin maak – ter wille van ’n projek

Soms maak dit sin dat ek die lewe moes gehad het wat ek sover geleef het, asof iemand gesê het: “Jy wil wát doen? Skryf? Ek sal jou ’n storie gee, maar jy sal moet skryf om by te hou …”

Dit maak soms sin dat ek moes opeindig op 32, 33 met geen eiendom nie, ver van my familie af, geen kar nie, nie ’n cool-sounding job title nie, en nie ’n verhouding met ’n betekenisvolle ander nie. As ek die afgelope tien jaar stadig maar seker moes gebou het aan ’n lewe wat ek nie anders kan as om konvensioneel middelklas te noem nie, sou hierdie hele literêre projek nooit bestaan het nie.

Was die prys hoog? Was die projek dit werd? Tyd sal leer …

SONDAG 9 MEI 2004

Die enkeling en die gemeenskap (I)

Was gisteraand uit – Mama Mia’s en toe Pig & Whistle … almal wat ek gedink het van die aardbol af verdwyn het, was daar – die twee jong dames met wie ek gesosialiseer het verlede Maart, die een se broer, en ’n dame van die Green Jungle.

Een van die twee jong dames het my gegroet van waar sy gestaan het aan die anderkant van die kroegtoonbank. In gebrek aan iets beters om te sê, antwoord ek met, “Tyd gaan verby, nè?” Die broer het ’n opmerking gemaak wat veronderstel was om aan te dui dat hy my ken, en die dame van die Green Jungle het amper aan my lies gevat.

Teen die tyd wat ek oor die brug gery het wat die stad van my woonbuurt skei, was die lug vyfuur-in-die-oggend blou. Ek het verbasend goed gevoel ten spyte van die volgende vraag: Wat doen jy as mense ’n beskouing van jou het wat onakkuraat is, of wat nie belangrike aspekte van jou lewe in ag neem nie, of wat eenvoudig uitgedien is?

Ek reken jy het drie opsies: 1) Jy gaan na die plekke waar hierdie mense tyd spandeer, en manipuleer en intimideer hulle tot hulle jou die respek gee wat jy reken jy verdien. 2) Jy kruip weg, en probeer vergeet daarvan. 3) Tensy dit jou oorlewing bedreig, laat jy dit verbygaan, en jy glo indien jy kan aanvaar dat sommige mense ’n onakkurate, onvolledige of uitgediende siening van jou het, jy een stappie nader is aan waar jy hoop om te wees.

***

Baie mense se selfvertroue – soos gemanifesteer in byvoorbeeld die manier hoe hulle ander mense groet en dan wegstap – is gebaseer op een ding: lidmaatskap aan ’n groep.

Ek sê: ontmoet my persoon tot persoon.

Ek kan verder gaan en byvoeg dat ’n oppervlakkige vertoning van selfvertroue my nie meer beïndruk nie. Solank ek glo jou sogenaamde selfvertroue is gebou op niks meer as lidmaatskap aan ’n groep nie, het ek geen rede om jou te behandel met meer as die minimum beleefdheid waarmee ek meeste mense behandel nie. Wys my jou selfvertroue sonder die ondersteuning van jou groep, dan praat ons.

Kan dit wees dat ek die skyn van selfvertroue begeer wat groeplidmaatskap mens gee? Kan dit verder wees dat ek mense beny wat wél die voordeel geniet van groeplidmaatskap? Dis moontlik. Maar soos in vele ander gevalle herhaal ek die oortuiging dat ek glo my opinie, of my punte van kritiek, is geldig, en het waarde, ten spyte van die moontlike motiverings vir my opinie, of my kritiek.

SONDAG 23 MEI 2004

Die enkeling en die gemeenskap (II)

Hierdie jaar blyk te wees ’n tyd van her-etikettering.

Voorheen was kerkgaande, dogma-resiterende mense “gelowiges”, en ék die “ongelowige”. Voorheen was ek die “alien” en almal wat nie soos ek is nie, “normale mense”. Voorheen was ek ’n wese van ’n ander tyd en plek, wat soms simpatie ontlok by mense omdat ek ook moet sukkel met dinge soos “ons aardbewoners”.

Nou sê ek, fok dit. Ek is die gelowige. Ek is die mens. En ek weier om verder beledig te word deur mense wat gebuk gaan onder ’n swak verbeelding of ’n onderontwikkelde intellek, wat hulleself blindstaar teen hul eie ontoereikende verwysingsraamwerk.

______________________