Tentflappe – nuwe geloof/nuwe identiteit

VRYDAG 23 APRIL 2004

Slaan die tentflappe vas

Ek is lus vir mense, en ek is lus vir alleen wees. Ek voel sterk, en ek voel swak. Dit voel asof ek op pad is, maar ek weet nie presies waarheen nie. Vyf tot twintig jaar van handhaaf en hou. Bang vir pleb wees, bang om oud te raak. Bang ek raak een oggend alleen wakker in ’n woonstel in Suid-Afrika en ek is 37. So nie werk dinge hier uit en ek is uiteindelik 37 en gelukkig in Taiwan. Stry die stryd waar dit saak maak. “Kom terug!” Takkies na finale omhelsings. “Volgende jaar, rêrig!” Taiwan vir geen spesiale rede nie, die plek is orraait. Wees wie jy is, of wie jy geword het, waar dit saak sal maak. Geld en vrouens. Los my uit, hou my vas. Meer antwoorde as vrae, as ek net die antwoorde kan onthou. Jobs, projekte, geloofwaardigheid. Antieke kassies en ou tafels. Taai sweet, winter, braaivleis, somer, flieks. Saterdagmiddae saam met vriende en familie. Boek royalties, seks, girlfriends, huwelik, alleen oud word, mal raak, hande vashou, pieknieks, gedigte, gesondheidsredes, ou woonstelle, nuwe huise, karre, fietse, arm digters, dinge wat uitwerk, dinge wat nie uitwerk nie, vraagstukke, probleme, issues, sosiale aanvaarding, skaamheid, verskansings, vriendskappe, sigarette, e-mail, bokse, geld. O ja, en rewolusies, burgeroorlog, en swaar artillerie.

SATERDAG 24 APRIL 2004

Nuwe geloof/Nuwe identiteit

Bekering tot ’n spesifieke religie impliseer altyd ’n transformasie van identiteit.

Vraag: As ’n persoon homself bekeer tot ’n spesifieke religie, impliseer dit noodwendig dat hy nie gelukkig was met wie hy was tot op daai stadium nie? Hoeveel het dit te make met geloof, of ’n partikulêre “waarheid”, en hoeveel met die menslike behoefte om veilig te voel deur middel van identiteit – indien nie altyd in die onmiddellike omgewing nie, soos byvoorbeeld Christene in sekere areas van Pakistan, maar “veilig” in die Groter Geheel?

[Ekstra gedagte: Elke persoon se bekering, en gepaardgaande aansluiting by ’n spesifieke gemeenskap van gelowiges, bevestig die “waarhede” van daai religie. Hoekom? Want nog een het dit oorweeg, en bevestig met sy bekering. Dit maak die “waarhede” van ’n spesifieke religie derhalwe nog meer geldig vir dié wat dit aanhang, ongeag watter religie dit is, en ongeag die spesifieke dogma wat gepredik word.]

______________________

Stellings, vraag en antwoord – Omgewing Z

DINSDAG 13 APRIL 2004

Stelling 1: Vele mense raak na jare bewus van die feit dat “the odds are loaded against them”, en selfs al draai dinge oukei uit vir hulle, is daar massas ander vir wie dit nooit goed sal uitdraai nie. Die mens is ook bewus van sy bogemiddelde intelligensie onder die diereryk – wat onder andere beteken dat hy weet hoe om sy eie lewe te beëindig. Redes hoekom hy dit nie doen nie sluit in gebrek aan durf om voor ’n trein in te spring, besorgdheid oor geliefdes, of selfs vae idees oor wat met sy “siel” kan gebeur. Maatreëls word getref om “dinge die moeite werd te maak” …

Stelling 2: Om te beweer dat goeie dinge nie met mens kan gebeur nie, is eenvoudig nie waar nie.

Vraag … Hoeveel premie moet mens plaas op jou ideale visie van hoe dinge moet wees, jou ideale plek en omgewing, en jou ideale rol in die samelewing? Hoeveel premie moet mens plaas op dinge wat “altyd moontlik is”, as die feit dat dit nie in die proses is om gerealiseer te word nie, jou daagliks meer neerdrukkend maak? Of is dit die “duiwel” wat kleingelowigheid in my oor fluister? (13:16)

En antwoord: Hoekom het mens hierdie “ideale” visies? Miskien omdat jou huidige situasie nie jou behoeftes bevredig nie?! Miskien omdat die langtermyn volhoubaarheid van jou huidige lewe alte moontlik, en alte verskriklik is?! (13:20)

WOENSDAG 14 APRIL 2004

Is dit ek, of is dit Omgewing Z?

Sosiale identiteit is belangriker as wat ek soms wil toegee. In die lig hiervan is dit toepaslik om te noem dat ek nie te gemaklik is in tipiese “male bonding” scenario’s nie; ek is nie veel van ’n “man’s man” nie.

Pla dit my? Nee, ek noem dit maar net omdat ek daaraan gedink het, en ek wou dit net erken.

Ook belangrik is dat as mens hierdie tipe situasie nie reg hanteer nie, dit kan lei tot ’n gebrek aan selfvertroue en ’n verlaagde selfbeeld in die tipe omgewing waar dit wel die norm, of die hoof kriterium vir agting en respek is.

* * *

Dit kan ook op ’n breër terrein toegepas word. Persoonlikheidsaspek X is dalk nie een wat jou definieer nie, of waarmee jy jouself kan assosieer nie, maar hierdie einste persoonlikheidsaspek is dalk ’n belangrike norm vir respek in Omgewing Z. Omdat jy nie beskik oor ’n voldoende graad van X nie, word jy nie noodwendig gerespekteer in daardie omgewing nie. Dit word dan deel van jou gewaarwording van jouself in Omgewing Z, en mag moontlik lei tot verlaagde selfrespek.

Die geheim? In Omgewing Q word jy dalk gerespekteer vir presies die afwesigheid van Persoonlikheidsaspek X. Daar is dus heel moontlik nie inherent iets verkeerd met jou nie, net met jou in ’n bepaalde omgewing.

______________________

Nie ’n ballingskap essay nie selfs al lyk dit so

DINSDAG 13 APRIL 2004

Sommige dinge dink ’n mens, ander weet jy net.

Ek het in Februarie gepraat van toewyding aan ’n geldprojek soos ek net gewoonlik toegewyd is aan ’n literêre projek. Dit was presies waaraan ek myself skuldig gemaak het vir ses van die laaste sewe weke van my aardse bestaan.

Dit het egter toenemend duidelik geraak dat die projek waarmee ek tans besig is, heel moontlik nie net enkele weke weg is van positiewe kontantvloei nie. Ek kan derhalwe nie voortgaan om soos ’n besetene daaraan te werk ten koste van enige iets anders nie.

Ek het dus nie gedink ek moet weer aandag gee aan van my ander projekte nie, ek het dit geweet.

Vir die rekord moet dit genoem word dat die idee van huis behou in Taiwan tans ’n periode van hernude verdraagsaamheid onder die “volk” ervaar. (Ons weet egter hoe vinnig die atmosfeer vir verdraagsaamheid op hierdie gebied kan verander – die een oomblik strompel die Hoofadvokaat vir Bly in Taiwan nog fluit-fluit met sakke vol ontbytpap na sy fiets, en die volgende oomblik trap hy vir al wat hy werd is om weg te kom van ’n klein, maar dodelik antagonistiese skare gewapend met klippe en gebreekte bottels.) Om repatriasie op langtermyn ys te plaas, sal egter van vooraf ongeduld, frustrasie en moedeloosheid laat opvlam … so by so dat mens begin wonder of totaal verskillende toekomsplanne ’n enkele psigiese wortel deel!

Is daar alternatiewe tussen hierdie twee ekstreme opsies? Is daar ’n alternatiewe idee-logika om aan die burgers van my interne republiek te bied anders as Gaan Terug Ongeag Die Gevolge aan die een kant, of Te Veel Onsekerheid En Moeite So Kom Ons Bly Maar In Taiwan aan die ander? Is dit tyd vir die Skrywer, die Student, en daai ander ou (die een wat geld moet maak) om met die manifes van ’n Nuwe Idee die dorpe, stede, vlaktes, en koffiewinkels in te vaar? Is dit tyd vir ’n Derde Mag?

______________________

Twee moontlike beginsels

MAANDAG 12 APRIL 2004

Ek het hierdie knaende vermoede dat ek my eie grootste held is, die ou wat aanhou vorentoe storm al is die slag reeds beslis. (Ek weet dus hoe om te bly funksioneer.)

1) As jy nie afgetrek word nie, bly jy staande.

2) As jy nie staande gehou word nie, val jy.

* * *

Ek weet hoe om “normaal” te wees – hoe om te funksioneer in die omgewing waarin ek myself bevind sonder om my kanse op oorlewing te veel te benadeel.

________________

’n Rekenaarstuk: Maandag 12 April 2004

Ek voel soos ’n vreemdeling vir myself. Om hierdie stuk te produseer moes ek die lettertipe verander na een wat nie gebruik was in weke nie, ’n titel moes uitgedink word, die verandering van Engels na Afrikaans … en die knaende vermoede dat ek ’n sekere storielyn vir veels te lank al agter my aansleep, soos mens dosyne bokse vol persoonlike gemors agter jouself aansleep vir redes wat net jy ooit sal verstaan, en teen ’n daagliks groeiende prys.

Maar laat ek begin. Soos gewoonlik gaan dit goed. (Bloos papier as die skrywer lieg?) ’n Miljoen ure gelede het ek vorendag gekom met ’n idee vir ’n eksperiment. (Hoekom, terloops, kan papier nie rond wees nie? As ek net staar na die skerm, sal daar simbole verskyn op “Microsoft Word Document1” wat sal ooreenstem met my gedagtes? As ek spoeg op die skerm, sal dit vloekwoorde vorm?) Ek het die eksperiment genoem, die Kommersiële Diktatorskap – ’n tyd waarin Ek, die Skrywer veronderstel was om Teacher/Besigheidsman/Entrepreneur te wees vir die mees produktiewe ure van elke dag en nag vir ’n drie-maand periode. Die idee was dat ek elke dag vir ten minste agt ure lank agter mal kinders moes aanhardloop terwyl ek “ABC! ABC!” gil (en “fokof” fluister agter my masker vir elke motoris en voetganger wat my aangluur op die pad, of wat dit waag om voor my op my krakende geel fiets in te draai). Oproepe moes ook gemaak word, vennootskappe moes gesluit word, en natgeswete vingers moes daagliks klam geldnote oor gemorskos papiere tel, met die rook van ’n vinnig brandende wit sigaret wat my oormoeg oë soveel brand dat ek later nie meer my eie handskrif kan lees wanneer ek desperaat probeer om ’n aantekening te maak om myself te herinner aan my geloof in ’n “buitengewone lewe” nie.

Vooruitstrewend is die Skrywer-Entrepreneur wat weereens rede genoeg gevind het om nie sy woonstel meer gereeld te verlaat vir meer geld nie! Vir die afgelope 44 dae van die sogenaamde Kommersiële Diktatorskap het ek, in al my identiteite, die stoel agter my Toshiba 2180CDT vol gesit, en gewerk aan wat ek uiteindelik begin noem het “[…]”, wat die eerste boek, en voorloper is in die “[…]” reeks.

[…].

Die plan is verder om ’n boekbesigheid te begin (op papier, by wyse van spreke), en dan die verskillende weergawes van die boek uit te gee in vennootskap met plaaslike uitgewers so ek gaan nie, soos ek plegtig belowe het, op Vrydag 4 Junie terug Suid-Afrika toe nie. Tee? Koffie?

Dis nie asof ek nie geskryf het die afgelope sewe weke nie. Die Tydelike Kommersiële Konstitusie het my verbied om tyd agter die rekenaar te spandeer met enige iets anders as ’n kommersiële projek, hoewel pen en papier steeds gebruik kon word vir vrye uitdrukking.

En vry het ek uitgedruk – bladsye en bladsye en bladsye vol, tussendeur werk aan die taalboek, die vertaling van omtrent 2000 woorde, sinspatrone, uitdrukkings, goedkoop video CD’s …

Ek noem hierdie dinge om te verduidelik hoekom dié getikte stuk ietwat vreemd onder die vingers voel, en op die oog, omdat dit voel asof ek vir myself dinge vertel wat ek lankal weet terwyl ek ander dinge ignoreer wat my handgeskrewe notas oorheers het die afgelope paar weke.

Belangrik om ook te noem: nog ’n twaalfmaandsiklus is amper weer voltooi sedert my laaste reis na Suid-Afrika, en “vakansie” planne begin toenemend die voortou te neem in kontemplasies oor my onmiddellike toekoms.

Ek het ook daarin geslaag om aan my ouers en my ouer suster die noodwendige gevolge te verduidelik van my idees op die besigheidsfront, en hulle glo onderskeidelik dat ek steeds uiteindelik wil terugkeer Suid-Afrika toe en steeds beplan om in Engeland ’n draai te maak.

Sedert my laaste amptelike skrywe het ek ook ’n nuwe frase uitgedink, en reeds etlike kere geresiteer:

“Wanneer kom jy terug?”

“So gou as moontlik.”

“Wanneer kom jy vir ons kuier?”

“So gou as moontlik.”

“Wanneer pak jy jou gemors in bokse en kom jou beloftes na soos ’n eerbare persoon?”

“So gou as moontlik …”

Daar’s egter een probleem: My jonger suster weier om so vinnig oorgehaal te word met my slim verduidelikings. Sy’t verlede naweek uiteengelê nie net dát, of hoeveel sy my en ons ouer suster mis nie, maar presies hoekom. Dit was ’n vrag vol redes, vooraf gekontempleer en deeglik uiteengesit, asof dit ekself was wat gepraat het; asof sy my eie sentimente soos verwoord in vorige notas woord-vir-woord aangehaal het.

Ek het skuldig gevoel.

Ek werk tans aan ’n paar projekte – en dis ten minste veronderstel om te klink soos ’n oorspronklike stelling en nie soos ’n stukkie opgegorrelde vroeër teks nie. Daar’s die Groot Geld Projek wat ek reeds vermeld het, en dan’s daar die Groot Literêre Projek waarvan hierdie update ’n klein fragment is. Dan het ook gister – terwyl ek in die badkamer was – gedink aan ’n goedkoop manier om ’n paar kopieë van my eerste digbundel uit te deel aan vriende en naaste familie (wat weet ek sal hulle nie kan stop om die papier te gebruik om braaivleisvure aan die gang te kry na ’n oppervlakkige poging om sin te probeer maak van my melancholiese rympies nie). Dit het gelei daartoe dat ek gisteraand weer rooi strepe begin trek het oor poësie wat ek net verlede jaar gedink het heel orraait is, en ek hoop dus om benewens die ander “jobs” ook nog hierdie een af te handel en in pseudo boekvorm te selfpubliseer voor hopelik einde Junie.

My bemeestering van die Chinese taal, nou reeds in sy vyfde jaar, is die oorblywende huidige projek. Hier kan ek noem dat ek deesdae beter Chinees lees as wat ek dit praat, en selfs wanneer ek ’n poging aanwend tot verbale kommunikasie, haas mense hulself nie meer na die naaste Tao priester vir ’n duiwelsuitdrywing nie.

My persoonlike verhoudings strek steeds nie verder as die af en toe kuiertjies met coffee shop vriendinne nie. My romantiese verbintenis met die Tee Vrou van Zhongshan Road het ook vasgehaak in die konseptuele fase. (Ek het wel ’n bose plan bedink om haar te oortuig om met my te trou – dink Marilyn Monroe en Willy Loman, never mind Arthur Miller.)

Ek meng ook steeds vier ontbytpappe elke oggend; drink steeds my koffie swart en bitter; koop, en kyk steeds baie goedkoop VCD’s, en ek maak daagliks meer en meer aantekeninge oor geloof in ’n beter volgende dag as ’n berekende en opregte poging om die lewe vandag die moeite werd te maak, ten spyte daarvan dat mens weet dit werk dikwels nie uit soos mens gedink het dit sou nie.

Dit gaan dus aan, al gaan dit nie altyd goed nie. Tot ’n volgende teks ons weer bymekaar bring …

______________________